Die Here is jaloers

 

If the suffering Jesus endured did not make him give up on us, nothing will – Tim Keller

 

Die Here is jaloers

Jealousy is the trademark of small minds – Mark Twain

In sy menslike uitdrukking kan jaloesie sekerlik destruktief wees. Die wortel van ons jaloesie is onsekerheid, vrees en angs as ons verwag om iets te verloor – soos ’n verhouding of status of besittings. Jaloesie veroorsaak spanning  en probleme in ons interaksie met ander mense. Daarom beskou ons jaloesie beslis nie as ’n deug nie. Dit is lelik en kleinlik – ’n negatiewe emosie wat tot negatiewe optrede lei. Paulus sê dat dit ‘n praktyk van ons sondige natuur is (Galasiërs 5:20).

 

Daarom is dit vir baie mense verbasend om te hoor dat God ’n jaloerse God is. Tog lees ons in beide die Ou en die Nuwe Testament dat God ‘n jaloerse God is. In Eksodus 20:5 lees ons: Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God (OAV). Want jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander God nie; want die Here se Naam is Jaloers – ‘n jaloerse God is Hy (Eksodus 34:14 – OAV). Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God. Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon (Jakobus 4:4 – 5 – OAV). In al hierdie gevalle is God jaloers as gevolg van die mense se ontrou. Hy is jaloers as Israel afgode aanbid of as die kerk soos die wêreld word.

 

God se jaloesie vloei voort uit sy groot liefde vir sy kinders. Dit is sy passievolle toewyding wat met reg aan Hom behoort.

 

 




Vergewe en onthou

 

The purposes of God in the gospels are focused on God’s longing to put the world to right, and to put people to right is part of that world – N. T. Wright

 

Vergewe en onthou

Die sleuteltoets vir leierskap is wat gebeur nadat ek ‘n fout gemaak het. Dean Keith Simonton sê dat kreatiwiteit die gevolg van produktiwiteit is. If a creator wants to increase the number of hits, he or she must risk a parallel increase in misses. Hy glo die suksesvolste innoveerder is die een met die meeste mislukkings.

 

Wat nodig is, is ‘n klimaat van vergewe en onthou. Ons hoor dikwels mense sê: “Mislukking is nie ‘n opsie nie.” Dit stuur ‘n verkeerde boodskap uit. Natuurlik sal niemand doelbewus mislukking soek nie. Mislukking is ‘n newe-effek van waag. Eerlike foute moet verskoon word.

 

God moedig ons aan om met Hom oor ons twyfel en  mislukkings te praat – eerlike en oneerlike foute. Ons moet ook met God oor ons vertroue en suksesse praat. In die wêreld glo ons die beste pad om te loop, is om te vergewe en te onthou. Dit veroorsaak dat mense nie weer dieselfde foute maak nie. Maar wat doen God met ons sondes? Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit weer dink nie (Hebreërs 8:12). Wat doen God? Hy vergewe en vergeet.

 




Ek is Nommer een!

 

When the hosts of the enemy distress you, when your frame is fevered and your passions roused, when you say in your heart, “What shall I do?” Elisha’s words shall give you your answer, “Fear not, for they that be with us are more than they that be with them.” –Hiëronimus

 

Ek is Nommer een!

Hoe dikwels hoor ons nie: “As jy iets in die lewe wil hê, moet jy daarvoor baklei!” Is dit nie hoe baie van ons dink en praat en leef nie? Ons wil meer geld en besittings en plesier hê en sal alles in ons vermoë doen om dit te kry. Ek is eerste en niemand anders maak saak nie. Die sterkes wen; die swakkes verloor.

 

Maar nou kom Jesus en Hy sê: Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang (Matteus 5:5). Wat beteken sagmoedig? Ek plaas ander eerste en myself laaste en God bo almal. Dit mag beteken dat ons ‘n bietjie in hierdie sondige, tydelike wêreld verloor, maar kyk wat kry ons: hulle sal die nuwe aarde ontvang. Die wêreld sê dat as jy iets wil hê, moet jy daarvoor baklei; Jesus sê dat as jy die wêreld wil hê, moet jy dit opgee. As jy net vir hierdie wêreld leef, gaan jy uiteindelik alles verloor.

 

Sagmoedigheid is nie swakheid nie. Dit beteken nie dat ek ‘n sagte mens moet wees waarop almal kan trap nie. Moses was ‘n sterk en suksesvolle leier. Maar luister net hierna: Moses was ‘n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op aarde (Numeri12:3). Jesus was ook sagmoedig: Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart (Matteus 11:29). Tog het Hy nie ‘n oomlik gehuiwer om ‘n sweep te neem en die handelaars van die tempelterrein te verjaag nie. Sagmoedigheid is beslis nie sagtheid nie. Dit is krag wat onder beheer is en tot voordeel van ander is.

 

Hoe kry ek sagmoedigheid? Ek kan dit nie koop nie; ek kan nie daarvoor werk nie. Ek moet daaroor besluit. Ek moet hartseer wees oor my sonde. Hartseer lei tot sagmoedigheid.

 




Kan ek nog leer?

If you can trust God to save you for eternity, you can trust him to lead you for a lifetime. —David Platt

 

Kan ek nog leer?

Die een kenmerk wat suksesvolle van onsuksesvolle mense skei, is hulle vermoë om nog te leer. Dit maak nie saak hoeveel talente jy het nie, maar as jy nie wil leer nie, gaan jy nooit jou volle potensiaal bereik nie.

 

Hoe lyk ‘n persoon wat nie wil leer nie?

  • Hulle leer net die blote minimum en lees baie selde.
  • Hulle vra nie vrae nie.
  • Hulle aanvaar nie verantwoordelikheid vir mislukkings nie; hulle blameer altyd iemand of iets anders.
  • Hulle aanvaar geen persoonlike leiding van hulle ouers of onderwysers of leraar nie.
  • Hulle luister min, maar praat baie – veral oor hulleself.
  • Hulle aanvaar nie kritiek of regstelling nie.
  • Hulle het ‘n weerstand om uit hulle gemaksone te skuif – hulle soek altyd die maklike of bekende roete.
  • Hulle leer niks wat hulle bestaande vooroordele of praktyk uitdaag nie.

 

Die kenmerke van mense wat graag leer is:

  • Hulle is bewus van hulle tekortkominge ten opsigte van kennis en vermoëns.
  • Hulle erken hulle beperkings, onvermoë en onkunde aan ander wat vir hulle kan leer.
  • Hulle vra gereeld vir hulp, leiding en raad.
  • Hulle leer van almal.
  • Hulle luister aandagtig na ander met die begeerte om te leer.
  • Hulle is bereid om uit hulle gemaksone te beweeg en foute te maak.
  • Hulle gee nie om as hulle misluk nie – hulle soek hulp en probeer totdat hulle dit regkry.
  • Hulle is gewillig om hulle sienings en praktyke te verander as mense hulle oortuig.

 

Dit is duuidelik dat mense wat bereid is om te leer nederig moet wees.

Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad (Psalm 25:9).