Die gewone Christelike lewe

 

Every breath in your life is a gift of mercy. —George Swinnock

 

Die gewone Christelike lewe

Paulus en Silas is in Tessalonika. Paulus redeneer met die Jode uit die Skrif. Party van die Jode sit ‘n betoging teen hulle op tou wat die stad in oproer gebring het. Hulle sleep ‘n paar gelowiges voor die stadsbestuur en kla hulle aan: Dit is die mense wat die hele wêreld in beroering bring (Handelinge 17:6). Ons as gelowiges moet ook die hele wêreld in beroering bring. Maar as ons dit hoor, dink ons aan radikale optrede.

 

Tony Merida (Ordinary: How to Turn the World Upside Down) sê dat bediening meestal gewone mense wat gewone dinge vanuit ‘n evangelie perspektief doen, is. Dit gaan nie net oor “super Christene” nie. Dit gaan oor gelowiges wat omgee oor dieselfde dinge waarvoor God omgee. Uit die boek Job identifiseer hy vier kategorieë wat die kern van ons getuienis moet wees.

 

  1. Jy moet jou naaste liefhê

Die vraag is nie hoe beroemd jy is nie, maar hoeveel jy vir die mense om jou omgee. Dit beteken nie net dat ons barmhartigheid moet bewys nie, want die evangelie is ‘n aankondiging. Gewone Christene het hulle naaste lief deur werke van barmhartigheid terwyl hulle die evangelie met hulle deel.

 

  1. Wees gasvry

Hoe kan ek betrokke wees by die gemeente? Dien op komitees, gaan op uitreikaksies, ens. Mag so wees of dit kan net eenvoudig wees: eet met baie mense hierdie week. Sending is nie altyd iets radikaal nie – dit mag soos ‘n braaivleis of soos inkopies vir jou buurman lyk. Gewone Christene maak soos Jesus vriende met tollenaars en sondaars (Matteus 11:19).

 

  1. Sorg vir die kwesbares

Ons Vader gee om vir die kwesbares, die weduwees en wese, want Hy gee om vir elkeen wat na sy beeld gemaak is. Om die beelddraer te versorg, beteken dat ons die Skepper verheerlik. Dit is belangrik, want God is die Vader van hullewat geen vader het nie.

 

 

  1. Gee jou stem vir diegene wat nie ‘n stem het nie

Tree op as hulle advokaat. Gewone Christene moet hulle Godgegewe invloed gebruik om namens diegene wat nie ‘n stem het nie, te praat.

 

Miskien moet ons weer dink oor wat die beteken om die wêreld in beroering te bring. Miskien is dit nie nodig om Ebola in Wes-Afrika te gaan beveg nie – dit mag wees wat Jesus van jou verwag. Of Jesus kan van jou verwag om die enkelmoeder vir ete oor te nooi of om ‘n kind aan te neem.

 

Om radikaal vir Jesus te lewe, mag dalk nie so radikaal lyk nie. Miskien sal jy nooit erkenning vir jou gewone Christelike lewe kry nie. Dit is reg, want die gewone Christelike lewe gaan oor die heerlikheid van God se Naam – nie myne nie.

 

 

 




Lig teenoor duisternis

 

The Bible is very easy to understand. But we Christians are a bunch of scheming swindlers. We pretend to be unable to understand it because we know very well that the minute we understand, we are obliged to act accordingly – Soren Kierkegaard

 

Lig teenoor duisternis

In Lukas 11:33 – 36 lees ons van die lig van die liggaam. Die implikasie van wat ons hier lees, is dat daar geen natuurlike, innerlike lig in die mens is nie. Lig kom van God alleen; die duisternis kom van Satan. Mense kan nie die duisternis op hulle eie verdryf nie – hulle het ‘n uitwendige, Goddelike bron van krag en lig nodig om die duisternis uit te dryf. Die donkerte kan so dig wees dat mense blind is vir die lig. Die mens moet iets doen voor hy blind word vir die lig: hy moet die lig verwerp. Doen jy dit, gee jy jouself aan die donkerte oor. Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is (2 Korintiërs 4:4). Paulus gaan verder: God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal (4:6).

