Affiliasie

 

“Where we cannot enjoy God’s company, we will not go. Our motto is, With God, anywhere. Without God, nowhere.” — C.H. Spurgeon

 

Affiliasie

Affiliasie is ’n persoonlike besluit om deel te word van ’n groep – lid te word van ’n groep of organisasie. Die evangelie van Jesus Christus roep mense tot affiliasie met Hom as die Seun van God en die kerk wat Hy dwarsdeur die wêreld wil bou. Hierdie affiliasie met die Christelike kerk word op verskillende wyses gedemonstreer:

  • Dissipelskap – ’n volgeling van ’n leermeester wie se onderrig jy gehoorsaam. Soms beteken dit dat jy alles agterlaat en saam met die leermeester reis en sy weë beoefen.
  • Openbare getuienis waarin jy jou verbondenheid aan Jesus Christus as dissipel bely.
  • Die doop en ander optrede soos gebed en vas.
  • Deelname aan die nagmaal.

 

Tydens tye van vervolging het die kerk sekere geheime simbole van identifisering en affiliasie gebruik – die vis vir identifikasie wat lidmaatskap van die kerk van Jesus Christus aandui. Hierdie visuele simbole van affiliasie versterk die gevoel van behoort aan wat insluit wedersydse versorging en ondersteuning, ’n nuwe identiteit  as ’n nuwe skepping van Christus, ‘n nuwe lojaliteit, inlywing by ‘n nuwe familie met verantwoordelikhede en verpligtings en ‘n nuwe rigting en doel in die lewe.

 




Die probleem van sonde

 

To love at all is to be vulnerable. If you don’t want to be hurt, give yourself to no one – C. S. Lewis

 

Die probleem van sonde

Die twee wondertekens in Lukas 5 (die genesing van ‘n melaatse en die genesing van ‘n verlamde man) wys vir ons dat God ons fisiese en geestelike heelheid verlang en dat God se mag wat deur Jesus Christus werk dit kan vermag. Dit wys ook vir ons dat al word die mens deur sekere fisiese siektes wat hulle kommer oorheers, geteister, is die belangrikste probleem wat die mens pla sonde. Ons is gedurig besig om geld in te samel vir sekere siektes, maar ons gee min aandag aan die sondige toestand van die mens. Die enigste oplossing vir sonde is vergifnis wat God in Jesus Christus aanbied. Geestelike gesondheid kan alle dinge, insluitend siekte, verdra.

 

Sonde is meer as een of ander sielkundige probleem. Sonde het objektiewe gevolge wat die welstand van die persoon en diegene om hom belemmer. Sonde begin met leuens wat ons vir onsself vertel. Sonde het die vermoë om te mislei sodat mense nie die gevolge van hulle optrede sien vir wat dit is nie. Sonde vang ons vas – soos ‘n vlieg gevang in die web van ‘n spinnekop.

 

Jesus se vergifnis stel ons nie alleen vry nie, maar laat ons die waarheid sien oor onsself. We love those who know the worst of us and don’t turn their faces away (Walker Percy). God weet meer van ons as enige mens ooit sal kan weet en Hy keer nie sy rug op ons nie – Hy doen versoening vir ons sonde.

 

Sonde is ‘n probleem, maar ‘n probleem wat Jesus reeds aan die kruis hanteer het.

 




Ons is louwarm

 

“The Father did not require the death of Christ to persuade Him to love us. Christ died because the Father loves us.”Sinclair Ferguson

 

Ons is louwarm

Here, Here , ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou (Eksodus 34:6 – OAV). En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou moet bevind word (1 Korintiërs 4:2 – OAV). Hoe getrou is ons? Groot van trou? Louwarm? ‘n Louwarm gesindheid is dikwels die gevolg van herhaalde kompromieë wat ons aangaan. Met elke kompromis verminder ons voorneme om die waarheid te sien en om getrou te wees daaraan.

 

Die gemeente in Laodisea is daarvan beskuldig dat hulle louwarm was (Openbaring 3:14 – 22). Wat kan ons by hulle leer?

  • Om louwarm te wees, is ‘n simptoom van ‘n siekte

Meeste van ons is ook maar louwarm. Ons geloof word nie deur vervolging in gevaar gestel nie, maar deur die voortdurende versoekings van kompromieë met die wêreld. Jesus, die geloofwaardige en ware getuie, sê dat die mense in Laodisea nie koud of warm is nie – hulle is nie meer getrou nie. Hy raai hulle aan om by Hom oogsalf te koop om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien. As ons louwarm is, is dit ‘n simptoom van ‘n onderliggende siekte – ons is nie meer getrou nie. Dit is ‘n siekte waarteen ons moet veg en dit oorwin.

