Christene met depressie

 

If you were arrested for being a Christian, would there be enough evidence to convict you? (David Otis Fuller).

 

Christene met depressie

Ons het baie meegevoel met hierdie mense en probeer hulle help, maar in die proses sê ons dikwels dinge wat sake net vererger. Die bedoeling is eerbaar. Hierdie mense wil werklik help. Hier is ’n paar voorbeelde:

  1. Kom daaruit – ruk jou reg

Ons dink dit is maklik om sommer net daaruit te kom. Ons glo al wat nodig is, is wilskrag – jy moet net die regte besluite neem. Dit werk nie so nie. Mense met depressie sou tog onmiddellik daaruit gekom het as dit so maklik was. Mense wil nie depressief wees nie.

 

  1. Dink positief

Klink reg. Ongelukkig kan mense met depressie meestal nie positief dink nie. Dit is hoekom hulle depressief is. Hulle wil nie negatief dink nie, maar hulle kan net nie anders nie.

 

  1. Bely jou sondes

Natuurlik is daar sonde in die lewe van iemand met depressie, maar dink hieroor:

  • Almal doen sonde, maar nie almal het depressie nie. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie (1 Johannes 1:8).
  • Hulle kan nie die verlede verander nie. Die sondes in hulle lewe is dikwels jare gelede se keuses oor lewenswyses. As hulle hul keuses kon verander het, sou hulle dit gedoen het.
  • Hulle weet reeds dat hulle sondaars is. ’n Persoon wat depressie het, sal weet of dit sonde is wat dit veroorsaak – alkohol, dwelms, ens. As sonde die oorsaak van die depressie is, is uiterste takt nodig.

 

  1. Kry net vir jou medisyne

Natuurlik is medisyne ook ’n gawe van God. In sommige gevalle is dit beslis nodig, maar dan moet dit reg gebruik word. Die vraag is of daar nie gou na medisyne gegryp word nie. Vir sommige is medisyne nodig om net oor die heuwel te kom; ander moet dit permanent gebruik.

 

  1. Ek was al deur erger dinge

Maak nie saak hoe goed jy dit bedoel nie, moet dit net nooit sê nie. Dit mag waar wees, maar vir iemand met depressie is dit waardeloos, want:

  • Die donker gat waarin iemand met depressie mag wees, is die ergste ding wat nog ooit met hom gebeur het. Die tragiese gebeure wat hom daar gebring het, verdwyn op die agtergrond.
  • Lyding is relatief. Daar sal altyd mense wees wat slegter as jy af is. Wat belangrik is, is hoe jy jou lyding internaliseer relatief tot wie jy vantevore was.

 

  1. God sal nie meer aan jou gee as wat jy kan hanteer nie

Die Bybel sê wel dat ons nie bo ons kragte versoek sal word nie (1 Korintiërs 10:13). Nooit sê die Bybel dat ons nie meer pyn of lyding sal kry as wat ons kan hanteer nie. Wat ons wel kan sê, is dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Romeine 8:18). Die los nie ons depressie op nie, maar gee vir ons perspektief.

 

  1. Depressie is sonde – jy moet vreugde in jou lewe hê

Net iemand wat nog nooit depressie ondervind het nie, sal so iets sê. Depressie is nie ’n sonde nie.

 

Hierdie is die dinge wat jy nie moet doen nie. Maar wat moet jy dan doen? Dit is nie jou taak om die depressie op te los nie, maar jy kan baie doen om die persoon met depressie beter te laat voel. Moenie jouself verantwoordelik hou vir iets wat jy nie kan doen nie. Job se vriende het sewe dae by hom gesit en niks gesê nie Hulle moes nog langer stilgebly het.

 

Stilte met jou arm om die persoon is die beste raad. Daar mag ’n tyd kom om vrae te vra, maar dit moet natuurlik kom en sonder veroordeling. Moenie preek nie; hou hulle vas. Jou doel is nie om hulle te genees nie, maar om daar te wees as hulle jou nodig het.

 “Silences make the real conversations between friends. Not the saying but the never needing to say is what counts.” – Margaret Runbeck

 




Ek wil ‘n groot leier wees

 

Too many church members are starched and ironed but not washed. —Vance Havner

 

Ek wil ‘n groot leier wees

“A true leader does not search for followers” – Myles Munroe

Dit is mos nie waar nie. Hoe anders kan jy sukses meet? Oprah Winfrey het 26 miljoen volgelinge op Twitter en Will Smith het 75 miljoen op Facebook. Die sosiale media herinner ons daagliks daaraan dat die invloedryke leiers die grootste aantal volgelinge het.

 

Die probleem  is wanneer jong leiers dink dat hulle doeltreffendheid deur hulle aantal volgelinge en sosiale prestige gedefinieer word. Is ons nie dalk verward oor die ware sin van leierskap nie. Is Myles Munroe nie dalk reg nie? Ware leierskap word bepaal deur die aantal mense wat ons kan dien, nie deur die aantal mense wat ons dien nie –  nie deur “likes” en “follows” nie. Die Bybel sê vir ons dat leierskap niks met mag en invloed te doen het nie.

 

In die Bybel lees ons van ‘n leier wat iets onverwags gedoen het. Hy en sy studente is saam en Hy trek sy bokleed uit en maak ‘n handdoek om Hom vas. Daarna was Hy sy dissipels se voete. Dit was natuurlik Jesus. Ons lees hierdie verhaal in Johannes 13:3 – 4.

