Die tien gebooie (2)

We cannot embrace the doctrines of grace without embracing the disciplines of grace. —Curtis Woods

Die tien gebooie (2)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

In die vorige blog het ons na die gewer van die tien gebooie gekyk. Daaruit volg twee aspekte wat verder bespreek moet word:

  • Die roeping; en
  • God se heiligheid

Daarna gaan ons volgende keer kyk.

 

  • Die roeping

[Eksodus 19:1 – 6]

Sinai sou Moses aan sy eerste ontmoeting met God in die brandende bos herinner het. Terwyl die mense kamp opslaan, klim Moses teen die berg op. God praat met hom en vertel hom wat om vir die volk te sê: Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra het en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat my as priesters dien en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.

 

Hier stel God die voorwaardes vir die verhouding. God roep hulle (en vir ons) om te glo en gehoorsaam te wees. Eers verlos Hy ons; dan gee Hy sy woord aan ons; dan verwag Hy dat ons tot sy heerlikheid sal leef. Diegene wat glo en sy woord gehoorsaam, sal sy eiendom wees. Die hele aarde behoort immers aan My. Daar is net een God op die hele wêreld. Israel moet God as priesters dien en ‘n gewyde nasie wees. Hulle moet die weë van God se koninkryk aan die ander nasies bekend maak.

 

Presies dieselfde geld vir Christene: Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.  Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is … Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1 Petrus 2:4 – 6, 9). Ons is priesters; ons kan mense in gebed na God toe neem; ons kan God na mense neem in ons getuienis. Dit is ons roeping.

 

In die volgende blog gaan ons na God se heiligheid kyk.

 

 

 




Ek vra om verskoning

 

Many of us cannot reach the mission fields on our feet, but we can reach them on our knees. —T.J. Bach

 

Ek vra om verskoning

Dit klink snaaks, maar baie mense weet nie hoe om om verskoning te vra nie. Ons moet die verskil tussen ‘n opregte, nederige verskoning en bestuur van jou eie beeld ken. Daar is veral vyf foute wat ons maak as ons om verskoning vra.

  • Ek is jammer vir almal

‘n Verskoning word beperk tot die persoon of persone wat direk deur jou verkeerde optrede geraak is. As jy ‘n lidmaat seergemaak het, teken jy nie verskoning teenoor die hele gemeente aan nie, maar spesifiek teenoor daardie lidmaat,

 

  • Ek is jammer vir alles

Vra verskoning vir wat jy verkeerd gedoen het. Die verskoning moet spesifiek wees.

 

  • Ek is jammmer as …

Ek is jammer as my verkeerde gedrag vir jou seergemaak het … Eintlik is dit nie ‘n verskoning nie. Laat jou jammer jou jammer wees – los die as.

 

  • Ek is jammer, maar …

Ek is jammer ek was so onbeskof, maar ek was moeg. Al bevat dit die woordjie jammer is dit nie eintlik ‘n verskoning nie. Sodra jy die woord “maar” byvoeg, is dit nie meer ‘n verskoning nie.

 

  • Ek is jammer … uiteindelik

Geregtigheid wat uitgestel word, is nie meer geregtigheid nie. Net so met ‘n verskoning. Moenie die fout maak deur te lank te wag voor jy ‘n verskoning aanteken nie. Vra so gou as moontlik om verskoning.

 

Op een of ander stadium gaan almal van ons ‘n fout maak en om verskoning moet vra. Vermy hierdie vyf basiese foute.

 




Die tien gebooie (1)

If heaven is our country, what can the earth be but a place of exile? If departure from the world is entrance into life, what is the world but a sepulchre, and what is residence in it but immersion in death? If to be freed from the body is to gain full possession of freedom, what is the body but a prison? – Johannes Calvyn

Die tien gebooie (1)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

Voordat ons die tien gebooie kan bespreek, is daar een belangrike vraag wat ons moet vra: Wie het hierdie gebooie aan Israel en aan ons gegee? Die antwoord kry ons in Eksodus 19:1 – 20:1.

 

Toe het God al hierdie gebooie aangekondig (20:1). Die mense was so oorweldig deur God se verskyning op Sinaiberg dat hulle na die tyd vir Moses gevra het om met hulle te praat. Die mense het God se stem gehoor; hulle kon nie aan sy teenwoordigheid getwyfel het nie. Om dit vir die mense te vererger, het dit met natuurverskynsels gepaard gegaan: donderslae, weerligte, ‘n donker wolk op die berg, die ramshoring, die berg wat rook, die Here wat in vuur na die berg toe afkom, die berg wat skud.

 

Eksodus 19 dek die tafel vir die tien gebooie. In hierdie hoofstuk stel God die voorwaardes vir die verhouding tussen Israel en Homself. Hulle het God geken – Hy het hulle immers uit Egipte gered. Maar nou sal hulle Hom ken soos nooit vantevore nie. Hier oorweldig Hy die volk met sy heiligheid en oorweldigende heerlikheid. Dit is Hy wat hulle roep en sy verbond met hulle maak. Dit is noodsaaklik dat ons weet dat hierdie gebooie van God self kom.

