God vra my om iets bo my vermoë te doen!

 

Love says: I’ve seen the ugly parts of you, and I’m staying. —Matt Chandler

 

God vra my om iets bo my vermoë te doen!

God, in sy soewereine wysheid, plaas ons soms in situasies wat ons tot die uiterste toe sal beproef. Soms word ons gevra om iets vir die heerlikheid van God te doen wat ver bo ons vermoëns is. Dit is die smeltkroes van leierskap. [Smeltkroes = omstandighede wat deur beproewing ‘n suiwerende invloed het – HAT.]

 

Moses het die smeltkroes geken. Toe God die noodkrete van die Israeliete gehoor het, verskyn Hy aan Moses en sê dat Hy sy volk uit hulle slawerny sal verlos. Moses was sekerlik dankbaar en verlig. Maar toe sê God vir hom: Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry (Eksodus 3:10). God sê dat Hy sy mense gaan verlos, maar dat Hy Moses stuur om dit te doen – dit is die smeltkroes.

 

Dit is hoe God dikwels werk: Hy kan dit doen dit, maar Hy stuur vir ons. Maar, net soos Moses, kyk ons na onsself en maak verskonings. Moses sê die mense sal hom nie glo nie (4:1). Voel ons nie ook dikwels so nie. God kan deur geloof ons gewone vermoëns verander in buitengewone vermoëns. Gee aan God jou vermoëns en sien hoe Hy te werk gaan daarmee.

 

Moses kom met ‘n volgende verskoning: Ek kan nie goed praat nie. Maar God kan ook hierdie swakheid gebruik. Ons moet ons swakhede vir Jesus gee en kyk hoe Hy daarmee werk. My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is … Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:9 – 12).

 

God gaan groot dinge doen. Hy gaan dit doen deur vir my en jou te stuur. Dink daaroor na.

 

 




Mites en gerugte: moeilik om uit te roei

 

A materialistic world will not be won to Christ by a materialistic church. —David Platt

 

Mites en gerugte: moeilik om uit te roei

Sewentien jaar gelede publiseer ‘n geneesheer in die Verenigde Koninkryk ‘n studie waarin hy ‘n korrelasie tussen die vaksiene vir masels, pampoentjies en Duite masels en outisme beskryf. Na verdere studie blyk dit dat hierdie bevinding verkeerd is – daar is geen verband nie. Die geneesheer het onetiese finansiële belange gehad. Hy het uiteindelik sy lisensie om as geneesheer te praktiseer verloor.

 

Dit blyk egter dat ‘n derde van Amerikaanse ouers steeds hierdie gediskrediteerde bewerings glo. Die gevolg is dat masels wat op ‘n stadium uitgeroei was weer terug is in die VSA. Hoekom is dit so moeilik om gerugte en mites uit te roei: Christopher Graves in die Harvard Business Review noem vier redes.

  1. Om die feite te beredeneer, maak geen verskil nie

Mense glo net dit wat inpas by hulle vooraf bestaande sienings. As jy feite en bewyse aan hulle voorlê verwerp hulle dit – hulle klou net vaster aan hulle vooropgesette idees.

 

  1. As jy die mite herhaal, maak jy dit net gewilder

As jy die mite herhaal, doen jy twee dinge:

  • Jy maak mense wat nog nooit van die mite gehoor het nie daarvan bewus … en hulle glo dit.
  • Vals aansprake word nou skielik aanbevelings.

Om vals inligting te herhaal, selfs as jy dit doen om die aansprake te verwerp, het die teenoorgestelde effek.

 

  1. Bevestiging werk, maar ons gebruik dit selde

As iemand se feite verkeerd is, gaan ons oor op die aanval. As ons mense laat sleg voel oor hulleself sal hulle nie sommer die regte feite aanvaar nie. Die probleem met die vaksinering is dat daardie ouers wat hulle kinders nie ingeënt het nie beswadder is. In plaas daarvan dat ons die ouers laat besef het dat ons glo dat hulle lief is vir hulle kinders het ons gesê dat hulle kinders blootstel aan allerhande ernstige siektes. Om hulle as idiote te hanteer, het die hele bespreking ontspoor.

 

  1. Ons onderskat die krag van die storie

Mense het ‘n storielyn nodig. As hulle nie een het nie, skep hulle een. Dit is nie voldoende om ‘n storie/mite te verwerp nie – jy moet ‘n nuwe geloofwaardige storie in sy plek bring.

 

 

 




Moenie die psalms vergeet nie

 

The vocation of pastor has been replaced by the strategies of religious entrepreneurs with business plans.  – Eugene Peterson

 

Moenie die psalms vergeet nie

Hoe kan ek ‘n disispel wees as my gemoedstoestand wissel van hoog na laag, tussen geloof en twyfel, tussen vertroue en vrees? Lees die psalms. Jesus het ook dikwels uit die psalms aangehaal. As ek dan meer en meer soos Jesus wil word, hoe kan ek dan die psalms ignoreer.

 

Wat doen die psalms vir ons?

  1. Die Psalms bekragtig ons emosies

Aan die kruis roep Jesus uit: My God, my God, waarom het U my verlaat (Psalm 22:2). Die psalms was so deel van Jesus dat Hy dit in die vreeslikste tyd van sy lewe aangehaal het. Ons as Christene probeer dikwels ons emosies onderdruk – Christene is sterk en wys nie hulle emosies nie. Lees ons die psalms sien ons dat daar wel plek vir emosies in die evangelie is. In die psalms sien ons vreugde, teneergedruktheid, dankbaarheid, hartseer en feitlik elke ander emosie. Die pslams sê vir my ek kan vir God vra  waarom en hoe lank nog. Ek kan eerlik wees oor hoe ek voel. Die psalms laat egter nie ons emosies soos hulle is nie. Hulle vorm ons emosies en gee aan hulle die regte konteks.

