Die verandering van Paulus se lewe – van terroris tot evangelis (1)

 

Faith is not an accuracy of logic, but a rectitude of heart – ­Samuel Taylor Coleridge

 

Die verandering van Paulus se lewe – van terroris tot evangelis (1)

Paulus se bekering herinner ons aan die verskil wat Jesus Christus in ‘n sondaar se lewe kan maak. Natuurlik is Paulus se lewe uniek, maar daar is tog sekere ooreenkomste tussen sy ondervinding en ons eie ondervindings.

 

  • Paulus voor sy bekering: Hy het genade nodig

[Galasiërs 1:13 – 14]

Paulus, soos ons, het genade nodig gehad. Hy sê dat hy gelowiges vervolg het. Hy het die kerk tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei. Hy was ten gunste van die martelaarskap van Stefanus; hy laat Christene in die tronk gooi. Paulus was op pad om Christene nog verder te vervolg toe Jesus met hom op die pad na Damaskus gepraat het. Hierdie ontmoeting met die opgestane Christus verander alles. Paulus was absoluut oortuig dat hy besig was om die regte ding te doen en dat die Christelike geloof vals was. Hy was ‘n gewelddadige mens voor hy sy Verlosser ontmoet het.

 

Hy het met ywer die tradisies van sy voorvaders beskerm. Hy was ‘n Fariseër. Dit beteken dat hy nie net die Ou Testamentiese tradisies volg nie, maar al die ander tradisies wat mettertyd ontstaan het. Hy was ‘n held onder die Fariseërs.

 

Paulus is ‘n klassieke voorbeeld van iemand wat opreg was, maar dit waaraan hy geglo het, was verkeerd. Jy kan vol godsdiens wees en tog vir Jesus miskyk. Paulus was in ‘n desperate situasie. Geen mens kon sy gedagtes verander nie – net God kan hom bereik.

 

Is dit nog vir ons ‘n wonder dat God vir ons gered het? Glo ons dat Hy die ergste van alle sondaars kan red? Kyk na Paulus: hy was ‘n terroris, maar God verander hom in ‘n evangelis. Dit is genade.

 

Volgende keer gaan ons na Paulus se bekering kyk.

 




Aanbidding

 

The aim is never to become a master of the Word, but to be mastered by it. —D.A. Carson

 

Aanbidding

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

In Eksodus 20:22 – 26 sê God vir Israel hoe om te aanbid. Daar is twee foute waarvoor ons moet oppas:

  • Om hierdie wette volledig uit te gooi omdat ons dink ons kan niks hier leer nie; of
  • Om hierdie wette soos hulle hier staan te aanvaar.

Hierdie wette hanteer spesifieke situasies. Hulle was nooit bedoel om elke moontlike situasie te hanteer nie. Hulle was riglyne.

 

God se verbod op die bou van afgode sluit by die eerste vier gebooie aan. God se mense moet God alleen aanbid. In Hoofstuk 32 sien ons dat Israel hierdie voorskrifte verbreek – die goue kalf. In vers 24 – 26 sê God dan vir hulle hoe om te aanbid. God wou nie alleen hê dat die Israeliete nie afgode moet aanbid nie, maar dat hulle ook nie soos die heidene sal aanbid nie. Hier noem God vier verskille wat vandag steeds geld.

  • Eenvoud

Israel moet vir God ‘n altaar van grond of klip wat nie gekap is nie, bou. Die Kanaäniete het hulle afgode op altare van gekapte klip gebou. Heidense altare is van duur items gebou. God sê: bou van grond. Niks moes hulle aandag van die kern van aanbidding wegtrek nie – ons aanbid tog nie die altaar nie.

 

Niks in ons aanbiddingsdienste moet vir die vertoon gedoen word nie. God moet die fokus van ons aanbidding wees – nie die gebou of die leier nie. God verheug Hom in die lof van sy mense wanneer hulle in eenvoudige geboue bymekaar kom. Indrukwekkende strukture moet ons nooit beïndruk of afbreuk doen aan die voorwerp van ons aanbidding nie.

 

  • Reinheid

Julle mag nie met trappies na my altaar toe opklim nie, sodat julle julle nie by my altaar ontbloot nie.

Die Kanaänitiese aanbidding was dikwels onwelvoeglik. God gee hier opdragte oor reinheid. Later het God beveel dat die priesters onderklere van linne moes dra om te verhoed dat hulle blootgestel word. God verwag steeds reinheid van sy mense – veral die leiers.

 

  • Lokaliteit

Waar moet ons aanbid? Op elke plek waar Ek my Naam wil laat aanroep, sal Ek na julle toe kom en julle seën. Israel hoef nie elke keer na Sinai te gaan om God se teenwoordigheid te ondervind nie – daar is ook ander plekke waar hulle God kan ontmoet. Ons weet dat deur die Heilige Gees God op enige plek in die wêreld aanbid kan word. Dit gaan nie oor die plek van aanbidding nie, maar oor Wie aanbid word.

