Bevry deur genade (3)

Your goals are only as big as your God. —Rick Warren

Bevry deur genade (3)

In die vorige blog het ons wettisisme gedefinieer. Ons kyk nou na hoe ons wettisisme kan vernietig. In Galasiërs 1 kry ons twee fundamentele waarhede wat wettisisme vernietig – die evangelie is gratis en die evangelie bevry. Ons het reeds gesien dat genade en die evangelie gratis is. Ons kyk vandag na ‘n ander waarheid: die evangelie bevry.

 

In Galasiërs 1:4 lees ons dat Jesus Christus  ons uit hierdie goddelose wêreld verlos het. Verlos beteken dat ons verlos is van die skuld van ons sonde, maar dit sê ook dat ons van ‘n mag verlos is – hierdie goddelose wêreld. Dit verwys na die wêreld waarin ons woon. Ons leef steeds in hierdie wêreld, maar ons hoef nie langer soos hierdie wêreld te leef nie – ons is vry.

 

Die Judaïseerders beskuldig Paulus daarvan dat hy ‘n evangelie verkondig wat tot ‘n “los lewe” lei. Omdat hulle die Ou Testamentiese wet beklemtoon het, glo hulle dat as die wet weggeneem word dit tot ‘n wettelose lewe sal lei. Maar ons word nie bevry in niks nie – ons word in Christus bevry wat ons deur sy Gees ons van binne na buite verander. Ons is vry om te lewe in Christus se krag wat in ons werk. Ons werk nou in sy krag en volgens sy reëls.

 

  • Deur sy genade is ons vry van sonde in hierdie wêreld. Ons is vry van die goddelose wêreld. Christus leef in ons; deur sy Gees bemagtig Hy ons; ons is vry om sy woord te gehoorsaam.
  • Deur sy genade is ons vry om met hierdie wêreld te deel. God gee aan ons sy genade om Hom te verheerlik. Hy sê dat God hom al voor sy geboorte vir Hom afgesonder het en hom geroep het sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig (Galasiërs 1:15 – 16). Ons kry hier ‘n private openbaring vir openbare kommunikasie. Hierdie genade maak ons vry om te vertel. Ons as mense wat God se genade ontvang het, het die voorreg om sy evangelie met ander te deel.

 

Ons moet nooit die bevrydingsmag van genade onderskat nie.

 




Beveg ontmoediging met beloftes uit die evangelie (1)

 

The gospel is so simple that small children can understand it, and it is so profound that studies by the wisest theologians will never exhaust its riches.” Charles Hodge

 

Beveg ontmoediging met beloftes uit die evangelie (1)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

Eksodus 5:1 – 7:5)

As gehoorsaamheid lei tot lyding word ons bemoedig deur ons te herinner aan die beloftes van ons soewereine God.   In hierdie gedeelte leer ons ‘n baie belangrike les: Gehoorsaamheid aan God se roeping beteken geensins dat alles nou maklik sal wees nie. Dit mag swaarkry, lyding en vervolging beteken. Daar kom oomblikke waar ons selfs vir God bevraagteken. In Moses  se geval lyk dit asof dinge eintlik erger word toe hy God gehoorsaam het. Here, waarom werk U so sleg met hierdie volk? Waarom het U my nou eintlik gestuur. Om God te gehoorsaam waarborg nie ‘n pynvrye lewe nie; dit beteken nie dat jy gewild sal wees nie; dit beteken nie dat jy nie tye van wanhoop sal ervaar nie. Jy kan probleme verwag. Die vraag is nie: Sal ek ooit ontmoedig word? nie. Die vraag is: Hoe kan ek my ontmoediging hanteer? Waar gaan ek heen vir hulp en krag?

 

Moses was die middelpunt van God se wil. Tog ondervind hy ernstige teenstand. In Eksodus 6 praat God met Moses en maak sekere beloftes aan hom Hierdie beloftes versterk hom vir die taak wat voorlê. In Eksodus 6:6 – 8 gee God aan Moses ‘n aantal Ek sal … beloftes. Hierdie geloftes gaan oor God se genade. God versterk ons deur die evangelie.

 

Beloftes gee vir ons hoop vir die toekoms. Te midde van donkerte herinner beloftes ons aan die heerlikheid van God. In hierdie gedeelte gee God drie beloftes aan Moses.

 

  • God is in beheer (6:1)

Ek is die Here!

God verseker vir Moses dat daar net een soewereine God is … en dit is nie die farao nie. Daarom sal God se plan nie verydel kan word nie. Baie glo dat God soewerein is, maar dit het nog nie in die praktyk na hulle harte deurgewerk nie. God is gedurig besig om omstandighede te gebruik om ons na sy Seun se beeld te vorm. God het sy eie manier van doen en dit op sy eie tyd. As ons ontmoedig is, moet ons dit met hierdie waarheid beveg: God is in beheer.

 

  • God kom sy verbond na (6:2 – 5).

