Leer en lewe

 

Hope without a time of fulfillment is a delusion – Graeme Goldsworthy

 

Leer en lewe

Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister (1 Timoteus 4:16). Let daarop dat Paulus  die lewe en die leer beklemtoon, want ons kan op beide gebiede oortree.

  • Let goed op jou leer

Die ware evangelie  lei tot geloof. Dan moet die vals evangelie tot ‘n ramp lei. Daar is sekere waarhede wat dikwels vermy word, want mense val hulle dikwels aan. Wat is hierdie waarhede wat vermy word?

  • Leer dat God se oordeel sal kom. Baie mense vermy hierdie onderwerp, want hulle is bang dit skrik mense af. As ons niks van God se oordeel sê nie, kan mense hulle eie begeertes volg.
  • Leer dat God elkeen van ons gaan oordeel. Mense moet hulle eie hulpeloosheid besef. God oordeel nie net “mense daarbuite” nie. As ons dit verstaan, verdiep ons verstaan van God se genade en barmhartigheid.
  • Leer dat hoop alleen in Jesus Christus te vinde is. Dit gaan nie oor wat ons doen nie, maar oor wat Jesus Christus reeds vir ons gedoen het. Mense moet besef dat hulle ‘n Verlosser nodig het.
  • Leer dat Christene nie die volheid van verlossing reeds in hierdie lewe sal geniet nie. Om te leer dat die voordele om Jesus te volg tot hierdie lewe beperk is, is verkeerd.
  • Leer hoe maklik dit is om onsself oor ons verhouding met God te mislei. Almal wat sê dat hulle Christene is, is nie Christene nie. selfs mense wat geestelik dood is, kan opgewonde raak oor sekere programme in die kerk. Daarom: Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe (2 Korintiërs 13:5).

Het ons hierdie dinge geleer in ons gemeente?

 

  • Let op jou lewe

‘n Verkeerde lewe is net so vernietigend soos verkeerde leer. Hierdie vrugtelose, daadlose geloof is nie ware geloof nie. Dit is dood en kan ons nie red nie. Mense kyk na ons. In die vroeë kerk was daar drie algemene foute wat steeds teenwoordig is. Kom ons kyk na hulle:

  • ‘n Kerk sonder heiligheid is ‘n fout. Christus het gesê dat ons heilig moet wees soos Hy heilig is. Maar dan mag ons nie onderrig oor sonde vermy nie. In baie gemeentes is daar geen aanspreeklikheid tussen lidmate nie, want die gemeente laat plek vir ons huidige kultuur se klem op individualisme. As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie (1 Johannes 1:6). Hy gaan verder: Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ‘n leuenaar, en die waarheid is nie in Hom nie (1 Johannes 2:4). Die geloofsgemeenskap moet God se karakter weerspieël.
  • Die is ‘n fout om ‘n kerk sonder lyding te verkondig. Dan mislei ons mense oor waarvan God ons verlos het. Hy red ons van morele bankrotskap en die dood. Lyding is ‘n prominente tema in Petrus se eerste brief. As jy baie vals bekeerlinge wil hê, vertel vir hulle dat God ‘n gratis gawe sonder enige opoffering gee.
  • Dit is ‘n fout om ‘n kerk sonder liefde te verkondig. As liefde nie die gemeete kenmerk nie, sal dit nie ware Christene lok nie. Ons praat van liefde wat vir jou ongemaklik is. Oppas vir geestelike waarhede verkondig uit dooie harte.

 

 

 




God sal rus aan sy mense gee (Sefanja 3:13)

 

Jesus Christ comes to tell men that they have no enemies but themselves – Blaise Pascal

 

God sal rus aan sy mense gee (Sefanja 3:13)

Hulle sal die kudde wees wat wei en gaan lê en rus sonder dat iemand hulle skrikmaak. God gee hulle rus ten spyte van ‘’n kultuur vol spanning. Hoe kom, sal hulle rus kry? Dit is nie net die gevolg van die verwydering van die chaos nie, maar van die verwydering van sonde uit ons lewens. Geen mense wat onreg doen nie; geen mense wat lieg nie; geen valsheid uit hulle monde nie.

