Hoe oorleef jy teen ‘n groot oormag?

 

The opposite of love is not correction but indifference. —Anthony Thiselton

 

Hoe oorleef jy teen ‘n groot oormag?

Soek jy ‘n waarborg vir veiligheid? Wil jy absoluut seker wees dat jy en jou geliefdes veilig sal wees? God het Israel in Kanaän geplaas sodat hulle die land met sy heerlikheid kon vul. Maar die volk het dit nie gedoen nie. Toe het God, soos Hy aan Moses belowe het, hulle uit die land in ballingskap gedryf. Die 70 jaar, soos Jeremia geprofeteer het, gaan verby en God roer die hart van Kores. Net soos van die profete voorspel het, word die ballingskap deur ‘n nuwe eksodus gevolg – die Israeliete keer terug na hulle land.

 

Terug in Kanaän vier die Israeliete die huttefees (Esra 3:1 – 6). Dit is ‘n fees wat God se voorsiening van die volk in die woestyn herdenk. Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede. Hulle het egter soos een man in Jerusalem bymekaargekom. Die terugkerendes verlaat hulle huise om na Jerusalem te kom. Hulle huise staan leeg en is kwesbaar. Hoekom doen hulle dit? Om God te gehoorsaam. Dit is beter om God te gehoorsaam en te aanbid as om dit wat jy dink veilig is, te doen.

 

Wat gaan doen hulle in Jerusalem? Hulle bou weer die altaar van God op. Ons lees: Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar  op sy oorspronklike plek opgerig. Hierdie mense ken die Bron van hulle veiligheid – nie getalle of mag of afgode nie – maar die enigste, ware en lewende God.

 

Wat doen hulle toe die altaar klaar gebou was? Hulle bring offers vir die Here. Hierdie mense het uit die geskiedenis van Israel geleer. Al hulle vertroue op mense het tot die ballingskap gelei. Hierdie terugkerendes het geleer wie hulle kan vertrou en wie nie.

 

Daar is net Een wat ons kan beskerm. Daar is net Een wat ons veiligheid kan waarborg. Daar is net Een wat jou welstand kan verseker. Daar is net een lewende en ware God. Is dit hoe ons reageer op gevaarlike toestande en die “plesier” wat ons moderne kultuur aanbied? Ons moet op gevaar, intimidasie en versoeking reageer deur God te aanbid. Hiermee verklaar jy God se mag om jou te red.

 

In hierdie gedeelte lees ons van die vrees van die terugkerende ballinge. Hulle roep nie vir Kores om te help nie; hulle wend hulle nie tot afgode nie. Hulle soek hulp op die enigste plek waar hulle dit kon kry – by God. Hulle begin aanbid en aanbid volgens die wet van Moses.

 

Waar soek ons ons veiligheid?

 

 




Wees versigtig om nie te val nie

 

Let us abhor all onesidedness, all exaggeration of one truth and disparagement of another – C.H. Spurgeon

 

Wees versigtig om nie te val nie

[Eksodus 32:1 – 9]

Hoekom verval Israel in afgodery? Vir dieselfde redes as wat ons verval.

  • Ons val as ons nie God se woord gehoorsaam nie

Die volk vra vir Aäron om vir hulle ‘n god te maak. Hulle was tog veronderstel om die tien gebooie te ken. Jy mag naas My geen ander gode hê nie – die heel eerste gebod. En: Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie – die tweede gebod. Hulle verontagsaam God se duidelike gebooie. Kort vantevore het hulle gesê: Ons sal alles doen wat die Here beveel het (24:3).

 

Die mens wil nie vertel word wat om te doen en wat om nie te doen nie. Ons kry dit reeds met Adam en Eva in die paradys. Ons wil nie onder gesag staan nie. Wat die Israeliete hier doen is teenstrydig met God se opdragte. Hulle harte verlang nog terug na Egipte.

 

Hierdie gedeelte beklemtoon dat dit belangrik is om God te ken vir wie Hy werklik is – nie hoe ons dink Hy behoort te wees nie. Aanbidding berus op die regte persepsie van God soos dit in die Skrif geopenbaar word. The essence of idolatry is the entertainment of thoughts about God that are unworthy of Him (A. W. Tozer)

 

  • Ons val as ons nie die doel van God vertrou nie.

Hoekom bou hulle die afgod? Hulle raak gefrustreerd met Moses se lang afwesigheid. In plaas van vertrou op God se doel, beweeg hulle aan. Om God nie te vertrou nie, is sonde. Hulle het tog geen rede gehad om God te wantrou nie – dink net aan al die wonderdade en sy voorsiening aan hulle behoeftes tot op hierdie punt.

