Argumente in die Bybel oor belangrike godsdienstige sake

Arrogant worship is an oxymoron, a contradiction in terms. —R.C. Sproul

Argumente in die Bybel oor belangrike godsdienstige sake

In ons vorige blog het ons in die algemeen na die gebruik van argumente in die Bybel gekyk. Nou gaan ons spesifiek na argumente oor belangrike godsdienstige sake kyk.

  • In Genesis 3 gebruik die slang allerhande misleidende argumente om Adam en Eva te oortuig om sonde te doen.
  • 1 Konings 18: Elia bied argumente aan om Israel te oortuig dat hulle eerder die God van Israel as Baäl moet aanbid. Elia sê dat dit eintlik God se argumente is wat hy net aanbied.
  • In die Nuwe Testament kry ons baie argumente waarom mense na Jesus Christus moet kom vir hulle verlossing. In Handelinge 2 lees ons Petrus se toespraak op pinksterdag. In sy toespraak argumenteer hy dat die mense hulle moet bekeer en laat doop. Omdat Petrus ‘n apostel van Jesus Christus was, het ons hier te doen met argumente wat van God kom. Paulus doen presies dieselfde in sy toesprake in Handelinge.
  • Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan (Handelinge 17:3). Paulus het  argumente gebruik om die mense in Tessalonika te oortuig.
  • Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer en elke dag op die stadsplein met die mense gepraat (Handelinge 17:17).
  • Maar elke sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en Jode en Grieke probeer oortuig (Handelinge 18:4).

Dit is duidelik dat argumente, redenasies en logika wel ‘n plek het in ons godsdiens. Geloof is belangrik vir die gelowige, maar ons praat nie hier van blinde geloof nie. In wese kan ons sê dat die hele Bybel funksioneer as argument om ons te oortuig om onsself, ons gedrag en dit wat ons glo, te verander.

Gevolgtrekking: Argumente speel ‘n belangrike rol in die Bybel en ook in die moderne lewe. Argumente is belangrik, maar ook logika, want die ontleding van die argument is net so belangrik soos die argument self.

 

 




Logika en die Bybel

 

The Bible is a letter God has sent to us; prayer is a letter we send to him. —Matthew Henry

 

Logika en die Bybel

Daar is baie van die sogenaamde “nuwe Ateïste” wat beweer dat godsdiens anti-intellektueel is – met ander woorde logika speel geen rol in die lewe van ‘n Christen nie. Is dit waar? Een bron definieer logika as die ontleding en oorweging van argumente. Argumente is nie net ‘n stryery nie, maar beteken ook beredenering ter ondersteuning van ‘n gevolgtrekking. Een denkfout wat ons dikwels maak, is om twee uiterste alternatiewe as enigste alternatiewe aan te bied. So ‘n denkfout is ‘n oortuigende argument wat berus op vals of ongeldige afleidings.

Dat ons argumente in die Bybel kry, is nie verbasend nie, want die Bybel beskryf tog die mens se lewe – al die goeie en die slegte. ‘n Goeie voorbeeld kry ons in 2 Samuel 17:1 – 14. Absalom begin ‘n opstand teen die koning – sy vader Dawid. Hy dwing Dawid om uit Jerusalem te vlug. Hy besef egter dat solank as wat Dawid leef sy magsposisie onseker is. Hy vra raad van Agitofel (16:23). Hy konsulteer ook vir Gusai. Dié gee presies die teenoorgestelde raad aan Absalom. Argitofel sê dat Dawid onmiddellik agterna gesit moet word (17:1); Gusai se aanbeveling is om te wag om eers ‘n groter mag bymekaar te kry. Beide gee argumente ter ondersteuning van hulle standpunte. Gusai se argumente is meer oortuigend. Abslom aanvaar dit. Die gevolg is ‘n ramp waarin Absalom self omkom.

‘n Argument is dikwels ‘n keerpunt in ‘n mens se lewe – selfs in die lewe van ‘n volk soos Israel. In hierdie geval kry die leser egter sekere inligting wat Absalom en Argitofel nie het nie – Gusai gee voor dat hy vir Absalom dien, maar in werklikheid is hy lojaal aan Dawid (15:34). Salomo glo dat Gusai se raad opreg en redelik is. Gusai se argument bestaan in werklikheid uit drie lae:

  • Wat hy self wil hê – dat Absalom verslaan moet word.
  • Wat Absalom verstaan – dat hy Dawid gaan verslaan
  • God is agter die skerms besig. Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Argifofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring (17:14).