 

So baie van ons spanning is die gevolg van sonde. Soos die sonde uit ons lewens uitgewis word, kan ons in die vrede van God rus. God se teenwoordigheid, sy geregtigheid, sy heiligheid bring vrede. Jesus Christus se wonde is die toegang tot ons vrede. In die evangelie word ons sonde aan Christus oorgedra en sy geregtigheid aan ons. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21). Dit is hierdie merkwaardige oordrag wat ons in staat stel om te rus.

 

Ons kan ook sonder vrees rus. Dit verwys weer na die uitwissing van sonde en die herstel van alle dinge. Dit is wat die psalmis in Psalm 23 sê.

 

 

 

 

 

 

 

 




Ek het ‘n dwase belofte gemaak

 

If I had only one sermon to preach, it would be a sermon against pride – G. K. Chesterton

 

Ek het ‘n dwase belofte gemaak

In Rigters 10 – 12 lees ons die treurige verhaal van Jefta. Jefta maak ‘n gelofte teenoor die Here: As u die Ammoniete vandag heeltemal oorgee aan my mag, sal die een wat my uit my huis uit tegemoet kom wanneer ek behoue terugkom van die Ammoniete af, aan die Here behoort: ek sal hom as brandoffer offer (11:30). Sy enigste kind, sy dogter, kom hom tegemoet.

 

Wat moes Jefta met hierdie dwase belofte gedoen het: Ons eerste reaksie is: ignoreer dit. Hoekom sê ons so? Wat van hierdie gedeeltes?

  • As jy aan God ‘n belofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie. Wat jy beloof het, moet jy betaal. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie (Prediker 5:3 – 4).
  • In die bergrede waarsku Jesus teen die aflê van ‘n eed (Matteus 5:33 – 37). Hy eindig met hierdie woorde: Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’ ‘nee.’ Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.

 

Nou sal sommige mense sê: “Moenie dwase beloftes aan God maak nie, maar as jy dit wel gedoen het, moet jy dit nakom. Twee verkeerdes maak nie ‘n regte nie. Niks is erger as om vir God te jok nie.” Hierdie logika mag opreg wees, maar dit is gevaarlik. Natuurlik moes hy nie sy dogter geoffer het nie. Hoeveel van ons het nie al probeer om private ooreenkomste met God aan te gaan nie. “As U my uit hierdie situasie kry, sal ek …” Dikwels is dit iets dwaas – onmoontlik, onvolhoubaar, ens.

 

Wat doen ons hiermee?

  1. Bely jou dwase belofte aan God – moenie sondig om God “gelukkig” te maak nie.
  2. Leer uit die impulsiwiteit of vals geloof wat jou die belofte laat maak het.

 

‘n Deel van die rede waarom ons dwase dinge aan God belowe, is omdat ons dink dat God met ons grootsheid beïndruk sal wees. Hoe gouer ons hierdie idee vergeet, hoe beter. Dit is ‘n onvolwasse siening van God om te dink dat Hy met ons beïndruk sal wees. Wat ons nodig het, is die regte siening van God.

 

Ons moet leer van die impulsiwiteit wat ons die dwase belofte laat maak het en die geloof wat ons laat dink het hierdie dwase belofte sal die moontlikheid dat God ons gebed gaan beantwoord, verhoog.

 

As God berou en belydenis sien, glimlag Hy soos ‘n goeie Vader, want dit is ‘n teken van volwassenheid. God is nie ‘n advokaat wat ons probeer vastrek in woorde wat ons in die verlede gesê het nie. God is ‘n goeie Vader wat wil hê dat ons uit elkeen van ons foute moet leer. As jy jou verhouding met God in hierdie lig sien, sal jy jou woorde goed oorweeg.

