Die huisgesin van God

 

Love is counting someone else’s needs and interests as more important than your own needs or interests or comfort. —Tim Keller

 

Die huisgesin van God

As ‘n geloofsgemeenskap moet die kinders van God mekaar met liefde en respek hanteer – dit sluit in wyse en deernisvolle ondersteuning van weduwees in.

 

Vir baie Christene is die maklik om op ‘n Sondag by ‘n erediens in te stap, ‘n paar liedere te sing, na ‘n preek te luister en reguit huis toe te gaan sonder enige betekenisvolle interaksie met medegelowiges. Ons moet tog mense se privaatheid respekteer! Ons moet ons tog nie met ander se lewens bemoei nie! Maar die mense wat langs ons in die kerkbanke sit, is ons broers en susters. Ons behoort bekommerd te wees oor hulle. Ons moet mekaar liefhê … Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar … Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê (1 Johannes 3:13 – 16). Die manier waarop  ons medegelowiges hanteer is ‘n aanduiding van ons verhouding met Christus.

 

As familie hanteer ons mekaar op ‘n sekere manier. As jy met ouer mense praat, praat jy met die respek wat hulle toekom: Maar vermaan asof hy jou vader is. Ook die jonger mans moet soos broers vermaan word; die ouer vroue soos moeders, en die jonger vroue soos susters, in alle eerbaarheid (1 Timoteus 5:1 – 2).

 

Gemeentes is ‘n huisgesin – ‘n geloofsgesin en daarom moet lidmate se verhouding met mekaar dit weerspieël. As ons in hierdie wêreld wil getuig en die eenheid van die gemeente wil bewaar, sal ons die Skrif gehoorsaam en mekaar met liefde en respek behandel. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes 13:35).

 

 




Ek wil ander bemoedig

 

It is not the doctrine of justification that does my heart good, it is Christ, the justifier. —C.H. Spurgeon

 

Ek wil ander bemoedig

Watter soort mens wil God hê dat ons moet wees? Ons talente, persoonlikhede, vermoëns en agtergrond verskil, maar tog is daar sekere basiese kenmerke wat God van almal van ons verwag. Een daarvan kry ons in 1 Tessalonisense 5:11: Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen. Om mekaar te bemoedig, beteken eenvoudig om ander te laat weet dat hulle nie alleen is nie, om langs hulle op hulle lewensreis te loop. Die Christen se lewe is nie een van isolasie en onafhanklikheid nie, maar een van interafhanklikheid en verhoudings.

 

Een van die beste voorbeelde van ‘n bemoediger in die Bybel is Barnabas. Hy verkoop grond wat hy gehad het en bring die geld vir die apostels. Josef ‘n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat (Handelinge 4:36 – 37). Later lees ons dat hy hom oor Saulus ontferm het en hom na die apostels gebring het en hulle gerusgestel het dat hy nou ook ‘n gelowige was (Handelinge 9:26 – 27). Hierdie Saulus word later die groot apostel Paulus.

 

God wil elkeen van ons op verskillende tye en op verskillende maniere gebruik om ander te bemoedig. Daarom moet ons oplet op die mense wat God oor ons pad bring en onsself beskikbaar stel om saam met hulle te loop.

 

Wat moet ons doen as ons ander mense wil bemoedig?

  1. Ons moet aan ander ons tyd en onverdeelde aandag gee

In 1 Tessalonisense 2:17 – 20 lees ons van Paulus se verlange om weer die broers in Tessalonika te sien. Die beste is om hulle van aangesig tot aangesig te sien, maar as dit nie moontlik is nie kan ons hulle skakel of e-posse stuur of teksboodskappe. Hoe dikwels sien ons nie mense in restaurante sit elkeen besig op sy foon – dit is verkeerd.  As ons met ander mense is, moet ons ons volle aandag aan hulle gee en aandagtig luister na wat hulle sê. Hoe sal ons dan weet wat hulle op die hart het en hoe om hulle te ondersteun?

 

  1. Help hulle met hulle behoeftes

In 1 Korintiërs 1:5 – 7 skryf Paulus oor ons plig om ander te bemoedig. Dit mag beteken dat ons diegene wat swaarkry vertroos; tyd met eensame mense spandeer; iemand se praktiese behoeftes hanteer.

 

  1. Bou mekaar geestelik op

In Romeine 1:11 – 12 praat Paulus van bemoediging in die geloof. As mense in moeilike tye sukkel om God te vertrou, het hulle iemand nodig om hulle aan God se teenwoordigheid, sy beloftes en sy krag te herinner. ‘n Ander aspek van geestelike bemoediging is om iemand te waarsku wat op die verkeerde pad loop.

