Kan ons maar kla?

 

The person who loves their dream of community will destroy community, but the person who loves those around them will create community.” Dietrich Bonhoeffer

 

Kan ons maar kla?

Kla is nie noodwendig verkeerd nie. Daar is ‘n gelowige en ‘n ongelowige manier om te kla. Die Bybel verwys dikwels na ongelowige kla as mor of murmureer, en waarsku dat dit iets is wat vermy moet word. Hierdie soort kla impliseer dat God nie goed of getrou of liefdevol of wys genoeg is nie. As Hy was, sou Hy ons beter hanteer het. Ongelowige kla is sonde, want dit sê dat God verkeerd is.

 

Gelowige kla, daarenteen, is ‘n eerlike uitdrukking van hoe dit voel om moeilikheid of angs of hartseer te ervaar. God moedig hierdie soort van kla aan. ‘n Goeie voorbeeld is Psalm 142:2 – 3: Ek roep na die Here om hulp, ek smeek die Here om genade, ek stort my klag voor Hom uit en vertel Hom van my nood.

 

Baie van hierdie soort klagtes kry ons in die klaagpsalms. In hierdie psalms stort die skrywers hulle angs, vrees, verlange, verwarring, teleurstelling ens teenoor God uit. Hierdie psalms gee uitdrukking aan die Here se barmhartigheid en ontferming (Jakobus 5:11). God wil hê dat ons ons klagtes aan Hom moet voorlê. Hy wil hê dat ons Hom presies moet vertel hoe ons voel. Maar Hy wil ook hê dat ons nie sy beloftes moet vergeet nie – eendag sal hierdie probleme ons nie meer teister nie. Dan sal ons soos die psalmis sê: Die regverdiges sal dankbaar om my kom staan wanneer U aan my goed doen (142:8).

 

Die psalms leer ons om op so ‘n manier te kla dat dit God eer. Hulle vertel ons egter ook van God se barmhartigheid teenoor ons. Ons sien dat ons nie so alleen is soos ons voel nie en dat God verstaan. Dit herinner ons ook aan die waarheid van Jesus se stelling: In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin (Johannes 16:33).

 

Kla teenoor God, maar moenie murmureer nie. Leer uit die psalms oor hoe om te kla.

 




Amy Carmichael

 

All men that are ruined, are ruined on the side of their natural propensities (Edmund Burke).

 

Amy Carmichael

Amy Carmichael was ‘n sendeling in Indië. ‘n Goot deel van haar bediening was om na kinders wat sleg behandel is, om te sien. Sy red baie kinders van prostitusie wat in die tempels gebeur het. Sy stig die Dohnavur Fellowship wat ‘n toevlug vir meer as ‘n duidend kinders word. Sy sterf in 1951 in Indië. Sy was 83 jaar oud.

 

Voor sy sterf, vra sy dat geen grafsteen op haar graf geplaas moet word nie. Maar die kinders vir wie sy so baie omgegee het, besluit om ‘n bad vir voëls op haar graf te plaas. Op die bak was die eenvoudige inskripsie: “Amma,” wat moeder beteken. Carmichael het altyd gesê: One can give without loving, but one cannot love without giving. Sherwood Eddy skryf die volgende van haar: Her life was the most fragrant, the most joyfull sacrificial, that I ever knew.

 

Mag God ons mense maak wat ander liefhet soos Christus ons liefgehad het. Mag ons liefde ‘n aangename geur vir God wees.

 

 




Sonde en verlossing

 

Thanksgiving is an antidote for sin, for it is difficult to both give thanks and sin at the same time (Kyle Snodgrass).

 

Sonde en verlossing

BioLogos het ‘n reeks Creation, Evolution, and Christian Laypeople aangebied. As deel van die reeks het Tim Keller oor sonde en verlossing gepraat.

Daar is mense wat glo dat daar nie letterlik ‘n Adam was nie, maar tog die onderrig van Genesis 2 en Romeine 5 aanvaar. Dit is dat alle mense gesondig het en dat hulle deur Christus verlos kan word. Is hierdie benadering nie te simplisties nie?

