Verborge dissipelskap


“Darkness cannot drive out darkness; only light can do that. Hate cannot drive out hate; only love can do that.”
Martin Luther King, Jr

 

Verborge dissipelskap

Jesus roep sy dissipels een kant toe en sê vir hulle: “Neem julle dissipelskap handboek en berei voor vir die les.” Dit sal jy nêrens in die Bybel lees nie. Daar is geen twyfel dat Jesus ‘n dissipelmaker was en dat Hy vir sy dissipels lesse geleer het nie. Toe Hy vir sy dissipels gesê het: “Volg My,” was dit ‘n algemene oproep tot dissipelskap. Maar as dit kom by die dag tot dag onderrig van sy dissipels gebruik Hy ‘n kragtiger metode: verborge dissipelskap.

 

Verborge dissipelskap beteken dat dit nie aangekondig is nie. Sy lesse was nie in ‘n klaskamer nie, maar in die ware lewe. Hy kondig nie aan dat die tema van vandag se les “Jesus voldoen aan al ons behoeftes” is nie. Nee, Hy gebruik ‘n situasie in die werklike lewe waar die massas honger was. Hy betrek sy dissipels in die soeke na ‘n oplossing: Gee julle vir hulle iets om te eet (Matteus 14:13 – 21). Hulle verstaan nie. Hy neem die vyf brode en twee vissies en wys vir hulle dat Hy in hulle behoeftes kan voorsien – daar bly selfs twaalf mandjies vol brood oor.

 

Nog ‘n situasie uit die werklike lewe: Die dissipels is ontsteld – eintlik verontwaardig – dat die mense hulle kindertjies na Jesus toe bring. Nee, Jesus gebruik die situasie om ‘n belangrike les aan hulle oor te dra: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie (Markus 10:15).

 

Jesus laat sy dissipels toe om te sien hoe Hy in die ware lewe bid, die siekes versorg, deernis teenoor die wat seergekry het, bewys en mense wat die samelewing verwerp, liefhet. Dit was eers aan die einde van sy lewe toe Hy vir sy dissipels in die bovertrek onderrig het.

 

Ons het nie ingewikkelde planne nodig om leergeleenthede in die werklike lewe te skep nie – daar is genoeg leergeleenthede in die lewe ingebou. ‘n Doeltreffende dissipel maak sy oë oop, sien die geleenthede raak en gebruik hulle. Maar twee faktore is van belang:

  • Die dissipel moet soos Christus lewe – ‘n voorbeeld – sodat hierdie daaglikse geleenthede deel van sy daaglikse lewe is.
  • Die dissipel moet genoeg tyd spandeer met diegene wat hy lei – een uur per week in ‘n klaskamer gaan nie werk nie.

 

Werk dit? Dit het vir Jesus gewerk. Maar luister maar net na die getuienis van die mense om jou. Vra vir mense: “Wie het die grootste geestelike impak op jou gehad?” Niemand verwys na ‘n klassituasie of ‘n preek nie. Hulle verwys almal na mense wat in hulle lewens belê het en hulle deur situasies in die werklike lewe geleer het.

 




Die Land van die Bybel


“Forgiveness is not an occasional act, it is a constant attitude.”
Martin Luther King, Jr

 

Die Land van die Bybel

Hierdie is ‘n verdere artikel in Mel Lawrentz se reeks oor hoe ons die Bybel moet verstaan. In die vorige artikel het ons gekyk na hoe ons die wet moet verstaan en in die volgende artikel sal ons kyk na hoe ons die profete moet verstaan,

 

Een van die maniere waarop ons weet dat die storie van die Bybel in die werklikheid gewortel is, is dat dit in ‘n werklike plek afspeel. God raak betrokke by werklike mense oor duisende jare in ‘n spesifieke deel van die wêreld. Die Bybel vertel ons van wat in die geskiedenis gebeur het, sodat ons kan verstaan wat in die lewe gebeur.

 

Na die eerste vyf boeke van die Bybel is daar ‘n belangrike oorgang – die Israeliete verower Kanaän. Onder Josua verower hulle die gebeid wat God aan hulle belowe het – ‘n land 300 km lank en 160 km breed. Dit word die verhoog waarop die drama van God se verlossingsplan vir ongeveer 2 000 jaar uitgevoer word – totdat die apostels God se verlossingsplan buite die grense van die land voer.

