Loop deur die Gees (Galasiërs 5:16 – 18)

 

There is no such thing as a totally middle-class discipelship – Albert Schweizer

 

Loop deur die Gees (Galasiërs 5:16 – 18)

Die fokus van hierdie gedeelte is op die noodsaaklikheid om voortdurend in die krag van die Heilige Gees te leef. Elke gelowige moet leer om deur die Heilige Gees te lewe. Paulus vertel hier vier belangrike waarhede oor loop deur die Gees:

  • Ons moet voortdurend deur die Gees loop

Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word. Elke dag en oral. Om deur die Gees te loop, beteken ons volg Hom waarheen Hy ons ook al lei. Ons moet luister na Hom; ons moet sy wil onderskei; ons moet sy leiding volg. Dit is die normale Christelike lewe. Hier is dus ‘n mate van spanning tussen God se krag en die gelowige se menslike keuse. Die Christen moet besluit om voortdurend deur die Gees te loop, en terselfdertyd is die HG aan die werk om aan ons nuwe krag te gee om ons sondige natuur te weerstaan.

 

  • Ons moet deur die Gees loop om ons sondige natuur te oorwin

Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheer word, dan sal julle nooit swig voor die begeertes van julle sondige natuur nie (5:16)

Hierdie is ‘n belofte. Hier is geen neutrale grond nie – of die een of die ander. Ons moenie net “nee” vir die sonde sê nie, maar ook “ja” vir die werking van die Heilige Gees. Geestelike groei is nie die gevolg van die bywoning van seminare of die lees van godsdienstige boeke nie … God verander ons van binne na buite deur sy Gees..

 

  • Ons moet deur die Gees loop, want die stryd is intens.

Paulus sê dat wat die sondige natuur begeer en wat die Gees begeer, is in stryd met mekaar. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar (5:17). Die Christelike lewe is ‘n stryd. Om die sondige natuur te oorwin, moet ons die erns van die stryd insien en besluit om deur die Gees te loop. Hoekom is hierdie stryd so intens? Omdat die sondige natuur en die Gees teenstrydige agendas het. Moenie dink dat jy nie deel van die stryd is nie. Ons sal hierdie stryd teen ons sondige natuur stry tot Christus se wederkoms – ‘n intense voortdurende stryd. Die probleem is nie daar buite nie, maar hier binne in my. Elkeen van ons moet leer om ons eie harte te hanteer.

 

  • Ons moet deur die Gees loop om vry van die wet te wees

Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie (5:18). Lewe deur die Gees bring ‘n nuwe manier van lewe. Jy is nie vry om te sondig nie, maar jy is vry van die sonde. Jy het nuwe begeertes; jy het nuwe krag om God tevrede te stel deur die vrug van die Gees te dra. Jy leef nie meer onder die swaar las van die wet nie, maar leef deur die dinamiese krag van die Gees.

 

Dit is duidelik dat ons nie in ons eie krag ver gaan kom nie. Daarom moet ons deur die Gees loop – elke dag.

 

 

 




Leef in die waarheid

 

“If you are godly you will never suffer, except in this world.” – Jeremiah Burroughs

 

Leef in die waarheid

Die Galasiërs het ‘n probleem, want tussen hulle is mense wat ‘n verkeerde boodskap verkondig – wat verkondig dat God se genade nie genoeg is nie, maar dat hulle hulle ook moet laat besny en die wet van Moses moet onderhou.

 

Wat gebeur as jy die vals leermeesters se boodskap aanvaar? Paulus verduidelik vir ons in Galasiëes 5:6 – 12.

  • Jy sien Christus as onvoldoende

Jy sien dit wat Christus gedoen het as onvoldoende en daarom moet jy van jou kant af iets byvoeg. Maar Christus se werk is volmaak – ons kan daar niks byvoeg nie.

  • Jy moet die hele wet vervul

Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou (5:3). Jy kan nie net sekere dele onderhou nie. Die probleem is dat niemand die wet volkome kan onderhou nie.

  • Jy draai jou rug op genade

Julle het julle band met Christus verbreek; julle het die genade van God verbeur (5:4). As jy glo dat die wet jou kan vrymaak, is genade nie meer vir jou belangrik nie. Jy moet kies: of die wet of genade. Jy kan nie beide hê nie.

  • Jy verloor jou toekomsverwagting

Deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word (5:5). Waar kry ons hierdie hoop? Deur op Christus te vertrou deur genade alleen. Die besnydenis het geen waarde nie: Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

 

Vals lering gaan oor uitwendige rituele; Paulus sê die Christelike lewe gaan oor geloof wat bewys word deur liefdevolle diens.

 

Kom ons kyk na die vals boodskappe wat hierdie leermeesters versprei het. Die kenmerke van hierdie boodskappe is eintlik tipies van alle vals boodskappe.

  • Dit verhinder gehoorsaamheid aan die waarheid. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam (5:7). Dit geld steeds.
  • Dit kom nie van God nie. Wie het julle omgepraat? Nie God nie (5:8). Al sê iemand dat God hom geroep of gestuur het, moet jy hulle nie glo as hulle ‘n vals evangelie verkondig nie.
  • Dit kontamineer ander. ‘n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg (5:9). Vals leermeesters is ‘n groot probleem, want hulle beïnvloed baie mense.
  • Vals leermeesters sal geoordeel word. Maar die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf (5:10). Paulus is vol vertroue dat diegene wat waarlik in Christus is net soos hy sal dink – hulle sal die fout gou agterkom.
  • Vals leermeesters vervolg ware leermeesters. As ek nog verkondig dat ‘n mens besny moet word, waarom word ek dan nog vervolg (5:11). Ons moet onthou dat die kruis mense aanstoot gee – hulle sien dit as ‘n struikelblok. Hoekom gee die kruis aanstoot? Dit vee menslike prestasies van die tafel – die mens het niks om op trots te wees nie.