 

God het nie vir ons ‘n volledige plan vir ons lewens gegee nie. Hy sê: “Ek sal met jou wees. Vertrou my; vertrou my tydsberekening.” As ek dinge op my manier en op my tyd probeer doen, val ek in sonde. Vertrou op God se goedheid en wag vir Hom.

 

  • Ons val as ons die genade van God vergeet.

Die volk moes die goue oorringe na Aäron toe bring dat hy vir hulle ‘n beeld kon maak. Waar kom hierdie oorringe vandaan? God het dit vir hulle gegee toe hulle Egipte verlaat het. Die oorsprong van die goud is God se oorwinning. Wat God vir hulle gegee het, gee hulle vir ‘n afgod. By Horeb het hulle ‘n kalf gemaak, voor ‘n god van metaal gekniel. Hulle het die magtige teenwoordigheid van God verruil vir die beeld van ‘n bees wat gras vreet. So het hulle God, hulle redder, vergeet, Hy wat die groot dinge in Egipte gedoen het (Psalm 106:19 – 21).

 

  • Ons val as ons nie ons gawes vir die heerlikheid van God gebruik nie

Ons moet God se gawes geniet; ons moet dankbaar vir sy gawes wees; ons moet sy gawes gebruik om die koninkryk van God te bou – nie vir afgode nie. Om hierdie goue kalf te bou, vereis vaardigheid en tyd. In plaas van hulle vaardighede, tyd en goud te gebruik om God te verheerlik, gebruik hulle dit vir ‘n afgod. Vraag: Gebruik ons God se gawes – ons tyd en talente en geld – vir sy heerlikheid?

 

Baie mense wil verlos word en “hemel toe gaan,” maar hulle wil steeds aan hulle afgode vashou. Israel het vergeet wie hulle uit Egipte gered het. Ons moenie vergeet nie. Moenie ophou om God vir sy genade te dank nie.

 

  • Ons val as on die aanbidding van God verwring

Hierdie hele episode is ‘n beeld van verwronge aanbidding. Hulle doen alles op hulle en nie op God se manier nie. Kyk net hierna:

  • Hulle en nie God nie, neem die inisiatief.
  • Offers word geëis en nie vryelik gegee nie.
  • Hulle berei hulle nie voor vir aanbidding nie.
  • Die onsigbare God is vir ‘n sigbare god verruil.
  • Die persoonlike, lewende God is verruil vir ‘n dooie afgod wat nie kan sien of praat nie.

Ten opsigte van hulle aanbidding doen hulle wat gewild en nie wat reg is nie. Vandag wil ons nie meer aanbid soos die Skrif sê nie. Die gevolg is dat dié wat luister verbruikers geword het. Hulle word gelei deur mense soos Aäron wat vir die mense gee wat hulle vra. God se manier van aanbidding plaas die evangelie in die middelpunt. Die doel van aanbidding is die verheerliking van God. Die mense wou die goue kalf gehad het. Die kalf kon nie praat nie; die mense het nie die kalf gevrees nie; die kalf kon gemanipuleer word vir jou eie voordeel. Mense soek nie ‘n heilige God wat hulle soek en konfronteer nie. Is jou aanbidding vir God aanvaarbaar?

 

  • Ons val as ons die heerlikheid van God verruil.

Hulle aanbid ‘n dier wat hulle gemaak het in plaas van vir Hom. Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ‘n verganklike mens of soos voëls of diere of slange. Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer. Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig (Romeine 1:22 – 25). Mense neem ‘n goeie ding en verander dit in ‘n god en eindig met ‘n verkeerde lewe. Die mens sal iets aanbid: sal dit ‘n skepself of die Skepper wees.

 

Wat kan ons doen om te verhoed dat ons val? Aanbid God. Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Korintiërs 3:18). Dit is hoe ons verander word: ons verander na die beeld van wie ons aanbid.

 

 




Is die hele Bybel geïnspireer?

 

The gospel is not for you who can save yourselves, but for those who are lost. —C.H. Spurgeon

 

Is die hele Bybel geïnspireer?

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek (2 Timoteus 3:16).

