Die begenadigde van God

 

“If I have seen further it is by standing on the shoulders of giants.” – Isaac Newton

 

Die begenadigde van God

Wat bedoel ons as ons van die begenadigde van God praat? Meeste mense dink dit is as ek die huis wat ek nog altyd wou gehad het, kry; as ek tydens spitstyd ‘n goeie parkeerplek kry. Dit is maklik om dan te dink dat God vir my glimlag. Kyk ons egter na die Nuwe Testament word ons ontnugter. Toe die engel Gabriël by Maria kom, sê hy vir haar: Ek groet jou, begenadigde (Lukas 1:28). Net daarna sê die engel vir haar: God bewys genade aan jou (1:30).

 

Haar situasie lyk allermins na dié van ‘n begenadigde. Gabriël het pas vir haar gesê dat sy swanger gaan word en sy is nie getroud nie. Die kultuur waarin sy geleef het sou dit baie negatief beleef het – sy kon selfs met die dood gestraf word. Haar verloofde, Josef, sou dit waarskynlik nie verstaan het nie en mag haar selfs verlaat. Maria is reeds arm en as Josef haar sou verlaat, sou sy moes bedel.

 

Hoe kan sy nou begenadig wees? Sy gaan ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Gabriël gaan verder: Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Dawid se troon simboliseer die herstel van wêreldwye vrede en seën.

 

  1. Ons het pyn; Hy sal dit omkeer. Jesus gaan nie net vergewe nie, maar hestel. Ons weet dat God dit sal doen, want Hy het dit met Jesus gedoen. Aan die kruis ondervind Jesus intense pyn, maar die Vader gebruik daardie pyn vir ons – Hy keer dit om in ‘n geleentheid om ons te verlos en te herstel.
  2. Ons het Hom teleurgestel; Hy sal dit uitvee. Wat ons moet besef dat in die opstanding onder die heerskappy van die Seun van Dawid alle teleurstellings uitgevee sal word.
  3. Ons verlang na geregtigheid; Hy sal dit herstel. Tensy ons na God se regstelsel en nie na dié van mense kyk nie, sal ons altyd bitter wees. Volmaakte geregtigheid sal herstel word, maar eers as Jesus Christus op die troon van Dawid sit en oor alles heers. Hierdie waarheid gee aan ons die hoop om vir geregtigheid te werk ten spyte van al die ongeregtighede in die wêreld.

 

Begunstigde beteken nie noodwendig ‘n gemaklike lewe nie. Dit bring moeilikhede, maar dit is altyd goed, want dit bring vir ons hoop en die versekering dat Hy altyd met ons sal wees.

 

 




Praat die kultuur die waarheid?

 

If grace is an ocean, we’re all sinking.” —John Mark McMillan

 

Praat die kultuur die waarheid?

Hier is vyf leuens wat ons so dikwels hoor dat ons nie eers meer besef hulle is nie waar nie. Die oomblik wanneer die leuen blootgelê word, is belangrik, want dit is die oomblik dat die waarheid die lig sien – en ons soek die waarheid.

 

Die probleem is dat ons moderne kultuur vir ons heelwat leuens voer. Baie van ons het hierdie leuens al aanvaar. Selfs die kerk het van hierdie leuens aanvaar. Hier is ‘n paar leuens wat ons kultuur gereeld vir ons voer.

  1. Jy kan enigeen wees wat jy wil wees

Jy kan nie enigeen wees wat jy wil wees nie. Maar hoekom glo ons dit? Omdat ons as moderne mense soveel geleenthede het wat ons voorouers nooit gehad het nie. Daarom sê ons vir mense dat as hulle harder werk en nooit tou opgooi nie, kan hulle enigeen wat hulle wil wees, wees. Hoe ouer ons word, hoe meer besef ons dat dit nie waar is nie, want elkeen van ons het ‘n unieke stel talente en gawes ontvang. Daarom kan ons nie enigeen wat ons wil wees, wees nie. Dit is ‘n goeie ding, want nou kan jy die man/vrou wees wat God jou geroep het om te wees.

 

  1. Jou optrede raak niemand anders nie

Niemand leef op ‘n eiland nie. Sonde het gevolge wat verder as die individu strek. Jou optrede raak beslis ander mense – miskien nie nou nie, maar uiteindelik sal dit gebeur.

 

  1. Daar is net een pad wat jy kan volg

God het ‘n plan vir jou lewe, maar die idee dat daar net een pas is, is vals. Baie glo dat God net een pad het en om die regte een te kies, hang af van jou vermoë om Hom te soek. Maar wat gebeur nou as jy nie ‘n duidelike antwoord by God kry nie. Het ek dalk nie hard genoeg gebid nie? God se plan vir ons is nie altyd ‘n reguit lyn nie. Daar is afdraaipaaie. Die pad na die finale bestemming kan op meer as een manier bereik word. God wil hê dat jy Hom met jou hele hart soek. As jy by ‘n vurk in die pad kom, bid jy tot God om duidelikheid. As jy nie ‘n duidelike antwoord kry nie, kies een. Moenie bekommerd wees of dit die regte pad is nie. As jy die Here soek, is daar geen verkeerde pad nie.

