Bybelverse wat gereeld verkeerd gebruik word

 

Why have three persons when it confuses so much. Why couldn’t God just be God – Nicky Cruz oor die Drie-eenheid

 

Bybelverse wat gereeld verkeerd gebruik word

As ons ons Bybels oopmaak, lees ons woorde wat duisende jare oud is. Met so ‘n groot tydsgaping kom die probleem van konteks na vore. As ons ons Bybels oopmaak, staan ons voor ‘n probleem: ons weet nie presies hoe die kultuur destyds gelyk het nie. Daarom is die maklik om dinge verkeerd te interpreteer.

 

Hier is ‘n paar gedeeltes wat beklemtoon dat ons nie altyd die Skrif in die regte konteks lees nie.

 

  1. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13)

Die moontlikhede saam met God is sekerlik onbeperk. Die geestelike gawes, roeping en lewensreis beskikbaar vir die volgeling van Christus is eindeloos. Die sleutel hier is die woordjie kan. Net omdat God dit kan doen, beteken nie dat Hy dit sal of moet doen nie. Daar sal altyd ‘n Simson wees, maar net omdat God daardie soort krag kan gee, beteken nie dat Hy dit altyd sal doen nie. Daarom moet ons hierdie vers altyd in die konteks van die hele paragraaf lees – ook ek het my geleer om my in alle omstandighede te behelp (vers11).

 

  1. Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting (Jeremia 29:11)

Dit gaan hier oor die gebruik van die kollektiewe julle. Ons oor-individualiseer die Skrif tot so ‘n mate dat ons sê dat God hier direk met elke individuele Christen praat. Kyk ons egter na die konteks van hierdie vers sien ons dat God hier met al sy mense – Israel en die kerk – praat. Dit beteken nie dat God wat ons gemaak het nie ‘n plan vir ons het nie. God werk in hierdie wêreld primêr deur die Heilige Gees en die liggaam van Christus – die kerk. God se plan vir ons lewens word eers ‘n volle werklikheid in en deur God se mense.

 

  1. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep (Lukas 4:18 – 19)

Toe Jesus die boekrol opneem en uit Jesaja voorlees, lees Hy dit vir lede van die sinagoge in Nasaret – die buitepos van Romeinse kolonialisme. Romeinse imperialisme het vir die Jode met die verlies van hulle vryheid gekom. Hier kon Herodes beveel dat elke Joodse seuntjie onder die ouderdom van twee jaar doodgemaak moet word – en niemand kon hom keer nie. Omdat ons nie hierdie konteks verstaan nie, vergeestlik ons gevangeskap. Jesus Christus red ons liggaam en siel – nie die een of die ander een nie. Hy wil ons van geestelike en fisiese gevangeskap red. Daarom het Hy mense genees en hulle sondes vergewe. Slawerny aan sonde en die behoefte aan sosiale geregtigheid is beide werklikhede wat deur die dood en opstanding van Jesus Christus oorwin is.

 

  1. Geseënd is julle wat arm is (Lukas 6:20); Salig is die wat arm van gees is (Matteus 5:3 – OAV)

Jesus sien ons holisties. Matteus sê arm van gees en Lukas sê arm. Die een is geestelik en die ander een is fisiese en ekonomiese nood. Wat is nou reg? Ryk mense sê Matteus en arm mense sê Lukas. Beide is reg. Seën is die gevolg van die verligting van beide geestelike en fisiese bankrotskap.

 

Konteks is altyd van belang veral in die Christelike geloof waar vir duisende jare mense van honderde verskillende kulture dieselfde teks gelees het. Darom is dit so belangrik om die Skrif saam te lees en te bespreek. As gevolg van die diversiteit in Christene se denke sal ons die Skrif beter verstaan – beter as wat ons dit ooit op ons eie kan doen.

 




Ek lees nie al die boeke van die Bybel nie

 

How far can salvation go? What are its limits and boundaries? Christ is our Saviour. How far is he able to save – ­Charles Spurgeon

 

Ek lees nie al die boeke van die Bybel nie

Ons verkies sekere boeke van die Bybel bo ander. Die Psalms is goed; Johannes laat ons harte warm klop; Esegiël en Openbaring maak ons deurmekaar. Een van daardie afgeskeepte boeke is Filemon. Meeste van ons weet net dat dit ‘n kort boekie is. Maar in Filemon kry ons ‘n prentjie van die werklike lewe – hoe die evangelie wortel skiet in die lewens van twee mense.

