Hoekom verwyder God nie onmiddellik ons sondige begeertes nie?

 

They think repentance or mourning of sin is but one act. … It is a dangerous mistake, for we need to know that a true sorrow for sin, true repentance , is a continual act that must abide all our lives.” – Jeremiah Burroughs:

 

Hoekom verwyder God nie onmiddellik ons sondige begeertes nie?

Baie Christene ondervind dat hulle weer en weer voor dieselfde sonde te staan kom. Hoekom verwyder God dit nie sommer nie?

 

In Rigters 3:1 – 2 lees ons ‘n insig wat min Christene raaklees:

Die Here het die nasies met rus gelaat om die Israeliete met hulle op die proef te stel, die Israeliete wat nie ondervinding gehad het van al die oorloë teen die Kanaäniete nie. Die Here wou hierdie Israeliete leer om oorlog te maak, hulle wat dit nie voorheen ondervind het nie.

Israel se stryd was tasbaar en ooglopend: vyandige nasies en hulle leërs. Hoekom het God hulle nie verdryf nie? In Rigters lees ons gereeld dat die vyandige nasies daar was, want hulle het nie geglo dat God hulle sal verdryf nie. Maar in hierdie verse lees ons dat God die nasies met rus gelaat het om die Israeliete op die proef te stel sodat hulle kan leer om oorlog te maak.

 

God hou aan om Israel te toets om te sien of hulle Hom sal glo en om op Hom te vertrou in hulle geveg. Hy doen dieselfde met ons, alhoewel ons geveg nie teen vlees en bloed is nie, maar teen geestelike magte. Hoekom verwyder God nie ons probleme as ons Christene word nie? Want Hy wil hê ons moet op sy genade en nie op ons eie vermoëns vertrou nie – om ons nederig te hou.

 

God los die Kanaäniete sodat Israel kan leer om te veg. As jy swaarkry onthou wat God besig is om deur jou omstandighede te doen. Kyk na Christus wie se opstanding die oorwinning waarborg. Kyk na Christus, die enigste Verlosse wat vir jou krag kan gee om staande te bly – wat jou elke keer as jy val optel. Kyk na Christus en veg.

 




Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (3)

 

I never made one of my discoveries through the process of rational thinking.” – Einstein

 

Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (3)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

Die Reis van Gehoorsaamheid – dit is waaroor hierdie gedeelte gaan. Die woord van God kry ons oral in hierdie gedeelte – verse 21, 22, 23 en 25. Die vraag in hierdie gedeelte is: Hoe reageer ons op die waarheid – God se woord? Volgens hierdie gedeelte is daar drie maniere. Ons kyk vandag na die derde manier.

 

  1. Ons gehoorsaam die woord heelhartig (Jakobus 1:22)

Ons het gesien ons moet God se woord nederig ontvang en sy woord voortdurend onthou. Ons moet egter ook sy woord gehoorsaam. Wees doeners van die woord en nie slegs hoorders terwyl julle julleself so bedrieg nie. Ons het nie werklik na die woord geluister as ons dit nie doen nie. Die woord lei tot optrede. As dit nie gebeur nie, het ons nie werklik die woord aanvaar nie. Diegene wat Jesus aanvaar het, gehoorsaam Hom. Gebeur dit nie mislei ons onsself.

 

Hierdie woorde van Jakobus klink baie na dié van Jesus in sy bergrede: Nie elkeen wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar die een wat die wil van my Vader in die hemel doen … En dan sal Ek aan hulle verklaar: Ek het julle nooit geken nie; ‘gaan weg van My af, julle wat wettelose dade doen. Elkeen wat hierdie woorde van My hoor en dit doen, sal soos ‘n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het (Matteus 7:21 – 25). As jou hele geestelike lewe gebou is op net luister na God se woord en Hom nie gehoorsaam nie, sal jou lewe eindig in vernietiging.

 

Baie mense reageer op God se woord, maar net as dit by hulle leefstyl inpas. Sodra sy woord konfronteer of uitdaag of probeer om hulle te verander, vergeet hulle dit. Moenie gewillig wees om die armes te help nie – help hulle; moenie gewillig wees om die evangelie met ander te deel nie – deel dit. Wees doeners van die woord en nie slegs hoorders nie. Doeners sal gelukkig wees in sy optrede (vers 25).