Paulus plaas geen voetnota by hierdie stelling nie; hy sê nie dat daar dele is wat nie belangrik is en dus maar uitgelaat kan word. Kan God ons iets leer van ’n lang lys name – geslagsregisters? Kan God ons iets leer van ou stories oor bouprojekte? Kan ons iets leer uit die Israeliete wat hulle nie-Joodse vroue moes los? Het God die boeke soos Levitikus, die Kronieke, Esra en Nehemia geïnspireer?

 

Dit is ’n goeie vraag. Wanneer laas het jy ‘n preek uit een van hierdie boeke gehoor? Wanneer laas het jy ’n reeks gehoor wat die hele boek hanteer het?

 

Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees (Romeine 15:4). Dink aan Esra-Nehemia: Hoe pas die terugkeer uit die ballingskap en die bouprojekte in die groter storie van die Bybel? Was God betrokke by die herbou van die tempel? Beslis.

 

Die geloof van Esra en Nehemia word deur God gebruik om sy koninkryk te bevorder. Dit bewaar en vermeerder die hoop op ‘n heerlike eindtyd wanneer die Messias sal heers. Die woord van God is lewend en aktief. Hierdie minder bekende gedeeltes in die Bybel kan ons egter oortuig, onderrig en verseker dat ons meer en meer soos Christus word. Dit sal ons ook nederig hou.

 

 




Hoekom val Christene?

 

Some of my best men are women!” Generaal William Booth, die stigter van die Heilsleër

 

Hoekom val Christene?

Be killing sin, or sin will be killing you – John Owen

Niemand is buite Satan se bereik nie. Hoekom val ons? Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood (Jakobus 1:14 – 15). Sonde het ‘n lewensiklus: dit groei of verwelk afhangende daarvan of ons dit voed of nie.

 

Hoe kry sonde toegang tot ons lewens?

  1. Dit sal nooit met my gebeur nie.

Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val (Spreuke 16:18). As ons ons swakhede erken, is ons sterk. As ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:10). Trots open die deur  vir kompromië en dom besluite. Ons moenie God se geduld met sy goedkeuring verwar nie. “We are never, never so much in danger of being proud as when we think we are humble.” (C. H. Spurgeon).

 

  1. Ek is te besig

Ek plaas my bediening voor God. Ek is te besig om te bid. Jy kan nie val as jy gedurig op jou knieë is nie. Jy kan nie tyd met God spandeer sonder om te verander nie.

 

  1. Ek gaan ‘n kompromis oor heiligheid aan.

Satan probeer ons weg van God se standaarde af trek. “True Christianity, where it reigns in the heart, will make itself appear in the purity of life.” (Isaac Watts) Heiligheid kom uit gebrokenheid en nederigheid. Maar ons is so geneig om te rasionaliseer in plaas daarvan dat ons berou toon.

 

  1. Ongesonde verhoudings met die teenoorgestelde geslag

Satan verlei ons met ‘n vals gevoel van vryheid, maar sê niks van jare se pyn wat op sulke verhoudings volg nie. Jy moet jouself so gou as moontlik uit so ‘n omgewing verwyder. Egbreuk begin met klein kompromië. Vlug.

 

  1. Ons versterk nie ons swak gebiede nie

Almal van ons het krake in ons wapenrusting – dwelms, seks, huweliksake ens. Ons moet hierdie areas herken en bely. Plaas veiligheidsmaatreëls en aanspreeklikheid in plek.

 

  1. Aanspreeklikheid word dikwels verbreek

Aanspreeklikheid is ‘n veiligheidsmaatreël, maar dit is nie koeëlvas nie. Jou hart moet gefokus wees om God se woord te gehoorsaam. Dit is goed om vir diegene wat jy vertrou te sê: ‘Ek het ‘n probleem op hierdie gebied. Bid saam met my en vra gereeld die moeilike vrae vir my.”

 

  1. ‘n Gevoel van aanspraak maak

‘n Gevoel dat ek op sekere dinge aanspraak kan maak, is dikwels die begin van ons regverdiging vir verkeerde keuses. Soos ons gewildheid toeneem, begin ons ons eie reëls volg. Ons word jaloers en veroordeel ander wat oënskynlik “gelukkiger” as ons is. Sonde is stil in ‘n dankbare hart wat God aanbid. God het aan ons die voorreg gegee om Hom en ander te dien, om sy waarheid te verkondig. Ons kan op niks aanspraak maak nie … ons word net uit genade geseën.

 

‘n Persoon wat berou het, draai sy rug op sonde en aanvaar volle verantwoordelikheid vir sy optrede. Hulle soek vergifnis sonder voorwaardes. Voor ons genees kan word, moet ons ophou om verskonings te maak