Die verandering van Paulus se lewe – van terroris tot evangelis (3)

 

Our failures are never big enough to interrupt God’s plans for us. —Dave Harvey

 

Die verandering van Paulus se lewe – van terroris tot evangelis (3)

Ons het reeds na Paulus voor sy bekering en toe sy bekering bekyk. Vandag gaan ons na Paulus na sy bekering kyk.

 

  • Paulus na sy bekering: Getrou aan Jesus Christus

[Galasiërs 1:16b – 24]

  • Soos Paulus kan ons nou sê dat Christus in ons woon.

Christus woon in ons. Daar is nou ‘n nuwe “ek.” En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe (2:20). Ons het ‘n nuwe identiteit; ons het ‘n nuwe kragbron. Ons probeer nie meer in ons eie krag lewe nie.

 

  • Dit is ons verantwoordelikheid om Christus aan ander bekend te maak

Hoekom is Paulus geroep? Sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig. Paulus is nie net tot sy eie voordeel bekeer nie. Sy bekering kom met ‘n opdrag – net soos ons bekering. Paulus se lewe was nie maklik nie, maar dit was doelgerig. Ons sou ook ‘n doelgerigte, moeilike lewe bo ‘n betekenislose lewe verkies. Paulus vertel van sy eie ondervinding. Hy is bekeer en toe is hy vir ‘n lewe as evangelis voorberei. Geen mens was nodig om sy boodskap te bevestig nie. Tye van stille voorbereiding is vir elkeen van ons noodsaaklik. Tye van wag is nie tye wat vermors is nie.

 

Dink na oor die storie van Paulus se bekering:

  • Voor sy bekering: Hy was ‘n fanatikus op die verkeerde pad.
  • Bekering: Alles as genade
  • Na sy bekering: Getroue verkondiging van Jesus wat sy boodskap vir hom gegee het

 

Paulus se storie vertel vir ons dat niemand buite die genade van God se bereik is nie. Hierdie boodsakp kom net van God – dit is nie goeie raad van ‘n mens nie, maar goeie nuus van God.

 

 




Vrae om my dag mee te begin en te eindig

 

Forbid us something, and that thing we desire –  Geoffrey Chaucer

 

Vrae om my dag mee te begin en te eindig

Judge someone by their questions, rather than by their answers – Voltaire

Jesse Lyn Stoner sê dat ons vrae die gehalte van ons antwoorde bepaal. Hulle bepaal die gehalte van jou dag. ‘n Goeie vraag bring jou veel verder as ‘n vinnige antwoord.

 

Begin jou dag met fokus en energie deur ‘n paar oomblikke te gebruik om hierdie drie vrae te antwoord:

  1. Wat sal my vandag vreugde verskaf?
  2. Wat wil ek vandag bereik wat my opgewonde maak?
  3. Wie het vandag my hulp nodig?

 

Jou dag sal meer betekenis hê en op ‘n beter noot eindig as jy tyd inruim om die volgende vrae voor jy gaan slaap, te antwoord:

  1. Van dit wat ek vandag gedoen het, waarop is ek trots?
  2. Vir wie is ek lief?
  3. Waarvoor is ek dankbaar?

 

Natuurlik is hierdie vrae net voorbeelde. Wat wel belangrik is, is die beginsel om vrae aan die begin en einde van jou dag te vra. Dink aan vrae wat die beste vir jou sal werk. Moenie vrae vra waarop jy net “ja” of “nee” kan antwoord of wat net een regte antwoord het nie. Die beste vrae is daardie vrae wat jou laat dink.

 

 




Die verandering van Paulus se lewe – van terroris tot evangelis (2)

 

Growth for the sake of growth is the ideology of the cancer cell. -Edward Abbey

 

Die verandering van Paulus se lewe – van terroris tot evangelis (2)

In die vorige blog het ons na Paulus voor sy bekering gekyk.

 

  • Paulus se bekering

[Galasiërs 1:15 – 16a]

Dink aan God se werk in die bekering en uitstuur van Paulus. Hier is vier aspekte om raak te sien:

  • Bekering behels God se intrede

Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Maar!  God het deur sy genade in Paulus se lewe ingetree. Maar God. God tree in Paulus se lewe in en Hy doen dit in die lewens van alle gelowiges.

 

  • Bekering betrek God se beplanning

God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder. Ons kry dieselfde by Jeremia, Jesaja en Johannes die Doper. God het ons verkies as sy mense. Dit is deel van sy ewige, soewereine plan. God het Paulus reeds voor sy geboorte vir Hom afgesonder, maar tog het Paulus jare lank teen God in opstand gekom en sy kerk vervolg. In die tyd voor Paulus se bekering was God geduldig met hom. Is ons altyd dankbaar vir God se geduld?

