Moet ek my gebedsversoeke neerskryf?

 

The more a true saint loves God, the more he mourns for sin.” – Jonathan Edwards:

 

Moet ek my gebedsversoeke neerskryf?

Geslag na geslag prys wat U doen en vertel van u magtige dade (Psalm 145:4)

Is dit belangrik om jou gebedsversoeke neer te skryf? Hoekom?

  1. Dit herinner ons aan God se antwoorde op ons gebede

Ons vergeet dikwels daardie dinge wat nie meer so op die voorgrond is nie – wat ‘n maand gelede baie belangrik was. Doen ons dit kom ons agter dat God gedurig aan die werk is tot ons voordeel en sy heerlikheid.

  1. Dit herinner ons om nie op te hou bid vir iets nie

Gewoonlik bid ons ‘n paar keer en as niks gebeur nie, beweeg ons verder na iets anders. Deur hierdie versoeke neer te skryf en daarna terug te kom, besef ons daar in sekere dinge wat ons nog voor moet bid.

  1. Dit beklemtoon sekere mense wat hulp nodig het

As ons vir iemand bid, gee ons hart aandag aan hulle lewens. As iemand reeds lank op ons gebedslys is, is dit tyd om hom te besoek.

  1. Dit help vir my om vir mense dwarsdeur die week te bid

As ek ‘n lysie het, herinner dit my om vir hulle te bid – miskien selfs ‘n opvolgbesoek te doen.

 

Daar is besliste voordele om gebedsversoeke neer te skryf.




Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (1)

 

There are only two ways to live your life. One is as though nothing is a miracle. The other is as though everything is a miracle.” – Einstein

 

Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (1)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

Volgelinge van Jesus Christus moet sy woord nederig ontvang, dit voortdurend onthou en heelhartig gehoorsaam. Sommige dinge in die Skrif is voorskriftelik – die Skrif sê hoe ons moet leef. Die Skrif gee aan ons opdragte wat ons deur God se genade moet gehoorsaam vir die beswil van ons lewens en vir die heerlikheid van God. Soms beskryf die Skrif dinge wat gebeur. Dit beteken nie noodwendig dat dit voorskriftelik is nie.

 

Die Reis van Gehoorsaamheid – dit is waaroor hierdie gedeelte gaan. Die woord van God kry ons oral in hierdie gedeelte – verse 21, 22, 23 en 25. Die vraag in hierdie gedeelte is: Hoe reageer ons op die waarheid – God se woord? Volgens hierdie gedeelte is daar drie maniere.

 

  1. Ons ontvang God se woord nederig (1:19 – 21)

Jakobus begin deur te sê: Elke mens moet vinnig wees om te hoor, stadig om te praat, stadig as dit by woede kom. Dit beteken ons moet die woord nederig benader – nie verdedigend nie, want dit lei net tot weerstand teen die woord. Ons is so geneig om God se woord te benader met baie praat en min luister. Ons benader die woord met ons vooropgesette idees – dit is wat ek wil hê die woord moet sê. Ons soek regverdiging vir ons eie idees. Ons luister nie, want ons is besig om te formuleer wat ons gaan sê. In plaas van nederig luister na God se woord weerstaan ons dit. Dit was die reaksie van mense op wat die profete, Jesus en Paulus gesê het.

 

Jakobus sê dat die mense van God vinnig moet wees om te hoor en dan gaan hy voort: Daarom, nadat julle alle onkuisheid en oorvloed van kwaad in nederigheid ter syde gestel het, moet julle die ingeplante woord ontvang wat in julle in staat is om siele te red. Daar is so baie idees van die wêreld wat die woord weerspreek. Jakobus sê ons moet van hierdie sondige en selfsugtige idees van die wêreld ontslae raak en in alle nederigheid na die woord kom. In Jeremia 31:33 sê God: Ek sal my woord op hulle harte skryf. In Jakobus lees ons dat God sy woord in ons ingeplant het. In ons lewens het ons God se woord nodig.

 

Hierdie gedeelte is baie duidelik: Ons word nie gered deur goeie werke nie, maar deur God se woord te ontvang. Sy woord in ons ingeplant, veroorsaak dat ons optree. Ja, ons geloof moet tot optrede oorgaan. Die gebeur deur die woord wat in ons harte werk. As jy sy woord ontvang en jou in nederigheid daaraan onderwerp, ondervind jy die dieptes van verlossing. Ons moet nooit die krag en belang van God se woord onderskat nie.

 

Volgende keer kyk ons na ‘n tweede aspek: om God se woord voortdurend te onthou.

