Moet ons die mense van die sinkende skip red?

The peace of God is first and foremost peace with God. —J.I. Packer

 

Moet ons die mense van die sinkende skip red?

Sommige evangeliste sien hulle roeping as om mense van die sinkende skip van die wêreld te red. Die skip is besig om te sink en ons moet soveel as moontlik van die mense red. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe (1 Johannes 2:17).

 

John Piper sê hierdie prentjie is nie heeltemal waar nie – die bootjie sink nie. Die aarde behoort aan die Here – so ook die hemel. Kyk, Ek maak alles nuut (Openbaring 21:5). Die bootjie en die lewe daarop gaan eendag heeltemal vernuwe word. Beide prentjies is waar. Dit is waar dat die skip van die wêreld nooit sal sink en onbewoonbaar sal word nie. Die nuwe wêreld is die ou wêreld wat vernuwe is. Maar elke persoon op daardie bootjie sterf en word oorboord gegooi. As hulle egter geloof in Jesus se reddingsbaadjie het, kom Hy en tel hulle op in sy reddingsboot. Skryf op! Geseën is dié wat van nou af in die Here sterwe (Openbaring 14:13). As hulle nie Jesus se reddingsbaadjie dra nie, sink hulle en sterf. ‘n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel (Hebreërs 9:27).

 

Die dringendheid is nie dat die boot sink nie, maar dat al die passasiers besig is om dood te gaan.  Dit is ook waar dat die bootjie ‘n kombinasie van pragtige vakmanskap van die Bootbouer is en dat die bootjie ‘n begaafde bemanning het- al is hulle in opstand teen die Eienaar. Van die dinge op die boot werk goed, maar die meeste dinge breek.

 

Dit is egter ook waar dat die Here wat die skip gebou het en sorg dat dit nie sink nie, eendag aan boord sal kom – die ware Kaptein. Die gelowiges bly op die skip. Almal wat deur die reddingsbaadjie van Jesus gered is, sal weer hulle plek op die boot inneem. Jesus sal die hele boot weer nuut maak. Dit word nou ‘n volmaakte plek vir ewige vreugde.

 

Red ons of maak ons nuut? Beide. Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is tot bekering te roep nie, maar sondaars (Lukas 5:32). Dit is ‘n oproep uit die sonde in die lewe.

 




Dwaalleer

 

Christ is much more powerful to save, than Adam was to destroy. —Johannes Calvyn

 

Dwaalleer

“A new Gospel is being taught today. This new gospel is perplexing – it omits Jesus and neglects the cross” (Dawid W. Jones en Russell S. Woodbridge – Health, Wealth and Happiness).

Vals leermeesters kry ons oral. Dit is nie iets nuut in die kerk nie. Paulus waarsku reeds die ouderlinge van Efese: Ek weet dat daar na my vertek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei (Handelinge 20:29 – 30). As ons 1 Timoteus lees sien ons dat Paulus se voorspelling in die kol was. Dwaalleer is reeds ‘n probleem in die gemeente in Efese. Vir Paulus was dwaalleer nie net ‘n hindernis om te oorwin nie, maar ‘n dodelike kanker wat uit die kerk gesny moet word as die kerk gesond wou bly en sy roeping wil vervul.

 

En vandag? Jones en Woodbridge sê dat 46% van mense wat sê dat hulle Christene is, glo dat God materiële rykdom aan alle gelowiges met genoeg geloof gee. Hierdie sogenaamde voorspoedsteologie belowe materiële en fisiese seëninge in hierdie lewe. Sentrale elemente van die evangelie, soos dit wat Christus reeds aan die kruis vir ons gedoen het en die vergifnis van sonde, word na die agtergrond geskuif. Voorspoedsteologie is veral algemeen in die VSA, maar versprei vinnig dwarsoor die wêreld.

 

Ons moenie onsself bluf nie – dwaalleraars is steeds in ons midde.

 




Onthou die goeie nuus (Galasiërs 5:24 – 26)

 

The resurrection of Jesus is God’s answer to a hopeless world. —Ed Welch

 

Onthou die goeie nuus (Galasiërs 5:24 – 26)

Paulus sê vir die gelowiges dat hulle die hoop en krag wat hulle in hulle nuwe identiteit het, moet raaksien. In hierdie stryd is hulle nie magteloos nie. Daar is twee dinge wat hulle bemoedig.

