Fabriek vir afgode

 

The worst sort of clever men are those who know better than the Bible. —C.H. Spurgeon

 

Fabriek vir afgode

The human heart is an idol factory – Johannes Calvyn

Aan onsself oorgelaat, sal ons iets anders as die lewende God aanbid. Daarom is dit belangrik om die onderwerp van afgodery te verstaan. Os Guiness en John Seel sê dat afgodery die probleem is wat die meeste in die Bybel bespreek word. Daarom is dit belangrik dat die geloofsgemeenskap afgode raaksien en vernietig.

 

Wat is afgodery? Afgodery is as ek iets of iemand in God se plek sit – vals gode. Dit is enigiets wat jy dink vir jou sal gee wat net God vir jou kan gee – vreugde, sekuriteit, vrede, betekenis, identiteit en verlossing. Baie mense glo nie dat afgodery ‘n probleem is nie, want ons assosieer dit met heiligdomme, tempels en beelde. Maar afgode van die hart bestaan oral. Dit sluit in dinge soos geld, seks, skoonheid, sukses, ambisie, ens.

 

In Eksodus 32 lees ons van Israel en die goue kalf. Ons sê gou: “Geen probleem nie – ek aanbid nie ‘n bul nie.” Maar hierdie storie het met elkeen van ons te doen. Dit gaan hier nie primêr om ‘n kalf nie, maar oor die menslike hart.

 

Ons moenie die bose begeer nie; ons moenie dienaars van afgode word nie. Hier het ons nou ‘n storie waaruit ons moet leer. Dit leer vir ons belangrike waarhede. Paulus sê dat ons ook versoek sal word, maar dat ons moet wegvlug van afgodery. Die gode mag verskil, maar die beginsel bly dieselfde: vermy die afgode van jou hart.

 

 




Geloof en werk

 

The frightening thing is that, to enter hell, all one has to do is nothing. —Jared Wilson

 

Geloof en werk

Die kerk is die plek waar die ware werk gebeur. Ons verwag lidmate moet lang ure in die kerkgebou spandeer. Hierdie siening is verkeerd.  Die gevolg is dat baie mense voel dat die enigste regverdiging vir hulle werk is die inkomste wat hulle daaruit kry.

 

Wat belangriker is, is dat die kerk lidmate moet help en toerus om werk-spesifieke sake te hanteer. Maar studies (Kingdom Calling van Amy Sherman onder andere) toon dat daar geen verskil tussen werkers wat Christene is en werkers wat nie-Christene is se werk is nie. In ‘n sekere sin is dit natuurlik reg. Die taak van ‘n werktuigkundige is tog om die kar reg te maak. Maar tog behoort die evangelie die manier waarop ‘n Christen werk, te verander van binne na buite. Hoe?

 

  1. Geloof gee aan jou ‘n innerlike grondslag waarsonder werk jou kan vernietig

Daar is twee potensieel vernietigende resultate van ons werk:

  • Ons kan slaag waarna ons sukses na ons kop toe gaan. Ons glo dat ons vaardigheid in een gebied beteken dat ons op alle gebeiede kundig is. Ons kyk neer op ander.
  • Ons kan misluk en vernietig word.

Hoekom gebeur dit? Sonder die evangelie is ons werk ons identiteit. Die evangelie bevry ons hiervan.

 

  1. Geloof gee vir ons ‘n konsep van die waarde en waardigheid van alle werk waarsonder werk jou sal verveel

In die verlede is werk dikwels as ‘n noodsaaklike euwel gesien. Die evangelie, daarenteen, beklemtoon die waardigheid van alle soorte werk. Martin Luther het gesê dat as God vir ons melk voorsien, gebruik Hy die vrou wat die koeie melk. Sy is dan besig om God se werk te doen. Dieselfde geld vir enigeen wat ander dien – maak nie saak hoe klein nie.