 

Hoe lyk hierdie goeie land van melk en heuning (Eksodus 3:8)? Vir die Israeliete wat Egipte se slawerny 40 jaar vantevore verlaat het, was dit ‘n seën. Die vlaktes en heuwels was ‘n goeie land vir boere. Hulle plant gars en koning; hulle plant boorde van olywe en vye; hulle versorg hulle wingerde en veekuddes. Daarom was dit maklik om God as die goeie Herder te beskyf (Psalm 23).

 

In die Ou Testament kry ons verbindingspunte tussen land, lewe en teologie. Die drie groot feeste stem ooreen met die begin en einde van oestye. Reën is God se genade; kos op die tafel is God se seën; droogte is ‘n tyd van toetsing. Maar polities was Israel ‘n moeilike land om in te woon. Die omliggende nasies was ‘n voortdurende bedreiging. Die geografie het iets daarmee te doen – ingeperk deur die Middellandse See aan die Weste en die Arabiese woestyn aan die Ooste. Om dinge meer ingewikkeld te maak was die streek aan die noord-ooste – bekend as Mesopotamië – bewoon deur ‘n reeks aggressiewe ryke: Assirië, Babilonië en Persië. Aan die suide lê Egipte. Israel was ‘n nou land tussen see en woestyn tussen die groot moondhede noord en suid. Dit verbaas ‘n mens dat daar wel tye was waar Israel veilig en stabiel was.

 

Van wes na oos is daar vyf streke – ons kan hulle as stroke wat noord-suid verloop voorstel. Eeerstens is daar die kustrook – plat en vrugbaar. Daarom het mense, soos die Filisyne, daaroor baklei. Hier het oorloë met strydwaens dikwels plaasgevind. Net oos daarvan was die lae heuwels wat as die Sefela bekend gestaan het. Hierdie gedeelte was ook vrugbaar – daar was baie olyfboorde en vyebome. Hier het baie van die gevegte beskryf in die boeke Josua en Rigters plaasgevind. Dit is ook waar Dawid vir Goliat oorwin het.

 

Verder oos is die sentrale bergstreek Hierdie is kalksteen heuwels. Beide Jerusalem en Betlehem is op hierdie berge/heuwels geleë. Nog verder oos is die Jordaanvallei. Hierdie vallei is benede seespieël geleë. Net oos daarvan – die Transjordaan –  is ‘n hoë plato. Dit is van hierdie plato dat Moses die beloofde lang gesien het.

 

Hierdie land staan sentraal in God se verbondsbeloftes. Kom ons egter by die nuwe verbond strek God se roeping en beloftes na die mense van die hele wêreld – soos Hy aan Abraham belowe het. In jou sal al die volke van die aarde geseën word (Genesis 12:3).

 

 




Gawes en talente

 

“Take the first step in faith. You don’t have to see the whole staircase, just take the first step.” Martin Luther King, Jr

 

Gawes en talente

Baie van ons ouer mense het ‘n vraelys voltooi om ons gawes vas te stel. Die doel was dat elke lidmaat in die gemeente sy ware bediening kon identifiseer om sodoende Paulus se beskrywing van die liggaam van Christus in 1 Korintiërs te vervul. Die einddoel was doeltreffende bediening en gelukkige lidmate.

 

Die probleem met hierdie benadering was die onsekerhede. Mense kom nie net met gawes en talente nie, maar ook met lewens wat belas is met sonde. ‘n Ander probleem is die definisie van ‘n doeltreffende gemeente. Dit verwys gewoonlik na getalle. Is getalle die manier waarop ons na die liggaam van Christus moet kyk? In die verlede het gemeentes die mense van ‘n spesifieke gebied bedien, maar vandag is gemeentes en verskillende kerke in kompetisie met mekaar.

 

Wat is die “besigheid” van die kerk? Paulus skryf ‘n brief aan die gemeente in Korinte – ‘n gemeente en gemeenskap met baie probleme. In 1 Korintiërs 12 skryf hy vir hulle oor die verskeidenheid van geestelike gawes en die liggaam van Christus met sy baie lede. En dan sê hy: Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is (13:1). Dan volg die hoofstuk oor liefde.

 

Die lewe in die liggaam van Christus word nie op die fondament van gawes en talente gebou nie. As Paulus oor homself as apostel praat sê hy: Sy (Christus) antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:9 – 10). Die wonderlike nuus is dat almal van ons swak kan wees.