God herinner sy mense gereeld aan sy beloftes. God noem hier twee groot motiewe vir sy verlossing: sy verbond en sy kennis van die onderdruktes. God het het sy verbond in Jesus Christus nagekom. In Christus is ons deel van ‘n ewige verbond. Daarom kan ons rus kry as ons ontmoedig is. Ons het ‘n Verlosser wat uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het; Hy sit aan die regterhand van die Vader van waar Hy vir ons intree. Hy is getrou aan sy mense; onthou sy verbond.

 

Volgende keer kyk ons na nog ‘n belofte van God aan Moses.

 

 




Bevry deur genade (2)

When we cease to worship God, we do not worship nothing. We worship anything. —G.K.Chesterton

Bevry deur genade (2)

In die vorige blog het ons wettisisme gedefinieer. Ons kyk nou na hoe ons wettisisme kan vernietig

 

Wettisisme vernietig

In Galasiërs 1 kry ons twee fundamentele waarhede wat wettisisme vernietig – die evangelie is gratis en die evangelie bevry.

 

  • Die evangelie is gratis

Genade en vrede vir julle. Dit kry ons reeds in die derde vers van die brief. Hy eindig die brief met: Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle gees wees, broers! Amen. Die woord genade kry ons gereeld in hierdie brief. Van die begin van die brief leer ons dat God se guns verniet is. Sy verlossing is verniet. Sy liefde en genade en barmhartigheid is verniet. Dit is nie as gevolg van ons prestasies nie, maar op grond van wat Jesus Christus vir ons gedoen het.

 

God die Vader het ons verlossing geïnisieer. Genade en vrede vir julle van God ons Vader … Genade is van God; die evangelie is van God. Dit is God se wil dat sy mense sy genade moet ken. Paulus beskryf sy lewe voor sy bekering in Galasiërs 1:13 – 14. Dit gaan net oor ek en my. Maar dan verander hy: Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Toe Hy in sy goedheid besluit het om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie van Hom onder die heidennasies sou verkondig, het ek nie dadelik daarna mense geraadpleeg nie (1:15). God het hom afgesonder; God het hom geroep; God het hom gered deur sy Seun aan hom te openbaar. Hoekom? Genade. God bewys genade aan ons.

 

Paulus het nie genade verdien nie – hy het nie eers daarvoor gevra nie. Genade kry ons. Dit hang nie van jou soeke na Hom af nie, maar sy soeke na jou. Hoe is dit moontlik? Hierdie evangelie is nie die werk van mense nie. Paulus het dit nie by ander mense geleer nie, maar direk van Christus. Die evangelie word deur God geopenbaar – niks mensgemaak daaraan nie.

 

God die Seun het ons verlossing bewerkstellig. Genade en vrede kom ook van die Here Jesus Christus. God en sy Seun word beide geïdentifiseer in die verlossingswerk. Die Seun is die Een wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld.

 

Hierdie is die kernwaarheid van die evangelie: verlossing gaan nie oor wat die mens kan doen nie, verlossing gaan oor wat Christus reeds gedoen het – Hy het alles wat nodig is reeds vir ons verlossing gedoen. Hy het ons sondeskuld volledig betaal. Die enigste manier waarop ons voor God aanvaarbaar kan wees, is deur Jesus Christus.

 

Die gemeentes in Galasië het nie die betekenis van Christus se dood raakgesien nie – hulle voeg ander vereistes by. Daarom sê Paulus dat hulle die evangelie verdraai en die mense verwar. Ons moet nie vergeet dat wat die Judaïseerders geleer het volgens die Bybel was nie. Hulle erken Jesus as die Messias – hulle erken selfs sy kruisdood. Hulle sê dat hulle alles wat ander Christene glo ook glo. Hulle sê nie dat hulle die evangelie ontken nie … hulle verbeter dit net. Hulle voeg vereistes en standaarde van die ou verbond by die nuwe verbond. Die werklikheid is dat as jy iets by genade byvoeg jy genade verloor. Daar is geen middeweg nie.

 

As ons peuter met die evangelie of iets byvoeg, verloor jy die hele evangelie. Die Bybel sê nie vir ons wat ons moet doen om God tevrede te stel nie; die Bybel sê vir ons dat God tevrede met ons is alleenlik oor wat Jesus Christus in sy dood en opstanding gedoen het en ons identifisering met Hom. Ons het Christus nodig. Punt.

 

Ons goeie werke is die gevolg van Christus se werk in jou – sy krag en sy teenwoordigheid in jou. Een van die besware wat ons dikwels hoor, is: Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem (Romeine 6:1). Natuurlik sal daar mense wees wat genade misbruik, wat dink dat dit ‘n lisensie is om te leef net soos hulle wil. Dit is nie waar nie. Genade is nie goedkoop nie – die koste van genade is die kruis waar Jesus sy lewe vir ons sondes gegee het. Maar genade verander ook ons lewens.

