Ek voel skuldig

I believe the greatest gift I can conceive of having from anyone is to be seen, heard, understood, and touched by them. The greatest gift I can give is to see, hear, understand, and touch another person. -Virginia Satir, psigoterapeut

 

Ek voel skuldig

Skuld is nie net ‘n gevoel of ‘n sielkundige toestand nie, alhoewel dit een kan wees en word. Maar dit is ‘n wetlike status. As die regter of jurie sê Skuldig, verwys hy nie na die gevoelens van die beskuldigde nie. Hy spreek ‘n oordeel uit. Hy sê die beskuldigde is geoordeel en dat hy die oortreding gepleeg het. Hy is skuldig en sal dienooreenkomstig behandel word – maak nie saak wat hy “voel” nie.

 

Of mense skuldig voel of nie, is nie eintlik ter sprake nie. My gevoelens beïnvloed nie my skuld nie. In die evangelie verwys dit na my persoonlike status voor ‘n heilige God. Die evangelie hanteer ons objektiewe skuld. Dit is dan wanneer ons ons werklike status voor God besef. Op daardie stadium begin God ons gevoelens verander.

 

Die stories van hoe mense tot bekering kom verskil baie. Daar is een aspek wat ons altyd kry. Miskien het hulle aanvanklik geen skuldgevoelens gehad nie; hulle mag hulleself geregverdig het; hulle mag veilig gevoel het. Maar niemand kan hom teen God se ingrype verdedig nie. God skep dikwels ‘n gevoel van ongemak by mense. Nou word hulle bewus van hulle sonde en dan volg ‘n dieper gevoel: ek staan skuldig voor God. Dit is meer as net gevoelens.

 

Deur die Gees begin ons in Christus glo. Ons sien dat Hy die straf vir ons sondes gedra het; ons skuld is verwyder; ons is vergewe. Ons is nou vry van die skuld van sonde. Ons kan nou in die teenwoordigheid van God begin leef. Geen terapeut of psigiater kan jou van skuld verlos nie. Hy mag jou help om jou gevoelens oor vals skuld te verlig. Medisyne mag verligting bring, maar nie genees nie. Skuld is nie ‘n mediese toestand nie – dit is ‘n geestelike werklikheid.

 

Die boodskap van die evangelie is: God kan jou vergewe en Hy is gewillig om dit te doen. Maar eers moet jy by die plek kom waar jy sê: “Ek is skuldig.” Voordat ons nie ons sonde en skuld erken nie, sal ons nooit besef dat ons vergewe kan word nie. Die bande van skuld word verbreek. Dan besef ons dat die kern van die evangelie is dat God ons skuld op Hom in sy Seun Jesus Christus geneem het.

 

 

 

 




Sy oorwinning is verseker; ons grootste hoop

 

With intentional love, time, and commitment, your family can thrive in a joy and strength you didn’t know was possible – Bill Hybels

 

Sy oorwinning is verseker; ons grootste hoop

Hoe kan ons God dank as ons in die moeilikheid is, as ons lewens moeilik is? Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag (1 Tessalonisense 5:18). Hoe kan ons dit doen as jou dokter vir jou sê dat jy kanker het? Hoe kan jy dankbaar wees as jy jou werk verloor? Hierdie is moeilike – selfs tragiese – dinge.

 

Die enigste manier om ons hoop lewend te hou, is deur elke dag in die lig van God se ewige plan en doel te leef. Daarom is dit so belangrik om die Bybel te lees en te ken. As ek weet wat God vir die toekoms beplan het, gee dit vir my hoop vir vandag.

 

Die Ou en Nuwe Testamente is vol beloftes van Christus se wederkoms. Die doel van Bybelse profesie is nie om ons nuuskierigheid tevrede te stel nie. Nee, God praat met sy mense oor die toekoms sodat ons sy ewige einddoel kan sien. As ek God se plan vir die toekoms, wat besig is om te ontvou, sien, bemagtig dit my om met hoop te lewe.

 

 




Dink aan jou Skepper in jou jeug

Are you a champion of Christ on Twitter, but not in your neighborhood? —Michael Oh

 

Dink aan jou Skepper in jou jeug

Dink aan jou Skepper in jou jong dae voordat die swaar dae kom (Prediker 12:1)

Die wêreld sê: die jeug vir plesier; die middeljare vir besigheid; die ouderdom vir godsdiens. Dit is so dat ons veral in ons jong dae geneig is om ons Skepper te vergeet. Jongmense moet werk daaraan om Hom te onthou – om te onthou dat Hy ons gemaak het, dat Hy vir ons voorsien, dat Hy ons versorg, dat Hy ons beskerm, dat Hy ons verlos …

 

Hoekom moet ons begin in ons jong dae?