 

Hier is veral twee aspekte wat ons in die volgende blogs gaan bespreek:

  • Die roeping; en
  • God se heiligheid

Daarna gaan ons volgende keer kyk.

 




Beveg ontmoediging met beloftes uit die evangelie (2)

 

If I want to love God more, I have to know Him more deeply. The more I search the Scriptures and focus my mind’s attention on who God is and what He does, the more my soul breaks out in flames –R.C. Sproul

 

Beveg ontmoediging met beloftes uit die evangelie (2)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

Eksodus 5:1 – 7:5)

Ons kom nou by God se derde belofte aan Moses.

 

  • God verlos (6:6 – 7:5).

In hierdie gedeelte kry ons ‘n hele aantal Ek sal … stellings. Kom ons kyk na vyf sulke stellings:

  • Verlossing

Ek sal julle van die dwangarbeid van Egipte bevry. Ek sal julle van die verknegting verlos, Ek sal julle vry maak met mag en met groot reddingsdade (6:6). God gaan hulle deur Moses van hulle slawebande verlos. Dit gebeur deur genade; dit is nie iets wat Israel verdien het nie. Die doel hiervan is dat hulle die almagtige God kan dien. Ons kry hierdie waarheid ook in die Nuwe Testament. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring (Galasiërs 1:3 – 4). God verlos ons van ons geestelike slawerny en ons onvermoë om die wet te onderhou. Dit gebeur net deur genade in geloof. Die doel van ons vrylating is ook aanbidding. Slegs as ons vry is, kan ons God waarlik aanbid.

 

In ‘n sekere sin het dit reeds gebeur, maar ons kyk ook vooruit na wanneer Jesus ons vir altyd sal vrymaak van hierdie wêreld. Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Romeine 8:18). Ons wag angstig op die finale verlossing.

 

  • Vrylating

Ek sal julle vry maak met mag en met Goot reddingsdade (6:5). God kom om sy mense vry te koop. Sy familie – sy volk – was slawe en Hy kom om hulle te verdedig, vir hulle in te tree en hulle vry te maak. Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur … van sy geboorte was Hy aan die wet onderworpe om ons wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kan word. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: “Vader!” Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak (Galasiërs 4:4 – 7). God het in ons swaarkry ingegryp; Hy het ingegryp om ons van ons groot skuld vry te maak. Hy doen dit deur die dood van sy eie Seun. As Jesus weer kom om ons finaal vry te laat, sal ons probleme wat ons hier ondervind na niks lyk nie.

 

  • Aanneming

Ek neem julle aan as my volk en Ek sal julle God wees. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, julle God is wat julle van die dwangarbeid van Egipte bevry het (6:6). Hier sien ons God se oneindige liefde. God het ons vrygelaat en verlos. Maar Hy het ons ook as deel van sy familie aangeneem. Wat ‘n wonderlike voorreg. Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook (1 Johannes 3:1). Dit is God wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon (Psalm 103:4). God het ons uit die graf van sonde gered en ons deel van sy familie gemaak.

 

  • Erfgename

 Ek sal julle bring na die land toe wat Ek met ‘n eed aan Abraham, Isak en Jakob belowe het. Ek sal dit julle eiendom. Ek is die Here (6:7). Hierdie is ‘n belofte wat God oorspronklik aan Abraham gemaak het. Hierdie mense het niks gehad nie – hulle was slawe in Egipte. Nou gee God aan hulle ‘n erfenis – die beloofde land. Hulle het dit nie verdien nie – dit is alles uit genade. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die Hemel ook vir julle in bewaring gehou word (1 Petrus 1:4). Ons is seker van hierdie erfenis.

 

Ten spyte van hierdie beloftes sukkel Moses en die Israeliete om te glo: Maar in hulle moedeloosheid oor die harde werk het hulle nie na hom geluister nie (6:8). Die stryd om oorlewing is vir baie mense net te veel. God beveel Moses om terug te gaan na die farao. Moses se reaksie was een van ongeloof en wanhoop – hoe sal die farao nou na hom luister as die Israeliete dit nie wou doen nie. God beveel hom egter om te luister en te gehoorsaam. Dit bring ons dan by die vyfde belofte:

  • Oordeel en genade

Maar Ek sal die farao hardkoppig maak … maar dan sal Ek Egipte my mag laat ervaar (7:3 – 4). God herinner vir Moses wie in beheer is. Farao het geglo dat hy ‘n god was, maar hier sit God hom op sy plek. God gaan Egipte oordeel. Hoekom doen Hy dit?  Sodat hulle kan besef dat Hy die Here is. Ons herken God deur sy barmhartigheid in sy verlossing, maar ook deur sy toorn in sy oordeel te ondervind.

 

God wag vir diegene wat Hom nie ken nie. Vertrou op Hom as die Verlosser. Glo in die God wat in sy genade sondaars vrylaat, verlos, aanneem en belowe dat hulle sy erfgename sal wees. Ons moenie soos farao ons harte verhard nie. Ons moet die evangelie hoor en glo. Ons moet in Christus vertrou.