 

  • Jesus se voorskrif vir ontrou

Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle. Ons moet ywerig wees (OAV).. Is dit nie ons probleem nie: ons is nie meer ywerig nie? Om louwarm te wees is nie die siekte nie – dit is bloot die simptoom van die onderliggende siekte. Behandel ons dit nie, is die gevolge ernstig: Jesus sê dat Hy ons uit sy mond sal uitspoeg. Die ontroues ontvang nie die ewige beloning nie, maar wel diegene wat die oorwinning behaal – hulle wat veg en oorwin.

 

Om getrou te bly, is ‘n stryd – dit is oorlog. Ons moet elke dag veg teen die versoeking om kompromië aan te gaan. Luister na Paulus se raad aan die jonge Timoteus: In die goeie wedloop van geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal (1 Timoteus 6:12)

 

 




Dank God … vir God

 

Seven blunders of the world that lead to violence: wealth without work, pleasure without conscience, knowledge without character, commerce without morality, science without humanity, worship without sacrifice, politics without principle. –Mahatma Gandhi (1869-1948)

 

Dank God … vir God

Daar is baie waarvoor ons God moet dank, maar dank ons ooit vir God vir Homself. – dat daar ‘n God is en dat Hy ons God is. In Psalm 103 dank die psalmis God as die Verlosser God en in Psalm 104 as die Skepper-God.

 

David Murray noem ‘n aantal redes waarom ons vir God moet dank soos ons dit in Psalm 104 kry:

  • Dank God vir sy betrokenheid in die wêreld (1 – 4)

Alhoewel God so groot, so beklee met koninklike luister en met ‘n kleed van lig omhul is, is Hy tog betrokke – so naby.  Hy gebruik die fisiese wêreld om Homself te openbaar – die hemel is sy tent. As ons die wolke sien, is Hy daar; as ons die winde voel, is Hy daar.

  • Dank God dat Hy die wêreld gemaak het (5 – 7)

Die psalmis verwys na God se metodiese, sistematiese oorganisasie van die skeppingsproses. Hy praat en die waters kom in plek.

  • Dank God omdat Hy oor die wêreld heers (8 – 10)

Die heidene van destyds het gelo dat die wêreld kwesbaar is – bedreig deur onvoorspelbare en onbeheerbare kragte. Die Bybelse wêreldsiening is dat God bepaal presies waar elke ding inpas. Hy stel die grense, selfs vir die magtige see en maak seker hulle bly daar.

 

  • Dank God vir sy voorsiening in die wêreld (13 – 15)

God gee volop reën. Hy voorsien die oeste en bome wat hulle voed. Hy gee selfs olie en wyn vir ons om te gebruik.

 

  • Dank God vir sy beskerming van die wêreld (16 – 18).

Hy voorsien skuiling aan die grootste en kleinste skepsels – in bome, grotte, rotse, ens.

 

  • Dank God omdat Hy die wêreld reguleer (19 – 23)

God reguleer die seisoene, die dag-nag siklus

 

  • Dank God vir die ryke verskeidenheid van hierdie wêreld (24 – 26)

Waardeer ons nog die diversiteit van God skepping? Dank ons Hom dat Hy so ‘n groot verskeidenheid gemaak het?  Niks in die skepping moet verafsku word nie.

 

  • Dank God vir sy goedheid aan die wêreld (27 – 28)

Die hele wêreld is van God afhanklik; hulle kry meer as genoeg. Hy voorsien goeie dinge. Martin Luther het gesê: “Die Here moet ‘n baie groot kombuis hê.”

 

  • Dank God vir die hernuwing van die wêreld (29 – 30)

Die skeppingsorde is deur die dood ontwrig. Selfs dit is onder God se soewereine beheer. Hy gee die lewensasem. Soos voëls doodgaan, vul Hy nessies met eiers. Hierdie is nie net natuurlike prosesse nie – God se Gees is betrokke in hierdie voortdurende hernuwing van die skepping.

 

  • Dank God vir sy toekomstige verlossing van die wêreld (31 – 35)

God kan ‘n aardbewing veroorsaak of ‘n vulkaan laat uitbars. Daarom verlang die psalmis dat elke ontwrigting van en opstand teen God se skepping verwyder sal word. Hy kyk vooruit na ‘n wêreld sonder sonde – na ‘n nuwe skepping; ‘n nuwe aarde en hemel waar geregtigheid seëvier.

 

Daarom, laat ons God dank. Kyk mooi en sien ons Skepper aan die werk in die natuur. Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie (vers 31). Wat moet ons doen? Ek wil my in die Here verbly … Ek wil die Here loof. Prys die Here.