Verlossing en sending (3)

 

Grace is not simply leniency when we have sinned. Grace is the enabling gift of God not to sin. Grace is power, not just pardon. —John Piper

 

Verlossing en sending (3)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

(Eksodus 1 en 2)

God is vasberade om Israel uit die onderdrukking te red. Maar verlossing vereis sending. Ons sending word van God se sending afgelei. In hierdie gedeelte sien ons dat God sy mense van slawerny – polities, sosiaal, ekonomies, geestelik – verlos het. Ons moet hierdie selfde bekommernis met God deel. Ons moet ook op die dringende fisiese en geestelike nood van die mense om ons reageer.

 

  • Gee om vir fisiese behoeftes

Hier kry ons nie net evangelisasie sonder enige sosiale optrede nie. Ons moenie die geestelike nood so beklemtoon dat ons die fisiese nood ignoreer nie. Onthou hierdie was werklike mense verslaaf deur ‘n werklike tiran. Hulle kon nie aanbid as hulle sewe dae ‘n week moes werk nie. Verkondiging is die belangrikste taak van die kerk, maar ons kan nie dade van barmhartigheid en geregtigheid ignoreer nie. Soms kan mense nie ons boodskap hoor voordat hulle van fisiese ongeregtighede vrygestel word nie. Geregtigheid is liefde in die openbaar. As ons mense werklik liefhet sal ons hulle van die evangelie vertel terwyl ons na hulle fisiese behoeftes omsien. Hier is ‘n hele aantal sake van belang:

  • Die Nuwe Testament verplaas nie die fisiese aspekte van die eksodus met geestelike aspekte daarvan nie. Ook in die Nuwe Testament gaan dit oor woord en daad.
  • God het nie verander nie. God is steeds bekommerd oor ware ongeregtigheid. Jesus het die Fariseërs gekritiseer, want hulle het belangrike sake soos barmhartigheid en geregtigheid geïgnoreer (Matteus 23:23). Ons sien God se liefde en geregtigheid aan die kruis. God is regverdig en sy mense moet Hom navolg.
  • Dit is verkeerd om te dink dat wat God vir Israel gedoen het, nie is wat Hy vir ander mense ook sal doen nie. Onthou God het Israel gekies sodat hulle ‘n seën vir ander kan wees. Hy kies hulle en tree op vir hulle sodat ander mense kan weet hoe Hy is. God is altyd teen onderdrukkers. Israel is ‘n model om vir ons daaraan te herinner dat God in hierdie wêreld werk. Israel is ‘n voorbeeld van God se barmhartigheid en geregtigheid vir almal om te sien.
  • Ons moenie die oproep vir sosiale optrede ignoreer nie – die vroedvroue word vir hulle optrede geëer. Hulle tree op as voorbeelde vir ons – ons moet ook die swakkes en kwesbares beskerm.

 

  • Gee om vir geestelike behoeftes

Hierdie gedeelte gaan nie oor sosiale optrede sonder evangelisasie nie. God wou Israel bevry dat hulle Hom kan dien en aanbid. Ons het ‘n geïntegreerde Bybelse model nodig. Dit neem in aanmerking dieselfde breë kommer wat God vir sy mense het. Ons moet evangeliseer om mense van hulle slawebande aan sonde te bevry. Maar ons moet ook vir die onderdruktes veg deur te veg vir geregtigheid.

 

 




Verlossing en sending (2)

 

You can plan for a hundred years, but you don’t know what will happen the next moment – Neem Karoli Baba

 

Verlossing en sending (2)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

(Eksodus 1 en 2)

God is vasberade om Israel uit die onderdrukking te red. Maar wat was God se motief om Israel te verlos?

 

In Eksodus 2:23 – 25 lees ons van God se motief vir die verlossing van Israel. Hierdie gedeelte begin met: Die koning van Egipte het te sterwe gekom. Nou kon Moses na Egipte terugkeer. Ten spyte van ‘n nuwe farao verander die omstandighede van die Israeliete nie: Die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. Hier lees ons hoekom God opgetree het:

  • God weet alles van die onderdruktes. Die Israeliete se geroep gaan op tot God. God hoor dit; Hy het die nood van die Israeliete gesien.  Ons kry God se vermoë om te sien en te hoor dwarsdeur die Skrif. God is bekend met hulle swaarkry. Omdat Hy weet, tree Hy op.
  • God onthou sy verbond met Abraham, Isak en Jakob. Hy dink aan sy onbreekbare belofte aan hulle. Later, op die regte tyd, dink God weer aan sy verbond om al die nasies deur Israel te seën en stuur vir Jesus. As ons aan God deur Jesus Christus behoort, is ons deel van sy ewige verbond.

 

God se motief om mense te verlos, het nog nie verander nie. God weet alles van almal wat swaarkry en onderdruk word. Maar God onthou ook dat gelowiges deel is van sy nuwe verbond.

 




Leer die kinders

Morality may keep you out of jail, but it takes the blood of Jesus Christ to keep you out of hell. —C.H. Spurgeon

Leer die kinders

In Eksodus 12 lees ons die voorskrifte in verband met die paasfees. In Eksodus 13 lees ons dat elke eersgeborene – mens en dier – aan die Here gewy moet word. Moses herinner die volk aan alles wat die Here vir hulle gedoen het. Maar hy herinner hulle ook aan die land wat God aan hulle voorvaders belowe het. Hy noem dan ‘n aantal verpligtinge wat hulle in hierdie land moet nakom. Een daarvan is die volgende:

Op die feesdag moet elkeen vir sy kinders vertel: ‘Dit is wat die Here vir my gedoen het toe ek uit Egipte getrek het.’  (Eksodus 13:8)

Dit is iets wat ook ons as ouers moet doen. Kinders vra baie vrae veral “hoekom?” Sommige vrae is lastig; sommige vrae is ernstig. As hulle vir ons oor die nagmaal of verlossing vra, is ons gereed om te antwoord? Dit is ‘n baie goeie geleentheid om met jou kinders oor die evangelie te praat. Ons was slawe en God het ons verlos. Vertel hulle van die toekoms – die bruilof van die Lam (Openbaring 19). Ons is na die bruilofsmaal uitgenooi en gaan saam met ons Koning aan die tafel sit. Vertel vir hulle dat dit deur die sterk hand van God is dat ons vrygemaak is. As ouers het ons die verantwoordelikheid om met ons kinders te praat – en hulle oë op Jesus Christus te rig.