 

Wees versigtig vir vals leermeesters. Die gevolge van hulle leer is katastrofies. Leer om vals boodskappe te identifiseer.

 

 




In die wêreld sal jy moeilikheid hê (Esra 4)

 

When it is the Lord’s work in which we rejoice, we need not be afraid of being too glad. —C.H. Spurgeon

 

In die wêreld sal jy moeilikheid hê (Esra 4)

Die ballinge wat na die land teruggekeer het, het geglo dat God sy beloftes sal nakom. Maar nou kom hulle voor ‘n nuwe bedreiging van die Kanaäniete te staan. Sal hulle, soos hulle voorvaders, ‘n kompromis aangaan? Sal hulle rein en heilig bly ten spyte daarvan dat dit vir hulle probleme gaan veroorsaak?

 

Kom ons kyk na die politieke werklikhede van die terugkerende ballinge. Hulle is kwesbaar; hulle het vriende nodig. Wat hulle nie nodig het nie, is vyandige bure. Toe van die mense van die land hoor dat die ballinge besig was om die tempel van die Here te bou, bied hulle hul hulp aan. Die ballinge antwoord: Julle bou nie saam met ons aan die tempel van ons God nie. Ons alleen sal vir die Here die God van Israel bou (Esra 4:3). Hoekom sou hulle dit doen?  Hulle glo dit is belangriker om God eerder as hulle bure tevrede te stel.

 

Ons almal kom voor sulke keuses te staan. Gaan ons kompromieë oor ons beginsels aan of ontstel ons mense wat ons kan help? Op wie se hulp plaas jy ’n groter premie – God of die mense se hulp? Vertrou ons op God en doen wat Hy sê of vertrou ons daarop wat vir die wêreld sin maak? Hierdie mense wat die ballinge wou help, het nie vir God alleen aanbid nie. Om hulle dus toe te laat om met die bou van die tempel te help, sou God kwaad maak. As hulle aan die bouproses deelgeneem het, sou hulle dit wat in die tempel gebeur, wou beïnvloed.

 

In die volgende verse sien ons wat hierdie mense werklik wou gehad het – invloed en beheer. Vir hulle gaan die tempel oor hulleself en nie oor God nie. Wat van ons? Gaan dit wat in ons kerke gebeur oor ons of oor God? As jy nie kry wat jy wil hê nie, ondersteun jy steeds die bediening of doen jy dinge wat die bediening ontmoedig en frustreer? Sien jy die bediening in die gemeente as ’n manier om invloed te bekom of ‘n manier om God en sy mense te dien? Hoe kan jy weet of dit die geval is? Kontroleer jou hart as iemand anders ’n groot geleentheid kry. Is jy jaloers of is jy saam met hulle bly? Gebruik God nie juis hierdie geleenthede wat jy nie kry nie om vir jou te wys dat jy nog nie daarvoor gekwalifiseerd is nie?

 

Ons moet eers verstaan dat ons Jesus nodig het. Christus het al die dinge wat mense diskwalifiseer geneem en daarvoor aan die kruis betaal. Diegene wat Christus vertrou is gekwalifiseerd.

 

 

 




Vryspraak

 

Until God reveals himself to us, we do not think that we are men, or rather, we think that we are gods; but when we have seen God, we then begin to feel and know what we are. – John Calvin

 

Vryspraak

In Galasiërs 2: 16 – 17 lees ons vier maal van vryspraak. Volgens Calvyn is vryspraak die skanier waarom alles draai. Maar wat beteken dit? Vryspraak is die genadige optrede van God waardeur God ‘n sondaar regverdig verklaar slegs deur geloof in Jesus Christus. Kom ons ontleed dit.

  • Vryspraak is die genadige optrede van God. Hoor my gebed, Here, luister tog na my smeking. U is getrou en regverdig, antwoord my tog! Moet tog nie ‘n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef is voor U onskuldig nie! (Psalm 143:1 – 2). Die psalmis besef dat almal skuldig staan voor God en dat daar niks is wat die mens kan doen om dit reg te stel nie. Vryspraak gaan oor genade en nie oor iets wat ek kan of moet doen nie.
  • Vryspraak is die genadige optrede van God waardeur Hy verklaar. Vryspraak is ‘n verklaring. Die beeld is dié van ‘n regter wat sy oordeel uitspel. Vryspraak is ‘n optrede en nie ‘n proses nie – ons is nie môre meer vrygespreek as vandag nie. As God sê vrygespreek, is ons vrygespreek vir altyd. Hierdie verklaring van God betrek ‘n sondaar. ‘n Skuldige man staan voor die heilige God. Paulus het sy hele lewe lank probeer om God se wet te gehoorsaam. Toe hy egter vir Jesus Christus ontmoet, besef hy dat hy nie goed is nie.
  • Vryspraak is waar God ‘n skuldige sondaar neem en hom onskuldig verklaar. Vryspraak is die teenoorgestelde van veroordeling. Dit sluit in God se eens en vir altyd vergifnis van sonde. Hoe is dit moontlik?
  • Vryspraak is deur geloof in Jesus Christus. God, die regverdige Regter neem die geregtigheid van Christus en krediteer dit op ons rekening as ons in Jesus Christus glo. Ons is skuldig; ons verdien die doodsvonnis, maar dit word aan Jesus Christus oorgedra. Hy dra God se heilige toorn aan die kruis. Ons word vrygespreek deur geloof in Jesus Christus – geen bydrae van ons kant nie.

 

Vryspraak beteken nie dat die sonde onder die mat ingevee word nie. Sonde het ‘n straf, maar dit is betaal.