 

  1. Die psalms vorm ons verbeelding

Hoe ons oor God dink en wat ons van Hom glo is krities as ons ‘n lewe gesentreer op die evangelie wil leef. Waar kan ons leer om te dink en te glo soos Jesus? In die psalms. Hier is ‘n paar voorbeelde van hoe die psalms ons verbeelding kan vorm:

  • Die lewe saam met God is ‘n goeie lewe (Psalm 1)
  • God is ons toevlug en skuiling (Psalm 16)
  • God voorsien wat ons nodig het (Psalm 23)
  • God is vol genade vir sondaars (Psalm 51)
  • God is altyd teenwoordig by ons (Psalm 1390

Die psalms leer ons verbeelding om na te dink oor die waarheid aangaande God (Psalm 1). Jesus het die lewe deur die lens van die psalms gesien (voorbeeld: Psalm 8:3 en Matteus 21:16). Ons hoor dikwels mense sê: “Ek kry swaar. God is seker kwaad vir my.” As ons egter die psalms lees, sien ons dat lyding ‘n normale deel van die lewe is.

 

  1. Die Psalms leer ons om te bid

“The great and sprawling university that Hebrews and Christians have attended to learn to answer God, to learn to pray, has been the Psalms.” (Eugene Peterson). Die psalms leer ons hoe om te bely, hoe om te hoop en hoe om te aanbid. Die psalms is die gebedeboek van die gelowiges.

 

Billy Graham het elke maand die Psalms deurgelees – vyf elke dag. Lees gereeld die psalms. Dan sal ons besef geloof en twyfel bestaan saam.

Here, leer my u weg en lei my op ‘n gelyk pad, om my vyande ontwil (Psalm 27:11).

 

 

 




Evangelisasie: ses belangrike vrae

 

Those that look to be happy must first look to be holy. — Richard Sibbes

 

Evangelisasie: ses belangrike vrae

Evangelisasie is ‘n woord wat baie Christene bang maak. Is dit omdat hulle bang is hulle word verwerp? Voel hulle hulle is nie bekwaam genoeg nie? Die gevolg is dat baie gelowiges geestelike gesprekke vermy.

 

Trevin Wax gee ‘n lys van ses vra wat ons moet antwoord. As ons “nee” op enigeen van hierdie vrae antwoord, sal ons passie vir evangelisasie ly.

 

  1. Die Deernis vraag: Gee jy om vir mense wat Jesus Christus nie ken nie?

Voordat ons die goeie nuus kan vertel, moet ons eers deur die goeie nuus gevorm word in mense wat deernis en liefde het. As ons glo dat mense sonder Jesus Christus waarlik verlore sal gaan, behoort deernis ons te motiveer vir evangelisasie.

 

  1. Die Kultuur vraag: Weet ons hoekom mense die evangelie verwerp?

Watter kultuurneigings maak dit moeilik vir mense om te glo? Wat is die algemene besware  wat mense teen die evangelie het? Francis Schaeffer is gevra hoe hy te werk sou gaan om binne een uur aan iemand die evangelie te vertel. “Ek sal 55 minute luister en vyf minute praat, want eers dan sal ek weet hoe om die evangelie te vertel op so ‘n manier dat dit alle besware oorwin.” Goeie evangeliste ken die kultuur en luister na mense.

 

  1. Die Inhoud vraag: Weet ons wat die goeie nuus wat ons oordra, is?

Ons sal nie die goeie nuus doeltreffend kan oordra nie, tensy ons duidelik weet wat dit is. Ons moet die goeie nuus op ‘n manier wat getrou aan die Skrif is oordra.

 

  1. Die Vertroue vraag: Glo ons dat God sondaars red?

Die manier om ons onsekerheid oor evangelisasie te oorwin, is nie om om meer vertroue in ons eie vermoëns te hê nie, maar om meer vertroue in die krag van die evangelie om te red, te hê. Mense wat hulle geloof met ander deel, vertrou dat God hulle onvolmaakte pogings sal gebruik. Die krag is in die evangelie en nie in ons nie.

 

  1. Die Toewyding vraag:Glo ons dat God aan ons die verantwoordelikheid vir evangelisasie gegee het?

Glo ek dat God hierdie verantwoordelikheid aan my gegee het? Glo ek dat God mense red deur die verkondiging van sy woord? As ek glo dat God dalk ander maniere kan gebruik om mense te verlos, sal ek stil bly. Glo jy dat jy hierdie voorreg en groot verantwoordelikheid gegee is en dat die Heilige Gees jou sal gebruik om mense na God toe te trek?

 

  1. Die Roepings vraag:Is jy bereid om iemand te vra om berou te hê en te glo en hulle dan verder op die pad na geestelike volwassenheid te lei?

Soms praat ons oor Jesus, maar ons bereik nooit die punt om iemand uit te nooi om sy sondes te bely en sy geloof in Christus te plaas nie. Miskien is ons bang hulle sê “nee.” Miskien is ons bang hulle sê “ja.” As iemand “ja” sê, het ons die verantwoordelikheid om hom verder te help om geestelik volwasse te word.