 

 




Verlossing en sending (1)

 

 “A soul without a body is a ghost; a body without a soul is a corpse. The Gospel is addressed to living persons, soul and body, in all of their broken humanity and need for wholeness.” E. Stanley Jones

 

Verlossing en sending (1)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

(Eksodus 1 en 2)

 

In Genesis 12:2 – 3 sluit God ‘n verbond met Abraham. Hy belowe om hom die vader van ‘n groot nasie te maak en deur hierdie nasie sal al die nasies van die wêreld geseën word. Maar nou is Israel slawe in Egipte. Dit is nodig dat Israel eers verlos moet word. Verlossing is ‘n baie belangrike tema is die Skrif. As Verlosser kom God tot Israel se redding – Hy beskerm hulle en herstel hulle.

 

In Eksodus 1:8 – 22 sien ons vier redes waarom Israel verlossing nodig gehad het.

  • Politieke slawerny (Eksodus 1:8 – 10)

In Egipte was die Israeliete immigrante/vreemdelinge. Tydens Josef se leeftyd was dinge nie te sleg nie. Maar: Toe ‘n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, het hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons?” Nou leef die Israeliete in vrees. Die koning sê vir sy mense dat hulle ‘n plan moet bedink sodat die Israeliete nie verder kan vermeerder nie. As gevolg van diskriminasie het God se mense geen politieke vryheid gehad nie – hulle is as ‘n bedreiging vir die Egiptenare gesien. Dit lei tot sterk optrede van Egipte se kant.

 

  • Ekonomiese slawerny (Eksodus 1:11 – 14)

Slawedrywers word aangestel en die Israeliete moes dwangarbeid doen – die Israeliete word onderdruk – die lewe word bitter swaar gemaak vir die Israeliete en hulle moes swaar met klei en bakstene werk. Hulle is gebruik vir bouwerk in Pitom en Rameses. Herinner dit nie vir ons aan vandag se situasie nie. Mense met mag buit steeds die swakkes vir hulle eie gewin uit. Menslike verkeer is vandag die tweede grootste georganiseerde misdaad in die wêreld. Hoekom? Seksuele afvalligheid en gierigheid. Maar ons glo God is ‘n God van geregtigheid en staan by die onderdruktes. Moet ons as sy kinders nie sy voorbeeld volg nie?

 

  • Sosiale slawerny (Eksodus 1:15 – 22)

Die Egiptenare tree toenemend brutaler op teen die Israeliete. Dit begin met die koning se besluit dat die Hebreeuse vroedvroue – Sifra en Pua – elke Hebreeuse seuntjie wat hulle verlos, moes doodmaak. Die vroedvroue voer nie die koning se bevel uit nie: Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: hulle het die seuntjies laat lewe. Die koning wil weet waarom hulle dit gedoen het. Hulle antwoord: Die Hebreeuse vrouens … hulle is sterk van gestel: voordat die vroedvrou by hulle kom, is die kind al gebore. Hulle gehoorsaam God eerder as ‘n mens. Dan lees ons God se reaksie teenoor hierdie vroedvroue: God het toe die vroedvroue self ook voorspoedig gemaak. Omdat hulle Hom gedien het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee. Ons ken nie die koning se naam nie, maar die twee vroedvroue se name word genoem.

 

Nou is die farao briesend: Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi. Hy kies die Nyl, want almal het naby die Nyl gewoon. Die sterk stroom sou die kinderlykies vinnig wegvoer. Die Nyl was ook as ‘n god beskou – die Nyl gee en neem lewens. Dit lyk dus asof hulle die wil van die god doen. Hiermee wou die koning keer dat die Israeliete nie so vinnig sou vermeerder nie. God sou hulle uiteindelik verlos as Hy Egipte oordeel – die dood van al hulle eersgebore seuns (Eksodus 4:23). Die paasfees sou God se mense herinner aan God se verlossing.

 

Hier het ons ‘n Bybelse patroon: God neem ‘n plek van dood en verander dit in ‘n plek van lewe. Dink maar aan Noag en die sonvloed; Jona en die vis; God se mense en die Rooisee. Net so word Jesus se graf ‘n plek van lewe.

 

  • Geestelike slawerny (Eksodus 1:8 – 2:25, 9:1)

Die farao was die vyand van God; God moet Israel verlos sodat hulle Hom kan dien (Eksodus 9:1). Hier het ons dus ook ‘n geestelike stryd. God se doel was nie net om sy mense uit Egipte te bevry nie; Hy wou Egipte uit sy mense kry. Selfs nadat hulle Egipte verlaat het, het die Israeliete terug verlang na die land. In 4:23 lees ons: Laat my seun gaan sodat hy My kan aanbid. God wil hê dat Israel Hom moet ken en aanbid.

 

God bevry Israel van al die dimensies van slawerny. Hy bevry hulle nie om sommer enige god te aanbid nie; Hy bevry hulle nie net geestelik nie, maar ook uit hulle aaklige situasie. God is steeds oor fisiese vryheid en geestelike vryheid bekommerd. Is ons oor die vryheid van mense bekommerd?