Bid vir almal

You are never too old to dream a new dream – C. S. Lewis

 

Bid vir almal

Paulus praat in 1 Timoteus 2 oor openbare aanbidding. Die gemeente is omring deur mense wat niks van die verlossing van mense deur Jesus Christus weet nie. As niks verander nie, is hulle eindbestemming die ewige hel. Wat moet jy as kind van God doen? Bid. Paulus gebruik vier verskillende woorde in vers 1 wat almal met gebed te doen het: smeking, voorbidding, danksegging. In die direkte vertaling kry ons ook voorbedes. (Die KJV praat van supplications, prayers, intercessions and giving of thanks.) Wat belangrik is, is dat Paulus gebed beklemtoon.

 

Vir wie moet ons bid?

  • Vir alle mense. Dit gaan hier vir alle soorte mense – jy kan tog nie vir elke mens in die wêreld bid nie. In Efese beteken dit dat die gemeente vir die Jode en die heidene moet bid. Ons mag nie ons gebede tot ’n klein groepie beperk nie. Gebed is nie ‘n nasionalistiese of rassistiese of selektiewe praktyk nie.
  • Vir dié wat regeer en almal wat gesag uitoefen.  Paulus noem hulle spesifiek. Ons moet onthou dat Nero op daardie stadium die keiser was. Tog vra Paulus dat die gemeente vir hierdie heidense regeerders moet bid. Bid vir die regeerder onder wie jy swaarkry; bid vir die regeerder met wie jy verskil; bid vir die regeerder van wie jy nie hou nie. Dit is God se wil. Ons kan nie net na die nuus kyk en gefrustreerd met ons leiers word nie – bid vir hulle.

 

Waarvoor moet ons bid? Bid vir die leiers sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. Een doel van Paulus se gebed is vrede te midde van vervolging. Ons bid vir vrede sodat die kerk kan groei en die evangelie vryelik verkondig kan word. Natuurlik kan die kerk te midde van vervolging groei, maar as daar vrede is, kan Christene en gemeentes vryelik die roeping van Christus uitleef – hulle kan so lewe dat almal dit kan sien. Ons moet ook vir ons broers en susters bid wat in lande leef waar Christene vervolg word. Bid dat deure sal oopgaan vir die vreedsame verkondiging van die evangelie.

 

Maar daar is ook ’n tweede doel met ons gebede. Ons bid dat heersers, leiers en selfs vervolgers gered word en tot kennis van die waarheid kom. Chrisostomus het gesê dat dit baie moeilik is om iemand te haat as jy vir hom bid.

 

Paulus sê dus vir die kerk: die eerste en belangrikste ding wat julle moet doen, is om te bid. Die gevolgtrekking is dat die vooruitgang van die evangelie in die wêreld afhanklik is van die gebede van God se kinders. Verlossing is God se werk – selfs ons gebede is die gevolg van sy werk in ons. Tog gebruik God die gebede van sy kinders om sy wil te bereik. Ons is omring deur mense wat Hom nie ken nie. Ons is op ‘n lewensreddende sending – bid vir hulle. Sien hulle raak.

 




Die absolute waarheid

The Bible does not present an art of prayer; it presents the God of prayer. —Edmund Clowney

 

Die absolute waarheid

Ons leef in ’n kultuur wat enigiets wat daarop aanspraak maak om die absolute waarheid te wees, verwerp. Jy kan leef soos jy wil en jy kan glo wat jy wil solank as jy net nie dit wat jy glo op ander probeer afdruk nie. Dit is dan ’n onverskoonbare sonde. Dit geld veral vir dit wat godsdienstiges glo. Daarom is Christene ongemaklik om die evangelie met ander te deel. Die Christelike boodskap is absoluut. Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie (Handelinge 4:12).

 

Ons boodskap is eksklusief, maar ons getuienis mag nooit eksklusief wees nie – Jesus se groot opdrag is immers om na al die nasies te gaan en die mense sy dissipels te maak (Matteus 28:19). Niemand mag oorgeslaan word nie. Die absolute en eksklusiewe aansprake van die evangelie moet universeel bekend gemaak word. Die kerk mag nooit die groot geestelike nood rondom hom ignoreer nie; die kerk mag nie net op homself fokus nie en mag ook nie net ‘n sekere segment van die bevolking teiken nie. Ons hart moet in lyn met God se hart kom. God wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom (1 Timoteus 2:4).

