God se sending

 

Where Scripture speaks, God speaks – Augustinus

 

God se sending

Die kerk is baie geneig om teologie (hoe God is, wat Hy gesê en gedoen het) van sending (oor ons en wat ons doen) te skei. Maar ons sending word van God se sending afgelei. Ons teologie van God moet sy sending insluit. Christopher Wright sê dat baie mense missio Dei gebruik as verwysing na die optrede van God om te stuur. Doen ons dit ignoreer ons ‘n aantal belangrike temas wat noodsaaklik is vir ons verstaan van die volheid van God se sending en ons eie sending.

 

Missio Dei kan soos volg gedefinieer word: Die toewyding van God om Homself bekend te maak aan sy skepping met die doel om die skepping te verlos en te herstel tot sy regte verhouding met God. Hierdie verhaal van God wat Homself bekendstel, is ‘n belangrike storie in die Bybel. God het Hom aan Abraham bekend gemaak. Daarmee lanseer Hy sy groot agenda om al die nasies van die wêreld te seën.

 

In die Nuwe Testament vervul Jesus God se sending om Homelf bekend te stel. Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (Psalm 19:2). Hulle kommunikeer kennis  van God se onsigbare eienskappe – soos sy ewige mag en teenwoordigheid.

 

Maar die mens het ook ‘n sending – om oor die aarde te heers en dit te versorg; In die Ou Testament het Israel ook ‘n sending gehad – om God se agent te wees in sy seën van al die nasies; Jesus het ‘n sending gehad – om die sending van Israel te vervul deur ons sonde aan die kruis te dra; die kerk het ook ‘n sending – om saam met God deel te neem aan die bymekaarmaak van die nasies.

 

Die sending van God beheer die storie van die Bybel vanaf die gebrokenheid van die volke (Genesis 11) tot by die genesing van die nasies ( Openbaring 21 – 22). Die oorkoepelende storie van die Bybel en die wêreld is God wat Hom openbaar. Dit is dan die motivering en doel van die kerk se sending. Die kerk se sending vloei direk voort uit God se sending Die kerk se aktiwiteite is die nederige deelname aan God se groot werk. God is op ‘n sending en ons is sy medewerkers.

 

 




Die verbasende genade van God

 

I live as though Christ died yesterday, rose again today, and is coming again tomorrow – Martin Luther.

 

Die verbasende genade van God

Geen leer in die Skrif is vir die mens kosbaarder as die leer van verlossing nie. Geen woord is belangriker vir die leer van verlossing as genade nie. Dat die soewereine God uit die hemel uitreik om sondaars wat dit nie verdien nie te red van die slawebande van sonde, van ’n geestelike dood en ewige skeiding van God, kan met net een woord beskryf word: genade.

 

Maar hierdie leer van verlossing is nie vandag gewild nie – veral die eis dat Jesus die enigste weg na God is. Ons moderne kultuur sien dit as te eng en beperkend, onverdraagsaam, liefdeloos en onwaardig van God soos ons dink Hy behoort te wees. Daar is veral drie idees wat tans die huidige godsdienstoneel ten opsigte van verlossing domineer:

  1. Universalisme en die verwante pluralisme. Daar is baie paaie – selfs ‘n onbeperkte aantal paaie – na God. Dit is die idee dat alle paaie na God lei en uiteindelik word alle mense gered en kom in die hemel. Ons kry dit onder andere by die New Age teologie.
  2. Inklusiwiteit. Hierdie idee bevestig dat Jesus die enigste Verlosser is, maar dit is moontlik om gered te word al het jy nog nooit op Hom vir jou verlossing vertrou nie. Dié idee sê vir ons dat ons verlos kan word deur ‘n positiewe reaksie op God se openbaring in die natuur en ons gewete. Hier kry ons ook ‘n geloof dat ons deur ons goeie werke gered kan word.
  3. Eksklusiwiteit. Hierdie is die ortodokse siening wat leer dat verlossing slegs kom deur persoonlike geloofstoewyding aan Jesus Christus as Verlosser en Here. Dit bevestig die uniekheid en finaliteit van God se openbaring in Jesus Christus. Hy alleen is die Verlosser. Net deur Hom kan ons gered word. God sou nie sy Seun gestuur het om aan die kruis te sterf as daar ‘n ander pad na verlossing was nie.