  • Gelowiges behoort aan Jesus Christus

Die wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al hulle hartstogte en begeertes gekruisig (5:24). Ons het ons sondige natuur gekruisig. Wanneer het dit gebeur? Met ons bekering. As ons in Christus alleen vir ons verlossing vertrou, verenig ons ons met Hom. Hierdie dood van ons sondige natuur bring ‘n nuwe skepping voort. Ons voel steeds die versoeking van die sonde, maar ons menslike begeertes  heers nie meer in ons nie. Is ek ‘n nuwe skepping? Behoort ek aan Christus? Dan het ek die mag om die begeertes van my sondige natuur te oorwin.

 

  • Gelowiges lewe deur die Gees

Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal (5:25). Ons het nou ‘n nuwe krag waardeur ons elke dag kan lewe. Dit moet vir elkeen ‘n bron van hoop wees. Ons het wat ons nodig het om die oorwinning te behaal. Beteken dit nou dat ons niks hoef te doen nie? Laat die Gees nou ons gedrag bepaal. Dit geld vir ons gesindhede, optrede, verhoudings en bediening.

 

Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie. Die vrug van die Gees is liefde en nie verwaandheid of afguns nie. Om mekaar lief te hê en te dien is noodsaaklik.

 




Wat hou mense uit die kerk?

The Bible is alive, it speaks to me; it has feet, it runs after me; it has hands, it lays hold of me.” Martin Luther

 

Wat hou mense uit die kerk?

Geen gemeente gaan tog doelbewus sy deur sluit om mense buite te hou nie. Tog, as ons kyk na die min nuwe besoekers en hoeveel van hulle nooit weer terugkom nie, lyk dit asof dit die geval is. ‘n Gesonde gemeente wat groei, moet elke week nuwe besoekers sien. Dit lyk asof daar iets aan die gang is wat besoekers uit die kerk weghou.

 

Bill Tenny-Brittian sê dat daar vier dinge is wat die kerkdeure vir potensiële besoekers toemaak.

  1. Niemand weet of gee om dat jy bestaan nie

Meeste lidmate glo dat hulle gemeente baie bekend is in die gemeenskap en dat die gemeente veral vir sy vriendelikheid bekend is. Dit is nie die geval nie. Baie mense in die gemeenskap weet nie eers van die bestaan van die gemeente nie. As mense nie weet dat jy bestaan nie, gaan hulle nie juis ‘n voetpad na die kerkdeur uittrap nie. Wat kan jy hieraan doen?

  • Fokus daarop om een ding buitengewoon goed te doen – doen dit so goed dat jy jou reputasie daarop kan bou. Om geld aan verskeie organisasies in die gemeenskap te gee, is duur en werk baie selde.
  • Doen iets uniek in die gemeenskap. Hou jou basaar in die gemeenskap en nie op die kerkterrein nie.

 

  1. Jou gasvryheid is swak (hy noem dit lousy).

Dit is waarskynlik die belangrikste rede waarom besoekers nooit weer terugkom nie. Jy kry die reputasie van ‘n onvriendelike gemeente. Vir die gemeenskap verdwyn die gemeente – dit speel geen rol nie. Onthou dat omtrent alles wat die gemeente doen met gasvryheid verband hou – die aanwysings, die mense wat besoekers verwelkom, parkering, ens. Onthou as jou gasvryheid mense weggejaag het, verloor jy nie net vir hulle nie, maar hulle versprei die nuus in die gemeenskap. Nou staan jy  as daardie vervelige, irrelevante gemeente bekend.

 

  1. Jy het konflik wat nie opgelos is nie

Swak gasvryheid is die #1 rede waarom besoekers nie terugkom nie; konflik wat nie opgelos word nie, is die #1 rede waarom gemeentes doodgaan. Dit skrik mense af. Dit jaag nie net mense weg nie, maar dit belemmer alles wat die gemeente is en doen. Die deure vir nuwe mense word gesluit.

 

  1. Jou bedienings verander nie lewens nie

Gemeentes wat nie by ernstige, lewensveranderende bedienings betrokke is nie, kan net so wel onsigbaar wees. Hulle vervul nie die Groot Opdrag nie. Hoekom hou dit mense uit die kerk?

  • Mense kyk deur die vernislagie van godsdiens – hulle sien die “gelowiges” dra ‘n masker.
  • Sonder verandering van lewens is die kerk maar net ‘n klub wat net sy lidmate dien. Wie wil nou aan nog ‘n klub behoort?
  • As lewens nie verander nie, gaan niemand van die gemeente praat nie

 

As jy ‘n gemeente wil wees waarvan mense praat, moet jy die hindernisse verwyder en lewens moet verander word. Wat het jou gemeente gedoen om die hindernisse wat kerklos mense buite hou, te verwyder?