Ek glo in jou

 

We must be global Christians, with a global mission, because our God is a global God. —John Stott

 

Ek glo in jou

Hierdie is seker van die kragtigste woorde wat jy vir iemand kan sê. Dit lei tot vertroue en afwagting in wat ‘n mens kan word deur God se genade en mag. Dit moedig jou aan om te word wat God graag wil hê dat jy moet word. Dit is wat Elia met Elisa gedoen het.

 

Toe Elia by hom (Elisa) verbyloop, gooi Elia sy mantel op hom (1 Konings 19:19). Hierdie mantel was destyds een van die kosbaarste besittings wat iemand gehad het. Dit was ‘n kledingstuk, maar dien ook as kombers en kussing. Toe Elia dus sy mantel op Elisa gooi , sê hy in werklikheid vir hom: “Ek glo in jou. God se Gees is op jou.” Dit moes vir Elisa baie beteken het – ‘n persoon vir wie hy baie respek gehad het, het na hom gekom en met ‘n eenvoudige gebaar sy hele lewe verander.

 

Leiers besef dat vir God se werk om gedoen te word, moet potensiële leiers voortdurend geïdentifiseer, ontwikkel en uitgestuur word. Daarom bid hulle gedurig vir onderskeidingsvermoë, want alle gelowiges het ongelooflike potensiaal om in God se koninkryk te werk. Dikwels is mense nog nooit uitgedaag om vir God te werk nie. Niemand het hulle ooit uitgedaag om te glo dat hulle God-gegewe talente en sterkpunte het nie.

 

Wat op daardie dag tussen Elia en Elisa gebeur het, is die begin van ‘n proses van mentor wees wat uiteindelik sou beteken dat Elisa by Elia sou oorneem. Elia is die een wat die verhouding begin het Hy het nie gewag vir Elisa om na hom te kom nie.

 

Ons moet in Elia se spore volg en uitkyk vir die Elisa’s in ons lewens en dan as mentor vir hulle optree.

 

 




Die bediening van konfrontasie

 

Hy wat geen vyande het nie, word deur sy vriende verraai.” – Takitus

 

Die bediening van konfrontasie

As die kerk suiwer in sy geloof wil wees, moet hy dwaalleer en dwaalleraars konfronteer. Die Bybel waarsku gereeld teen vals lering en die gevaar daarvan vir God se mense.

  • Jesus: Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe (Matteus 7:15).
  • Paulus: Ek weet dat daar na my vertek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei (Handelinge 20:29 – 30).
  • Petrus: Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar onder julle ook vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën … Baie mense sal hulle losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense kwaad praat van die Weg van die waarheid. In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit (2 Petrus 2:1 – 3).
  • Johannes: Daar het baie misleiers te voorskyn gekom in die wêreld. Hulle erken nie dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. Dit is wat ek met “die misleier”,”die antichris” bedoel (2 Johannes 7).
  • Judas: Maar julle, geliefdes, moet die dinge onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen reeds vir julle geleer het. Hulle het vir julle gesê: “Daar sal in die laaste dae mense wees wie se lewe deur hulle eie goddelose begeertes beheers word, en hulle sal met julle die spot dryf.” Hierdie mense bring verdeeldheid (Judas 17 – 19)

 

God roep sy kinders vir ‘n bediening van versoening, maar ook vir ‘n bediening van teregwysing. Hy het ons ook geroep vir ‘n bediening van konfrontasie. So kry ons ‘n voorbeeld van konfrontasie in Titus 1:10 – 16. Paulus verwys na dwaalleraars wat in hulle spore gestuit moet word en wie se monde gesnoer moet word. Hulle is verfoeilik en koppig en deug vir geen goeie werk nie.

 

Die bediening van konfrontasie is nie maklik nie, maar dit is noodsaaklik. As die integriteit van die evangelie ter sprake is, kan ons nie weghardloop en wegkruip nie – ons moet staan en veg. Gewapen met die waarheid, gemotiveer deur liefde en geklee met ‘n rein lewe, kan ons ander konfronteer. Die waarheid is belangrik. Jesus sê: En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak (Johannes 8:32).

 

 




Maak ten minste een fout per week

The only way to free ourselves from the destructive influence of counterfeit gods is to turn back to the true One –  Tim Keller

 

Maak ten minste een fout per week

Almal maak foute en dit is normaal, mits dit net nie elke keer dieselfde fout is nie. As mense voel hulle is vry om foute te maak, voel hulle ook vry om te waag. As jy nie foute maak nie, beteken dit gewoonlik dat jy niks nuut probeer nie. As jy niks nuut probeer nie leer jy nie en as jy niks leer nie, sal jou bediening binnekort nie meer relevant wees nie.

 

Edison, die ontdekker van die gloeilamp, het foute in ‘n positiewe lig gesien – dit leer jou wat nie sal werk nie en maak jou vry om te ontdek wat wel sal werk. Min groot dinge is ooit bereik sonder om te waag – ook in ons bediening. Die groot vraag is egter of ons God sal vetrou met groot dinge. Mense wat waag, vertrou God en lewe deur geloof. As ons ons mense aanmoedig om te waag, leer ons hulle om geloof in God te ontwikkel.

 

Een manier om mense te leer om te waag, is deur na Markus 10:27 te kyk: Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want by God is alles moontlik (Markus 10:27). Ons dien ‘n groot God en daarom mag ons nie klein droom nie.

 

As ons nie in ons bediening waag nie, demonstreer ons nie ons geloof nie. Dink oor waar jy in jou bediening waag … en waar jy behoort te waag.

 




Die heerlikheid van God

 

One of the chief features of the state of Peace we now enjoy is the killing of a considerable number of harmless human beings.” —GK Chesterton,

 

Die heerlikheid van God

Wat beteken dit as ons van die heerlikheid van God praat? In Genesis 33 lees ons dat Moses die tent van ontmoeting buite die kamp van die Isrealiete opgeslaan het. Daar praat hy met God soos ‘n man met sy vriend praat (33:11). Moses stel ‘n versoek: Laat ek tog net u magtige verskyning sien (33:18). In die volgende gedeeltes kry ons blikke op die aard van God se heerlikheid.

  1. God se heerlikheid is oorweldigend. God kom af in ‘n wolk en roep die Naam “die Here” Moses sit in ‘n rotskeur en God maak hom met sy hande toe. Hoekom?  Geen mens kan My sien en bly lewe nie (33:20).
  2. God se heerlikheid kry ons in sy Naam. Toe God by Moses kom en roep sy Naam, die Here uit (34:5). Hy het geen beperkings nie.
  3. Die heerlikheid van God word in sy karakter gesien – hoe Hy optree. Toe die Here by Moses verbygaan, sê Hy: Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortredings en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie (Eksodus 34:6 – 7). God se heerlikheid word sigbaar in die manier waarop Hy optree.

In Jesaja 42:8 lees ons: Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom gee Ek aan geen ander nie. Ons kan sy prioriteitsposisie met geen ander skepsel deel nie. In 2 Korintiërs 3:12 – 17 sê Paulus dat Moses sy gesig met ‘n sluier moes toemaak toe hy van die berg afgekom het. Ons is nie soos Moses wat sy gesig met ‘n sluier toegemaak het nie. Ons is God se boodskappers; ons gesigte is nie met ‘n sluier bedek nie, want ons weerkaats die heerlikheid van God en word voortdurend deur sy heerlikheid getransformeer.

.