Pornografie

 

When a man truly sees himself, he knows nobody can say anything about him that is too bad. ―D. Martyn Lloyd-Jones

 

Pornografie

Hier het ons ‘n industrie wat biljoene rande werd is. Statistiek wys dat 70% van mans tussen die ouderdomme van 18 – 24 jaar ten minste een maal per week na pornografie kyk. Hoe hanteer ons hierdie verslawing? In 1 Korintiërs 5 – 7 kry ons sekere riglyne.

 

Seksuele sondes was algemeen in die gemeente in Korinte. Ons lees selfs van ‘n man wat met sy stiefma as man en vrou saamgeleef het (5:1) – iets wat veroordeel word in die Ou Testament (Levitikus 18:18 en ander). Skokkend: En dan verbeel julle julle nog julle is beter as ander. Moes julle nie liewer daaroor getreur het nie? (5:2).

 

Paulus hanteer die probleem deur sekere teologiese waarhede wat, indien dit aanvaar word, alle seksuele onsedelikheid uit ons harte sal dryf. Sewe maal skryf hy weet julle nie (5:6; 6:2, 3, 9, 15, 16, 19). Paulus aanvaar hulle behoort dit wat hy nou vir hulle gaan sê reeds te weet. Hy glo ook dat die kennis hulle sal vorm.

 

  • Vlug weg van onsedelikheid. Moenie dit net vermy nie – vlug weg. Onsedelikheid tref die wese van die mens: Elke ander sonde wat ‘n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam (6:18). In Genesis 39 lees ons van Josef wat letterlik van Potifar se vrou weggevlug het toe sy hom probeer verlei het.
  • Verheerlik God met jou liggaam. In die Ou Testament was die tempel die plek waar God verheerlik was en waar sy Naam geheilig is. Gelowiges het nou die tempel verplaas.

 

Paulus se oplossing is tweeledig:

  • Vlug weg van onsedelikheid: Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie (6:18).
  • Julle moet God dus in julle liggame verheerlik (6:20).

 

Paulus gee sewe riglyne wat ons sal bemagtig om hierdie opdragte te gehoorsaam:

  1. Om onsedelikheid in die kerk te verdra is soos suurdeeg: Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? (5:6 – 8).
  2. Gelowiges weet dat hulle sonde afgewas, hulle geheilig en vrygespreek is in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God (6:11).
  3. ‘n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is (6:12 – 14).
  4. Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou ‘n deel van Christus neem en dit ‘n deel van ‘n ontugtige vrou maak? (6:15).
  5. Maar wie hom met die die Here verenig, is geestelik een met Hom (6:17).
  6. Diegene wat seksueel onsedelik is, sal geen deel aan die koninkryk van God kry nie (6:9 – 10).
  7. Ons liggame is ‘n tempel van die Heilige Gees. Daarom behoort ons nie aan onsself nie en moet ons wegvlug van onsedelikheid (6:19 – 20).

 

Dit is ons ammunisie. Gebruik dit om sonde te beveg. Volg nou die opdragte wat hierdie kennis jou in staat stel om te gehoorsaam




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(10) – Hennie Stander

Mediese werkers

God het belowe dat die Jode goeie gesondheid sal geniet solank as wat hulle die wette van God gehoorsaam (Eksodus 15:26). Daar is etlike gesondheids­wette aan hulle gegee wat voorskrifte ingesluit het oor sake soos gereelde rus en ontspanning, die eet van geskikte kos, die vermyding van besoedelde water, seksuele aangeleenthede, die nakoming van higiëniese voorskrifte, die vermyding van mense met aansteeklike siektes, ens. Hierdie wette op sigself sou verseker dat, indien hulle nagekom word, ‘n hoë standaard van gesond­heidstoestand gehandhaaf sou kon word. Indien die wette nie gehoorsaam word nie, sou siektes volg (Deuteronomium 28:58-61). Die Israeliete het God as die groot Geneesheer beskou. Iemand wat siek was en horn nie tot God gewend het nie, is skerp gekritiseer. So word dit van Koning Asa gesê dat toe by ‘n uiters ernstige siekte aan sy voete opgedoen het, by selfs in die siekte nie die Here geraadpleeg het nie, maar wel die dokters (2 Kronieke 16:12). Die korrekte optrede tydens siekte was om tot God te bid (Numeri 21:7; 2 Konings 20; 2 Kronieke 6:28-30; Psalm 6; 107:17-21).