 

Ons mag nie die boodskap van Jesus Christus afwater nie, want dit is die absolute waarheid.

 




Lasarus en die verkondiging van die evangelie

God is pleased to use ordinary people and ordinary conversations to do most of the heavy lifting in his kingdom. —Ed Welch

 

Lasarus en die verkondiging van die evangelie

Hoe beïnvloed die opstanding van Lasarus die menier waarop ons die evangelie deel? Die evangelie gaan nie daaroor om goeie mense godsdienstig te maak nie, maar om mense wat dood is weer te laat lewe.

 

In Johannes 11 lees ons van die dood en opstanding van Lasarus. Na Lasarus se dood kom Jesus daar aan – te laat in die oë van Lasarus se susters. Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Toe Maria by Jesus kom, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. Daarna tree Hy op. Ons lees hiervan in Johannes 11:38 – 44. Sy gemoed skiet vol by die graf; Hy laat die klip voor die graf wegrol. Hy bid tot God en roep met ‘n harde stem uit. Die oorledene het uitgekom.

 

Geestelik is ons dood. Dooie mense kan niks doen nie. As ons geestelik dood is, kan ons niks doen wat reg in God se oë is nie. Dit help ons as ons die evangelie verkondig en dit besef, want ons besef dat ons almal op dieselfde vlak is. Baie nie-Christene glo dat Christene dink dat hulle beter as ander mense is. Die verhaal van Lasarus leer vir ons dat ons almal dood is en niks sonder God kan vermag nie. Ons begin almal op dieselfde plek – geestelik dood. Deur God se genade staan ons op tot die lewe. Net soos Lasarus het ons niks gedoen om ons te red nie. Daar is niks wat ons kan doen om onsself te red nie. Deur geloof in wat Jesus Christus vir ons gedoen het, word ons gered.

 

Onthou altyd dat die evangelie nie is: “Jy doen” nie, maar “Christus het gedoen”. Jou werk is om dit te verkondig aan die mense. Evangelisasie verskil dus van iemand werf vir ‘n godsdiens. In evangelisasie vertel jy vir mense wat die dooies weer lewend maak. Daarom is dit goeie nuus; daarom moet jy dit met ander deel.

 

 




Maak God se wraak ons wraakgierig?

The Word of God is clear; it is not that we have accepted God; rather, He has accepted us into His family. —Burk Parsons

 

Maak God se wraak ons wraakgierig?

Teenstanders teen die Christelike geloof verwys dikwels na die geweld en bloed in die Ou Testament. Mag al u vyande so omkom, Here, maar mag dié wat U liefhet wees soos die son wat in sy volle krag skyn. Dit kom uit Debora se oorwinningslied in Rigters 5. Moderne lesers voel dat God se wraak iets ontoepaslik is. Daar is veral twee besware hierteen:

  1. Ons sien nie altyd dat geregtigheid gedoen word nie.

Ons verlang dat God alles wat verkeerd is, moet regstel, maar daar is baie stories wat nie ‘n gelukkige einde het nie. Die korruptes loop rond terwyl die onskuldiges swaarkry. Solank as wat hierdie lewe ons enigste maatstaf is, sal geregtigheid ‘n onopgeloste probleem bly. Ja, die skuldiges bly dikwels ongestraf. Hierdie lewe is egter nie al wat daar is nie. Die Romeine en Jode het geglo dat dit die einde van die storie was toe hulle Jesus gekruisig het … dit was nie. Die einde van die storie kom nog. God is nog nie klaar met ons storie nie.

 

  1. Om te glo in ‘n wraakgierige God sal ons wraakgierig maak

Geweld lei tot geweld. Maar as ons weet wat God beplan, sal ons weet dat sy wraak presies die teenoorgestelde gaan bereik. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God (Romeine 12:19). God sal geregtigheid herstel. Ek kan van wraak vergeet.

 

Ons het genade en barmhartigheid aan die kruis ontvang; ons kan genade en barmhartigheid aan ander betoon.