God se spesiale mense

 

In appearance and words you simulate modesty, but you are so swollen with haughtiness, arrogance, pride, malice, villainy, rashness, superciliousness, ignorance, and stupidity that there is nothing to surpass you.  — Martin Luther

 

God se spesiale mense

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het toe geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys (1 Petrus 2:9 – 10).

Soms het mense, ook gelowiges, ‘n probleem om hulle lewensdoel te onthou. Ons is almal so besig – ons hardloop heen en weer. Dan vergeet ons hoe wonderlik en doelgerig ons in die oë van ons Skepper ontwerp is. 1 Petrus 2:9 – 10 bring ons fokus terug na God en wys vir ons waarvoor Hy ons gemaak het – wat ons is.

  • ‘n Uitverkore volk. Ons hoef nie te baklei vir ‘n plekkie in die huis van die Here nie. Nee, Hy het ons uitgekies. Die Skepper van die heelal het ons aktief uitgesoek, want Hy wou ‘n verhouding met ons aanknoop. Ons is deur God self uitgesoek!
  • ‘n Koninklike priesterdom. In die dae van die Ou Testament kon ‘n koning nie ‘n priester gewees het nie en ‘n priester kon nie ‘n koning gewees het nie – die twee ampte was los van mekaar. In Christus het God elke gelowige geroep in ‘n nuwe kategorie. Ons is nou kinders van die Koning. As sy kinders het ons onbeperkte toegang tot die almagtige God – ons is koninklike priesters.
  • ‘n Nasie wat vir God afgesonder is. In Efesiërs 4:30 lees ons: En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. Daarom kan niks hierdie verhouding met die Vader ontbind nie.
  • Die eiendomsvolk van God. Ons is kosbaar vir ons hemelse Vader – so kosbaar dat Hy ons ewige verlossing teen ‘n baie duur prys gekoop het – die lewe van sy enigste Seun.

 

Niks wat ons kan doen, verbaas ons hemelse Vader nie. Hy het ons gemaak om sy verteenwoordigers op aarde te wees en daarom ken Hy ons deur en deur. Die vraag: weerspieël ons lewens hierdie God-gegewe posisie van ons?

[Ek het onder andere van ‘n artikel van Dr Charles Stanley gebruik gemaak.]

 




Wag geduldig

 

For the inexperience of youth requires the practical wisdom of age to strengthen and direct it – Cicero

 

 

Wag geduldig

Ons wag in ‘n tou; ons wag in die verkeer; so kan ons aanhou. Maar die moderne kultuur hou nie daarvan om te wag nie. Dit is kitskos en kitskoffie.

 

Ons perspektief op wag is een van die maniere waar ons samelewing van die Bybelse wêreldsiening verskil. Luister na die psalmis: Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor (40:2 – OAV). Luister ook na Jesaja se belofte: Maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vlerke soos die arende; hulle hardloop en word nie mat nie, hulle wandel en word nie moeg nie (40:31 –OAV).

Wag op die Here is ‘n refrein wat dwarsdeur die geloofslewe loop. Na jare se wag op die Messias sou ons kon dink dat die wag nou verby is met Jesus se koms. Nee, ons wag steeds, want ons leef in die skadu van Jesus se wederkoms. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus (1 Korintiërs 1:7).

 

Geduld is ‘n deug. Die eerste ding wat Paulus oor die liefde in 1 Korintiërs besing, is: Die liefde is geduldig. Maar geduld is maar skaars by ons moderne mense. Geduld is die metgesel van nederigheid en die vyand van trots: Geduld is beter as hoogmoed (Prediker 7:8). Dit is ‘n vrug van die Gees.

 

Hoe kan ek geduld kweek?

  • Hernu geloof en hoop

Sodra jy voel dat jy ongeduldig word, is dit ‘n herinnering om jou na God te draai. Moenie op jouself vertrou nie, maar fokus op God. In God se ekonomie is wag nie ‘n vermorsing nie. Deur te wag, maak God ons bewus van ons ongeduld. Dan werk Hy in ons om ons te red van vertroue op onsself – Hy gee weer lewe aan ons hoop en geloof in Hom. Geloof en geduld loop saam – geloof vir nou en hoop vir die toekoms.

