Die gevaar van teologie

 

It is not the absence of sin but the grieving over it which distinguishes the child of God from empty professors [of faith]” – A. W. Pink

 

Die gevaar van teologie

[Teologie = theos – god + logia – studie, belangstelling.]

Ons kennis van God kan gevaarlik wees. Goeie teologie beteken dat ons God aanbid en geniet. Gebeur dit nie, is dit nutteloos. Maak ons nie dalk van teologie ‘n afgod nie? Hier is ‘n paar vrae om vas te stel of ons ‘n afgod van teologie gemaak het.

  1. Trek jou teologie jou nader na God toe? Lei dit tot groter intimiteit met God? Niemand kon Jesus enigiets van God vertel nie, maar dit het nie sy behoefte om te bid afgewater nie.
  2. Mobiliseer jou teologie vir jou? Stuur groter kennis van God jou dieper die wêreld in? Die doel om iets van God te weet, is dat die wêreld ook van Hom moet weet.
  3. Laat jou teologie jou toe om vir ander in liefde op te offer? Laat meer kennis van God jou toe om ander meer lief te hê en beter te dien? Goeie teologie breek grense tussen mense af.
  4. Maak jou teologie jou gretig om te leer – om meer van Hom te weet? Teologie is ‘n lewenslange reis. Goeie teologie het altyd plek om te groei.
  5. Maak teologie jou nederig? Word jy meer afhanklik van sy genade?
  6. Bepaal jou teologie waaraan jy waarde heg en wat jou prioriteite is?
  7. Lei jou teologie tot deernis? Breek jou hart vir die behoeftiges?
  8. Is Jesus die middelpunt van jou teologie?
  9. Verhoog jou teologie die begeerte vir heiligheid? Wil jy meer en meer soos Christus wees?

 

Nadat ek hierdie lysie gelees het, kan ek net sê: Skuldig

 




Beproewings en versoekings (3)

 

It’s not that I’m so smart; it’s just that I stay with problems longer.” – Einstein

 

Beproewings en versoekings (3)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik.]

Daar is drie waarhede wat bepaal hoe ons beproewings en versoekings verstaan en daarop reageer:

  1. God is soewerein oor ons beproewings
  2. Ons is verantwoordelik vir ons eie beproewings
  3. God is getrou in ons versoekings

Ons kyk vandag na die tweede waarheid.

 

  1. Ons is verantwoordelik vir ons versoekings (Jakobus 1:13 – 15)

Ons het gesien dat God soewerein in ons beproewings is en daarom kan ons bly wees as ons beproef word. God in sy soewereiniteit sal die geloof van sy mense toets en Hy doen dit vir hulle beswil. Maar nou moet ons versigtig wees om nie te glo dat God ons toets om van Hom af weg te beweeg nie.

 

Elke beproewing gaan gepaard met versoeking. As ek finansiële probleme het, wantrou ek God se voorsiening; as iemand vir wie ek lief is, sterf, bevraagteken ek God se liefde. God kan ons toets, maar Hy versoek ons nie: God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie (vers 13). Die mens word deur sy eie begeertes verlei – ons is verantwoordelik vir ons versoekings.

 

Maar waar kom sonde vandaan? God is sonder sonde. Die bose is vreemd aan Hom. Op geen wyse kan God vir sonde en versoeking blameer word nie. Jakobus sê: Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.  God is sonder sonde, maar nie die mens nie. Die verantwoordelikheid vir versoeking en sonde lê by ons – ons innerlike sondige begeertes gee toe aan versoeking.

 

In ons moderne wêreld word alle pogings aangewend om ons van verantwoordelikheid kwyt te skeld. Ons blameer ander – ons opvoeding, die regering, my vriende, enigiets waaraan ons kan dink. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie (Romeine 7:18). Dit erken ons nie sommer nie.

 

Ons het nou na die oorsprong van sonde gekyk.  Nou moet ons na die anatomie van sonde kyk. Sonde gebeur nie sommer uit die bloute nie. Daar is ‘n proses daaragter. Ons kan aan vier stappe dink:

  • Verleiding. Genesis 3 is ‘n goeie voorbeeld van hierdie proses. Die hart van sonde is ongeloof. Ons glo Hom nie as Hy vir ons sê iets is goed vir ons en iets anders is sleg vir ons nie. Ons bevraagteken Hom. Ons sien dit in die vraag van die slang: Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie? (3:1).
  • Begeerte. Versoeking speel op ons begeertes. Dit trek ons aan, maar verberg die feit dat dit ons skade sal berokken.
  • Ongehoorsaamheid. Ons tree volgens ons begeertes op.
  • Dood. Dit is die gevolg van ongehoorsaamheid.

 

Met watter sonde jy ook al flankeer of watter begeertes jy vervul, hardloop weg van hulle. Dit lei tot ons dood.

 

Volgende keer gaan ons na die laaste waarheid in verband met beproewings en versoekings kyk: God is getrou in ons versoekings.

 




Calvyn en gebed

 

The intuitive mind is a sacred gift and the rational mind is a faithful servant. We have created a society that honors the servant and has forgotten the gift.” – Einstein

 

Calvyn en gebed

Vir Calvyn gaan gebed altyd met dissipline gepaard. Hy sê dat as ons nie sekere vaste tye vir gebed het nie, kan dit ons maklik ontgaan. Hy skryf sekere reëls neer vir doeltreffende, vurige gebed.