In hierdie geval sien ons dat ‘n argument ook gebruik kan word om te mislei en te manipuleer. Maar ‘n argument kan ook deel wees van wyse raad. In 1 Samuel 25 besluit Dawid om sy manne opdrag te gee om Nabal aan te val en dood te maak. Abigajil, Nabal se vrou, gaan na Dawid toe en oortuig Dawid met haar argumente om nie vir Nabal dood te maak nie. Dan lees ons: Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag  verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem (25:33).

Uit hierdie twee voorbeelde sien ons dat argumente negatief en positief gebruik kan word – dit kan gebruik word om mense te mislei en te manipuleer, maar ook om wyse raad aan mense te gee.

Volgende keer gaan ons na argumente in die  Bybel oor belangrike godsdienstige besluite kyk.

 




Die koninkryk van God

 

When pride walks on the platform, God walks off (Anoniem)

 

Die koninkryk van God

Scot McKnight (Kingdom Conspiracy) sê dat die grootste fout wat mense maak as hulle van die koninkryk praat, is vergelykings. Dit is dinge soos ”Die koninkryk is die ideaal; die kerk is die werklikheid,” “Die kerk is bloot ‘n manifestasie van die koninkryk, maar dit is nie die koninkryk nie, want die koninkryk sal ‘n volmaakte, regverdige en liefdevolle gemeenskap wees.” Almal van hulle faal op grond van ‘n fundamentele aspek van die koninkryk.

 

Kom ons kyk na twee stellings wat Jesus oor die koninkryk gemaak het.

  • Die koninkryk is teenwoordig.

Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15)

Toe die Fariseërs vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God dan kom, het Hy hulle geantwoord: “ Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!, of: ‘Daar is dit!, nie, want die koninkryk van God is hier by julle.” (Lukas 17:20 – 21).

  • Die koninkryk is in die toekoms

Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink (Markus 14:25).

Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog ‘n gelykenis  vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom (Lukas 19:11).

 

Wat sê hierdie verse vir ons? Die koninkryk van God is reeds teenwoordig, maar lê ook nog in die toekoms. Hoe is dit moontlik? Teenwoordig, maar nog nie volledig vervul nie. Die vraag is dus met wat vergelyk ons die kerk – die huidige bevestigde koninkryk of die toekomstige volledige koninkryk?

 

Ons het weer twee lyste nodig: Kerk nou en Kerk nog nie

  • Kerk nou

As ons aan die kerk nou dink, dink ons aan Paulus se voortdurende stryd met die gemeentes – wie kan die gemeente in Korinte vergeet? Ons kry dieselfde in ander gemeentes Die “kerk nou” is die kerk wat bymekaarkom met gebroke leierskap, gebroke heiligheid, gebroke liefde, gebroke vrede, gebroke regverdigheid, … Die kerk nou skiet ver tekort van die kerk nog nie. Ons kan nie die “kerk nou” met die ‘koninkryk nog nie” vergelyk nie – die kerk skiet ver tekort.

 

  • Kerk nog nie

Hier dink ons nie net aan die beloftes dat die kerk die koninkryk sal erf nie, maar nog meer: … soos Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik (Efesiërs 5:25b – 27). Let op die woorde wat Paulus gebruik om die kerk mee te beskryf: volle heerlikheid … sonder vlek of rimpel … heilig en onberispelik. Dit beskryf nie die “kerk nou” nie, maar wel die “kerk nog nie.” Lees net weer Openbaring 21:9 – 22:5.

 

Daar is ‘n spanning tussen koninkryk nou en koninkryk nog nie. Ons kry dieselfde by die kerk. Die kerk is ook nou en nog nie. As ons die koninkryk nou wil vergelyk, moet ons dit met die kerk nou doen. Om die kerk nou met die koninkryk nog nie te vergelyk is onvergelykbaar.

 

+




Hoe verdedig ek dit wat ek glo?

 

There are no uninteresting things, only uninterested people. —G.K. Chesterton

 

Hoe verdedig ek dit wat ek glo?