 

Maar genade maak ook vry – daarna kyk ons volgende keer.

 

 

 




EK IS, het my gestuur (2)

 

Next to praying there is nothing so important in practical religion as Bible reading. By reading that book we may learn what to believe, what to be, and what to do; how to live with comfort, and how to die in peace. Happy is that man who possesses a Bible! Happier still is he who reads it! Happiest of all is he who not only reads it, but obeys it, and makes it the rule of his faith and practice! – J.C. Ryle

 

EK IS, het my gestuur (2)

Eksodus 3 en 4

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

Moses maak nie minder as vyf verskonings nie. God reageer op elk van Moses se verskonings en vrae met stellings van sy eie soewereiniteit en mag. As jy voel dat God jou stuur om iets te doen wat bo jou vermoë is, is dit ‘n  teken om weg te kyk van jou mislukkings en swakhede. Kyk na God.

 

  • Niemand glo my nie (4:1 – 9)

Selfs nadat God vir Moses gesê het dat die leiers na hom sou luister, twyfel Moses nog steeds. Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie? Sy verantwoordelikheid was om die boodskap af te lewer en op God te vertrou. In vers 2 – 9 gee God aan Moses drie tekens van sy mag: oor die skepping, oor mense en oor die natuurelemente. Moses moes sy kierie op die grond gooi en dit sou in ‘n slang verander. As hy dit optel sou dit weer in ‘n kierie verander. Hoekom doen God dit vir Moses? Op grond hiervan sal hulle glo dat die Here die God van hulle voorvaders … aan jou verskyn het. Hier sien ons God se gesag. Hy het, mag oor die bose – inderdaad oor die Bose – die duiwel. Die simbool op die farao se kop was ‘n slang. Dwarsdeur Egipte was daar beelde van slange. Maar ons leer ook hier ‘n les van nederigheid. Moses het nie ‘n septer nie, maar net ’n kierie. Hierdie kierie dien as teken van God se teenwoordigheid.

 

Die tweede teken was dat Moses sy hand in die vou van sy klere moes insteek. Toe hy dit uittrek was dit melaats. Die Here beveel hom om weer sy hand in die vou van sy klere te steek en sy hand was gesond. Hierdie is ‘n teken van God se mag oor siekte en die dood van mense.

 

Die derde teken was dat Moses water uit die Nyl moet vat en dit op die grond moes uitgooi. Dit sou verander in bloed. Dit is ’n verwysing na die plae wat Egipte sou tref.

 

Watter teken het ons? Die leë graf. Dit is ‘n teken dat die Christelike geloof waar is. Ons God is nie dood nie – Hy leef.

 

  • Gebrek aan kommunikasie vaardighede (4:10 – 12)

Ag, Here, ek kan nie goed praat nie. Ons weet nie wat Moses se spraakgebrek was nie. Was dit dalk sielkundig? Ons vrees moet ons nie verlam nie, maar moet ons laat besef dat ons God se hulp nodig het. Ons vertroue moet nie in onsself wees nie. Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God (2 Korintiërs 3:5).

 

Wat duidelik is, is dat Moses nie gedink het dat hy ’n groot spreker was nie. Hy voel dat hy nie bekwaam was om hierdie taak te verrig nie. Die Korintiërs het ook nie gedink dat Paulus ‘n watwonderse spreker was nie. Tog was hy die doeltreffendste prediker-sendeling van alle tye. Paulus sê vir die Korintiërs dat hy in swakheid na hulle gekom het, maar dat hy op God se krag staatgemaak het (1 Korintiërs 2:1 – 5). Moses moes ook hierdie les leer.

 

In reaksie sê God vir Moses twee dinge:

  • Dit is oneerbiedig. Wie het aan die mens ‘n mond gegee? God sê vir Moses dat Hy hom vir ‘n doel gemaak het. Hy weet van ons swakhede. Dit is juis as gevolg van ons swakhede wat Hy ons wil gebruik.
  • Dit is ontoepaslik. Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê. God soek verslaggewers nie redenaars nie. Ons hoef nie wonderlike toesprake te maak nie – ons moet net die goeie nuus oordra. Moses dink te veel aan homself; God sê vir hom dat dit nie oor hom gaan nie maar ook God. Ons moet God se woord bekend maak. Ons doel is om God te verheerlik met ons sterkpunte en swakhede. Moses moes sy stem gebruik en God se woord soos ‘n getroue profeet verkondig.

 

  • Gebrek aan toewyding (3:13 – 17)

Moses pleit nou by God: Here, stuur liewer iemand anders. Hy het nou nie meer verskonings nie. God het elkeen van sy verskonings geantwoord. Hoe reageer God hierop? Hy word kwaad. Hy is egter ook genadig, want Hy stuur vir Moses hulp: Aäron. Uiteindelik doen Moses tog die meeste van die praatwerk. Dan herinner God vir Moses van die tekens wat Hy sou doen om Moses se boodskap te bevestig.