 

  1. ‘n Diepgevoelde sin van eerbied

Ons moet altyd onthou dat gebed ‘n gesprek is met God. Calvyn sê daarom dat ons harte en denke gedissiplineerd moet wees. Net diegene wat hulle op die regte manier voorberei vir gebed kan aan ‘n gesprek met God deelneem.

 

  1. ‘n Diepgevoelde sin van behoefte en berou

Ons moet bid uit ‘n opregte gevoel van behoefte en berou. Ons moet God nader as bedelaars. Gelowiges moet volgens God se wil bid; sy heerlikheid moet altyd hulle fokus wees

 

  1. ‘n Diepgevoelde sin van nederigheid en vertroue

Ware gebed vereis dat ons alle vertroue in onsself aflê en nederig pleit vir verskoning. Ons moet net in God se genade vertrou vir seëninge – geestelik en tydelik. Enige ander benadering tot God bevorder net trots. Trots as ons bid, is fataal.

 

  1. ‘n Diepgevoelde sin van hoop

Die vertroue dat ons gebede beantwoord sal word se oorsprong is nie in onsself nie, maar deur die Heilige Gees wat in ons werk. In die gelowige se lewe oorwin geloof en hoop vrees sodat ons sonder huiwering kan glo. Ware gebed vertrou dat dit suksesvol sal wees as gevolg van God en sy verbond.

 

Hierdie reëls klink oorweldigend. Calvyn erken ons gebede is vol swakhede en mislukking. Maar God verdra ons swak pogings en verskoon ons onkunde.

 




Beproewings en versoekings (2)

 

Christian, beware of thinking lightly of sin. Take heed in case you fall little by little. —C.H. Spurgeon

 

Beproewings en versoekings (2)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik.]

Watter doel bereik God deur beproewings? In vers 3 begin Jakobus vertel hoe God beproewings in ons lewens gebruik en hy doen dit tot in vers 12. Ons moet beproewing aanvaar vir dit wat God deur hulle bereik. Ons leer ten minste vier dinge van beproewings wat sal veroorsaak dat ons bly is. Ons kom nou by die tweede ding wat ons leer.

 

  • Ons leer om op sy wysheid te vertrou

Die implikasie van vers 5 is duidelik: As dit kom by wysheid is ons nog nie daar nie. Ons kort iets en daardie iets is wysheid. Ons het dit nodig as ons beproef word. Hier kry ons ‘n opdrag: Bid dit van God. In verhouding met die wysheid van God groei ons wysheid deur drie faktore: kennis, perspektief en ondervinding. Omdat ons in al drie hierdie gebiede tekortskiet, is ons wysheid beperk. As ons beproef word, besef ons dat ons nie alles weet wat besig is om te gebeur nie (kennis); dat ons nie ons situasie uit alle moontlike hoeke sien nie (perspektief); dat ons nie die nodige ondervinding het nie. God besit alle kennis; Hy het ‘n ewigheidsperspektief; in Christus het Hy elke soort toets ondervind – en volhard. Ons kan Hom vra, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.

 

God gee wysheid – oorvloedig, sonder diskriminasie, sonder huiwering. Dit gebeur nie outomaties nie – jy moet daarvoor vra. God gee nie vir ons ‘n maklike antwoord nie. As ons beproef word, is al wat ons wil hê dat ons omstandighede reggestel moet word. Maar God sê: “Kom na My en vra My om jou te help verstaan hoekom dit gebeur sodat Ek vir jou perspektief kan gee oor wat jy besig is om deur te gaan. Ek, as die Een wat al die kennis en ‘n ewigheidsperspektief en die ondervinding het, sal saam met jou loop.”

 

Die soewereine Koning van die skepping stel sy wysheid beskikbaar vir al sy volgelinge. As ons dus beproewings ondervind, vra vir God om vir jou wysheid te gee. Maar Jakobus sê dat as ons vra ons nie moet twyfel nie. Glo dat God wys is en dat Hy met jou is.

 

  • Ons leer om op sy hulpbronne te vertrou

In Jakobus 1:9 – 11 lees ons van armes en rykes. Maar hoekom in die gedeelte oor beproewings? Beproewings herinner jou dat geld nie jou probleme kan oplos nie. Sal jy jou lewe op hierdie fisiese hulpbronne bou of op die geestelike hulpbronne wat God voorsien?

 

  • Ons leer om vir sy beloning te leef.

Jakobus sê dat almal wat in versoeking standvastig bly gelukkig is. Hier sien ons dat Jakobus baie verwys na Jesus se bergrede. Hy sê dat die man wat standvastig bly in versoeking sal as oorwinnigsprys die lewe kry. Hierdie verwys nie na ‘n fisiese oorwinnaarskroon nie, maar die ewige lewe. Daarom kan ons gelukkig wees, want beproewing herinner ons aan die beloning wat nog sal kom.

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly (2 Korintiërs 4:17).

 

 

In die volgende blog gaan ons na ‘n tweede waarheid oor beproewings en versoekings kyk: Ons is verantwoordelik vir ons eie versoekings.