My doel in die lewe

 

For, if we have not charity, we are not Christians: charity is the great duty of Christians. George Whitefield
My doel in die lewe

Dit is belangrik om jou doel in jou lewe te vind. As jy weet ‘n sekere ondervinding het ‘n doel, kan jy die swaarkry verduur. J. D Greear sê dat ons God se doel vir ons kan ontdek en dat dit ons hele lewe sal verander. Niks sal meer dieselfde lyk nie. Almal van ons wil graag God se doel vir ons lewens ontdek, maar ons weet nie waar om daarvoor te soek nie.

 

Psalm 57 leer vir ons drie waarhede oor ons Godgegewe doel.

  • God het ‘n doel vir jou … maar dit gaan nie oor jou nie Vers 6 en 12)

Die opskrif sê dat Dawid hierdie gedig geskryf het na aanleiding daarvan dat hy vir Saul in ‘n grot gevlug het. Saul probeer alles in sy vermoë om Dawid te vang en dood te maak – Dawid is aan die vlug. Nêrens lees ons egter dat Dawid vir God versoek om sy omstandighede te verander nie. Hy sê dat God sy grootheid hoog bo die hemel en sy maag oor die aarde moet wys. Hy bid nie vir sy verlossing nie, maar bid dat God verheerlik sal word.

 

Die doel van my lewe gaan nie oor my nie. Ek bestaan om God te verheerlik. Selfs die skepping roep uit: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (Psalm 19:2). Dit is moeilik vir ons om te aanvaar, want ons lewe is dikwels selfgesentreerd. Ons leef asof God bestaan om ons as die middelpunt van die heelal te verheerlik. As ons God se doel vir ons lewens wil ontdek moet ons besef dat die wêreld nie om my wentel nie – Jesus is die middelpunt van die heelal.

 

  • God het ‘n doel vir jou – dit gaan oor wat Hy in jou doen (vers 2)

As die lewe vir ons onregverdig lyk, moet ons by God skuiling soek en onder sy vleuels skuil tot die bedreiging verby is. Dawid se skuiling was nie die grot waarin hy weggekruip het nie – sy toevlug was God se teenwoordigheid. Dit is God se doel vir my en jou ook. Almal van ons het ‘n skuiling – ‘n plek waar ons veiligheid soek. Vir sommige is dit hulle werk; vir ander is dit hulle hankbalans; vir ander is dit dwelms; … As jou skuiling nie God is nie, sal dit misluk, want dit is nie permanent nie. God stel meer belang in jou karakter as in jou gemak.

 

  • God het ‘n doel vir jou … as jy daaraan oorgee, sal Hy dit vervul (vers 3)

God is ‘n perfeksionis as dit by sy doel kom – niks sal Hom verhoed om dit wat Hy doen te voltooi nie. Ek roep God die Allerhoogste aan, God wat dit vir my voleindig (vers 3 – OAV).

 

Die ironie is dat eers as jy sê dat jy nie die middelpunt van die heelal is nie, sal God dinge herrangskik sodat Hy sy doel vir jou kan vervul. As jy jou aan God se doel oorgegee het, kan jy rustig gaan lê en slaap en met ‘n vreugdelied in jou hart wakker word – ten spyte van swaarkry en probleme.

 

God het ‘n doel vir jou. Hy wil jou gebruik om sy Naam te verheerlik en Hy wil jou leer om Hom te vertrou. Natuurlik kan jy bid dat God jou omstandighede moet verander, maar God se doel is dat jy eerder bid: “God laat ek u Naam in my huidige omstandighede verheerlik; Help my om U beter te ken.”

 

 




Hoe moet ek die Bybel verstaan?

 

Press forward. Do not stop, do not linger in your journey, but strive for the mark set before you. Fight the good fight of faith, and God will give you spiritual mercies. George Whitefield
Hoe moet ek die Bybel verstaan?

Hoe sal my lewe verbeter as ek die Bybel beter verstaan? Dit is moontlik om die Bybel te besit, te lees, daarna te luister, maar tog nie die Bybel te verstaan nie. Hoekom is dit belangrik om die Bybel beter te verstaan?

  • Dit lei tot ‘n vrugbare lewe. Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak (Psalm 1:1 – 3). Ons moet weet watter soort mense ons wil wees. Wil ons in ‘n plek waar ons vrugte kan dra, geplant word of wil ons in sonde voortleef?
  • Dit lei tot ‘n stabiele lewe. Jesus was besig om sy dissipels te leer. Hy sê vir hulle: Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots (Matteus 7:24 – 25). Jesus se woorde is die kern van God se woord, maar dit moet verstaan en uitgeleef word. As ek my huis op die sand van menslike sienings bou, gaan ek weggespoel word.
  • Dit lei tot ‘n kwaliteitslewe. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17). Wat ‘n seën om die woord van God te hê wat hierdie vier dinge doen: dit onderrrig in die waarheid; dit wys ons tereg as ons afdwaal; dit kry ons terug op die regte spoor; dit kweek in ons die regte lewenswyse. Dit is die kwaliteitsbeheer van ons lewens. Dit is God wat in alle eerlikheid met ons praat.

 

Die belangrike draaipunte in die Bybel is nie net geskiedenis nie – dit is liefdesdade van ‘n God wat sy storie bou soos Hy dit beplan het.

