Geloof tree op

We never move from the Gospel; we move on in the Gospel – J. I. Packer en Gary A Parrett

 Geloof tree op

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

 

Geloof in ons harte is duidelik in die vrugte van ons lewens. In hierdie gedeelte (Jakobus 2:14 – 19) praat Jakobus met ‘n denkbeeldige persoon wat sê dat hy geloof het, maar hy het geen werke nie. In hierdie gedeelte is daar drie belangrike waarhede.

 

Kom ons kyk na die drie waarhede in hierdie gedeelte.

 

  1. Geloof in ons harte is sigbaar in die vrugte van ons lewens

Wat is die voordeel, my broers, as iemand sou sê dat hy geloof besit, maar hy sou nie die werke hê nie? (2:14) Jakobus sê dat ons aanspraak kan maak dat ons die geloof het, maar in werklikheid het ons dit nie – ons het geloof, maar ons word nie gered nie. Hoe weet ons dat iemand geloof het wat kan red? Jakobus sê: kyk vir die vrugte. Dade is die vrugte van geloof. As daar nie vrugte is nie, is daar nie geloof nie. Jesus sê presies dieselfde: Aan hulle vrugte sal julle hulle herken … So dra elke goeie boom goeie vrugte, maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte … Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle aan hulle vrugte herken (Matteus 7:16 – 20). As ons na ‘n vrugteboom kyk, is dit wat ons buite sien (appels, pere, ens) ‘n bewys van wat binne is. Vrugte in ons lewens is ‘n bewys van geloof in ons harte. Geen vrugte = geen geloof nie.

2. Mense wat nie arm medegelowiges help nie se geloof is dood

Jakobus verwys na  die broer of suster wat kaal is en nie kos het om te eet nie. Hulle het nie eers iets warm om hulle teen die koue te beskerm nie. Hierdie is ‘n desperate behoefte. En dan sê ons vir so ‘n persoon: Gaan in vrede, word warm en word versadig – so asof hy/sy die vermoë het om dit te doen. Daarom Jakobus se vraag: Wat is die voordeel dan?  Hierdie geloof is dood. Dit help nie die persoon in nood nie; dit help nie jou eie siel nie. Maar wie ook al die goedere van die wêreld het en sy broer sien gebrek ly en sy binneste vir hom toemaak. Hoe bly die liefde van God in hom? (1 Johannes 3:17). Die implikasie is dat die liefde van God nie in hom kan bly nie.

 

Dit is baie belangrik om twee aspekte te onthou:

  • Goeie werke is nie ‘n manier om verlos te word nie. Ons word nie verlos deur wat ons doen nie. Geloof is iets wat God gee – nie iets wat ons maak nie. Ons word deur die oorvloedige genade en die inisiatief van God verlos. Ons help nie die armes sodat ons verlos kan word nie. Goeie werke is die bewys van verlossing. Dade is die vrugte geproduseer deur geloof. Barmhartigheid teenoor ander is nie ‘n keuse nie. Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy glorieryke troon gaan sit. Al die nasies sal voor Hom versamel word en Hy sal hulle van mekaar skei, net soos ‘n herder die skape en die bokke skei, en Hy sal die skape aan sy regterhand laat staan en die bokke aan sy linkerkant. Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: “Kom julle wat deur my Vader geseën is, neem die koninkryk in besit wat vir julle gereedgemaak is van die skepping van die wêreld af (Matteus 25:31 – 34). Let op die genade in hierdie gedeelte: God die Vader het hulle geseën en gee aan hulle sy koninkryk. Let op hoe die genade van God dit wat hulle doen, verander (vers 35 – 36). Ons moet onthou dat dit Jesus is wat hier praat: Want Ek was honger en julle het My iets te ete gegee, Ek was dors en julle het My iets te drinke gege, Ek was ‘n vreemdeling en julle het My as gas ontvang, Ek was naak en julle het My geklee, Ek was siek en julle het My versorg, Ek was in die tronk en julle het na My toe gekom. Die regverdiges sal antwoord dat hulle dit nooit gedoen het nie. Die Koning sal antwoord en vir hulle sê: “Amen, Ek sê vir julle: in soverre julle dit vir een van hierdie onbelangrikste broers van My gedoen het, het julle dit vir My gedoen.´ Die Christen se eksterne dade van barmhartigheid is bewys van die interne genade van God in sy hart. Matteus 25 skilder natuurlik ook die ander kant van die prentjie – diegene wat nie gehelp het nie. En dan die uitspraak: En dan sal Hy vir dié aan sy linkerkant sê: “Gaan weg van My af, julle vervloektes, in die ewige vuur in wat gereedgemaak is vir die duiwel en sy engele.” Hierdie mense se harte is nie deur God se genade verander nie. Ek help nie armes omdat ek skuldig voel nie – die evangelie motiveer my om die armes te help; ons word deur die genade van God daartoe gedryf, want Hy het ons harte verander.