 

Hoe die evangelie in die lewens van Filemon en Onesimus uitgeleef word, gee aan ons ‘n visie van wat God in ons gemeenskappe wil doen.

 

 

  1. Ons wil sien dat baie “Filemons” radikaal vrygewige deelnemers aan die sending van God word.

Paulus het vir Filemon na Christus gelei tydens sy sendingreis wat Kolosse ingesluit het. Hy was ryk – hy het ‘n klomp slawe gehad. Ongelukkig het een van sy slawe – Onesimus – weggeloop. Hy het waarskynlik nog van Filemon se goed gevat. Onesimus loop hom in Rome in Paulus vas. Paulus doen wat Paulus doen en lei vir Onesimus na Christus toe. Hy vind uit dat Onesimus ‘n wegloperslaaf is en dat hulle ‘n gemeenskaplike kennis het – Filemon.

 

Die boek is eintlik die brief wat Paulus met Onesimus vir Filemon stuur. Paulus het vir Onesimus oorreed om na sy eienaar terug tegaan. Maar uit sy brief is dit duidelik dat Paulus ook ‘n verandering by Filemon verwag.

 

My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ‘n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat ons in Christus kan doen (vers 6). Filemon was ‘n geharde besigheidsman, maar hy is deur die evangelie in ‘n vrygewige man verander. Ons kan sê dat Paulus eintlik vra: “Watter vrygewigheid eis jou geloof van jou?” Die antwoord waarna Paulus soek, is die vrylating van sy slaaf.

 

Die sending van God sal vooruitgaan deur mense wat die implikasies van genade en vrygewigheid verstaan. Dit beteken dikwels dat wat ons gee en dien duur is. Ons kan net gee wat ons het, maar ons moet altyd onthou dat dit wat ons het God vir ons gegee het. Dieselfde genade wat Filemon verander het, is die genade wat die kerk moet verander. Ons is nie selfgemaakte mense nie. Ons is deur Jesus Christus se bloed gekoop. Dit maak van ons mense gevul deur genade.

 

  1. Ons wil sien dat die “Onesimusse”in ons gemeenskappe leiers word wat die wêreld verander.

Onesimus se slawerny is ‘n beeld van die slawerny van sonde waarvan ons almal slawe is. Ons is verslaaf aan sondige begeertes, afgodery, selfsugtigheid en baie ander dinge wat ons daarvan weerhou om leiers te word wat die wêreld kan verander. Paulus sê dat die evangelie jou vry maak om dit te wees wat God jou gemaak het om te wees – bruikbaar vir God se doel; deel van sy groter plan.

 

Baie mense is geneig om te glo dat hulle as gevolg van hulle verlede nutteloos is. Nie waar nie: God het ‘n plan vir jou. Onesimus het gedros en gesteel, maar deur die evangelie is hy verander en word die leier van een van die belangrikste gemeentes in die antieke wêreld.

 

Die evangelie kan harde besigheidsmense vrygewig maak en verslaafdes bemagtig. Dit laat ons bymekaar sit as broers en susters in God waar daar geen hiërargie is nie. Wat God met Filemon en Onesimus gedoen het, doen Hy steeds elke dag.

 

 

 

 




Die wysheidsboeke in die Ou Testament

 

The commands of God are given, not to rob me of joy, but lead me into the fullness of joy. —Matt Chandler

 

Die wysheidsboeke in die Ou Testament

[Ons gaan voort met Mel Lawrenz se oorsig van die Bybel.]

Die spreuke is bedoel om mense wysheid te leer en hulle te onderrig sodat hulle weet wanneer iemand verstandig praat … Wie nog nie kennis het nie, sal verstandig word, jongmense sal leer om met kennis en oorleg op te tree. Selfs wyse mense kan na die spreuke luister en so tot dieper insig kom.

Hierdie is die openingsverse van die boek Spreuke een van drie wysheidsboeke in die Ou Testament (Spreuke, Job, Prediker). Daar is ander boeke (soos Psalms) wat wysheidsgedeeltes bevat.  Hierdie is boeke oor die werklike lewe.