 

Die evangelie is goeie nuus en nie goeie advies nie. Dit is nie riglyne oor wat ons moet doen om onsself te verlos nie, maar eerder ‘n aankondiging oor wat reeds gedoen is om ons te red. Die evangelie is dat Jesus in die geskiedenis iets gedoen het, sodat wanneer ons met Hom in geloof verenig is, ons die voordele van wat Hy gedoen het, ervaar. So word ons verlos. Hoe kan ons nou krediet kry vir iets wat ons nie gedoen het nie? Dit maak miskien nie vir ons sin nie, maar vir die mense van Jesus se tyd was dit sinvol. In solidariteit met ‘n vader of ‘n ander lid van die familie of van die stam is jy in ‘n verbondsverhouding met hulle. Jy word verantwoordelik gehou of jy kry krediet vir wat die ander persoon doen. In Josua 7 lees ons dat Akan se hele familie gestraf word omdat hy gesondig het.

 

In daardie tyd, en in die Bybel, is ‘n persoon nie wat hy is slegs as gevolg van sy persoonlike keuses nie. Hy is wie hy is deur sy stam en familie-omgewing. As hy dus iets goed of sleg doen, is ander in solidariteit of in ‘n verbond met hom en hulle word hanteer asof hulle gedoen het wat hy gedoen het.

 

Dit is ook, volgens Paulus, hoe die verlossing van Christus werk. As ons in Hom glo, is ons in Christus. Ons leef in ‘n verbond met Hom, want ons is verbind aan Hom, nie deur familiebande nie, maar deur geloof.

 

Maar wat het dit nou met Adam te doen? Paulus praat hieroor in Romene 5 en 1 Korintiërs 15. Aangesien die dood deur ‘n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ‘n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word (1 Korintiërs 15:21 – 22). Wanneer Paulus sê dat ons in Christus verlos is, bedoel hy dat ons ‘n verbondsverhouding met Christus het. Wat Hy in die geskiedenis gedoen het, kom op ons rekening as krediet. Maar in dieselfde sin sê Paulus dat ons as mense ook “in Adam” is. Adam is dus ‘n verbondsverteenwoordiger van die hele mensdom. Ons is in ‘n verbondsverhouding met hom en wat hy in die geskiedenis gedoen het, kom op ons rekening.

 

Ons kan tog nie in ‘n verbondsverhouding met iemand wees wat nooit in die geskiedenis bestaan het nie. As Adam dus nie bestaan nie, val Paulus se hele argument dat beide sonde en genade deur ‘n verbond werk, plat. As ons nie glo wat Paulus oor Adam geglo het nie, ontken ons die kern van Paulus se onderrig.

 

As jy nie glo in die val van die mensdom as ‘n enkele geskiedkundige gebeurtenis nie, wat is jou alternatief? Ons kan sê dat sekere mense stadig van God weggedwaal het – hulle het immers ‘n eie vrye wil. Hoe het die sonde dan versprei? Net deur ‘n slegte voorbeeld? Dit is nie wat die kerk geleer het nie. Ons leer nie sonde by ander nie – ons erf ‘n sondige natuur. Ons leer ook dat dit nie oorspronklik in ons natuur was om te sondig nie, maar dat ons iewers in sonde geval het.

 

 




Die klere maak die man!

 

Sickness has frequently been of more use to the saints of God than health has. —C.H. Spurgeon

 

Die klere maak die man!

“Klere maak die man.” Hierdie gesegde is nie fisies waar nie, maar geestelik is dit waar. As jy ‘n Christen word, kry jy ‘n nuwe stel klere. Jy word in Christus geklee. As poliesielede, verpleegsters, soldate, ens hulle uniforms aantrek, aanvaar hulle nuwe verantwoordelikhede wat inpas by hulle identiteit. Net so met die Christen: as hy Christus aantrek, kry hy ‘n nuwe geestelike identiteit met dienooreenkomstige nuwe verantwoordelikhede. Ons het die ou klere uitgetrek en die nuwe klere aangetrek en ons moet nou in die lig van ons nuwe identiteit leef.

 

In die Ou Testament word hierdie beeld vir die aantrek van sekere deugde gebruik. So sien ons dat God Hom met majesteit beklee (Psalm 93:1). Paulus gebruik ook hierdie beeld op verskeie plekke. ‘n Goeie voorbeeld is Efesiërs 4:17 – 22. Hier gaan dit oor ons nuwe identiteit in Christus, hoe dit lyk en hoe ons in die lig daarvan moet leef.

 

As ons besluit om Christus te volg, kan ons nie net voortgaan met ons lewe soos vantevore nie. Ons het nuwe klere – ‘n nuwe identiteit – met nuwe verantwoordelikhede gekry. Ons moet hierdie nuwe identiteit in die praktyk uitleef.