 

God sal eerder ‘n dwase belofte in een van sy kinders wat besig is om te groei,  vergewe as om te sien dat ‘n eiesinnige kind sy dwaasheid deurvoer. God word meer verheerlik deur ons te vergewe as ons ‘n dwase belofte verbreek as wanneer ons ‘n dwase belofte uitvoer.

 

 

 

 

 




Vals bekerings

 

God is not embarrassed by his wrath or ashamed of his judgment, so we shouldn’t be either. —Thabiti Anyabwile

 

Vals bekerings

Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister (1 Timoteus 4:16).

Is vals bekerings ‘n probleem  in ons kerke vandag? In die gelykenis van die saaier gee Jesus vier voorbeelde van dieselfde saad wat reg gesaai word, maar is drie gevalle is die resultaat negatief. Is dit nie ‘n bewys dat Jesus verstaan dat dit lyk asof sommige mense positief op die evangelie reageer, maar mettertyd is dit duidelik dat hulle geestelik dood is nie? Is daar nie baie mense in ons kerke wat nie bekeerd is nie?

 

God se oorkoepelende plan is om heerlikheid vir Homself te bring deur mense. Hierdie plan begin toe Hy vir Abram geroep het. Later sê Dawid: Vertel die nasies van sy mag, al die volke van sy magtige dade (1 Kronieke 16:24). Hierdie is ‘n tema wat ons dwarsdeur die Bybel kry. Dit is God se plan: om Hom bekend te maak sodat Hy verheerlik kan word onder al die nasies. God gaan hierdie plan van Hom eerstens deur Jesus Christus vervul. Maar die storie gaan verder: Omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie (Openbaring 5:9). En wat van hierdie mense?  Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal oopgesluit bly (Matteus 18:18). Jesus het dus sy gesag aan sy mense – sy kerk – gegee. God gaan sy plan deur Jesus Christus en sy kerk uitvoer.

 

Maar wat is die probleem? Die probleem is dat God se mense ontrou is. Ons sien dit reeds in die Ou Testament. Ons kry dieselfde in die Nuwe Testament. Jesus sê: Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matteus 5:16).

 

Wat is dan die gevolge van mense wat in die kerk sit, maar hulle is nie werklik bekeer nie?

  1. Vals bekerings mislei die individue self. In 1 Korintiërs 5:5 gee Paulus ‘n rede waarom die vals “gelowige” uit die kerk geban moet word: So sou sy sondige aard vernietig word, sodat sy gees gered kan word op die dag wanneer die Here kom. Dit is nie reg van ‘n gemeente om mense gemaak na die beeld van God te laat met die indruk dat hulle met God versoen is as dit nie waar is nie.
  2. Vals bekerings mislei ‘n gemeente. ‘n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg. As die gemeente heelwat van hierdie vals bekeerlinge het, maak dit die gemeente nie minder liefdevol, vergewend en hoopvol nie? Die kerk word nou meer soos die wêreld.
  3. Vals bekerings mislei die nasies deur die kerk se getuienis te onderdruk. Die kerk word so baie soos die wêreld dat de wêreld geen vrae meer vir die kerk het nie. As daar min/geen verskil tussen die kerk en die wêreld is nie, is die kerk nie meer ‘n baken van hoop nie.
  4. Vals bekeerlinge onteer die heerlikheid van God se Naam. Die kerk moet die waarheid oor God weerspieël. As die kerk verdeel is, vertel dit vir die mense dat God verdeel is. Ons gemeentes moet die karakter van God weerspieël sodat Hy deur die nasies verheerlik kan word.

 

Wat is die probleem? In baie gemeentes is daar min bewyse van die vrugte van die Gees. Hoekom? Paulus waarsku vir Timoteus: Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly (1 Timoteus 4:7). Hy waarsku ook dat vals leermeesters mense in die gemeente sal mislei. Dwarsdeur die Nuwe Testament word ons teen dwaalleraars gewaarsku.