Geseënd is die vredemakers

 

It is a poor sermon that gives no offense; that neither makes the hearer displeased with himself nor with the preacher – George Whitefield

 

Geseënd is die vredemakers

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word (Matteus 5:9).

Die Romeine wat Jesus se woorde gehoor het, het gedink dat hulle vrede het – die Pax Romana. Rome het die klein oorloggies tussen groepe mense stopgesit; hulle het seerowery stopgesit. Ons moet versigtig wees as een groep vrede vestig, veral as hulle dit deur geweld en onderdrukking doen – soos Rome gedoen het.

 

Jesus het glad nie die Pax Romana in gedagte gehad toe Hy hierdie woorde geuiter het nie. Wat Hy vervul het, was die Ou Testament se klem op Sjalom. Jesus konfronteer die Romeinse reël van vergelding deur een van verlossing, genade en die kruis. Dit is nie net die Romeine, Selote en tollenaars wat nie verstaan wat Jesus sê nie. Almal van ons kan dit verkeerd verstaan. Ons pas nie toe wat Jesus sê nie. In plaas van vrede, maak ons oorlog. Ons glo dat as Jesus van vredemakers praat, praat hy figuurlik. Jesus wil hê dat ons sy woorde letterlik opneem; Hy wil hê dat ons vrede moet maak. God inisieer ons vrede met Hom – Hy versoen ons – maar ons moet reageer. As ons met Hom versoen is, moet ons ook met ons naaste vrede soek. Ons kan nie versoening met God van versoening van ons naaste skei nie.

 

Om vrede te maak, is meer as om oorlog te vermy. Daar is niks passief daaraan nie. Dit is harde werk.

Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” (Jesaja 52:7).

 




Die Barmhartige Samaritaan

 

If you are going to walk with Jesus Christ, you are going to be opposed … In our days, to be a true Christian is really to become a scandal. – George Whitefield

 

Die Barmhartige Samaritaan

Ons brein vergader stukkies inligting en as dit bekende stukkies herken, poog dit om die legkaart wat ons reeds ken, te voltooi. Die probleem hiermee is dat ons dikwels die moontlikheid dat God iets nuut met ons wil deel, uitsluit, want ons gaan onmiddellik na die einde van die storie.

 

Die primêre boodskap van die barmhartige Samaritaan is ingebed in die wetgeleerde se opvolgvraag: En wie is my naaste? (Lukas 10:28). Die storie is nie ‘n katalis vir ‘n nuwe program of uitreikprojek nie. Hierdie wetgeleerde het in ‘n gemeenskap gewoon waar almal min of meer soos hy gelyk het, soos hy opgetree het en soos hy geglo het. Jesus daag hom uit om nuut te kyk na wie sy naaste is. Vir Jesus is die hart van die saak ‘n saak van die hart.

 

Ons word gereeld uitgedaag met hierdie vraag: En wie is my naaste? Dit is die kinders wat nie hulle skoolopleiding voltooi nie; dit is die gesinne waar die vader afwesig is; dit is die mense wat onder die armoedevlak leef; dit is die mense wat nie Jesus Christus as Here bely nie.

 

Hierdie gemeenskappe is ryk vir die ontplooiing van God se hulpbronne om die werk van transformasie te begin. Ons soek graag afgeleë plekke om gemeenskappe wat swaarkry te identifiseer. Maar ons sit midde in sulke gemeenskappe. Ons moet verander op vier gebiede:

 

  1. Dit vereis ‘n dorp/stad

Daar is ‘n ou spreekwoord uit Afrika: It takes a village to raise a child.” Die nood is so dat een organisasie beslis nie aan al die behoeftes kan voldoen nie. Alle gemeentes moet saamwerk om die probleem op te los.

 

  1. Sluit aan by die werk wat God reeds besig is om te doen

Ons het die absurde idee dat ons God ba die gemeenskappe moet neem – God is reeds daar. Hy wag net vir sy medewerkers om saam met Hom die stryd te stry. As daar gevestigde bedienings in hierdie gebiede is, sluit by hulle aan en bemagtig die plaaslike leiers.

 

  1. Bemagtig die jeug

Blywende gemeenskapsontwikkeling neem 10 tot 20 jaar om vas te staan. Daarom moet ons jongmense in hierdie bediening  betrek. Ons moet doelgerig ons leiers vermeerder.

 

  1. Dink weer oor die voorsiening van hulpbronne

Tipies ondersteun organisasies hierdie  werk vir twee tot drie jaar. As ons egter daaraan dink dat gemeenskapsontwikkeling ‘n baie lang proses is, moet ons langer ondersteuning bied.