 

 

 




Werk vir die uitgeworpenes

“Ons het al al die vrae wat gevra kan word, gevra.  Ons moet ophou soek vir vrae en begin kyk vir antwoorde.”  GK Chesterton

 

Werk vir die uitgeworpenes

Die naam Jesaja beteken “God red.” Die boek Jesaja beklemtoon dat verlossing kom van God en nie van die mens nie. Gelowiges moet daarna streef om ‘n voorbeeld te wees vir diegene wat van God geskei is. Ons is ambassadeurs van God se liefde. Die beste manier om God se liefde te wys, is deur ons behandeling van die armes en die uitgeworpenes. Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood. Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is (Jesaja 61:1).

 

As elke gemeente ‘n aantal haweloses versorg, sal haweloosheid verdwyn. Verlossing is die einddoel, maar min mense oorweeg geestelike verlossing as hulle fisies besig is om van honger dood te gaan. God is die enigste weg na verlossing. As mense eers die krag van God se liefde ondervind het, verander hulle. Hulle ontdek hoop. Hulle ondervind vrede en vreugde as hulle soggens opstaan.

 

Maar ons as gelowiges moet ‘n bron van hulp in ons gemeenskappe wees. Ons moet nooit tou opgooi nie – nie oor een enkele persoon nie. Die gemeente moet elke dag iemand bemoedig. Tommy Barnett se filosofie was:   “Find a need and fill it, find a hurt and heal it.” Christene moet die lig vir die wêreld wees. Ons moet ons lewens met ‘n boodskap van hoop en verlossing lewe – dan sal ons lig helderder wees. As verteenwoordigers van God moet ons bemoedig waar niemand anders dit wil doen nie; om liefde aan iemand te bewys, maak nie saak hoe diep hy geval het nie; om kos vir die armes te gee. Deur ons liefde aan mense te bewys, lei ons hulle tot verlossing in Christus.

 

 




Fasiliteer transformasie van die kerk

How diligently the cavalry officer keeps his saber clean and sharp; every stain he rubs off with the greatest care. Remember you are God’s sword, His instrument – Robert Murray M’Cheyne

 

Fasiliteer transformasie van die kerk

Om verandering te lei, is ‘n geleentheid, maar daar is altyd teenstand en hindernisse. Dit kan ‘n oop deur na ‘n nuwe begin wees, maar dit kan ook beteken dat ons daardie dinge waarvoor ons lief is, verloor. Jesaja en Israel bevind hulle in so ‘n tyd van verandering. Ussia, wat 52 jaar geregeer het, is dood. Jesaja word met ‘n nuwe openbaring van God gekonfronteer. Hy word skielik van God se grootheid bewus en dit maak hom nederig. Verandering gaan kom en Jesja weet nie wat dit gaan behels nie – hy voel kwesbaar. Ten spyte van sy tekortkominge nooi God hom om te help met die transformasie van die volk wat in ‘n krisis is (Jesaja 6). Hy hoor dat dit eers slegter sal gaan voor dit beter sal word.

 

As ons na hierdie gedeelte kyk, is daar ‘n paar betekenisvolle lesse vir ons:

  1. Leiers moet ‘n realistiese siening van huidige werklikhede hê. Sonder akkurate inligting sal ons toekomsplanne misluk. Jesaja het die hele landskap, insluitend sy eie tekortkominge, realisties beoordeel.
  2. Die leier het ook die vermoë om ‘n toekoms vol moontlikhede raak te sien in sy verbeelding. Hy fokus nie op al die moontlike beperkings nie.
  3. Die leier erken gereeld sy totale afhanklikheid van die Here. Doen hy dit nie, sal sy sukses beperk word tot dit wat hy self kan doen. Dit wat hy so bereik, sal nie volhoubaar wees nie.

 

Om doeltreffende transformasie van die kerk te fasiliteer vereis ‘n duidelike visie, hoop en ‘n opregte nederigheid.