Leer en praktyk is belangrik. Ons kry veelvuldige bewyse daarvan in die Ou Testament – Kain se offer, Nadab en Abihu se ongemagtigde vuur en die onrein offers in Maleagi is almal bewyse dat God nie alles wat aan Hom geoffer word, aanvaar nie. God se heerlikheid vereis dat Hy op maniere wat vir Hom aanneemlik is, aanbid moet word. Ons sê dat ons God “in gees en waarheid” aanbid, maar dit beteken nie dat ek Hom kan aanbid soos dit my pas nie. Want daar sal ‘n tyd kom wanneer mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor (2 Timoteus 4:3). Ons moet dus ferm staan op die regte leer en praktyk.

 

Wat moet ons doen?

  • Praat die waarheid

Oppas vir onvriendelike en onakkurate oordrywing. Kontemporêre eredienste is nie rock konserte nie; mense wat tradisionele eredienste bywoon, is nie lyke nie; ou leerstellings is nie Middeleeuse bygelowe nie. Hierdie soort wanvoorstellings het geen plek in ‘n Christelike bespreking nie. Om ‘n ander persoon verkeerd aan te haal, is sonde. As ons mense wil oortuig en die regte leer wil verdedig, moet ons eerlik en akkuraat wees.

 

  • Praat op ‘n innemende manier

Ons sal niks bereik met aggressiewe spraak nie. Johannes die Doper verwys na mense wat na hom gekom het om gedoop te word as slange; hy wys vir Herodes tereg en beland in die tronk daarvoor; Jesus verwys na die Joodse owerhede as vals – wit gepleisterde grafte; ens. Petrus sê dat gelowiges altyd bereid moet wees om ‘n antwoord te gee, maar voeg dan by: Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God (1 Petrus 3:16).

 

  • Luister en wag

In Handelinge 15 lees ons van die vergadering in Jerusalem. Jakobus het ‘n onskatbare bydrae gelewer tot die uitkoms van die vergadering. Hy wag tot na Petrus en Barnabas en Paulus en ander klaar gepraat het voordat hy iets sê. Hy luister eers na die hele debat voordat hy iets sê. Hy gebruik selfs Petrus se vroeëre stelling as ondersteuning van sy eie standpunt. Ons is so geneig om op die swakpunte in ‘n ander se argument te fokus sonder om self ‘n bydrae te maak.

 

  • Meer vrae, minder antwoorde

Mense hou daarvan om te praat. Hulle gee nie om as jy vrae vra nie, mits jy bereid is om na die antwoorde te luister. Vra vrae om presies agter te kom wat die ander persoon se standpunt werklik is.

 

  • Haal kundiges eerder as jouself aan

Mense stel nie altyd belang in jou mening nie. Maar ons hou vol om die wapens te gebruik wat my waardigheid beskerm. Daar is beter wapens beskikbaar.

 

  • Vermy om “hulle” te sê

Paulus wys vir Petrus tereg omdat hy gevoel het Petrus was verkeerd (Galasiërs 2:14). Hy sê wat nodig was om te sê en hy sê dit reguit vir Petrus. As ons mense van die regte leer wil oortuig, moet ons reguit met hulle praat – nie met e-posse nie. Maar ons is bang vir konfrontasie – daarom vermy ons om direk met mense te praat. As ons dit nie wil doen nie, moet ons stilbly.

 

  • Weet waaroor julle argumenteer en gee so veel as moontlik toe

Moenie argumenteer net om te argumenteer nie. Later weet niemand waaroor julle nou eintlik argumenteer nie.

 

  • Weet wanneer om op te hou

“Jy kan my woord daarvoor aanvaar.” Hierdie is nie ‘n argument waarmee jy mense gaan oortuig nie. As ek iemand nie kan oortuig nie, moet ek nie sommer aanvaar die fout lê by hom nie. Iemand anders mag hom dalk oortuig. Weet wanneer jy die argument nie verder moet voer nie.

 

Petrus het gesê dat ons altyd bereid moet wees om ‘n antwoord te gee. Ek is seker hy aanvaar dat die antwoord korrek en oortuigend moet wees. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Hier wys hy vir ons op ‘n Christelike deug en die strategie wat ons moet volg.