 

Dit laat ons dink. Is die sleutel tot groot leierskap nie meer oor dien as beïnvloed nie? Die samelewing sien ‘n groot bankrekening of titels as tekens van sukses. In die geskiedenis is die mense wat ons die meeste bewonder juis die mense wat, ten spyte van gevaar, nie bang was om teen ongeregtigheid te praat nie. As ek gedurig na ander kyk om my selfwaarde te bevestig, fokus ek meer op die mening van ander as op die mense wat ons met ons gawes kan dien. Ons selfwaarde word bepaal deur ons verhouding met God. Dan soek ons nie volgelinge nie, maar geleenthede om te dien.

 

Moenie vir iemand sê: “ Gaan eers terug en kom môre weer, dan help ek jou,” as jy nou reeds kan help nie (Spreuke 3:28).

 

 




Hoe werf ons vrywilligers

 

The belly being full, either no prayers at all, or else fat and unwieldy prayers, are made.  — Heinrich Bullinger

 

Hoe werf ons vrywilligers

Die rol van vrywilligers in ons gemeentes word toenemend belangriker. Maar meeste gemeentes sukkel om voldoende vrywilligers te werf. Thomas McKee (The New Breed: Understanding and Equipping the 21st Century Volunteer) gee sewe riglyne om ons te help om vrywilligers te werf.

  1. Vra persoonlik. Moenie op aankondigings vertrou nie. Jy soek iemand om vir ‘n spesifieke bediening aan te meld
  2. Ontwikkel strategiese werwingsvennootskappe. Bou ‘n netwerk – jou werwingspan. Dit beteken die poel waaruit jy kan werf word groter.
  3. Werf korttermyn projekspanne. Hoe meer spesifiek jou tydsraamwerk, hoe meer gewillig is mense om te help. Hierdie korttermyn projekte kan tot langtermyn toewyding lei.
  4. Aanvaar dat “nee” beteken “nie nou nie” of ‘nie hiervoor nie.” Luister versigtig na die redes vir die “nee.” ‘n “Nee” nou mag later ‘n “ja” word.
  5. Ontwikkel geskrewe verantwoordelikhede vir elke rol. Moenie ‘n pos vul voordat jy iemand het wat aan die vereistes voldoen nie.
  6. Werf spesifieke mense vir spesifieke rolle. Dit moet inpas met hulle passie, gawes en vaardighede.
  7. Jou leierskapspan moet die beginsels van mense uitnooi en toerus as vrywilligers aanvaar en uitleef.

 

 

 

 




Ouer mans

 

Take a saint, and put him into any condition, and he knows how to rejoice in the Lord. —Walter Cradock

 

Ouer mans

In Titus 2:1 – 6 praat Paulus oor alledaagse geloof. Let daarop dat hierdie ons reaksie op die evangelie is – nie ‘n manier om aanvaar te word nie. As gevolg van dit wat God vir ons gedoen het, sal ons lewens anders lyk.

 

Paulus begin by die ouer mans: Sê vir die ouer mans hulle moet nugter wees,  eerbaar, verstandig, gesond en vas in die geloof, liefde en volharding. Paulus verwys hier spesifiek na die versoekings vir diegene wat al reeds ‘n ent langs die lewenspad geloop het. Baie van die opdragte word later vir die ander ouderdomsgroepe herhaal, maar een kry ons net hier: volharding. Volharding is nie natuurlik vir mense nie, veral nie vir ouer mense nie. Ouer mans plaas hulle enjin in neutraal. Hulle het hulle geld gemaak; hulle is moeg; hulle voel dat hulle genoeg gedoen het; hulle kan nou aan hulleself dink – hulle stokperdjies, hulle belange. Hulle ignoreer diens aan ander.

 

Geen wonder ouer mans word knorrig en sinies nie. Hoekom word hulle so knorrig? Hulle fokus net op hulleself. Daarom sê Paulus: volhard. Al die ander opdragte wat hy aan die ouer mans gee, kan in die lig hiervan gelees word. Wees nugter en eerbaar – moenie net aan jou eie begeertes dink nie. Plaas hulle na die behoeftes van die kerk en die volgende geslag. Dit wat jy in die lewe bereik het behoort nie ‘n hoop geld te wees nie, maar om te sien dat die koninkryk van God groei selfs al is jy lankal nie meer daar nie. Moenie jou laaste jare gee aan gholf of visvang nie, maar vir God se koninkryk.

 

Vas in die geloof – moenie sinies word nie, moenie ophou glo nie al lyk dit vir jou of die wêreld agteruitgaan. God se beloftes vir die wêreld geld steeds; Hy het ‘n plan vir hierdie wêreld en Hy sal dit deurvoer.

 

Wees nugter –  moenie jou aan alkohol oorgee nie. Daar is nog ‘n belofte wat vir jou voorlê. Daarom moenie optree asof jou beste dae agter jou lê nie. Al lê jy vasgekluister in ‘n bed kan jy nog steeds bid vir God se koninkryk.

 

God se beloftes het nie ‘n vervaldatum nie – bly glo aan hulle. Kyk maar weer na die voorbeeld van Kaleb. Hy was al ouer as 80 jaar toe hy die bergwêreld ingeneem en dit syne gemaak het. Ons het nog meer rede as Kaleb om te volhard. Hy het gesien hoe God die Israeliete deur die Rietsee gelei het, maar ons weet dat God vir Jesus uit die dood opgewek het.

 

Ouer mans: die kerke het julle nodig. Julle moet nog dien; julle moet as mentors vir jonger mense optree – die kerke het die wysheid en ondervinding wat God aan ons gegee het nodig.

 

Julle moet sterk klaarmaak; eindig die reis met volharding.

“It is not the going out of port, but the coming in, that determines the success of a voyage.”

Henry Ward Beecher

[Ek kan hierdie blog skryf, want ek is self ‘n ouer man.]