Ons glo dikwels dat ons godsdiens ‘n soeke in die donkerte is. God word dan gesien as iemand om te ontdek. Maar: Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende  omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het – dit is dus nie meer ‘n soeke in die donker nie. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies (Johannes 15 – 16) – God is nie iemand wat wag dat ons Hom ontdek nie. Hy het ons uitgekies.

 

 

 




‘n Vars begin


The tyrant dies and his rule is over, the martyr dies and his rule begins –
Soren Kierkegaard
‘n Vars begin

Almal kan dink aan ‘n paar dinge wat hy voel hy beter kon gedoen het in die verlede en aan dinge waaraan hy aandag gaan gee in die toekoms. Een van hierdie dinge is ons verhouding met die Here.

Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is (Filippense 3:13).

 

Maak nie saak of jou verlede goed of sleg was nie, God het iets nuut beplan vir jou in die jare wat voorlê:

Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring (Jesaja 43:18 – 19).

 

Hoe kan ons hierdie vars begin maak?

  1. Vergewe jou mislukkings

So ver as die ooste van die weste is, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons af (Psalm 103:12).

Hoekom klou ons so vas aan dit wat ons verkeerd gedoen het of waar ons misluk het as die Bybel herhaaldelik sê dat ons sondes vergewe is en nie teen ons gehou sal word nie? Ons sal nooit vorentoe kan beweeg so lank as wat ons terugkyk nie. Natuurlik gaan ons foute maak, maar God is gereed om ons te herstel. As ons sondig, moet ons ons mislukkings teenoor God erken, sy vergifnis aanvaar en onsself vergewe en in geloof vorentoe beweeg.

 

  1. Herfokus jou denke

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8).

Alle gedrag begin by ons denke. As ons wil hê dat ons gedrag moet verander, moet ons by ons gedagtes begin. Die Bybel praat van ‘n vernuwing van ons denke (Romeine 12:2). Ons moet ons gedagtes met sy waarheid versadig as ons werklik verandering wil sien.

 

  1. Vestig die regte doelwit

Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Korintiërs 2:2).

Ons begin elke jaar met goeie bedoelings, maar na ‘n tydjie koel ons af. Hoekom? Ons begin fokus op die “wat” en nie die “hoekom” nie. As ons sê dat ons meer tyd aan Bybellees wil spandeer, word dit ons fokus en ons word gou moeg. Ons fokus moet wees om God beter te leer ken. Nou word Bybellees ‘n instrument om ons verhouding met Hom te verdiep.

 

  1. Gryp elke geleentheid aan

Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen (Efesiërs 5:15 – 17).

Die lewe is vol afleidings. Dit is baie maklik om dinge uit te stel. Die probleem is dat as van daardie geleenthede wat ons uitstel verby is hulle net nie weer sal kom nie. Wees bewus van die geleenthede wat God stuur en loop saam met Hom.

 

  1. Bly in Hom

Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige (Sagaria 4:6).

Ons probeer so dikwels ons lewens in ons eie krag verander. Ons kan sekerlik ‘n paar klein uitwendige veranderinge maak, maar langtermyn veranderinge wat geestelik van waarde is, groei net as dit gebou word op die fondament van liefde en toewyding aan die Here. Ware verandering is die werk van die Heilige Gees; die beginpunt is ‘n hart wat verander het.

Rig julle gedagtes  op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie (Kolossense 3:2).

 

Dit is nooit te laat om vars te begin nie. Probeer hierdie paar eenvoudige riglyne.

 

 




Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar

 

You cannot shake hands with a clenched fist. – Indira Gandhi, Eerste Minister van Indië

 

Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar

Ons hoor dikwels mense sê dat hulle nie godsdienstig is nie, maar wel geestelik. Verstaan hulle werklik wat dit beteken? Die gevolg is dat baie mense vir hulleself definieer wat geestelik is. In die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar definieer Jesus vir ons vals en ware geestelikheid.

 

Hoekom vertel Jesus hierdie gelykenis?

Met die oog op die mense wat seker was dat hulle saak met God reg is en wat op ander neergesien het (Lukas 18:9).