  1. Dit is jare waar jy baie energie het

Hoekom moet ons wag tot ons afgeleef is voordat ons ons Skepper begin dien? God wat ons gemaak het, verdien ons aktiefste en gesondste jare – terwyl ons nog sterk is, ons verstand nog skerp is en ons nog baie entoesiasme het.

 

  1. Dit is die jare waar jy baie sensitief is

Hoe ouer ons word, hoe harder word ons harte. Ons gewetes is dikwels al toegeskroei en die sonde het al diep wortels in ons lewe. Ons moet ons jeugdige sensitiwiteit en ontvanklikheid gebruik om aan ons Skepper te dink.

 

  1. Dit is die jare waar jy makliker leer

Ons leer meer as ons jonk is as in enige ander tydperk van ons lewe.

 

  1. Dit is gevaarlike jare

Ons jong dae is ‘n mynveld. Oral is gevare – ook binne in ons. Daar is baie versoekings vir jongmense. In ons jong dae het ons ons Skepper nodig om ons deur hierdie mynveld te dra.

 

Ons sien daar is goeie redes om aan ons Skepper in ons jong dae te dink.

 




Ek is moedeloos

 

We have met the enemy, and it is us – Walt Kelly

 

Ek is moedeloos

In 2 Korintiërs 4 skrywe Paulus oor moed verloor. Hy begin deur te sê dat God Hom oor hom ontferm het en hierdie bediening aan ons opgedra het. Daarom word ons nie moedeloos nie. In vers 16 lees ons weer: Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Baie mense word moedeloos te midde van uitdagings en teenstand. Paulus het seker soms moed verloor met die gemeente in Korinte – hy het maar ‘n moeilike verhouding met hulle gehad.

 

Hoekom het Paulus nie moedeloos geword nie? In Hoofstuk 4 praat Paulus oor drie werklikhede vir Christene wat moedeloos word.

  1. Die roeping na die Christelike bediening

Ons sal gou moedeloos word as ons nie meer ons roeping onthou nie. Dit het Paulus versterk en beskerm hom van ‘n bediening sonder vreugde. In vers 1 verwys hy na hierdie bediening. Dan beskryf hy die aard van hierdie bediening:

  • Ons maak die waarheid openlik bekend.
  • Hy verwys in vers 3 na ons evangelie.
  • Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus.
  • Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here.

Paulus se bediening was om die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Dit was sy roeping na hierdie bediening wat Paulus laat volhard het – wat gekeer het dat hy nie moedeloos word nie. Dit het Paulus staande gehou ten spyte van teenstand.

 

Paulus se roeping was sekerlik uniek, maar ook ons is geroep na een of ander bediening. Ook ons moet die waarheid van die evangelie verkondig deur mense wat deur hierdie wëreld verblind is. Omdat ons geroep is om die evangelie te verkondig, moet ons dit met integriteit doen: Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Ons is nie innoveerders van die woord nie, maar verkondigers. Ons is verkondigers van ‘n spesifieke boodskap – Jesus Christus as die Here. Ons roeping is suiwer uit genade – God het Hom oor ons ontferm.

 

  1. Die konteks van Christelike bediening

Paulus het geen illusies gehad oor wat sy bediening behels het nie. Paulus het geweet dat hy nie net geroep was om te verkondig nie, maar ook om te ly en te dien. Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek (4:7). In vers 8 en 9 noem hy sommige van die werklikhede van bediening in ‘n gevalle wêreld: verdrukking, teneergedruktheid, radeloos, neergegooi, vernietig. Paulus het elkeen van hulle in sy lewe ondervind. Ook ons bediening sal lyding, teenstand, vervolging en beproewings insluit, want ons werk in dieselfde gevalle wêreld.

 

Hierdie dinge gebeur nie sommer toevallig met ons nie. Die krag wat alles oortref kom dus van God, nie van ons nie. Ons sien sy krag veral te midde van ons swakhede. Lees weer verse 8 en 9. Hier lees ons van harde werklikhede, maar elke keer lees ons ook maar nie. Paulus erken die werklikhede van die lewe, maar hy vestig veral ons aandag op God se genade. Dit versterk ons as ons neig om moedeloos te word.

 

  1. Die hoop van Christelike bediening

Paulus word nie moedeloos nie, want hy behou ‘n ewigheidsperspektief. Hy besef dat al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Daarom kan hy sê: Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. As ons die aard en omvang van Paulus se lyding onthou, skok hierdie vergelyking vir ons. Hy kon dit net doen, want hy was besig om dit met sy toekomstige heerlikheid te vergelyk.

 

Om hierdie perspektief van Paulus te ontwikkel, moet ons op die regte plek kyk. Waar kyk Paulus? Na die heerlikhede van die onsigbare toekoms verwerf deur Christus se dood aan die kruis. Dit vereis geloof om verder as ons huidige swaarkry te kyk. As ons na hierdie toekomstige heerlikheid kyk, verander dit ons perspektief van die huidige.