Uitdagings, keuses en gevolge

 

No nation has ever become great by war that has not ultimately been cast down by war. — Huldrych Zwingli

 

Uitdagings, keuses en gevolge

Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê (Hebreërs 11:24 – 25)

Daar is sekere besluite in ons lewens wat belangrik is: met wie ons gaan trou, watter beroep gaan ons volg, ens. Die belangrikste keuse is egter of jy vir Jesus Christus gaan volg.

 

In die lewe kry ons uitdagings, keuses en gevolge. Ons kom elke dag voor uitdagings te staan. Soms is dit ‘n geleentheid wat vir ons voordelig mag wees; soms is dit ‘n versoeking wat ons hopelik sal weerstaan. Dan is daar die keuse wat ons maak en die gevolge van daardie keuses. As ons goeie keuses maak sal die  gevolge goed wees. Die verkeerde keuses lei tot slegte gevolge.

 

Ons moet die regte keuses maak, want dit mag die verloop van ons lewens bepaal. Moses het besluit om eerder sy mede-Jode te help.  Hy verkies dit bo die kortstondige genieting van sonde te hê. Deur sy keuse word Israel gered uit die slawerny in Egipte. Nog iemand wat die regte keuse gemaak het, was Daniël.

 

Maar ons lees ook van verkeerde keuses. Adam se keuse kos hom die paradys; Esau se keuse kos hom sy geboortereg; koning Saul se keuse kos hom sy koninkryk; Judas se keuse kos hom sy apostelskap en sy lewe.

 

Ons lewenskeuses is tot in ewigheid bindend. Jy kan vandag keuses maak wat jou tot in ewigheid sal beïnvloed. Jy maak jou besluite en dan maak jou besluite jou.

 




Wat is die evangelie?

We poor mortals are not so constituted that we listen as carefully to what brings us to order as we do to what brings others. –  Huldrych Zwingli

 

Wat is die evangelie?

Uit 2 Timoteus kan ons die evangelie met ses beskrywings saamvat.

  1. Die evangelie is Christologies – dit gaan oor Christus. Sonder Hom is daar geen evangelie nie. Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig (2 Timoteus 2:8).
  2. Die evangelie is Bybels – God het sy verlossingswerk in Jesus Christus vir ons in die Skrif gegee. Jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus (3:15).
  3. Die evangelie is histories – Christus het in die geskiedenis van die mens gekom: Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus (1:10). Hy sal ook weer kom en my behoue in sy hemelse koninkryk bring (4:18). Hy gaan die drama wat in Genesis begin het, voltooi as Hy weer kom.
  4. Die evangelie is leerstellig – gelowiges heg groot waarde aan die waarhede van die Skrif. In 2 Timoteus lees ons van belangrike leerstellings: die belofte van lewe (1:1); God se soewereine genade (1:9);Christus wat die mag van die dood gebreek het (1:10); die inwoning van die Heilige Gees (1:14); die persoon en werk van Jesus Christus (2:8);  die verkiesing (2:10); die heerlikheid van Christus (2:10); die eenheid met Christus (2:11);  bekering (2:25); toekomstige belonings (4:8).
  5. Die evangelie is persoonlik – dit moet persoonlik in geloof ontvang word. Timoteus het dit van sy moeder en ouma ontvang.
  6. Die evangelie is prakties – dit het met die hele lewe te doen – familie, finansies, werk … Die evangelie het praktiese implikasies vir ons hele lewe. Die evangelie herinner ons aan ons posisie voor God, ons krag en ons ewige toekoms.

 




Psalm 119

The process of history is not haphazard. There is a purpose in it all. And the purpose is the purpose of God. —Leon Morris

 

Psalm 119

Hierdie is nie alleen die langste psalm (176 verse) nie, maar ook die psalm wat die onderwerp van die Skrif baie direk hanteer. Feitlik elke vers verwys op een of ander manier na God se woord. Die psalmis gebruik ‘n verskeidenheid woorde om God se woord te beskryf: gebooie, verordeninge, bevele, ens. Hierdie verwys na die Skrif soos dit destyds bestaan het – essensieel die Pentateug.

 

Hier het ‘n baie goeie voorbeeld van die Skrif wat oor die Skrif praat. Ons kry hier ‘n interaksie tussen die skrywer en die woord van God op vyf maniere.