 

  • Bid en dank

Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed (Romeine 12:12). Na die oproep om vas te staan in verdrukking – geduldig te wees – volg die oproep om te bid. Gebed maak jou oë oop om die geleenthede te sien in periodes van wag. Maar Paulus koppel ook geduld aan blydskap en dank: Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig (Kolossense 1:11 – 12).

 

  • Onthou die geduld van God

Ons is alles verskuldig aan God se genade en geduld. God was geduldig toe die eerste mense gesondig het; Hy was geduldig met Noag, Abraham en Israel. Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ‘n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry (1 Timoteus 1:16).

 

Wag is nie sleg vir die gelowige nie. Die onwelkome wagtye in ons lewens is geleenthede om God te verwelkom – om weer ons hart in Hom te vernuwe.

 




Die Krag van God

 

“When God wants people to suffer, he sends them too much understanding.” ~ Joodse Spreekwoord

 

Die Krag van God

Maar die wat op die Here wag kry nuwe krag (Jesaja 40:31 – OAV).

Binnekort gaan miljoene mense weer Nuwejaarsvoornemens maak vir 2015 – ek gaan fiks word; ek gaan gewig verloor; ek gaan ophou rook; ek gaan die Bybel deurlees; ens. Teen Februarie het miljoene mense reeds van hulle voornemens vergeet. Volgens Prof Nick Chater (Warwick Business School) is wilskrag selde genoeg om ons voornemens uit te voer. Mense wat op hulle eie wilskrag staatmaak, sal feitlik altyd misluk om hulle voornemens uit te voer.

 

Vertroue op ons eie krag lei dikwels tot teleurstelling. Jesaja 40 verduidelik hoekom ons vertroosting in God se krag kan kry. Hierdie hoofstuk begin met: Troos, troos my volk, sê julle God. Hierdie woorde volg op die aankondiging van die naderende ballingskap en die vernietiging van Jerusalem – een van die donkerste tye in Juda se geskiedenis. Maar God gee steeds om vir sy mense. Hy bring steeds aan hulle die goeie boodskap: Hier is julle God (vers 9).

 

Die ontrou van die mens staan teenoor God se soewereine mag en trou. Mense is soos gras en blomme: hulle staan regop vir ‘n tyd lank, maar kan dit nie volhou nie (vers 7 – 8). Maar God hou die hele wêreld in sy hand en sy trou onderhou die hele skepping. Hy word nie moeg of mat nie (vers 28). Hierdie God gee om vir sy kinders: Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm bymekaarmaak en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei (vers 11).

 

Hierdie God wat as regter oor die nasies sit, het sy kinders baie lief. Dieselfde God wat die eilande soos ‘n stoffie ophef (vers 15) vou jou toe in sy arms. Dieselfde God wat nooit moeg word, kan jou krag vernuwe.

 




Is die Heilige Gees ‘n werklikheid?

 

If youth but had the knowledge, if age but had the power – Franse spreekwoord.

 

Is die Heilige Gees ‘n werklikheid?

Vraag:

Is daar enige bewyse vir die bestaan van die Heilige Gees en sy werking? Het ons nie hier maar net met “blinde geloof” te doen nie?

 

Antwoord:

Dr. William Lane Craig antwoord:

Ons moet tussen natuurlike en geopenbaarde teologie onderskei. Natuurlike teologie is wat geloof voorskryf en wat die rede ontdek. Dit het te doen met daardie waarhede wat God aan ons openbaar, maar wat ook met menslike rede bewys kan word. Dit het veral met God se teenwoordigheid en die natuur te doen.

 

Geopenbaarde teologie is wat geloof voorstel, maar wat die rede nie kan bewys nie. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die leer van die Drie-eenheid. Die persoon van die Heilige Gees is deel van die geopenbaarde en nie die natuurlike teologie nie. Ons het Goddelike openbaring nodig om te weet dat God drie-enig is. Dit beteken geensins dat geloof in die Heilige Gees “blinde geloof” is nie.

 

As Jesus die openbaring van God die Vader aan die mensdom was, dan moet ons aanvaar dat dit wat Hy vir ons leer, waar is. Jesus het duidelik die werk en bestaan van die Heilige Gees verkondig wat sou kom om die werk wat Hy begin het verder te voer. Dit sê ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het … Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal ek Hom na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is, en dat die oordeel al gekom het. Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; die reg is aan My kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel (Johannes 14:25 – 26 en 16:7 – 11).

 

As ons glo wat Jesus ons geleer het, moet ons in die Heilige Gees glo.