 

Spreuke is ‘n boek van praktiese wysheid; Job is ‘n epiese verhaal wat lyding en God ondersoek; die Prediker gee vir ons ‘n skerp perspektief op die harde werklikhede van die lewe. Weereens sien ons die absolute eerlikheid van die Skrif. Ons sien die wanorde in die wêreld en die menslike natuur en dan kry ons leiding oor die soek na die orde van God.

 

Spreuke bestaan uit kort, kernagtige stellings oor die waarheid en praktiese leiding. Hulle hanteer sake soos gesindheid, spraak, seksualiteit, armoede en voorspoed, die huwelik en gesinsake. Hulle bevat dikwels beeldspraak en daarom moet ons die kern van die stelling verstaan.

 

Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn (Spreuke 3:9 – 10). Jy is dalk nie ‘n boer nie, maar die punt wat die skrywer oordra, is tog verstaanbaar: Eer God met alles wat jy besit; as jy gee ‘n top prioriteit in jou lewe maak, sal jy goed doen in die lewe.

 

As jy Spreuke lees onthou altyd dat hierdie algemene stellings is wat oor die algemeen waar is. Die skrywer sê nie dat dit waarborge is wat altyd waar is nie. Die oorspronklike lesers het geweet dat droogtes gereeld gebeur; diewe steel. Maar oor die algemeen is die stelling van oorvol skure en parskuipe wat oorloop waar.

 

Baie ouers vertrou op Spreuke 22:6: Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef en hy sal ook as hy oud is nie daarvan afwyk nie. Daarom staan sommige ouers verbaas as hulle kinders hiervan afwyk. Hulle aanvaar onmiddellik dat hulle iets verkeerd gedoen het. Die spreuk is nie ‘n waarborg nie – dit help en is duidelik. Ouers moet die leiding wat hulle aan hulle kinders gee ernstig beskou.

 

Ons moet die boek in afdelings lees en nie een vers op ‘n slag nie. Deur ‘n vers buite konteks uit te kies, lei tot misverstande – dit verhoed ons om die geheel te sien.

 

Job is ‘n hartverskeurende verhaal van ‘n man wat ongelooflike lyding deurgaan. Die hoofkarakters sê baie dinge wat nie waar is nie – byvoorbeeld dat lyding die direkte gevolg van sonde is. Maar uiteindelik vind Job troos by God en nie in filosofiese antwoorde nie.

 

Baie mense lees die Prediker as ‘n stelling van hopeloosheid. Dit is ‘n baie eerlike beskrywing van die donker kant van die lewe wat ons laat koester in God se genade.

 




Evangelisasie verander nooit nie – die metodes wel

 

Adam wasn’t lonely because he was imperfect but because he was perfect. The ache for friends is not the result of sin. – Tim Keller

 

Evangelisasie verander nooit nie – die metodes wel

Die boodskap van die evangelie verander nooit nie, maar die maniere waarop ons dit aanbied mag wel verander. Evangelisasie is nie werwing nie. Evangelisasie is nie uitreik nie, alhoewel uitreik tot evangelisasie mag lei. Evangelisasie is wanneer mense direk uitgedaag word met die evangelie en uitgenooi word om te reageer.

 

Evangelisasie sluit altyd ‘n kruis en ‘n leë graf in. Sonder hierdie boodskap is daar geen evangelisasie en geen goeie nuus nie. Evangelisasie is transkultureel en universeel. Dit gaan oor mense wat opgeroep word om Jesus Christus te vertrou en te volg; wat glo dat die krag van die evangelie hulle verander as hulle hulle sondes bely.

 

Maar hoe ons evangelisasie doen en hoe ons die evangelie verkondig, word beïnvloed deur die kultuur. In die verlede het ons die groot saamtrekke gekry – dink maar aan Billy Graham. God gebruik steeds sulke saamtrekke dwarsoor die wêreld. Vandag is daar mense wat die doeltreffendheid van sulke saamtrekke bevraagteken.

 

‘n Algemene vorm van evangelisasie is waar die huis as basis gebruik word. Jesus Christus is ons enigste hoop. Ons eer en vreugde is om met Hom deel te neem aan die evangelisering van ongelowiges op doeltreffende maniere. Een van die beste maniere is om mense uit te nooi na jou huis om saam te eet.

 

Ons moet baie sensitief wees vir die verskillende metodes van evangelisasie sodat soveel mense as moontlik die geleentheid kry om die goeie nuus te hoor.