  1. Vertrou die woord van God

Herhaaldelik sê die psalmis dat die Skrif waar is (Alles wat U gebied het staan vas – vers 151). Hy glo die woord – Ek stel my vertroue in u gebooie – vers 66. Ek vertou op u woord – vers 42. Sy gevolgtrekking is: Op u woord kan ‘n mens hom geheel en al verlaat – vers 160.

 

Hierdie stap is baie belangrik. As die gelowige nie werklik die woord van God vertrou nie, sal die volgende stappe van geen waarde wees nie.

 

  1. Bestudeer die woord van God

Die psalmis leer die woord – Gee my insig dat ek u gebooie kan verstaan – vers 73. Hy dink gereeld daaroor na. Hierdie stap volg natuurlik op die eerste een. As God se woord waar is en vertrou kan word, moet ons studente van sy woord wees.

 

  1. Gebruik die woord van God

Ons moet die woord as riglyn gebruik as die lewe vir ons moeilik is of ons uitdaag. Ons moet op die woord leun vir bemoediging en hoop. Die psalmis sê: U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers – vers 24. Ek kwyn weg van kommer, skenk my krag soos U in u woord beloof het – vers 28. Dit is my troos in my ellende – vers 50. Daarom sê hy: U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad – vers 105. God se woord lewe; dit is kragtig en aktief. Die Skrif is die plek waar God en die mens ontmoet.

 

  1. Hy verheug hom in die woord van God

Die psalmis het die woord lief. Neem tog in ag dat ek u bevele liefhet, Here –  vers 159. Oor u woord is ek so bly soos iemand wat ‘n groot skat in die hande gekry het – vers 162. Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond – vers 103. Die psalmis het passie, ywer en opgewondenheid vir God se woord. Hy het God se woord lief, want hy het vir God lief. Hoeveel van ons het passie, ywer en entoesiasme vir God se woord?

 

  1. Gehoorsaam God se woord

Die voorafgaande vier kenmerke lei natuurlik na hierdie kenmerk. Die psalmis wil God se woord volg, onderhou en vervul. Om God se woord te gehoorsaam is nie vandag ‘n gewilde konsep nie. Die psalmis onderhou die woord as gevolg van sy liefde vir God – nie om verlos te word nie.

 

Jesus het al hierdie kenmerke uitgeleef.

 

 




Bekering

A twig is brought to any form, but grown trees will not bow. How few are converted in old age! —John Flavel

 

Bekering

Wat is bekering? Baie mense sê dit beteken dat ons spyt is oor ons optrede van die verlede. Ander sê dit is spyt oor jou sonde plus ‘n begeerte om te verander. Om opreg spyt te wees vir jou sonde is deel van bekering, maar daar is nog ‘n belangrike aspek.

 

Toe Jesus sy prediking op aarde begin het, het Hy gesê: Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15). Bekering beteken om om te draai, om rigting te verander. Bekering sonder verandering is onmoontlik.

 

Watter rigting moet ons dan volg?  Jesus se oproep tot bekering kom net na Jesus iets verkondig het: die koms van God se koninkryk; God se heerskappy wat in die wêreld inbreek. Sy koninkryk kom deur Jesus. Bekering beteken dus dat ons omdraai, die agenda van ons koninkryk agterlaat en die agenda van God se koninkryk aanvaar. Om te bekeer beteken jy teken aan vir God se koninkryk – jy word deel van sy mense.

 

Maar hoe moet ons op die agenda van God se koninkryk reageer? Daar is drie moontlikhede:

  1. Stel jou agenda teenoor dié van God. Dit is wat ons in Genesis 11 kry waar mense ‘n toring tot by die hemel wou bou en so ‘n naam vir hulleself maak. Hulle rig dus ‘n ander koninkryk op teenoor God se koninkryk. Baie mense is geneig om hulle eie koninkryk waar hulle in beheer van hulle lewens is, te vestig – ons agenda teenoor God se agenda.
  2. Voeg God se agenda by ons eie agenda. Ons het ons eie agenda, maar ons het van God se begeertes by ons eie gevoeg Ons voeg God se agenda by ons eie. Ons agenda staan langs dié van God.
  3. God se agenda verplaas ons eie agenda. Sy sendinghart word in ons sendinghart weerspieël; sy hoop en droom vir die wêreld word ons s’n; sy hart smelt saam met ons harte. Die Gees stel ons bekend aan God se plan; Hy wys vir ons waar God besig is om te werk en wat God wil doen en ons sluit by Hom aan. God se agenda word ons agenda.

 

Wie se agenda volg jy?