Ek wil erken word

 

“Grace is not opposed to effort, it’s opposed to earning.” —Dallas Willard

 

Ek wil erken word

Mense wil graag deur ander erken en bewonder word. Jesus se dissipels is nie immuun teen hierdie neiging nie – hulle stry oor die beste posisies (Luas 9:46 – 48). Ons kry dit ook in Paulus se gemeentes: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Filippense 2:3); Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges (Romeine 12:16).

 

Hierdie beheptheid met eer kry ons deur die eeue en in alle kulture. Maar God se evaluereing van ons niche in sy koninkryk  stem nie ooreen met ons eie evaluering van ons waarde nie.

 

Die gelykenis oor beskeidenheid en gasvryheid (Lukas 14:7 – 14) verwerp ‘n sisteem van dominansie geskep deur sosiale en godsdienstige instellings. Lukas se ideaal is dat verhoudings in die geloofsgemeenskap deur gelykheid gedefinieer moet word. Jesus verwerp ook diegene wat die sosiale leer klim en sosiale stratifikasie – iets wat baie algemeen in die antieke wêreld was.

Nature has made us … enthusiastic seekers after honour, and once we have caught, as it were, some glimpse of its radiance, there is nothing we are not prepared to bear and go through in order to secure it – Cicero.

Die aanvaarde gesindheid van gelowiges is egter een van nederigheid – in hulle verhouding met God, in hulle diens aan die behoeftiges en in hulle verhouding met ander.

 




Goeie raad en nie goeie nuus nie

 

Grace, like water, flows to the lowest part.” —Philip Yancey

 

Goeie raad en nie goeie nuus nie

Volgens N. T. Wright (Simply Good News) het die goeie nuus subtiel na goeie raad/advies verander – so moet jy leef; so moet jy bid … Dit is almal tegnieke wat jou moet help om ‘n beter Christen/mens/eggenote ens te word. Bid hierdie gebed en jy sal verlos word – jy gaan hemel toe en nie hel toe nie. Dit is raad en nie nuus nie.

 

Die doel van raad is om jou te oorreed om iets te doen om ‘n verlangde resultaat te verkry. Natuurlik is daar niks met goeie raad verkeerd nie – ons almal het dit nodig. Maar dit is nie dieselfde as nuus nie. Nuus is ‘n aankondiging dat iets betekenisvol gebeur het.

 

Ander mense vertel wel nuus, maar dit is ‘n ander storie van wat die Nuwe Testamentiese skrywers bedoel het met goeie nuus. Ja, die goeie nuus is inderdaad oor Jesus Christus en oor sy dood en opstanding. Dit open wel ‘n visie van ‘n toekoms anderkant die dood. Maar die kerk het die storie verkeerd, want hulle het van die agtergrondstorie vergeet. Dit beïnvloed alles: Hoe ons ons verhouding met God, ons toekoms, ons verantwoordelikheid as kerk en dissipels en nog baie meer verstaan. Hierdie agtergrondstorie kry ons in die Ou Testament.

 

Hoe kan iets wat 2000 jaar gelede gebeur het nou nuus wees? Ons kan dit net binne die konteks van die groter/vroeëre storie verstaan. Dan besef ons dit is nie net nuus nie, maar inderdaad goeie nuus.

 

 




Wat is nuus?

 

“Without a heart transformed by the grace of Christ, we just continue to manage external and internal darkness.” —Matt Chandler

 

Wat is nuus?

[Ek maak veral van N. T. Wright se boek Simply Good News gebruik.]

In sy vroegste vorm is die Christelike geloof as goeie nuus aangebied – dit is immers die betekenis van die woord evangelie [Grieks: eu – goed + angelion – boodskap HAT]. Maar vandag sien mense nie meer die Christelike geloof as nuus nie – allermins nie goeie nuus nie. Ons verstaan nie meer die betekenis van hierdie feit nie.

 

Dit is tyd dat ons weer vir onsself afvra: Wat is die goeie nuus wat Jesus self aangekondig het – dit wat Hy vir sy volgelinge beveel het om verder te verkondig?

 

Ons aanvaar ons weet wat evangelie beteken en wat dit behels. Ons let nie meer op die betekenis van waarom die Christelike geloof na ons kom as die aankondiging van die beste moontlik nuus nie. Tog het Jesus Christus en die vroeë Christene die evangelie as sulke goeie nuus gesien dat dit so wyd as moontlik verkondig moes word.

 

Wat word met goeie nuus bedoel?

  • Dit is ‘n nuwe en onverwagte ontwikkeling in ‘n veel langer storie. Dit maak sin in daardie langer storie. As ons nie die agtergrondstorie ken nie, kan ons nie verstaan waarom die aankondiging goeie nuus is nie. In hierdie geval kry ons die agtergrondstorie in die Ou Testament.
  • Dit is nuus van wat gebeur het en alles nou anders maak. Dit is nuus wat betekenis het, impak maak en gevolge het wat lewens verander.
  • Daar is ‘n interim tydperk van wag tussen die aankondiging van die goeie nuus en die vervulling daarvan.