 

Maar die moderne kerk/gemeente verwerp hierdie swakheid. Ons leer ons kinders dat almal wonderlik en spesiaal is. Maar as ons dan so spesiaal is, hoekom voel ons so sleg? Ons word nie deur ons gawes en talente gered nie, maar deur ons swakhede, ons gebrokenheid – deur ons skaamte en sonde. Christus verbind Hom nie met ons oor ons so wonderlik is nie: Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (1 Korintiërs 5:21).

 

Die ware etos van die kerk is nie een wat sukses vier of gawes en talente bevorder nie. Nee, dit is die plek waar die evangelie so duidelik verkondig word dat diegene wat swak en gebroke is, weet dat hulle veilig is.

 




Ons aanbid saam


“The gospel at its best deals with the whole man, not only his soul but his body, not only his spiritual well-being, but his material well being as well.”
Martin Luther King, Jr

 

Ons aanbid saam

Gebed is ‘n groot vreugde vir gelowiges. Dit is amper te goed om waar te wees dat in Christus God na ons luister. Die vreugde en voordele word nie tot ons persoonlike gebedslewe beperk nie. Gesamentlike gebed is ook belangrik. Hoekom?

  1. Dit gee krag

As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry (Matteus 18:19). Daar is bykomende krag as medegelowiges  saam versoeke tot ons Vader rig.

 

  1. Vreugde

As ons ons vreugde in gebed deel, vermeerder ons ons vreugde. Maar ons wil medewerkers wees om julle geluk te bevorder (2 Korintiërs 1:24). Ons vermeerder nie alleen ander se vreugde as ons saam bid nie, maar ook ons eie.

 

  1. Verheerliking van God

Ons vermeerderde vreugde in God lei tot ‘n vermeerdering van sy heerlikheid. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ‘n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank (2 Korintiërs 1:11). As ons saam bid, kry ons ander betrokke en dit verheerlik God as Hy ons gebede antwoord.

 

  1. ‘n Vrugbaarder bediening

God wil hê dat ons vir mekaar wil bid. Paulus vra die gemeentes gereeld om vir sy werk te bid: Verder, broers, bid vir ons, sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral in ere gehou mag word soos by julle (2 Tessalonisense 3:1). Natuurlik was Paulus in staat om self vir hierdie dinge te bid – en hy het dit ook gedoen – maar hy verwag meer vrug op sy werk as ander by hom in gebed aansluit.

 

  1. Eenheid onder gelowiges

Om saam te bid, is een van die belangrikste dinge wat ons kan doen om eenheid in die gemeente te bevorder. Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed … (Handelinge 1:14). Om saam te bid is ‘n gevolg van die eenheid wat ons in Christus deel, maar dit lei ook tot ‘n dieper en ryker eenheid.

 

  1. Ons kry antwoorde wat ons andersins nie sou gekry het nie

As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder die aanroeping  van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van die gelowige het ‘n kragtige uitwerking (Jakobus 5:14 – 16). Dikwels bid ons alleen vir ons persoonlike behoeftes en God antwoord ons gebede. Soms verwag hy dat ons as medegelowiges saam moet bid.

 

  1. Leer om in ons gebede te groei

Die beste manier om te leer om te bid, is om saam met ander te bid. Gee aandag aan ander se benadering tot God, die soort dinge waarvoor hulle Hom dank en vra en hoe hulle ander in gedagte hou. Sonder dat ons daarvan bewus is, word ons gebedslewe gevorm.

 

  1. Om mekaar te leer ken

Een van die beste maniere om ‘n medegelowige te leer ken, is deur saam te bid. Dit is in gebed, in die teenwoordighed van God, wat ons veral ons maskers afhaal. Ons hoor ander mense se harte in gebed.

 

  1. Om Jesus beter te ken

Die grootste voordeel van gesamentlike gebed is dat ons Jesus beter leer ken. Ons visie en perspektief is beperk; daar is aspekte van Christus wat ons helderder as ander sien – en ander aspekte wat hulle helderder as ons sien. “By praying with friends, you will be able to hear and see facets of Jesus that you have not yet perceived” (Tim Keller).

 

Hoekom bid ons? Nie om dinge by God te kry nie, maar om God te kry. Dit is genoeg rede om saam met jou medegelowiges te bid.