Wat is die evangelie?

 

Faith and thought belong together, and believing is impossible without thinking (John Stott)

 

Wat is die evangelie?

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek , volgens die Skrifte (1 Korintiërs 15:3 – 4).

  • Die belangrikste

Die evangelie is nie iets waaraan God agterna gedink het nie; dit is nie iets wat ons af en toe kan insluit nie. Dit is die belangrikste – die hart van ons bediening Dit is die belangrikste, want dit is deur die evangelie wat God werk om mense uit die dood na die lewe te neem.

 

  • Christus

Christus is die Messiaanse beskrywing van Jesus. Dit sluit dus al die beloftes van die Ou Testament in. Die Messias – Gesalde – is God wat mens geword het om ons plaasvervanger te wees.

 

  • Dit verduidelik wie Jesus is

Ons kan tog nie in Jesus glo as ons nie weet wie Hy is nie. Verstaan ons werklik wie Jesus is? Sommige glo dat hy ‘n groot profeet of leermeester of geneser is. Min mense, selfs gelowiges, glo dat Jesus God is – Hy is die Seun van God. Jesus is God die Seun wat mens geword het. In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God … Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:1, 14).

Die hoorder moet verstaan wie Jesus is: Hy is God die Seun wat mens geword het. dit is deel van God se liefde wat ons aan ander moet oordra.

 

  • Sonde

Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte. Iemand wat nie besef dat hy ‘n sondaar is nie, sien geen nodigheid vir ‘n Verlosser nie.  Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Romeine 3:10); Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23). Almal het ‘n verlosser nodig.

 

  • Gesterf vir ons sondes

Baie mense weet dat Christus vir hulle sondes gesterf het, maar hulle het geen idee wat dit beteken nie. Ons moet verduidelik dat dit straf van God vir ons sondes is. God moet sonde straf. Daar is drie soorte dood: fisies, geestelik en ewig.

 

  • Hy is begrawe en op die derde dag opgewek

Die opstanding is noodsaaklik, want dit is die bewys dat Christus die sonde en dood oorwin het.

 

 




Brief aan die kerk deur Billy Graham

 

When discipline leaves a church, Christ goes with it – John L. Dagg.

 

Brief aan die kerk deur Billy Graham

In die e-boek Mission of God lees ek hierdie brief van Billy Graham aan die kerk.

As Jesus dan na die wêreld gekom het om ons van ons sondes te red en die ewige lewe te gee, hoekom het Hy ons nie sommer hemel toe geneem die oomblik toe ons Jesus Christus as ons Verlosser aangeneem het nie? Die rede is eenvoudig: God laat ons hier, want ons het ‘n roeping om te voltooi. Ons is nie hier per ongeluk nie; ons is hier, want God het ons hier geplaas en Hy het ‘n doel daarmee. In sy laaste byeenkoms met sy dissipels bid Jesus vir hulle: Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar … Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur (Johannes 17:15, 18).

 

Maar wat is hierdie roeping? Wat wil God hê dat sy mense moet doen? Dit sal ons net verstaan as ons die Bybel verstaan. As ons nie die Bybel ken nie, sal ons nooit die diepte van die mens se sonde en die tragedie daarvan begryp nie. As gevolg van ons opstand teen God is ons afgesny van ons Skepper. Ons is nou onderworpe aan oordeel en die dood. Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie, daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard (Romeine 3:10 – 12a).

 

Maar as dit nie vir die Bybel was nie, sou ons ook nooit die diepte van God se liefde verstaan het nie. Die bewys hiervan is die Bybel se boodskap van die kruis. Aan die kruis sien ons God se liefde geopenbaar in al sy volheid en diepte. Aan die kruis het Jesus die straf wat ons verdien het op Homself geneem. Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê (1 Johannes 4:9). Deur sy opstanding bewys Jesus sonder enige twyfel dat Hy inderdaad die Verlosser is. Een dag sal Hy weer kom en die bose finaal oorwin en sy heerskappy oor die hele skepping bevestig.

 

Hierdie is die boodskap wat God vir ons gegee het. Ons moet dit verstaan; ons moet ons lewens daaraan onderwerp; ons moet dit op elke moontlike manier deel. God het nie bedoel dat sy kerk net nog ‘n sosiale klub moet wees nie – ‘n gemeenskap wat net oor sy eie oorlewing of mag bekommerd is nie. Ons is geroep om sy hande en voete en stem en uitgestrekte arms te wees. Ons moet die goeie nuus van die verlossende liefde van God in Jesus Christus die hele wêreld indra. Dit was Jesus se finale opdrag aan sy dissipels (Matteus 28:18 – 20). Hierdie opdrag is nog nooit teruggertrek nie.

 

Daarom moet evangelisasie ons prioriteit bly en daarom dissipelskap ons doel wees. Ons is onder opdrag van God en die enigste logiese reaksie hierop is gehoorsaamheid. Ons kan tog nie onaangeraak bly in ‘n wêreld wat gebuk gaan onder oorloë en ongeregtigheid – hongersnood en siekte – nie

 

Laat die boodskap van hoop en vryheid van sonde ons verander in die persone wat God wil hê dat ons moet wees. Dan kan ons as ons die dag voor Hom staan nie skaam wees nie. Mag ons hoor dat Hy sê: Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf (Matteus 25:23).

 




Die Boodskap aan Sardis

 

“The Church must be forever building, for it is ever decaying within and attacked from without; for this is the law of life.” –T. S. Elliot

 

Die Boodskap aan Sardis

Word wakker En versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie (Openbaring 3:2). Hierdie woorde uit die boodskap aan die gemeente in Sardis geld ook vir ons. ‘n Tragedie wag op ons as ons nie luister na wat Jesus te sê het nie.