 

Hierdie nuwe gebeurtenis word in ‘n ou storie geplaas en wys na ‘n wonderlike toekoms wat tot dusver buite ons bereik was. Dit lei ‘n nuwe tydperk in – in plaas van ‘n uitsiglose lewe wag mense nou met afwagting op dit wat hulle weet op pad is. Dit is die Christelike goeie nuus. Die evangelie van Jesus Chrisus kom as nuus in ‘n groter storie; dit wys na ‘n wonderlike nuwe toekoms; dit lei ‘n tydperk van wag in waartydens ons verwagtings verander word.

 




My rol in dissipelskap

 

“In the New Testament, grace means God’s love in action toward men who merited the opposite of love. Grace means God moving heaven and earth to save sinners who could not lift a finger to save themselves.” —J.I. Packer

 

My rol in dissipelskap

God kon sekerlik op sy eie mense lei tot geestelike volwassenheid, maar Hy het besluit om ons deel van die proses te maak. Ed Stetzer skryf hieroor.

 

Die eerste vraag wat hy vra, is: Hoekom is dissipelskap so skaars? Ons is geroep om dissipels te maak, maar daar is ‘n dissipelskaptekort in meeste van ons gemeentes. Leiers vra: Wat moet ons doen? Hoe moet ons dit doen? Hulle wil weet hoe hulle die tekort kan hanteer. Op die Internet is daar talle modelle beskikbaar – sommige is goed en ander nie. In die Bybel kry ons vier beginsels vir dissipelskap:

  • Volwassenheid is die doel vir dissipels.
  • God wil hê dat jy en jou gemeente ‘n duidelike pad vir geestelike groei moet hê.
  • God kry ons betrokke in ons eie en in die gemeente se groei.
  • God roep jou en jou gemeente om geestelike leiers te wees.

 

Waar begin ons? Net God kan waarlik iets laat groei; God het nie iemand nodig om iets vir Hom te doen nie. Ons kan onsself nie laat groei nie; ons kan nie die gemeente laat groei nie: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou (Matteus 16:18).  In 1 Korintiërs 3:7 sê Paulus dat hy en Apollos kan plant en natgooi, maar net God kan laat groei.

 

Maar hoe kan een van die beginsels vir dissipelskap dan wees dat God ons by ons eie geestelike groei en dié van die gemeente betrokke maak? Omdat God ons kies om betrokke te wees en dit maak ons betrokkenheid belangrik.

 

Hoekom kry God ons betrokke? God gee aan ons werk, nie omdat Hy hulp nodig het nie, maar omdat ons moet ontwikkel. Hy het die mens na sy beeld gemaak en Hy wil hê dat ons by Hom in sy werk aansluit sodat Hy ons meer na sy beeld kan vorm. As ons in Christus ‘n nuwe skepping word, word ons vir diens opgeroep. Ons verplaas nie vir Christus nie, maar ons sluit by Hom aan in sy verlossingsplan. Soos sy dissipels Hom gevolg het, het Hy hulle geleer. Hy gee aan hulle opdrag om uit te gaan, deernis te bewys, ander te leer en selfs wondertekens te doen.

 

Maar hoe betrek God my in my groei? As ek my aan God se wil oorgegee het, is my gesindheid een wat doelgerigte geestelike verandering aanvaar. As ons ons aan Hom onderwerp, betrek Hy ons by werk wat ons nooit op ons eie kan doen nie. Ons onderwerping open die deur vir geleenthede. Julle was altyd gehoorsaam as ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Filippense 2:12 – 13).

 

Diegene wat God gehoorsaam, word metteryd meer volwasse. Langsaam lei Hy ons in ‘n dieper ondervinding – die reis van die geloof. Ons groei soos ons wandel; ons groei deur dieBybel te lees, te bid en op die geestelike dissiplines te fokus.

 

Hoe betrek God ons in die groei van ander? Dissipelskap is nie net ‘n solo poging nie. Die vereis persoonlike optrede en betrokkenheid by geestelike dissiplines. Dissipelskap word beste in ‘n gemeenskap gedoen. God het verskillende gawes aan die kerk gegee; elkeen het iets om aan te bied en om dit aan te bied, is deel van hulle groei.

 

Daar is nie “lone ranger” Christene nie. Ons is vir en aan mekaar verantwoordelik. Die gawe wat jy van God ontvang het, moet jy met ander deel. Daarom is ons verantwoordelik vir dissipelskap – my eie en dié van ander.

 

Jesus het sy dissipels opdrag gege om dissipels te maak, hulle te doop en hulle te leer. Dit is ook ons opdrag.