 

  1. Geloof gee aan ons ‘n morele kompas waarsonder werk ons korrup sal maak

Die evangelie leer vir ons dat daar wel so iets soos morele standaarde is. Ons is mededingend, maar nie genadeloos nie; Ons vermeerder ons rykdom, maar nie sonder opregte diens aan ander nie. Christene gaan verder as die wet van werk – ons probeer Christus modelleer.

 

  1. Geloof gee vir ons ‘n nuwe wêreld- en lewensiening wat die karakter van jou werk vorm, waarsonder die werk jou kan bemeester

Ons hoor dat ons ons geloof en ons werkplek kan skei. Baie beroepe vereis ‘n diep verstaan van die menslike natuur. Dit is iets wat ons net in die Skrif kan kry. Hoe voed ons ons kinders op? Hoe besluit ons wat is reg? Sonder ‘n Bybelse agtergrond kan ons nie hierdie sake ordentlik deurdink nie.

 

  1. Geloof gee vir ons hoop in die frustrasie van werk waarsonder jou werk jou kan plat druk

Die evangelie verseker ons dat daar iets meer as ons werk is. Ons sal nooit alles wat ons wil in hierdie lewe bereik nie. Maar daar is ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde op pad.

 

Werk buite die kerk is belangrik – net so belangrik soos werk in die kerk.

 

 




Paulus en sy briewe

 

If you understand it, it isn’t God – Augustinus

 

Paulus en sy briewe

Hierdie is ‘n voortsetting van ons bespreking van Mel Lawrenz se reeks: How to Understand the Bible.

Naas Jesus was daar nie ‘n invloedryker persoon in die vroeë Christendom as Paulus nie. Van die 27 boeke in die Nuwe Testament word 13 aan hom toegeskryf. Kyk net na ‘n kaart van sy sendingreise en jy sal verbaas staan oor die gebied wat hy gedek het. Maar ons moenie net geografies dink nie, maar ook kultureel.

 

Hy was ‘n Jood uit die stam van Benjamin. Hy word ‘n toegewyde Fariseër. Hy kom uit die stad Tarsus en word groot midde in die Grieks-Romeinse kultuur. Hy was ‘n Romeinse burger. Hierdie agtergrond beteken dat hy in staat was om die evangelie in stede te verkondig. Hy was gemaklik in Jerusalem en het geen probleem gehad om na plekke soos Kreta, Griekeland en Rome te beweeg nie. Sy aanpasbaarheid was ongelooflik. Hy praat met goewerneurs, magistrate, filosowe en handelaars.

 

Sy sterk sienings oor geloof in Jesus Christus kan teruggevoer word na sy bekering. In die Nuwe Testament is daar nie ‘n radikaler storie van persoonlike verandering as juis sy storie nie. Sy mede-Fariseërs het hom aangewys om die vroeë volgelinge van Jesus te ondersoek en te vervolg. Hy was teenwoordig toe die eerste Christen-martelaar, Stefanus, gestenig is. Op pad na Damaskus om meer van Christus se volgelinge te vervolg, ontmoet hy die opgestane Jesus. Hierdie ontmoeting verander sy hart en denke.

 

Dit was nie maklik vir die ander apostels om hierdie vervolger in hulle midde te verwelkom nie. Hulle het hom ook moeilik as leermeester aanvaar. Met verloop van tyd begin hy, saam met ‘n paar metgeselle, sy eerste groot reis.

 

Daar is ‘n groot verskeidenheid in Paulus se briewe. Vier skryf hy uit die tronk – Efesiërs, Filippense, Kolossense en Filemon. Terwyl hy aan die Filippense skryf glo hy dat sy teregstelling naby was. Filemon is aan ‘n persoon geskryf oor ‘n slaaf wat weggehardloop het. Efesiërs is waarskynlik aan ‘n hele aantal gemeentes geskryf.

 

Drie van die briewe staan bekend  as die pastorale briewe, want hulle bevat opdragte aan Paulus se medewerkers, Timoteus en Titus, oor hoe om orde en harmonie in die gemeente te beskerm. Hulle hanteer oor die korrekte onderrig van die evangelie. So kry ons die kwalifikasies van ouderlinge en diakens in hulle. Baie van hierdie onderrig word nog vandag in ons gemeentes gebruik.