Die probleem is duidelik: Daar was mense by Jesus wat geglo het dat hulle saak met God reg is in en deur hulleself. Hulle het met ander woorde hulle eie standaarde vir geregtigheid bepaal en daarom op ander neergesien. Hulle het nie eintlik ander mense liefgehad nie, want hulle het nie eintlik vir God liefgehad nie.

 

In verse 10 – 13 kry ons die gelykenis. Jesus vergelyk hier die Fariseër en die tollenaar. Hy stel hulle aan ons bekend:

Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid (18:10).

Hulle was dus beide oënskynlik besig met ‘n geestelike aktiwiteit. Dit sou Jesus se luisteraars verbaas het, want die tollenaars  is nie as godsdienstige mense beskou nie. Hulle is beskou as geldgierig en skelm.

 

Jesus gaan nou voort om te wys dat die Fariseër in werklikheid geestelik vals was en die tollenaar geestelik opreg was. Kom ons kyk na hierdie kontras wat Jesus skilder.

 

  1. Twee indikatore van vals geestelikheid

Ons kry dit in Jesus se beskrywing van die Fariseër in verse 11 – 12:

  • Vertroue op jou eie vermoë om uiterlik te voldoen aan al die godsdienstige vereistes.

In vers 9 het Lukas reeds gesê dat die Fariseërs seker was dat hulle saak met God reg was. Hierdie vertroue sien ons duidelik uit die manier waarop die Fariseër praat – oor homself en oor sy eie optrede: Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie … Ek vas twee keer in die week … Ek gee ‘n tiende van my hele inkomste. Jesus sê dat hierdie nie eintlik ‘n gebed is nie, maar eintlik ‘n ophemeling van homself. Jesus sê dat die Fariseër by homself gebid het. Hy probeer vroom lyk, maar hy praat met homself oor homself. Nêrens bely hy sy sonde nie – hy is nie eers bewus daarvan nie.

 

  • Jy beoordeel jou geestelikheid deur dit te vergelyk met die oënskynlike gebrek aan geestelikheid in iemand anders.

Ons het reeds gesien dat hy op ander neergesien het. Hy gee voor dat hy aan God die heerlikheid gee, maar hy sê: Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie.

 

Ons moet onsself ondersoek om vas te stel dat ons nie soos die Fariseër is nie. Hoe dikwels sê ek “ek” as ek van die goeie dinge in my lewe praat? Ons sê dikwels dinge wat vir ander mense geestelik klink, maar of ons dit bedoel of nie, is die ware toets vir geestelikheid.

 

  1. Twee indikatore vir opregte geestelikheid

Ons kry dit in Jesus se beskrywing van die tollenaar (vers 13):

  • Jy is bewus van jou eie onvermoë om reg te leef.

Ons sien dit in die tollenaar se optrede en woorde. Hy bely sy sondes teenoor God: O God, wees my, sondaar, genadig. Ons lees ook: Hy het bedroef op sy bors geslaan –  ‘n teken van intense hartseer. Jesus wil hê dat ons moet besef wat ons onvermoë om reg te lewe beteken – ‘n duidelike bewustheid van ons eie sondigheid en ‘n gevoel van hartseer oor ons sondes. Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie, want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood (2 Korintiërs 7:9 – 10). Hierdie is die soort mens waarna Jesus verwys: geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word (Matteus 5:4).

 

  • Jy beoordeel jou geestelikheid deur dit met God se heiligheid te vergelyk.

Die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hierdie is tekens van nederigheid – die tollenaar besef hy nie waardig is om in die teenwoordigheid van God te staan nie. Hy verstaan dat die standaard waarteen hy gemeet gaan word die heiligheid van God is en nie dié van die mense om hom nie.

 

Wanneer laas het ons ons sonde gesien vir die aaklige ding wat dit is? Wanneer laas het jy die behoefte aan God se genade en vergifnis besef?

 

In vers 14 kry ons Jesus se toepassing van die gelykenis. Ek sê vir julle: Hierdie man (die tollenaar) en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en hy wat nederig is, sal verhoog word.