 

Ons moet ophou om pleistertjies op te plak om dinge tydelik aan die gang te hou. Wat nodig is, is ‘n hartoorplanting.

 




Die Drie-eenheid en gebed (2)

 

The Bible does not present  an art of prayer, it presents the God of prayer – Edmund p. Clowney

 

Die Drie-eenheid en gebed (2)

[Ek gaan onder andere van Tim Keller se boek Payer: Experiencing Awe and Intimacy with God gebruik maak.]

 

In die vorige blog het ons die vraag : Gebed is ‘n ontmoeting: met Wie? geantwoord. Ons het gesien dat dit ‘n ontmoeting met God die Vader is. Dit bring ons by ‘n volgende vraag: Maar hoe kry ons toegang tot God die Vader?

Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader (Efesiërs 2:18).

Almal wat glo, het die begeerte om te bid. Deur die Heilige Gees is gebed geloof wat hoorbaar word.

Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. … julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat uitroep: “Abba!´Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is (Romeine 8:14 – 16).

 

Die Heilige Gees vul die Christen met vertroue in God se liefdevolle teenwoordigheid. Die Heilige Gees gee aan gelowiges die vertroue dat hulle verhouding met God nie van hulle prestasies afhang nie. Die Heilige Gees gee aan ons geloof vol vertroue wat natuurlikerwyse oorgaan in gebed. Die Heilige Gees gaan nog verder:

 Die Gees staan ons ook in ons swakheid by; ons weet nie hoe en wat ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugting wat nie met woorde gesê word nie. En God wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges (Romeine 8:26 – 27).

 

Die Heilige Gees plaas in ons ‘n diep verlange om God se wil te doen en om sy heerlikheid te sien.

 

Ons het nou reeds na gebed en die Vader en die Heilige Gees gekyk. Volgende keer kyk ons na gebed en Jesus Christus,

 




Wat is die evangelies

 

What! Get to heaven on your own strength? Why, you might as well try to climb to the moon on a rope of sand! – George Whitefield

 

Wat is die evangelies

Ons gaan voort met Mel Lawrenz se reek oor hoe om die Bybel te verstaan.

As ons by die Nuwe Testament kom, is die eerste vraag wat ons vra: Wat is die evangelies? Gelowiges glo dat God nie die mens in stilte agter gelaat het nie. Hy het hard en duidelik deur sy woord gepraat – dit is die Bybel, maar ook die Woord, Jesus Christus. Die openingswoorde van die Hebreër-brief sê dat God in die verlede op baie maniere met die volk gepraat het deur die profete, maar in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

 

God het deur mense, die profete, gepraat en toe beslissend deur sy Seun. Jesus is nie net die Woord van God nie, maar Hy beliggaam God se heerlikheid en wese. Jesus Christus is die sentrale tema van al vier die evangelies, want sy lewe, sterwe en opstanding voorsien die weg na verlossing.

 

Dit is belangrik dat ons die betekenis en boodskap van die evangelies verstaan. Ons kan maklik glo dat hulle geskiedkundige verhale is, want hulle vertel vir ons die gebeurtenisse in Jesus se lewe. Hulle is meer as dit. Die doel van die evangelies is om te verkondig dat die seun van God in Judea en Galilea verskyn het, dat Hy groot wondertekens gedoen het, dat Hy gekruisig, gesterwe en opgestaan het – die finale oorwinning oor die sonde. Die skrywers van die evangelies was gelowiges en nie net geskiedkundiges nie. Hulle was eerlike en getroue getuies.

 

Markus se evangelie is eerste geskryf en baie van sy inhoud kry ons ook in Matteus en Lukas. Matteus wou veral die verhaal vir die Jode van die eerste eeu verduidelik. Lukas, daarenteen, probeer om ‘n nie-Joodse gehoor te help. Hy sê reg aan die begin dat hy ‘n ordelike verslag wil gee. Die Johannes-evangelie sluit dinge in wat ons nie in die ander evangelies kry nie.

 

Al die evangelies vereis diepe nadenke om hulle betekenis te verstaan. Hoe langer ons hulle bestudeer, hoe dieper is hulle impak op ons. Jesus se woorde is beslis vir ons en hulle sal ons lewens verander, maar ons moet versigtig wees. Ons moet steeds sy woorde in hulle oorspronklike konteks verstaan. Daarna kan ons ontdek hoe hierdie waarheid op ons van toepassing is.