 

  • Offer

Die altaar was die plek waar vir die sonde geoffer word. In vers 24 word na brandoffers en maaltydoffers verwys. Die brandoffer is gebring vir die versoening van sonde. ‘n Dier sonder liggaamsgebrek word gebruik en alles word verbrand. Die rook styg op na die hemel. Die maaltydoffer se klem verskil. Dit is by spesiale geleenthede gebring om God te dank. Dit is die simbool van die gelowige se gemeenskap met God – God se versoening met mense. Alles word nie verbrand nie en die mense het die dier in die teenwoordigheid van God geëet.

 

God het besef dat sy mense vergifnis nodig sal hê – al het hulle die wet. Jesus Christus het eenmalig die offer vir ons sondes gebring – ‘n offer wat nie herhaal moet word nie.

 

As ons aanbid, is die belangrikste ding dat ons Jesus Christus moet onthou. Sonder Hom kan ons nie vir God ken en aanbid nie.

 

 

 




Die oorsprong van Paulus se boodskap

 

It was a weighty saying of some wise man, that “Hell is truth known too late” – J.C. Ryle

 

Die oorsprong van Paulus se boodskap

[Galasiërs 1:11 – 12]

Wat baie duidelik is, is dat die oorsprong van Paulus se boodskap God se openbaring aan hom was. Dit is nie deur ‘n mens uitgedink nie. Hy voeg by: Ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of by ‘n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in ‘n openbaring aan my gegee. Paulus het sy boodskap direk van Jesus Christus gekry. Hy het die opgestane Christus ontmoet en sy boodskap van Hom gekry.

 

‘n Mens het nie die evangelie uitgedink nie – dit kom van God af. Dit is die standaard waarteen ons enige stel idees of godsdiens of filosofie moet meet. As ons die evangelie moes uitdink, sou ons darem menslike werke beklemtoon het om God se guns te wen. Die boodskap van genade – dat die werk alreeds gedoen is – druis in teen ons intuïsie. Ons vertrou nie genade nie, want ons wil beheer hê. Daarom kan ons aanvaar dat mense nie die evangelie uitgedink het nie.

 

Die evangelie van genade is soos water: die mens het dit nie uitgedink nie, maar die mens kan nie daarsonder klaarkom nie. Ons is geestelik dors en het die lewende water van die evangelie nodig. Ons moet aanhou drink by God se genadefontein. Jy moet vir ongelowiges vertel dat wat hulle nodig het nie goeie advies is nie, maar die goeie nuus van God oor Jesus Christus.

 

Waar kry jy dit wat jy glo? Dit is noodsaaklik dat jy dit by die regte bron kry – Jesus. Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee (Matteus 11:28). Paulus gee vir ons hierdie boodskap van die evangelie wat hy by Jesus self gekry het. Hierdie boodskap is nou aan ons toevertrou sodat ons dit ook aan ander kan oordra.

 




Die tien gebooie (6)

 

More people have been brought into the church by the kindness of real Christian love than by all the theological arguments in the world. And more people have been driven from the church by the hardness and ugliness of so-called Christians than by all the doubts in the world.’ William Barclay

 

Die tien gebooie (6)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

 

Nadat die volk die tien gebooie ontvang het, staan hulle in vrees en bewing (20:18 – 21). Ons weet egter ook dat hulle gereeld misluk het. Selfs hulle middelaar, Moses het misluk. Daar is egter ‘n groter Middelaar wat nooit misluk het nie – Jesus Christus.

 

Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word (Galasiërs 4:4 – 5). Hy het die wet in alle opsigte vervul; Hy bepaal die straf vir die wet en dra die vloek van die wet aan die kruis. Ons kan nie God se wet volmaak onderhou nie – ons het Iemand nodig om dit vir ons te doen. Die wet dryf ons na Jesus Christus vir vergifnis en die Gees bemagtig ons vir gehoorsaamheid.

 

Ons kan nie die wet volkome nakom nie; ons het altyd genade nodig. Maar: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Jesus Christus is nie (Romeine 8:1). Daarom kan ons ons in God se wet verheug – dit is nie meer vir ons ‘n las nie. Ons hoop en krag kom nie van ons wetsonderhouding nie, maar van Jesus se wetsonderhouding. Hy het die lewe wat ons nie kon geleef het nie, geleef. Daarna sterf Hy die dood wat ons behoort te gesterf het. Daarom het ons vir Jesus lief.

 

Loof Jesus Christus, want Hy red diegene wat nie God se wet kan onderhou nie. Kyk na Hom en glo. Ontvang in geloof sy volmaakte geregtigheid. Hy is ons enigste hoop.