3. Dooie geloof is nuttelose geloof

Hierdie is die derde waarheid in hierdie gedeelte. Dit is in ‘n mate ‘n herhaling van alles wat ons tot dusver gesê het. Jakobus gaan voort met die dialoog met ‘n onbekende. Sê nou iemand skei geloof en dade. Mense is tog verskillend – sommige gee om vir armes, ander nie. Jakobus sê dit kan nie gedoen word nie. Maar wil jy weet, o dwase mens, dat die geloof sonder die werke nutteloos is (Jakobus 2:20). Geloof sonder werke is nutteloos vir jou broer wat nie kos en klere het nie; geloof sonder werke is nutteloos vir jou, want dit kan jou nie red nie.

 

 




Die opstanding is die waarheid

 

To forgive is to set a prisoner free and discover that the prisoner was you – Smedes

 

Die opstanding is die waarheid

As Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, is daar geen goeie nuus nie – die sonde en dood sou steeds geheers het en ons sou ‘n dooie God aanbid het. As die opstanding wel waar is, moet elke Christen hierdie goeie nuus verkondig.

 

In 1 Korintiërs 15:12 – 20 sê Paulus dat vir die Christen alles van die werklikheid van die opstanding afhang. Wat beteken dit vir ons evangelisasie?

  1. Omdat die opstanding waar is, dra die verkondiging van die evangelie vrugte en lei dit tot geloof wat op sy beurt na lewe lei

As gevolg van die opstanding word mense  lewend. Dit is die wonder van die verkondiging van die evangelie. Nie alleen dra dit vrugte nie, maar lei tot geloof wat op sy beurt tot die ewige lewe lei. Evangelisasie in nie tevergeefs, leeg of vrugteloos nie. Hoekom? Want Jesus het uit die dood opgestaan en sit aan die regterhand van God. Hy roep mense deur ons mondelinge getuienis.

 

  1. Omdat die opstandig waar is, kan ons met reg vir God verteenwoordig

As Christus nie uit die dood opgestaan het nie, is Christene vals getuies. Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie (15:15). Daarom kan ons met reg vir God verteenwoordig in ‘n verlore wêreld. Daarom kan ons met liefde en oortuiging praat.

 

  1. Omdat die opstanding waar is, is ons sondes vergewe

En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes (15:17). As gevolg van die opstanding is ons sondes vergewe. Niks kan dit wat Christus aan die kruis gedoen het, ongedaan maak nie. Jy kan hierdie nuus met almal wat gewillig is om te luister deel. Jou sondes is betaal.

 

  1. Omdat die opstanding waar is, sal almal wat in Christus sterwe vir ewig lewe.

Daar is geen hoop vir enigeen as Christus nie opgestaan het nie: Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore (15:18). As gevolg van die opstanding sal almal wat in Christus gesterf het vir ewig lewe. Dood, waar in jou oorwinning? Dood, waar is jou angel? (1 Korintiërs 15:55). Ons verkondig die ewige hoop: Vertrou in Christus en wees vir ewig by Hom.

 

  1. Omdat die opstanding waar is, leef ons benydenswaardige lewens

As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense (15:19). Om Jesus Christus in sy dood en opstanding te ken oortref alle ander dinge in die heelal. Jy het ‘n antwoord wat sin maak van al die lewensvrae. In die korttermyn mag my lewe selfs moeiliker word, maar Christus gee vir ons ‘n lewende hoop, ‘n erfenis is die toekoms en ‘n onuitspreeklike vreugde.

Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (1 Korintiërs 15:58).

 




Jesus die Koning

 

Whether we like it or not, God intends to give us what we need, not what we now think we want. —C.S. Lewis

 

Jesus die Koning

Die evangelie is nie goeie advies nie; dit is ‘n oproep om ‘n Koning te volg (Tim Keller).

Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15).

Dit is die eerste woorde uit Jesus se mond in die Evangelie volgens Markus. Hiermee definieer hy die boodskap en optrede wat in die res van die boek gaan ontvou. Jesus verskyn op die toneel met ‘n nuusbulletin oor ‘n nuwe werklikheid. Dit is hoekom Jesus sy boodskap evangelie – letterlik goeie nuus – noem. Hierdie is nuus wat lewens verander. Wat Jesus verklaar, vereis ons volle aandag.

 

Elke ding wat Jesus doen in Markus se verhaal vertel vir sy lesers dat die koninkryk van God naby is. Jesus se genesings, sy uitdrywing van bose geeste, sy barmhartigheid, sy wondertekens, sy gesag oor die natuur, sy offer, sy oorwinning oor die dood vertel die storie van sy koninkryk.

 

Dink aan die verskil tussen nuus en advies. Advies is raad oor hoe om jou lewe te verbeter. Nuus, daarenteen,  vertel vir jou wat gebeur het en die betekenis daarvan noudat jy dit gehoor het. Of jy ‘n nuusberig wil glo of nie, is jou keuse. As dit egter waar is en jy ignoreer dit, kan dit praktiese gevolge vir jou inhou.

