Die Siel

 

Integrity deserves no praise if no one has either the power or the will to corrupt it – Cicero

 

Die Siel

John Ortberg het ‘n belangrike artikel oor die siel geskryf. Hy sê dat almal van ons ‘n uiterlike en innerlike lewe het. Die uiterlike lewe is die openbare, sigbare lewe. Dit wat ek bereik het, my werk en my reputasie lê daar. Soms verander ons uiterlike lewe – ons word bevorder, mense vra ons mening, ens. Ons uiterlike lewe word groter, besiger en meer ingewikkeld as vantevore.

 

Dikwels gaan dit gepaard sonder enige groei in ons innerlike lewe – daar waar my geheime gedagtes en hoop en wense lê. Omdat dit onsigbaar is, is dit baie maklik om te verwaarloos. Abraham Lincoln was ‘n briljante regsgeleerde, maar was maar ongeorganisserd. Hy het ‘n dik lêer gehad waarop geskryf was: “As jy dit nêrens anders kan vind nie, soek hier.” My innerlike lewe kan soms net so chaoties soos Lincoln se lêer lyk.

 

Ortberg sê dat hy geglo het dat ‘n verandering in sy uiterlike lewe onmiddellik ook meer vervulling sou bring. Dit gebeur nie – inteendeel, dit word meer chaoties. Hy besluit om Dallas Willard te besoek, want hy het hom beskou as iemand wat sy innerlike lewe bemeester het. Hy vra vir Dallas Willard: “Hoekom is ek nie gelukkiger nie, want ek het ‘n droom werk? Ek werk in ‘n kerk waar my taak onder andere die verlossing van siele behels.” Maar wat is ‘n siel. Min mense kan sê presies wat dit is – of is dit maar net ‘n woord wat Christene rondgooi.

 

Willard antwoord: “Hoekom is daar soveel waarde en misterie in jou bestaan? Die werklike rede is as gevolg van hierdie klein, breekbare, kwesbare ding wat ons siel noem. God het die mens uit stof gemaak en sy lewensasem in die mens geblaas. So word die mens ‘n lewende siel. Jy is ‘n siel gemaak deur God, gemaak vir God en gemaak om God nodig te hê. Jy is nie gemaak om selfonderhoudend te wees nie.”

 

In een van sy boeke sê Willard dat op enige gegewe oomblik jou lewe deur jou siel beheer word. Nie eksterne omstandighede nie; nie jou gedagtes nie; nie jou gevoelens nie, maar jou siel. Jou siel is daardie aspek van jou wese wat die verskillende dimensies van jouself korreleer, integreer en lewend maak. Dit is die sentrum van die lewe van alle mense.

 

Almal het twee lewens – ‘n uiterlike lewe wat sigbaar is en ‘n innerlike lewe wat chaoties en donker of pragtig skoon kan wees. Uiteindelik vervaag die uiterlike lewe en ons word met die innerlike lewe gelaat. Dit is wat ons saam met ons sal neem.

 




Die pad na wysheid

Do not attempt theology at home! Faithful Christian theology is a group activity. Our God is so wonderfully complex, dynamic, mysterious, and counter to who we expect God to be that you need help from your friends– saints, past and present– to think about the Trinity. As [John] Wesley said, Christianity is a “social religion”– you can’t do it alone – William Willmon

 

Die pad na wysheid

Net God weet hoe die pad daarheen loop, net Hy ken die woonplek van die wysheid (Job 28:23).

Die uiteindelike waarheid is nie vir die mens toeganklik nie – selfs nie in die Bybel nie. Maar as ons Hom dien en ons aan sy wysheid onderwerp en ons rug op goddeloosheid draai, het Hy ‘n optrede vir ons beskikbaar gestel.

 

Hoe lyk hierdie pad as die lewe vir ons skeefloop?

  1. Vertrou eerder vir God as om Hom te blameer of om aan te dring op antwoorde.
  2. Vertrou dat God aan jou die nodige krag sal gee om alles te verduur.
  3. Moenie verwag dat alles sin sal maak nie – bid vir ‘n hemelse perspektief.
  4. Kanaliseer jou verwyte na die gevallendheid van die wêreld en nie na God nie.
  5. Moenie toegee aan die versoeking om te glo dat jy die wêreld beter as God kan bestuur nie.
  6. Vertrou dat God wys is.
  7. Bly verbind aan en spandeer tyd met ander kinders van God

 

Eenvoudige waarhede




Ons moet uitreik

 

A right knowledge of sin lies at the root of all saving Christianity. —J.C. Ryle

 

Ons moet uitreik

Ek staan onder ‘n verpligting teenoor Grieke en nie-Grieke, teenoor ontwikkeldes en ongeleerdes, en daarom ook my begeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig (Romeine 1:14 – 15)

David Platt sê dat dit nie genoeg is om net te gee nie – ons moet gaan – wanneer en hoe en waarheen God ons lei. Paulus sê dat hy onder ‘n verpligting is om die evangelie aan alle mense te verkondig. Omdat hy die goeie nuus van dit wat God in Jesus Christus gedoen het, ken, moet hy hierdie nuus versprei.

