Probleemoplossing

 

The proud look down on the others because they do not look up to God (Raymond E.  Brown)

 

Probleemoplossing

Een manier waarop mense hulle vaardighede as leiers bewys, is deur hulle vaardighede om probleme op te los. Nehemia het dit gedoen. Nehemia was besig om die mure van Jerusalem te herbou. Sy vyande probeer hom met ‘n aantal verskillende tegnieke op ‘n syspoor te dwing.

  • Hulle probeer hom uit Jerusalem lok deur hom uit te nooi vir samesprekings met hulle (Nehemia 6:1 – 4). Nehemia weier, want hy wil op die herbou van die mure fokus.
  • Hulle beskuldig Nehemia daarvan dat hy ‘n opstand teen die koning beplan – ‘n leuen. Nehemia laat weet dat niks wat hulle sê waar is nie. Hy bid dat God sy hande moet sterk (6:5 – 9).
  • Hulle probeer hom intimideer deur hom te oorreed om in die tempel skuiling te soek (6:10 – 14). Hy besef sy vyande probeer hom bang maak sodat hy ‘n misstap sou begaan. Hy gehoorsaam egter vir God en soek sterkte by Hom.

 

Alle leiers sal voor probleme te staan kom. Maar ons kan ons probleme oorkom deur Nehemia se model te volg:

  • Behou jou fokus;
  • Konfronteer enige vals aantygings teen jou onmiddellik en met integriteit; en
  • Bid tot God vir sterkte en wysheid – jy sal vind dat God maar te gretig is om te help.

 

Maak nie saak hoe sterk die teenstanders skynbaar is nie, God is ‘n bondgenoot wat nie oorwin kan word nie. Dit is baie meer doeltreffend om God om hulp te vra as om self ‘n oplossing te probeer formuleer.

 

 

 




Ek verwerp God se plan

 

An unforgiving heart is an unforgiven heart. —Tim Keller

 

Ek verwerp God se plan

Die ware profeet is nie ‘n spreekbuis vir die openbare mening nie. Hy is ook nie ’n spreekbuis vir die rykes en diegene met gesag nie. Daarom word nog Johannes nog Jesus deur almal in Israel verwelkom. Toe Simeon die kindjie Jesus in sy arms hou en vir Hom en sy ouers geseën het, sê hy: Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word (Lukas 2:34).

 

Diegene wat Johannes die Doper se oproep tot bekering en Jesus se aankondiging dat die koninkryk van God naby is, verwerp, sal fout vind met God se boodskappers. Wat hulle eintlik probeer doen, is om God se wil te laat ooreenstem met hulle eie wil. Hulle erken nie die soewereine wil van God nie; hulle wil vir God voorskryf. Hulle mag God se plan verwerp, maar hulle vernietig dit nie.

 

Hierdie opstandige mense was nie buite die kerk nie. Ons kry steeds dieselfde foutvindery en voetslepery in die kerk. Daar is steeds mense wat altyd wil hê dat hulle wil in die gemeente moet geld. Hierdie kleinlike stryery in gemeentes dwing ongelowiges om hulle rug op die kerk te keer. Daar is steeds mense in ons gemeentes wat God se plan vir die wêreld probeer dwarsboom deur  hulle magstryde en rugstekery.

 

 

 




Aanvaar wyse raad

The preacher can only bring the Word to the ear; the Spirit must bring it from the ear to the heart. —Steven Lawson

 

Aanvaar wyse raad

Daar is honderde “hoe om te …” boeke beskikbaar oor feitlik elke moontlike onderwerp. Dink maar net aan The 7 Habits of Highly Effective People waarvan 12 miljoen kopieë verkoop is. Een van die gewoontes wat baie belangrik is, is wat Covey “empatiese luister” noem. Hierdie benadering beteken dat ons eers ander moet verstaan voordat hulle ons verstaan kan word. Die meeste mense luister nie om te verstaan nie – hulle luister om te antwoord; hulle praat of hulle is besig om hulle voor te berei om te praat.

 

“Empatiese luister” beteken nie noodwendig dat ek met die ander persoon saamstem nie. Dit beteken wel dat ek die ander persoon probeer verstaan deur in sy verwysingsraamwerk te kom. Maar is dit nou nuut? Kyk na die boek Jakobus. Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie (1:19). Die luister hier beteken luister om te verstaan. Presies wat ons in The 7 Habits kry. Maar die gevolg van hierdie luister verskil. In die geval van die Bybel beteken dit om reg te doen voor God (1:20). Dit gaan nie oor doeltreffende bestuur van jou eie persoonlike lewe of van jou besigheid nie.

 

Om onderrig te ontvang en wyse raad te aanvaar, vereis luistervaardighede. Dit beteken dat ons op God moet vertrou en ontvanklik vir sy wysheid moet wees. Dit staan in teenstelling met op jouself vertrou. Hoe kan ons leer om aandagtig te luister na God en met deernis te luister na ander mense? Deur die dissipline van afsondering Stilte beteken dat ons nie praat nie, maar dit beteken nie dat ek nie moet luister nie. In stilte en afsondering kan ek God, en ander, duidelik hoor. Jesus het Hom dikwels afgesonder om met God te praat. Daarom het Hy gedoen wat die Vader van Hom verwag het.

 

So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê (Jesaja 30:15).

 

 




Die aard van geloof

 

For Jesus, Scripture is powerful, decisive, and authoritative because it is nothing less than the voice of God. —Kevin DeYoung

 

Die aard van geloof

Die genesing van die offisier se slaaf in Lukas 7 maak sekere dinge aangaande geloof vir ons duidelik:

  • Soos die gelowiges wat hierdie evangelie lees, het die offisier Jesus vertrou sonder dat hy Hom ooit ontmoet het. Hy het van Jesus gehoor. Hy glo dit wat hy gehoor het en tree op in geloof.
  • Die offisier bewys sy liefde vir ander – hy is bereid om homself te verneder sodat sy slaaf genees kan word. Hy besef die eer van die wêreld – hy is immers ‘n offisier in die magtige Romeinse weermag – is waardeloos. Daarom sy nederig versoek aan Jesus. Nederigheid was nie ’n deug onder die Romeinde en Grieke nie. In die konteks van die Bybel beteken nederigheid dat ek myself sien as ’n skepsel van God. Toe die offisier van die begeerte om belangrik te wees, afsien, maak dit die pad vir hom oop om God se genade te ontvang.
  • Die offisier glo egter nie dat hy so onwaardig is dat hy nie vir Jesus kan nader om sy slaaf te genees nie.
  • Die offisier verstaan Jesus se gesag en verhouding tot God. Hy besef dat tyd en ruimte geen verskil aan wat Jesus sê, mag maak nie – Hy kan die slaaf met ‘n woord gesond maak.
  • As offisier was hy daaraan gewoond om in bevel te wees, maar hy ontvang genade toe hy nie langer in beheer wil wees nie.
  • Die genesing van die slaaf wys dat God nie bevooroordeeld is nie: God trek immers niemand voor nie (Romeine 2:11). Dit wys vir ons dat ’n heiden groter geloof as God se kinders kan hê. Johannes die Doper verkondig: En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom (Lukas 3:6). Hierdie belofte word nou waar.

By ‘n Romeinse offisier leer ons ‘n paar kernwaarhede oor geloof.