 

Romeine is ‘n kragtige en omvattende beskrywing van die hele evangelie. Dit dek die skepping, sonde, verlossing en herstel.  In Galasiërs word klem gelê op genade. 1 en 2 Korintiërs gee vir ons insig in hoe Paulus die spanning in ‘n kerk met probleme hanteer. Hy roep mense op tot optrede. In 2 Korintiërs beskryf Paulus sy eie hartseer as gevolg van mense wat hom probeer diskrediteer.

 

Wat moet ons in gedagte hou as ons Paulus se briewe lees en probeer verstaan? Soos altyd moet ons by die konteks begin. Elke brief is geskryf met ‘n spesifieke gehoor en ‘n spesifieke doel in gedagte. As ons ‘n bietjie grawe kom ons agter watter dwaalleer die boek Kolossense hanteer. Ons leer ook hoe slawerny gelyk het, hoe die gesinslewe was en sekere eienskappe van die kultuur. Dan moet ons vra: Watter universele en tydlose waarhede kry ons hier – waarhede wat vandag nog geldig is?

 

Ons groet mekaar nie meer met ‘n soen nie, maar Christelike ordentlikheid is steeds belangrik. Ouderlinge as oorsieners van die gemeente geld steeds.

 

Die briewe brei die rykheid van die Skrif uit. Dit herinner ons daaraan dat die word van God waarheid in verhoudings is.




Wat wil jy hê?

 

Human language never can express adequately divine realities – Charles Gore

 

Wat wil jy hê?

Daniel Coleman het verskeie mense gevra: “Verduidelik vir my presies wat julle wil hê.” Ongelooflik, nie ‘n enkele persoon kon die vraag antwoord nie. Om te weet wat jy wil hê, is die beste manier om die versoeking om terselfderyd verskeie dinge te doen, te vermy.

 

Mense raak gefrustreerd deur hulle bediening, loopbaan, ens omdat hulle weet dat hulle iets wil hê, maar nie presies weet wat dit is nie. Die hoofrede waarom mense professioneel en persoonlik sukkel, is ‘n gebrek aan fokus. Hierdie gebrek aan fokus kan ‘n mens duur te staan kom, want nou is daar subtiele druk op jou om meer na te jaag.

 

Daar is ‘n subtiele druk om meer tyd te daaraan te spandeer om ons CV te bou; om meer blootstelling te kry; meer geld te maak. Uiteindelik verloor jy jou fokus.

 

Lees net Prediker. Die skywer jaag verskeie dinge na (2:1 – 11): plesier, wyn, groot ondernemings, huise bou, ens. Hy verloor fokus en jaag verskeie doelwitte, wat geen verband met mekaar het nie, na. Die skrywer was inwendig leeg. Hy kon nie die gat wat God in sy hart geplaas het met dinge vul nie; hy kon nie verstaan waarom dit nie vir hom tevredenheid gebring het nie. Hy probeer daardie leemte in sy hart met uitwendige dinge vul.

 

Uiteindelik bepaal hy wat werklik saak maak en wat hy wil hê Prediker 12. “As jy twee hase jaag, gaan albei wegkom.” Die gevaar van meer dinge najaag, is dat dit feitlik onbeperk is. Jesus, daarenteen, is die model van wat gebeur as jy fokus.

 

Jesus is in Nasaret en praat met die mense in die sinagoge (Lukas 4). Hy lees uit Jesaja en praat van sy salwing. Die mense van Nasaret, sy tuisdorp, verwerp hom. As sy gehoor nie gehou het van wat Hy te sê gehad het nie, het Hy eenvoudig aanbeweeg na die volgende dorp. Daar het Hy sy werk voortgesit. Niks sou Hom wegtrek van dit wat Hy gekom het om te doen nie.

 

Ons moet tyd in ons dagboeke inruim om te fokus op ons taak. Die probleem: Weet jy al wat jy wil hê?