 

 




Geduld

 

What! Get to heaven on your own strength? Why, you might as well try to climb to the moon on a rope of sand! George Whitefield
Geduld

He that can have patience, can have what he will – Ben Franklin

Geduld in vandag se wêreld is moeilik, want tegnologie vereis spoed. Maar dit is ‘n uitdaging wat die moeite werd is om na te volg. Hoekom?

  • Geduld laat ons toe om oordeel lank genoeg uit te stel om oorwoë besluite te neem.

As daar baie druk op ons is, neem ons dikwels vinnige besluite waaroor ons later spyt is. Met ‘n bietjie geduld kan ons stilstaan en die impak van ons besluite en wie daardeur beïnvloed sal word, oorweeg. Swak besluite vereis gewoonlik regstellende optrede.

 

  • Geduld laat toe vir die ontwikkeling van mense wat laat ontwikkel

Ons leer nie almal teen dieselfde spoed nie. Almal moet gelei word om die eindstreep te bereik – ons moet die haas stuur en die skilpad bemoedig. As jy nie die geduld het om die stadige ontwikkelaars te help nie, mag jy iets verloor. Winston Churhill was ‘n laat ontwikkelaar.

 

  • Geduld help ons om beter luisteraars te wees

Luister is belangrik, nie alleen om dinge beter te verstaan nie, maar ook om soliede verhoudings te bou. Om dit reg te kry, moet ons geduldig wees en ons eie oordeel terughou en eerder fokus op wat gesê word – nie op wat ons wil terug sê nie.

 

  • Geduld kan ons help om stres te hanteer

Soms moet ons net wag om ons negatiewe gevoelens te oorkom. As ons dikwels ongeduldig is met diegene om ons, sal ons dikwels gefrustreer word. Hanteer jou eie verwagtings om sake in perspektief te plaas. Dit sal baie spanning verlig.

 

Alles goed en wel, maar hoe ontwikkel ons geduld?

  • Leer om die vrae net soveel as die antwoorde te waardeer.

Daar is baie voordele in nuuskierigheid en ondersoeke. Om geduldig die lae van ‘n probleem deur vrae af te skil (soos ‘n ui), lei tot ‘n ryker resultaat.

 

  • Ken die snellers wat jou ongeduldig maak en hanteer hulle

Om ons vlakke van geduld op te stoot, moet ons fokus op die snellers wat ons gewoonlik ongeduldig maak. Nou moet ons doelgerig oefen om ons verdraagsaamheidsvlakke te verhoog.

 

  • Hou die langtermyn doel in gedagte

Dit is baie maklik om korttermyn doelwitte na te jaag. As ons al ons tyd spandeer aan die najaag van kitsoplossings kan ons maklik op ‘n syspoor beland – ons sien nie meer ons primêre doel raak nie. Dit is die moeite werd om vir sekere geleenthede te wag – sommige doelwitte kan nie vinnig bereik word nie. As dit belangrike doelwitte is, is dit die moeite werd om vir hulle te wag.

 

Almal van ons word soms ongeduldig – sommige meer chronies as ander. Ongeduld verhoed dat ons die regte ding op die regte tyd doen.

 

 




God se Woord en nederigheid

 

When our Lord says, we must be converted and become as little children, I suppose He means also, that we must be sensible of our weakness, comparatively speaking, as a little child.
 George Whitefield

 

God se Woord en nederigheid

Hebreërs 11 is ‘n gallery van geloofshelde. Ons almal weet dat die mans en vrouens in hierdie lys nie sonder foute was nie. Tog word hulle as voorbeelde voorgehou. Hoekom? Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig word (vers 2). Weer en weer fokus die skrywer op die geloof wat die gelowiges gemotiveer het. Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag (vers 33 – 34).

 

Waarmee vergelyk die psalmis die gelowiges in Psalm 1? Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is.  Hoekom ‘n boom? ‘n Boom se kenmerke is lewe, hy dra vrugte en hy is onbeweeglik. Maar die goddeloses is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word. Hulle is nou hier, dan daar; altyd in beweging; altyd dood; geen toekoms nie.

 

Drie maal in Psalm 119 lees ons van hovaardiges – in verse 21, 51 en 85. Hulle is trots. Wat is hulle kenmerk? God se woord is nie vir hulle voldoende nie; hulle wyk af van sy wet en opdragte. Daar is die kern van trots – God het gepraat, maar dit is nie voldoende nie. Satan wil van Adam en Eva weet of dit regtig is wat God gesê het. Gou-gou word dit: “Maar God is verkeerd.” Baie min het in werklikheid verander. Ons bevraagteken steeds vir God.

 

Die gelowige is anders. Vir hom is God se woord voldoende: Die leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie. Die Here God het gepraat, wie sal nie as profeet optree nie (Amos 3:8); Hovaardige mense beswadder my, maar ek voer u bevele uit met my hele hart (Psalm 11969).

 

God se siening is duidelik. Onstabiele mense wat onbeslis is en kompromieë aangaan is nie nederig nie. Ek slaan ag op die mens in nood, op dié een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord (Jesaja 66:2).

 

Opsommend: die kern van nederigheid is om ‘n duidelike woord van God te soek en te antwoord met “amen.” Jy vind dit; jy maak geen verskonings daarvoor nie; jy gaan nie daaroor kompromieë aan nie.

Die kern van arrogansie is om ‘n duidelike woord van God te neem en te reageer met: “Is dit wat Hy werklik gesê het?”