 

  1. Bemoediging is ‘n motiveerder

Dink maar net aan jou eie moeder en hoe sy jou bemoedig het as dinge vir jou skeef geloop het. Word jy ook ‘n bemoediger – soos jou moeder en Barnabas. Jy weet nooit watter verskil jou woorde van bemoediging sal maak nie.

 

Wie kan ek vandag bemoedig?

 




Geluk en geld

 

A lie can travel half way around the world while the truth is putting on its shoes – Mark Twain

 

Geluk en geld

Die Dalai Lama moes ‘n lang reis per motor onderneem. ‘n Ryk familie het hom genooi om by hulle te kom eet. Toe hy hulle badkamer gebruik het, staan die medisynekassie oop. Hy kon nie anders om te sien wat daarin is nie: pynstillers, slaappille en kalmeerpille. Toe Daniel Coleman ‘n onderhoud met hom gehad het, vertel die Dalai Lama van sy ondervinding en voeg by:  “Many people feel money is the source of a happy life. Money is necessary, useful—but more and more money does not bring happiness.”

 

As mense genoeg geld het vir die basiese noodsaaklikhede van die lewe, bevind studies dat meer geld feitlik niks tot hulle lewensbevrediging bydra nie. Wat maak dan die verskil in ons gevoel van welstand? Navorsing bevind dat die prefrontale area van die brein (wat ons emosies bestuur) en sekere areas in die midbrein wat gevoelens soos angs en kwaad wees genereer, met mekaar verbind is. Hieruit kon navorsers bepaal wat geluk teweegbring.

  • Vinnige herstal na terugslae. Van ons hou aan bekommernisse vas en herkou hulle. Ander herstel vinnig en gee aandag aan wat volgende is. Die vinnige herstel help ons om vinnig in ‘n goeie gemooedstemming te kom.
  • Bly positief. Hoe meer negatief ons algemene siening, hoe meer pla dinge ons.
  • Deur in ons eie bekommernisse vasgevang te word, plaas ons die fokus op onsself. As ons egter aanpas by diegene om ons, sal ons agterkom dat hulle hulp nodig het. En as ons hulle help, beloon ons brein ons en ons voel goed.
  • Gedagtes wat wandel, laat ons terneergedruk voel. Gedagtes wat aandag gee aan wat nou gebeur, bevry ons van ons negatiewe gevoelens.

 

Die goeie nuus is dat hierdie areas in die brein wat ons goed laat voel, geoefen kan word. Een manier is om deernis te beoefen.

 

 




‘n Goeie dissipel

 

Christ is the only way to God, but there are as many ways to Christ as there are people who come to Him. —Os Guinness

 

‘n Goeie dissipel

As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg (Matteus 16:24)

Jesus was baie spesifiek oor die vereistes van ‘n goeie dissipel. In hierdie teksvers noem Hy drie stappe.

  1. Hy moet homself verloën

Beteken dit nou dat ons nie mooi dinge mag besit of lekker dinge doen nie? Nee, Hy sê dat ons begeertes in lyn met sy begeertes moet wees. Ons moet ons lewe prioritiseer met God en ander in gedagte. Om onsself te verloën, moet ons na Jesus kyk en nie na ons eie vermoëns nie. Ons moet Hom vertrou as die pad vorentoe donker is; ons moet ons vrese aflê; ons moet ons sondige versoekings oorwin. Verloën my vir Hom.

 

  1. Neem jou kruis op

Ons het nou nie letterlik ‘n kruis om op te neem nie. Jesus sê ons moet sy kruis dra – sy agenda, sy roeping. Ons is die sout van die aarde en daarom moet ons die goeie nuus versprei. Ons moet Christus se ambassadeurs in die wêreld wees – ander moet Jesus in ons sien. Die boodskap en wonder van die kruis moet in ons sigbaar wees. Ons moet diegene wat nie vergifnis verdien nie, vergewe. Ons moet in genade uitreik.

 

  1. Ons moet Jesus volg

Jesus sê dat ons Hom moet volg – nie sy reëls nie. Dit is nie so maklik nie. Jesus is ons leier en elke dag moet ons Hom getrou volg. Die kultuur gaan teen ons werk. Kerkmense sal meer reëls wil skryf. Om Jesus te volg, is deel van dissipel wees – dit is dissipel wees.

 

Volg jy hierdie drie stappe in jou lewe?