 

  1. Individualisme is die regte pad om te loop

“If there is one defining quality of the West, it is individualism.” (Richard Koch). Waar. Individualisme sê dat ons nie van ander afhanklik behoort te wees nie – jy moet vir jouself sorg. Ons kry dit selfs in die kerk – mense frons as jy van ander afhanklik is. God het vir jou ‘n brein gegee en jy moet dit gebruik. Ongelukkig verwar ons dikwels geloof in God met geloof in onsself. Nee, ons moet tussen die twee kies, en jy kan nie beide kies nie.

 

  1. As jy nie besig is nie, is jy net lui

Ons wêreld is vol uitgeputte mense. Angs en terneergedruktheid is algemeen. Deels is dit die gevolg van ‘n kultuur wat vir ons sê dat as jy nie elke minuut besig is nie, is jy lui en onproduktief. Vir Jesus was die Sabbat en onttrekking integraal in sy bediening. Wat ons by Jesus leer, is dat produktiwiteit afhanklik is van ‘n konstante ritme van betrokke wees en onttrek. Ons het nie besiger mense nodig nie, maar mense wat meer produktief is. Ons het meer mense wat Jesus se voorbeeld volg nodig.

 




God se A-lys

 

“I do not at all understand the mystery of grace—only that it meets us where we are are but does not leave us where it found us.” —Anne Lamott

 

 

 

God se A-lys

Die Fariseërs in Jesus se tyd het kategorieë gehad wat duidelik onderskei het tussen diegene wat “in” en diegene wat “uit” was. Die A-lys bestaan uit mense wat bewonder word en wie se sosiale status ons begeer. Dit was die mense wat jy graag op jou gastelys wil hê.

 

God verwelkom mense wat in ons oë nie eers op die Z-lys hoort nie. Maar wie is op God se gastelys? As jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes (Lukas 14:13). Hy keer die skaal waarop bepaal word wie “in” en wie “uit” is, om. Hy nooi mense na sy tafel wat Hom nooit sou kon vergoed nie – Hy het immers sy lewe vir hulle gegee. Mense wat vroeër as buitestaanders, vreemdelinge behandel is word nou as lede van jou familie ontvang.

 

Ons status en prestige word in die wêreld bepaal deur ander te evalueer, deur die sosiale leer te klim of deur te keer dat ander nie hierdie leer klim nie. In God se koninkryk word ons posisie deur God en nie deur ander mense bepaal nie. Dit bevry ons van die dolle geskarrel na erkenning deur mense. Albert Schweizer sê dat ons nie altyd ons eie saak hoef te bevorder nie, ons hoef nie altyd bo uit te kom nie, ons hoef nie ander te beïndruk nie, ons hoef ons nie altyd met ander te vergelyk nie; dit laat ons toe om vrygewig te wees

 

Hierdie waarheid bevry ons ook van skaamte. Skaamte is wanneer my evaluasie van myself nie deur ander gedeel word nie. Jesus se dissipels hoef nie deel van hierdie geskarrel vir eer te wees nie, want hulle weet wie hulle in God se oë is.

 

 




Herdink die hemel

 

“Humanism was not wrong in thinking that truth, beauty, liberty and equality are of infinite value, but in thinking man can get them himself without grace.” —Simone Weil

 

Herdink die hemel

Vir eeue dink baie mense in die kerk dat dit wat nog in die toekoms gaan gebeur uit twee dinge bestaan:

  1. Jesus gaan ons opneem om saam met Hom in die hemel te wees. Dit sou dan ons nuwe verhouding met God voltooi.
  2. Jesus gaan weer terugkeer. Gewoonlik kom Hy, nie om hier te bly en die wêreld te verander nie, maar om sy mense op te neem na die hemel.

 

Verstaan ons egter wat in die verlede gebeur het (die gebeure aangaande Jesus), besef ons dat die toekoms iets te doen het met die bymekaarkom van die hemel en die aarde – iets te doen met die vernuwing en herstel van die skepping. Die Bybel sê relatief min van wat met mense gebeur onmiddellik na hulle doodgaan. Die Bybel is egter baie geïnteresserd in wat uiteindelik gebeur. Die goeie nuus gaan oor die verlossing en hernuwing van die hele skepping.

 

Openbaring 21 en 22 gaan nie oor verloste siele wat hemel toe gaan nie, maar oor die nuwe Jerusalem wat uit die hemel na die aarde kom en so die nuwe hemel en aarde skep. Dit is een en dieselfde plek. As Jesus terugkom gaan Hy die hele wêreld verander en dit met vreugde, geregtigheid en liefde vul. Lees net Jesaja 11:1 – 10 waar die profeet hierdie nuwe wêreld beskrywe. Met Jesus Christus se opstanding het hierdie nuwe skepping begin. God het hierdie wêreld gemaak; Hy het dit lief en Hy gaan dit hernuwe.

 

God wil mense regstel om die wêreld reg te stel. Dit het Jesus Christus ook bereik. God het die mens gemaak om oor die aarde te heers – die mens is God se verteenwoordiger op aarde. Daarom is die mens se opstand teen die Skepper so ‘n ramp – nie net vir die mense nie, maar vir die hele skepping.

 

Die goeie nuus van die toekoms hang af van die goeie nuus van die verlede. Die opstanding van Jesus Christus is die lanseerblad vir God se nuwe wêreld. God se nuwe wêreld het begin en ons kan deel daarvan wees.