 

Jesus begin sy brief aan die gemeente in Sardis met sy diagnose: Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.  Die gemeente is positief deur die gemeenskap gesien, maar toe Jesus hulle ondersoek, was daar geen hartklop nie. Hulle het ‘n reputasie sonder lewe.

 

Vandag evalueer ons gemeentes op grond van getalle. Tog word hulle impak op die geestelike gesondheid skaars raakgesien. Dit beteken nie noodwendig dat alles verlore is nie. Die gemeente in Sardis was dood,  maar julle het darem ‘n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is. Jesus werk met diegene wie se harte vir Hom reg is en wat getrou aan hulle roeping is. Hy skryf nou medisyne voor vir die gemeente:

  1. Word wakker. Dit beteken hulle moet die teneerdrukkende werklikheid van hulle doodsheid erken. Hulle moet hulle eie swakhede en afname in invloed evalueer. Hulle moenie met die vals versekering dat hulle gesond is lewe as hulle in werklikheid dood is nie.
  2. Versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Diegene wat getrou gebly het, moet diegene wat geestelik lusteloos is, aanspoor en help. Daar is mense en programme in die kerk wat die moeite werd is om te hou – as hulle net nuwe lewe kan kry. In ons kerke vandag is daar baie wat ons bemoedig – daar is nog tekens van lewe. Maar dikwels is daar ook die dood.
  3. Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Baie mense – en gemeentes – het die evangelie vergeet. Dit is net as die evangelie duidelik verkondig en uitgeleef word dat ‘n gemeente kan voorkom dat hy irrelevant word.
  4. Bekeer julle. Draai die rug op sonde. Wat nodig is, is ‘n nuwe liefde vir Jesus Christus en erken dat die afgode wat ons aanbid vir Hom aanstoot gee. Pynlik, maar noodsaaklik. Die gemeente moet in die wêreld soos ‘n skip in die see wees, maar as die see in die skip kom, weet ons daar is moeilikheid.

 

Wat sê God vandag vir die gemeentes? Soos die mense van Sardis het ons ons klere besoedel. Dit verswak ons; dit verminder ons geloofwaardigheid om vir Hom te getuig. Ons het ons aan die kultuur uitverkoop en ons is blind vir ons eie sondes en kompromieë. Gemeentes moet nederig hulle geestelike toestand voor God evalueer; ons moet dat Jesus vir ons ‘n ware lesing van ons geestelike gesondheid gee. Dit moet deur bekering gevolg word – individueel maar ook die geloofsgemeenskap as geheel. Ons moet identifiseer en versterk wat nog oorgebly het.

 

Wat gebeur as ons dit nie doen nie? Luister na Jesus se warakuwing: As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ‘n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie.  Vandag is daar geen gemeente in Sardis nie. Maar ons moet ook die belofte wat Jesus aan die getroues maak, lees: Hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is … Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. Dan eindig Jesus sy boodskap aan die gemeente aan Sardis met die woorde: Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Luister ons?

 




Is ons verbruikers?

 

Nothing can be more cruel than that leniency which abandons other to sin. Nothing can be more compassionate than that severe reprimand which calls another Christian in one’s community back from the path of sin – Dietrich Bonhoeffer.

 

Is ons verbruikers?

As ons praat van ‘n verbruikersgesindheid in die kerk fokus ons gewoonlik op die gevare van afgodery – die versoeking om materiële dinge eerder as God die middelpunt van ons lewens te maak. As mense moet ons hulpbronne gebruik om te oorleef. Die gevaar is nie om te verbruik om te lewe nie, maar om te lewe om te verbruik. Ons moderne kultuur definieer verhoudings en optrede primêr deur ‘n matriks van verbruik. Die filosoof Baudrillard verduidelik: “Consumption is a system of meaning.” Ons heg waarde aan onsself en ander op grond van die dinge wat ons koop. Ons identiteit berus nou op die klere wat ons dra, die motor wat jy bestuur …  jy is wat jy verbruik.

 

As ons hierdie verstaan van die wêreld en onsself in die kerk inbring, gebeur twee baie negatiewe dinge.

  • God word ‘n verbruikersartikel. Sy waarde word bepaal deur hoe nuttig Hy vir die verbruiker is. Persoonlike begeertes en hulle vervulling oorheers alles. Alles en almal – insluitend God – bestaan om hierdie begeertes te bevredig. Dit is presies die teenoorgestelde van wat die Skrif ons leer. Ons word opgeroep om ons aan God te onderwerp en om in nederiheid saam met Hom te loop. ‘n Verbruikersmentaliteit maak van God ‘n nuttige instrument vir ons eie begeertes en verwagtings.
  • Jesus word tot ‘n etiket gereduseer. Toe die vroeë Christene verklaar het dat “Jesus is die Here” het hulle die populêre siening van die dag – “Die keiser is die Here” – teengestaan. Dit was ‘n proklamasie van Jesus se gesag en mag oor alle dinge. Maar nou is die verbruiker koning – nie Jesus nie. Die Christendom is nou net nog ‘n handelsmerk wat ons integreer met Apple en Starbucks om ons identiteit uit te druk. Ons verbruik Christelike handelsware – musiek, boeke, t-hemde, juweliersware. In plaas daarvan dat ons die waardes van God se koninkryk uitleef, deel ons die waardes van ons verbruikerskultuur. Ons identiteit as Christene word nou ‘n dun lagie vernis.

 

Nou kom ons voor moeilike vrae te staan. Probeer ons nie net om vir God te gebruik nie? Soek ons waarlik ‘n lewe saam met God? Is “Christen” bloot ‘n etiket waarmee ons ons identifiseer, maar dit het geen impak op ons lewe en gedrag nie? Verpak ons Jesus as ‘n verbruikersartikel en verkoop dit aan mense?