 

Jakobus sê in hierdie gedeelte dat ons seën kan verwag as ons God se woord gehoorsaam. Onmiddellik vra ons: Maar hoe gehoorsaam ons God se woord? Ontvang die woord van God in nederigheid – die woord wat in jou ingeplant is. Fokus op sy woord; onthou dit; bêre dit in jou hart en denke. Daardie woord sal in en deur jou werk en jou beweeg om God se opdragte uit te voer.

 

Moenie tevrede wees om net na God se woord te luister nie. Gehoorsaam sy woord. Baie mense weet wat God se woord sê, maar hulle doen dit nie. Die woord sê: “Sorg vir die armes;” “Moenie skinder of pornografie kyk nie;” ens, maar ons ignoreer dit – dit pas nie in by ons leefstyl nie. Ons moet God se woord gehoorsaam, ongeag van die omstandighede.

 




Woorde is belangrik

Unreached peoples are unreached for a reason. They’re hard, difficult, and dangerous to reach. All the easy ones are taken. —David Platt

 

Woorde is belangrik

Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees em julle ‘nee’. ‘nee (Matteus 5:37)

In die vroeë kerk het baie mense hulle lewens verloor, want hulle het geweier om twee woorde te sê: “Kaiser Kurios” – Die Keiser is die Here. Hoekom het hulle geweier? Want hulle het geweet dat woorde belangrik is.

 

Rachel Scott, 17 jaar oud, was ‘n leerling van die Columbine Hoërskool. Sy was ‘n uitgesprohe Christen en baie betrokke by haar jeuggroep. Op 20 April 1999 het gewapende studente op die kampus begin skiet. Hulle skiet vir Rachel twee keer in die bene en een keer in die lyf. Oomblikke later keer hulle terug en vra vir haar: “Glo jy in God?” Sy besef dat die woorde wat sy nou sou kies ernstige gevolge vir haar sou inhou.

 

Sou sy ja sê, gaan hulle haar doodmaak – dalk selfs as sy nee sou sê. Sonder huiwering antwoord sy: “Julle weet mos ek glo!”  “Gaan wees dan met Hom,” sê een van die seuns en skiet haar in die kop. Sy is een van dertien studente wat daardie dag gesterf het

 

Wat sou ons onder daardie omstandighede gesê het? Rachel het besef dat woorde belangrik is.

 

 




Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (2)

 

“Imagination is more important than Knowledge. Knowledge is limited. Imagination encircles the world. Imagination is everything.” – Einstein

 

Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (2)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

 

Die Reis van Gehoorsaamheid – dit is waaroor hierdie gedeelte gaan. Die woord van God kry ons oral in hierdie gedeelte – verse 21, 22, 23 en 25. Die vraag in hierdie gedeelte is: Hoe reageer ons op die waarheid – God se woord? Volgens hierdie gedeelte is daar drie maniere. Ons kom nou by die tweede manier.

 

  1. Ons onthou God se woord voortdurend (Jakobus 1:22 – 25)

In vers 25 praat Jakobus van die man wat gekyk het in die volmaakte wet van die vryheid. Tydens ons besige lewens moet ons iewers stop vir ‘n tyd lank en kyk na die woord – ons moet dit lees en bestudeer. Ons moet die woord absorbeer.

 

Die man wat dit doen sal nie vergeet wat hy hoor nie. In vers 23 – 24 stel Jakobus so ‘n man teenoor ‘n ander man wat nie die woord onthou nie. Hy gebruik die beeld van ‘n man wat kyk na sy natuurlike voorkoms in ‘n spieël. Hy kyk na homself en hy het weggegaan en dadelik vergeet hoe hy gelyk het. Jakobus sê dat ons nie dit – onmiddellik vergeet – met die woord mag doen nie.

 

Moenie God se woord vergeet nie; laat dit in jou hart en denke woon. Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig. Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ‘n heuningkoek (Psalm 19:10 – 11).

 

Die vraag is: Heg ons waarde aan die Skrif? As ons nie luister na God se woord nie is ons soos die dwaas in vers 23 – 24 – ons luister en binne ‘n uur het ons alles vergeet. Dit is nie die moeite werd nie. Dit is gevaarlik.

 

Volgende keer kyk ons na ‘n volgende aspek: Ons gehoorsaam die woord heelhartig.