 

Is dit – dat ons alles in ons vermoë moet doen om die evangelie te versprei – ‘n werklikheid in ons harte? Hoekom sê Paulus vir ons in die boek Romeine dat ons moet uitgaan en diegene wat nog nie die evangelie ontvang het nie, bereik?

 

  1. Hulle kennis van God is onvoldoende

Omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig, bly hulle in die duister (Romeine 1:21).

 

  1. Die evangelie is kragtig genoeg om hulle te red

Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood (Romeine 1:16).

 

  1. God se plan regverdig die opofferings van sy mense

Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie?  En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek (Romeine 10:13 – 14).

 

  1. Die Seun van God verdien die lof van alle mense

om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring (Romeine 1:5).

 

Ons kan nie die evangelie vir onsself hou nie. Dit is dié grootste nuus in die wêreld: mense kan met God deur geloof in Jesus Christus versoen word. Almal moet dit hoor. Ek het my eer daarin gestel om die evangelie te verkondig waar die mense nog nie van Christus gehoor het nie (Romeine 15:20). Paulus sê in werklikheid: Ek is dit verskuldig om Christus aan die nasies te verkondig. Hierdie is nie ‘n opsie nie – dit is ‘n verpligting.

 

 




Die erediens

 

It is easier to change the nature of plutonium than man’s evil spirit –  Albert Einstein

 

Die erediens

Min van ons het nog ‘n sin van wonder oor wat besig is om te gebeur as ons ‘n erediens bywoon. God het hulpelose, geharde sondaars in uitgesproke aanbidders verander. In die boek Sefanja kry ons ‘n stel voorskriflense om na die heerlikheid van korporatiewe aanbidding te kyk. Hy stel die donkerte en boosheid van die mens se opstand teen God bloot. Hy skryf egter ook oor hoe God harde harte verander. God neem monde wat eers met Hom gespot het en vul hulle met verwondering en lof.

 

  1. Wat vergiftig ons lof aan God?

Ek gaan ‘n einde maak aan alles op aarde, sê die Here … Ek gaan my hand uitsteek teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem … dié wat die rug vir die Here draai, na sy wil nie vra nie en Hom nie raadpleeg nie (Sefanja 1:2, 4, 6). Hoekom is God so kwaad? Sefanja gee vir ons drie antwoorde:

  • Trots: Hy is ongehoorsaam en wil hom nie laat teregwys nie, hy vertrou nie die Here nie en dien nie sy God nie (3:2).
  • Selftevredenheid: Daardie tyd sal Ek Jerusalem met lampe deursoek en die mense straf wat in hulle selftevredenheid dink: die Here doen nie goed of kwaad nie (1:12).
  • ‘n Obsessie met en afhanklikheid van die dinge van die wêreld: Nog hulle silwer nog hulle goud sal hulle kan red op die dag wanneer die toorn van die Here losbreek (1:18).

Geld dit nie nog steeds vir die kerk van vandag nie.

 

  1. God se spraakles

God sien die wêreld vol sonde: trots, selftevrede en ‘n obsessie met materiële dinge. Hulle is doodtevrede sonder Hom. Maar Hy het sy oog op ‘n paar mense. Hy gaan hulle verlos, die opstand uit hulle hande ruk en vir hulle ‘n nuwe boodskap gee:

Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien (3:9).

Wanneer God se kinders met vol harte hulle stemme in afhanklikheid, vreugde en aanbidding verhef, ondervind ons iets besonders. Ons wat God gehaat het, wat geld en onsself bo Hom verkies het – leef nou vir Hom en verheerlik ons in sy teenwoordigheid.

 

  1. Vreugde in God; vreugde vir God

Aanbidding is ‘n wonder – ‘n nuwe hart met ‘n ewige en heerlike doel.

Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem! Die Here het ‘n einde gemaak aan jou straf, Hy het jou vyande laat padgee. Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie (3:14 – 15).

 

Die vreugde om God as die Een wat altyd liefhet en teenwoordig is, te ken, bevredig die diepste verlange van ons siel. As jy hierdie God ontmoet en Hom beter en beter leer ken, sal jou hart van vreugde sing. Verbasend is dat die Een wat voor jou, bo jou en agter jou gaan, gaan in vreugde:

Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou (3:17).

 

As jy in die erediens instap hierdie naweek – veral as jy God se goedheid besing – weet dat Hy ook vol vreugde oor jou is. In aanbidding beleef ons ‘n droom wat waar geword het.