Maar daar was ‘n ander houding in ander lande. In Egipte en in Babilonië is siekte toegeskryf aan die werkinge van bose geeste en dokters is geraadpleeg om dit teen te werk. Alhoewel mediese werksaamhede dikwels baie ooreenkomste getoon het met magiese kunste, het hulle tog ook chirurgie beoefen en medisyne ontwikkel. Daar was selfs wette wat die. werk van dokters beheer het. Die Hammoerabi Wetskode bepaal dat indien ‘n mens op iemand anders se .oog opereer het met behulp van ‘n koperlanset, en daardie persoon het sy oog verloor, dan moes die dokter se oog ook met ‘n koperlanset vernietig word.

Die Egiptenare was baie bedrewe met breinchirurgie. Hulle het gate in die kopbeen geboor “om die bose geeste te laat uitkom”, maar deur dit te doen het hulle die drukking op die brein verminder wat soms wel tot genesing gelei het. Dit is ook in Lakis gedoen. Verder het die Egiptenare tandheel­kunde beoefen en sommige van die Fenisiërs het goue tande gehad.

dokter

‘n Romeinse chirurg versorg ‘n wond. Kyk na al sy instrumente, wat onder andere ook ‘n klein sagie insluit

Ten spyte van die teologiese sienings van die Jode, het die houding van die omringende nasies tog ‘n invloed op hulle gehad. Op die alledaagse vlak van die lewe lyk dit of die mense amulette (d. w. s “towerkragtige voorwerpe”) gedra het om die bose geeste af te weer. Soos Koning Asa het hulle ook die dokters besoek. Op Hiskia se sweer is ‘n vyekoek gesit omdat daar geglo is dat dit genesende krag besit het (2 Konings 20:7). Teen die tyd dat die Boek Job geskryf is, het die sieninge van. die Jode at baie verander. Reëlreg in stryd met die algemene siening van daardie tyd, spel die Boek Job dit duidelik uit dat Job se siekte nie die gevolg van sonde was nie. Volgens. die Apokriewe geskrif Jesus Sirag, wat uit die tweede eeu v. C. dateer, gee God, alhoewel Hy die heler is, gawes van genesing aan die mense. Die mense het ook van mediese hulp gebruik gemaak: Jesaja het gesê dat-Juda se “wonde” (d.w.s. toestand’) skoongemaak, verbind en met salf behandel moes word (Jesaja.1:6); wyn-wat-met gal gemeng is, is as ‘n pynstiller gebruik (Matteus 27:34); daar is geglo dat-die gebruik -van liefdesappels n vrou vrugbaar kon maak (Genesis 30); voorts het daar regdeur die Bybelse tyd talle vroedvroue opgetree (Eksodus-1:15; vgl ook Esegiël 16:4).

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Hoe verskil die moderne kerk van die vroeë kerk?

 

“It is not he who reads most, but he who meditates most, that will prove the choicest, sweetest, wisest, and strong Christian.” – Thomas Brooks

 

Hoe verskil die moderne kerk van die vroeë kerk?

Ons hoor dikwels Christene wat sê dat ons meer soos die vroeë kerk moet wees. Preston Sprinkle sê dat baie van ons ontnugter sal wees, want die vroeë kerk het waardes nagestreef wat radikaal van ons waardes verskil. Kom ons kyk na ‘n paar sulke waardes.

 

  1. Die familie

Een van hierdie waardes is hulle siening van die kerk as ‘n familie. Maar ons moenie na hierdie beeld deur die lens van ons huidige families kyk nie – families waar die grootouers in ouetehuise geplaas word en stout kinders as uitgeworpenes hanteer word.

 

In die eerste eeu het die familie ver buite die kernfamilie gestrek. Hulle is bymekaar gehou deur ‘n onvoorwaardelike band van toewyding en diens. Jy hoef nie van jou familie te hou nie, maar jy moes hulle liefgehad het. Vir Jesus en Paulus sluit familie mense van alle rasse en sosiale strata in.

 

  1. Hoe ons ons geld spandeer

Baie gemeentes spandeer hulle geld op salarisse, geboue, ens. En barmhartigheid? Waarskynlik so ‘n 1 of 2% word gespandeer om mense in nood te help. Nog sowat 5 – 10% word aan behoeftes buite die gemeente gespandeer – wat ook die armes mag help. Nêrens in die Nuwe Testament lees ons van geld gebruik vir ‘n gebou nie en baie selde word geld vir salarisse gebruik. As die Nuwe Testament van gee praat, verwys dit gewoonlik na die herverspreiding van geld na die armes – gewoonlik arm gelowiges.

