Herstel passie

 

The miracle of God went when and where his people went; it stayed when his people stopped –  A. W. Tozer

 

Herstel passie

Uitbranding is ‘n wesenlike gevaar vir leiers. Hoe kan ons weer herstel en weer ‘n passievolle leier word?

  1. Bely jou sonde

Kry dit uit waar dit diep in jou hart wegkruip –daar waar niemand behalwe God dit kan sien nie. Solank as jy aan hulle vashou, sal dit voel asof jy nie kan wen nie. Jy leef asof die oorwinning nie reeds joune in Christus is nie.

 

  1. Lees die woord

Ons tree dikwels op asof ons die slagoffer is – ons sit in die hoekie en bejammer onsself. Ons stel nie meer belang in die dinge wat werklik belangrik is nie – ons verhoudings. Maar God praat met ons. Lees sy woord.

 

  1. Beoefen die dissipline van gebed

Sit 30 minute opsy om te bid. As jy nie meer weet wat om te sê nie, sit stil en luister. Moenie die tyd verminder nie. Jy is nie lus daarvoor nie; jy is onseker of God nog luister. Diep binne in jou weet jy wat waar is. Hou aan met bid.

 

  1. Jy moet mense liefhê

Soek vriende op; dien ander; bid vir mense wat swaarkry. Isolasie is dodelik – vermy dit ten alle koste. Hou op om op jouself te fokus en fokus op ander. Bid vir hulle en soek dan maniere om hulle te dien.

 

  1. Verdiep jou in God se liefde en onpeilbare genade

Hou op lewe volgens te-doen lysies en die tirannie van jou “inbox.” Rus in die versekering dat God in Christus tevrede is met jou. Sy genade is altyd voldoende.

 

Jy kan baie dinge probeer om weer jou passie te probeer herwin na ‘n episode van uitbranding – boeke lees, seminare bywoon, ens. Geen van hierdie dinge sal genesing bring nie – ons moet ons verhouding met Jesus Christus verdiep. Dit kom deur die Bybel te lees, te bid, bekering, op God se genade te vertrou en om ander met liefde te dien.

 




Die heiligheid van God

People today who are civil often don’t have very strong convictions. And people who have strong convictions often are not very civil – Martin Marty

 

Die heiligheid van God

Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word (Romeine 11:22)

God het Adam en Eva gemaak en aan hulle ‘n roeping gegee: om Hom te aanbid en te verheerlik. Maar hierdie oorspronklike ontwerp het verlore gegaan toe hulle in opstand teen God gekom het – hulle wou soos God, hulle Skepper, wees. Wat is die bron van die mens se sonde? Afgodery. Almal moet iets/iemand aanbid – al is dit nou jouself.

 

God is heilig. Hy maak dit baie duidelik hoe ons Hom moet nader. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid (Johannes 4:24). Ons kan Hom nie sommer aanbid soos ons verkies nie. Het ons nie vergeet dat God heilig is nie? We lack reverence – not because we are free in the gospel, but because God is absent, and we have no sense of His presence (A. W. Tozer). Ons verkondig so dikwels ‘n terapeutiese evangelie aan mense wat as kinders geleer dat hulle goed en tot alles in staat is. Daar is geen verskil meer tussen die kultuur binne en buite die kerk nie.

 

Ons het weer ‘n groter siening van God se heiligheid nodig. Ons moet weer sy goedheid en strengheid raaksien. Ons het swaargewig aanbidders nodig.

 

 

 

 




Wat beteken Coram Deo?

He saves man by grace, and if men perish they perish justly by their own fault (Charles Haddon Spurgeon).

Wat beteken Coram Deo?

Wat is die oorkoepelende doel van die Christelike lewe? Coram Deo vang die kern van ‘n Christelike lewe vas. Letterlik beteken dit iets wat plaasvind in die teenwoordigheid van God. Dit beteken om jou hele lewe in die teenwoordigheid van God te leef, onder die gesag van God en ter verheerliking van God.

 

Om in die teenwoordigheid van God te leef, beteken dat ons weet dat wat ons ook al doen God sien. Daar is geen plek so afgeleë dat ons sy blik kan ontsnap nie. Dit beteken ook dat ons bewus is van sy soewereiniteit. Dit beteken nie dat ons deur vrees vir oordeel gemotiveer word nie. Dit beteken ons erken daar is geen groter lewensdoel as om God te eer nie. Ons lewens moet lewende offers wees, gegee in ‘n gees van aanbidding en dankbaarheid.

 

Dit beteken ook dat ons ‘n lewe van integriteit moet leef. Ons verdeel nie ons lewens in twee kompartemente nie. Ons kan nie ons lewe tussen godsdienstig en nie-godsdienstig verdeel nie. Daar moet geen verskil tussen ons optrede in die kerk en buite die kerk wees nie. Dit moet ‘n lewe wees wat oop voor God lê. Alles wat ons doen, doen ons asof ons dit vir God doen. Dit is ‘n lewe gelewe volgens vaste beginsels.

 

 




Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?

 

When our spirit is lonely, we need friends. When oor body is cold, we need clothing. When oor mind is bored, we need books. To admit this is not unspiritual; it is human – John Stott.

 

Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?

Jesus vra hierdie vraag van sy dissipels in Matteus 16. Hulle antwoord is interessant: Johannes die Doper, Elia, Jeremia of een van die profere. Elkeen verwys na ‘n profeet. Hoekom? Een van die gewilde Messiaanse verwagtings was dat ‘n groot profeet na vore sou kom. Ons kry dit in Moses se profesie: Ek sal ‘n profeet vir hulle na vore laat kom, een van julle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel (Deuteronomium 18:18). In Maleagi 4:5 lees ons: Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur, voordat die dag van die Here kom. Hier sien ons dat die mense Jesus probeer verstaan op kennis wat hulle vooraf gehad het. Nadat hulle na Jesus se prediking geluister en na sy wonderwerke gekyk het, maak hulle een gevolgtrekking: Jesus was of ‘n profeet van ouds wat opgestaan het of Hy was ‘n nuwe profeet. As hulle Hom as profeet sien, beteken dit hulle sien Hom as iemand van betekenis met ‘n opdrag van God. Hulle sien dus Jesus as ‘n goeie mens, selfs ‘n goddelike mens, maar Hy was beslis nie God nie.

 

Maar Jesus gaan nou dieper met sy dissipels: Maar julle, wie sê julle, is Ek?  Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

 

Maar wat sê die mense vandag: Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? Wie ek sê wie Jesus is, is belangrik, want dit bepaal hoe ek Hom gaan volg. As ek sê Hy was ‘n groot leermeester, sal jy Hom volg soos jy enige ander groot leermeester gaan volg. As jy glo dat Jesus baie goeie idees gehad het, gaan jy af en toe luister na wat Hy te sê het. As jy dink dat Jesus ‘n goeie voorbeeld was, sal jy sy voorbeeld probeer volg. Maar as jy glo dat Jesus die beloofde Messias is wat mens geword het om ons van ons sondes te verlos, om die sonde en die dood te oorwin en om oor ons as Here te heers, verander dit jou hele lewe. Glo jy in hierdie Jesus?

C. S. Lewis is baie uitgesproke hieroor: “You can shut Him up for a fool, you can spit at Him and kill Him as a demon; or you can fall at His feet and call Him Lord and God. But let us not come up with any patronizing nonsense about His being a great human teacher. He has not left that open to us. He did not intend to.”