 

  • Bekering sluit in God se roeping in genade

Hy het my in sy genade geroep. Hy roep Paulus doeltreffend en met krag. God roep ook vir ons. God se roeping is aksie en God se woord is ‘n daad – dit is ‘n werklikheid. As God sê: Laat daar lig wees, is daar lig. God het net vir Lasarus gesê om uit die graf te kom en dit gebeur. Sy woorde bring lewe. Alle Christene het op een of ander stadium God se kragtige roeping gehoor. Hoe het jy op sy roeping gereageer?

 

Hierdie roeping is genade. Hoe het jy ‘n Christen geword? Genade. Paulus het nie vir God op die Damaskus pad gesoek nie. Hy was op pad om die Christene in Damaskus te gaan vervolg. Die kerk is vol mense wat deur genade gered is.

 

  • Bekering beteken dat ons die heerlikheid van God sien

Toe Hy in sy goedheid besluit het om sy Seun aan my te openbaar. Hierdie werklikheid van Jesus – gekruisig, opgestaan, verheerlik – is aan Paulus geopenbaar. God open die oë van gelowiges dat hulle kan sien. Paulus het vantevore die Christelike onderrig geken, maar hy het dit nie aanvaar nie. Hy kon die idee van ‘n gekruisigde Messias glad nie aanvaar nie. Toe word Christus aan hom geopenbaar en alles verander. Deur sy Gees maak God die werklikheid van Christus aan ons bekend. Na ons bekering is ons nuwe skepsels; ons sien met nuwe oë. Ons moet ons verheug dat Jesus Christus aan ons geopenbaar is.

 

Volgende keer gaan ons na Paulus na sy bekering kyk.




Die Tabernakel

 

The greater our progress in theology, the simpler and more child-like will be our faith. —J. Gresham Machen

 

Die Tabernakel

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

 

God het by die mense van Israel in die tabernakel gebly. Dit is ‘n voorafskaduwing van die teenwoordigeid van God in Christus in sy kerk.

 

Hier sien ons die ontsaglike teenwoordigheid van God. God, in sy genade, kies om by sy mense te bly; Hy was nie ‘n afwesige vader nie; Hy was intens betrokke by die lewens van sy mense. Sy teenwoordigheid boesem vertroue, maar ook vrees, by hulle in. Sy teenwoordigheid onderskei Israel van al die ander nasies.

 

Bydraes vir die heiligdom

[Eksodus 25:1 – 9]

Voordat God die opdragte oor die bou van die tabernakel gee, kontroleer Hy eers die harte van die volk – Hy versoek ‘n bydrae van sy mense. Hulle moet ‘n bydrae maak tot wat sy woonplek sal wees. Julle moet die offergawes aanvaar soos dit vir My aangebied word. Hier is geen voorskrifte oor wat of hoeveel elke persoon moet gee nie. God dwing ons nie om Hom te aanbid en vir Hom te gee nie – Hy vra daarvoor. Dit vra vir ‘n offer – mense moes opoffer en die pad volg wat God vir hulle aangedui het.

 

God vra spesifieke bydraes, want die materiaal wat vir die bou van die tabernakel gebruik gaan word is uniek en waardevol. Dit sluit in goud, silwer, brons, wolstof, linne, bokhaar, ens. Jy nader nie vir God op jou eie voorwaardes nie, want Hy is die Almagtige, die Skepper en die Verlosser. God het hierdie goedere voorsien – voor die Israeliete Egipte verlaat het, het die Egiptenare dit vir hulle gegee. Nou moes sy mense ‘n deel daarvan aan God teruggee.

 

Niks het nog verander nie. Ons gee aan God van ons hulpbronne wat God aan ons toevertrou het. Die probleem is dat ons nie aanvaar dat Hy vir ons die geld, tyd en energie gegee het nie; dat ons slegs rentmeesters is nie. As ons besef ons is net rentmeesters sal ons blymoedig gee.

 

Wat was die doel van die tabernakel? Hulle moet vir My ‘n heiligdom oprig dat Ek tussen  hulle kan woon. Hoekom was dit ‘n heiligdom? Omdat dit God se woonplek was. God, nie mense nie, maak die plek heilig. As dit eers heilig is, mag dit net gebruik word soos God dit bedoel het.

 

Ons kan God nader, want Hy het ‘n verhouding deur Jesus Christus met ons geïnisieer. Ons kan Hom net in genade deur geloof in Christus en deur die krag van die Heilige Gees nader. Hy het Hom ook aan ons in die Skrif geopenbaar

 

Uiteindelik wys die tabernakel ons na Iemand – na die ware teenwoordigheid van God wat by ons woon: Christus. Die Woord van God het mens geword en onder ons kom woon (Johannes 1:14). Jesus is die ware lig wat elke mens verlig (Johannes 1:9).