 

  1. Hoe ons oor mag dink

Militarisme is die begeerte dat ‘n land ‘n sterk militêre vermoë moet besit en bereid moet wees om sy nasionale belange aggressief te beskerm. Wat het dit nou met die kerk te doen? Die militêre geskiedkundige, Andrew Bacevich sê: “Were it not for the support offered by several tens of millions of evangelicals, militarism in this deeply and genuinely religious country becomes inconceivable.” Die vroeë Christene was nooit beïndruk met die mag van die Romeinse weermag nie – hulle hou vas aan die kruis waar die bose deur lyding en liefde en nie deur swaarde en spiese oorwin word. Die vers wat hulle dikwels aangehaal het, was Jesus se opdrag dat ons ons vyande moet liefhê. Vandag het ons hierdie opdrag onder ‘n aantal voorwaardes begrawe – ons kan tog nie al ons vyande liefhê nie. Ons verkies geregtigheid bo genade. Vir die vroeë Christene was trou aan God se koninkryk belangriker as trou aan die Romeinse Ryk.

 

  1. Hoe ons die Bybel bestudeer

Die vroeë kerk het groot waarde aan die korporatiewe bestudering van die Bybel geheg. Vandag besit baie Christene meer as een Bybel. Die vroeë kerk het Jesus se stelling dat ‘n mens nie van brood alleen kan leef nie, maar van elke woord wat uit die Here se mond kom, uitgeleef. Baie Christene vandag is Bybels ongeletterd – ten spyte van al hulle Bybels. Die vroeë Christene het God se woord soos ‘n spons opgeneem. Elke nuwe bekeerling het hulle eerste drie jaar as gelowiges gebruik om die hele Bybel te bestudeer. Dit was nie ‘n opsie nie. Baie van die vroeë Christene kon nie lees nie, maar hulle het die Bybel geken deur na die gesamentlike lees en onderrig van God se woord te luister. Hulle sou ons moderne mense nie kon verstaan nie: ons besit en lees God se woord … en verwaarloos dit.

 

As ons werklik na die vroeë kerk wou terugkeer, sou ons radikale veranderinge in ons geloofslewe moes aanbring.

 




Gesonde gemeentes

 

We are not primarily called to do something or go somewhere; we are called to Someone. —Os Guinness

 

Gesonde gemeentes

Ons doel is ‘n gesonde gemeente. Daar is baie beskrywings van hoe ‘n gesonde gemeente lyk. ‘n Vraag wat ons moet vra, is: Is ons ‘n vrygewige gemeente? Die vraag is wat doen ‘n gemeente met wat aan hom gegee is. Sommige gemeentes fokus op dit wat hulle kan spaar en bymekaarmaak; ander kyk weer watter verskil hulle aan die koninkryk van God kan maak met die hulpbronne wat God voorsien het. Ons moet bly wees as ons in staat is om ons hulpbronne op iets anders as onsself te spandeer.

 

Wat gee ‘n vrygewige gemeente?

  1. Liefde

So ‘n gemeente vertolk Matteus 5:43 – 45 letterlik: Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. ‘n Vrygewige gemeente soek diegene wat God se liefde op praktiese maniere moet sien en ontvang. Hulle vra voortdurend: Wie kan ons help? Aan wie kan ons kos gee? ‘n Vrygewige gemeente het almal lief al weet hulle dat sekere mense, selfs gemeentelede, nie daarvan sal hou nie.

 

  1. Vriendskap

‘n Vrygewige gemeente ryk uit na diegene wat ‘n vriend nodig het. Hulle wil graag soos Jesus wees wat openlik daarvan aangekla is dat Hy ‘n vriend van sondaars was. ‘n Vrygewige gemeente vra: Wie het ‘n vriend nodig? Hoe kan ek ‘n vriend word vir diegene wat ander ignoreer?

 

  1. Vergifnis

‘n Vrygewige gemeente is vergewe en daarom beoefen hulle vergifnis teenoor ander. Hulle wil hê dat almal God se vergifnis sal ondervind. Hulle wil die boodskap van die evangelie van Jesus Christus verkondig. Hierdie boodskap is ‘n boodskap van vergifnis en herstelde verhoudings.

 

‘n Gesonde gemeente is ‘n vrygewige gemeente. Maar as ons dink aan vrygewigheid dink ons aan geld. Daar is meer om te gee as net geld.