 

 




Ek wil opstaan teen vrees

 

I am convinced that the first step towards attaining a higher standard of holiness is to realize more fully the amazing sinfulness of sin.” – J. C. Ryle

 

 Ek wil opstaan teen vrees

Moed is ‘n snaakse ding. Meeste van ons wil opstaan teen ons vrese. Meeste van die raad wat ons kry om ons vrees te oorwin, is van geen waarde nie. Meeste sê ons moet vrees ignoreer of minimaliseer. Jy gaan nie daarmee die groot vrese in jou lewe – eensaamheid, verlies, verwerping, die dood – oorwin nie.

 

Die Skrif praat reguit oor die werklikheid van vrees. Dit vertel ons ook van ‘n God ver verhewe bo enige vrees. God roep nie diegene met baie moed nie; God gee aan diegene wat Hy roep baie moed. Hiervan is Gideon ‘n goeie voorbeeld. Hy was beslis nie ‘n man met baie moed nie. As ons hom in Rigters 6 ontmoet, is hy besig om koring in ‘n parskuip uit te slaan. Hoekom? Omdat hy vir die Midianiete weggekruip het. Jy slaan tog koring in die oopte uit sodat die kaf kan wegwaai. ‘n Parskuip is gewoonlik ondergronds en daar is geen wind nie – niks om die kaf weg te waai nie. Die Engel van die Here verskyn aan hom en sê vir hom: Die Here is by jou, dapper man!

 

Die man wat in ‘n parskuip wegkruip is ‘n dapper man. Tog nie waar nie. God praat nie met Gideon oor wat hy is nie, maar oor wat God met hom gaan doen. Wonderlik. God definieer my nie volgens die toestand waarin ek is nie; Hy definieer my volgens met wat Hy in Christus met my gaan maak. Jou moed, jou integriteit jou heiligheid is dinge wat nie bestaan nie. Jy is nie van nature braaf of eerlik of heilig nie. As God na ons toe kom, begin Hy nie waar jy is nie. Hy begin by Christus. Daarom kan Hy vir ‘n man wat in ‘n parskuip wegkruip sê dat hy ‘n dapper man is.

 

Die groot vraag: Glo ons Hom? Glo ons dat hy diegene wat Hy roep braaf maak? Gideon word ‘n held al oorwin hy nooit sy vrees volkome oorwin nie. Maar hy het ‘n versekering by God gekry: “Ek is by jou!” Dit is God se antwoord op al Gideon se probleme. Dit is steeds wat God vir ons sê as ons bang is.

 

Moed is nie die afwesigheid van vrees nie; moed is nie om ons vrese te ignoreer nie. Moed is om God te midde van ons vrese te volg. As jy dit doen sal sy liefde al jou vrese verdryf.

 




Beproewings en versoekings (4)

 

We have two ears and one mouth, so we should listen more than we say”
Zeno van Citium

 

Beproewings en versoekings (4)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik.]

 

Daar is drie waarhede wat bepaal hoe ons beproewings en versoekings verstaan en daarop reageer:

  1. God is soewerein oor ons beproewings
  2. Ons is verantwoordelik vir ons eie beproewings
  3. God is getrou in ons versoekings

 

  1. God is getrou in ons versoekings (Jakobus 1:16 – 18)

Wat doen ons ten opsigte van beproewings en versoekings? Die probleem is dat ons oë so op ons omstandighede gefokus is dat ons glad nie sien wat God beplan nie. Wat doen ons as ons versoek word? Wat doen ons as ons deur ons begeertes aangelok en saamgesleep word? Ons onthou dat God getrou is. God, anders as die hemelligte, verander of verduister nie. In jou beproewings en versoekings moenie die leuens glo nie. Onthou dat God goed is en dat Hy dit wat goed is vir jou wil hê. Vertrou Hom as jy beproef word; draai na Hom as jy versoek word. Onthou: Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader.

 

Daar is veral drie aspekte van God se goedheid wat ons moet oorweeg:

  • God se goedheid is onveranderlik.
  • God se goedheid is onverdiend. Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring (vers 18). God gee aan ons nuwe lewe, nie op grond van die goed wat ons gedoen het nie, maar uit genade. God is die Bron van alle goeie dinge in ons. Dit is sy goedheid wat ons van binne na buite verander.
  • God se goedheid is oneindig. Ons is eerstelinge van wat Hy geskep het. Dit is ‘n voorsmakie van wat nog gaan kom –die dag wanneer Hy alles nuut gaan maak. Dit is die nuwe hemel en aarde waar daar nie meer beproewings en versoekings sal wees nie.

 

Ons het nou ‘n hele aantal blogs gespandeer om Jakobus se siening van beproewing en versoekings te verstaan