 

Hoe groter en hoe meer relevant die nuus vir jou is, hoe meer daag dit ons uit. Omdat hierdie nuus oor God as die Koning van die wêreld en sy visie vir ons lewens gaan, beteken dit dat as ons dit glo ons moet bely – ons moet ons rug draai op sekere van die aannames waarop ons ons lewens gebou het. As hierdie nuus dat die koninkryk van God naby is en dat Jesus die Koning is, waar is, verander dit alles vir ons.

 

Kort daarna lees ons van Jesus wat sy eerste dissipels roep. Hy roep vir Simon en Andeas om Hom te volg. Let op hulle reaksie: Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg (Markus 1:18). Hulle los hulle familie en besigheid en volg vir Jesus. Vit hulle was dit ‘n totale ontwrigting. Ons volg ons Koning, want dit vervul waarvoor ek in die lewe gesoek het. Om Hom te volg gee vir my betekenis en vreugde.

 

 




Ware en aanvaarbare godsdiens (1)

 

False pride can never be sustained – Keith Ablow, psigiater

 

Ware en aanvaarbare godsdiens (1)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

 

Ware godsdiens moet insluit beheer van die tong, opofferende sorg vir die behoeftiges en ‘n duidelike skeiding van die wêreld. Hierdie dinge is ‘n manifestasie van geloof uitgedruk in liefde.

The Human race in the course of time has taken the liberty of softening and softening Christianity until we have contrived to make it exactly the opposite of what it is in the New Testament – Soren Kierkegaard.

Ons probeer die Christelike geloof in ons eie terme definieer in plaas van die terme wat God in die Nuwe Testament bepaal het. Ons glo dat die kerk en godsdiens by ons voorkeure en leefstyl moet inpas. Maar as ons van ware godsdiens praat wat vir God aanvaarbaar is, moet Hy definieer hoe dit moet lyk – en dit kan van ons definisie verskil.

A religion that gives nothing, costs nothing, and suffers nothing, is worth nothing – Martin Luther

 

Die tekens van ‘n ware en aanvaarbare godsdiens.

In baie kringe word die woord godsdiens vandag nie juis in ‘n positiewe lig gesien nie. In Jakobus 1:26 – 2:13 vertel Jakobus vir ons dat ware godsdiens deur ‘n leefstyl van gehoorsaamheid aan God gekenmerk word. In 1:26 – 27 gee Jakobus vir ons drie tekens van ‘n ware en aanvaarbare godsdiens.

 

  1. Beheerde spraak – ‘n teken van ‘n hart wat verander het

As iemand dink dat hy godsdienstig is terwyl hy nie sy tong in toom hou nie, maar sy hart hom mislei, is die godsdiens van hierdie mens nutteloos (Jakobus 1:26)

Jesus sê: Want die mond praat wat die hart van vol is (Matteus 12:34). Wat ons sê, is ‘n weerspieëling van wat binne in ons is. As ons nie beheer wat ons sê nie, sê Jesus, is ons godsdiens nutteloos. Wat jy sê, is ‘n indikator of jou geloof eg of vals is. As jy skinder, as jou woorde skerp is, as jy vloek – wees versigtig, want jy wys daarmee dat jou godsdiens nutteloos is.

 

Ons leef in ‘n tyd van e-posse, Facebook, Twitter, blogs, ens en daarom moet ons baie versitig wees. Ons glo dat as ‘n gedagte by ons opkom ons dit onmiddellik met die hele wêreld moet deel. Oppas. Beheer jou tong. Praat op so ‘n wyse dat dit wys jou geloof is eg en dat jou hart aan God behoort.

 

  1. Opofferende versorging van mense in nood

Rein en onbesmette godsdiens by die God en Vader is dit: om om te sien na wese en weduwees in hulle beproewing, om jouself onbevlek te hou van die wêreld (Jakobus 1:27).

Die tweede teken van ‘n aanvaarbare godsdiens is opofferende liefde vir mense in nood. Om om te sien, beteken dat ons na hulle toe gaan met die doel om hulle te versorg. Weduwees en wese het destyds swaar gekry – die regering het nie vir hulle gesorg nie. Jakobus sê dat ware godsdiens beteken dat ons die behoeftigste mense in ons samelewing versorg. Hy noem dit nie as ‘n moontlikheid nie – dit is ‘n verpligting. Doen jy dit nie, is jou godsdiens nie vir God aanvaarbaar nie.

 

God is die verdediger, onderhouer, krag en voorsiener van hierdie mense en Hy doen dit deur die harte en lewens van sy mense. Onthou dit gaan hier oor ‘n godsdiens wat die God en Vader aanvaar. Hy is die Vader van die vaderloses en Hy doen dit deur sy mense.

 

Volgende keer kyk ons na die derde teken van ware en aanvaarbare godsdiens: die duidelike skeiding van die paaie van die wêreld.