Leiers moet respek verdien

Do ordinary things with extraordinary love – Moeder Teresa

Leiers moet respek verdien

Ons hoef nie God se guns te wen nie. God het ons lief en Hy is tevrede met ons, nie as gevolg van ons prestasies nie, maar deur sy genade. Mense is anders: as jy mense wil lei moet jy geloofwaardig wees en hulle respek verdien. Jy  moet ‘n goeie reputasie hê. Die sleutel tot ‘n goeie reputasie is karakter – jou innerlike gesindheid, jou waardes en jou optrede. Die probleem is dat baie leiers meer bekommerd oor hulle beeld as oor hulle karakter is.

 

As jy nie die respek van mense het nie, is jy nie ‘n leier nie. Rick Warrer verwys na ses karaktereienskappe van leiers. Ons kry hulle almal in Spreuke.

  • Ons verdien respek deur integriteit

Wie opreg leef, leef sonder vrees; wie krom paaie loop, word uitgevind (Spreuke 10:9). Een van die voordele van met integriteit leef, is vertroue, want jy het niks om weg te steek nie – jy is nie bang jy word uitgevind nie.

 

  • Ons verdien respek deur nederigheid

Hoogmoed bring ‘n mens tot ‘n val; nederigheid bring eer (Spreuke 29:23) As jy sukses wil behaal, beklee jou met nederigheid. As ons erken ons is verkeerd sal mense nie op ons neersien nie – hulle sal ons respekteer.

 

  • Ons verdien respek deur betroubaarheid

Soos donderweer en sterk wind wat geen reën bring nie, so is ‘n persoon wat baie beloof, maar niks waar maak nie (Spreuke 25:15 – Die Boodskap) Daar is mense wat alles belowe, maar niks gebeur ooit nie. Dit is fataal vir enige leier.

 

  • Ons verdien respek deur die regte prioriteite te leef

Wie reg leef, verheerlik God. Wie na slegte dinge smag, word daardeur verwoes (Spreuke 11:27 – Die Boodskap). Diegene wat net goeie dinge wil doen, ontvang baie liefde en ondersteuning (Spreuke 14:22 – Die Boodskap). As jou prioriteite gerespekteer word, sal jy ook gerespekteer word.

 

  • Jy verdien respek deur vrygewigheid

‘n Mens wat iets vir ‘n ander oor het, baat self daarby; ‘n hartelose mens word deur sy eie toedoen verstoot (Spreuke 11:17) Mense word nie vereer vir wat hulle ontvang het nie, maar vir wat hulle gegee het; mense word nie vereer vir dit waaraan hulle vasklou nie, maar vir dit wat hulle weggee.

 

  • Ons verdien respek deur naby God te leef

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is (Spreuke 3:4 – 7) As jy God eerste in jou lewe plaas verdien jy guns by God en respek by mense.

 

Hier is ses riglyne oor hoe leiers respek kan verdien. Hierdie is die basis waarop jy respek bou. As mense jou respekteer, sal hulle jou volg.

 

 




Sewe van die verbasendste dinge wat Jesus ooit gesê het

 

I do not agree with a big way of doing things. What matters is the individual. If we wait till we get numbers, then we will be lost in the numbers and we will never be able to show that love and respect for the person. – Moeder Teresa  

 

Sewe van die verbasendste dinge wat Jesus ooit gesê het

Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie (Johannes 7:46)

Hierdie is die woorde van die wagte wat aan die priesterhoofde terug rapporteer om te verduidelik waarom hulle nie vir Jesus na die priesterhoofde teruggebring het nie. Jesus se woorde is verbasend – iets wat ons altyd sal onthou. Baie van diegene wat Jesus gehoor het, het sy woorde uitdagend, aanstootlik of selfs godlasterlik beskou. As Jesus opgestaan het om te praat, was niemand verveeld nie.
In Matteus 11:21 – 30 sê Jesus sewe verbasende dinge. ‘n Mens wil amper soos die psalmis uitroep: Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip (Psalm 139:6). Kom ons kyk na hierdie sewe dinge:

Een: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.

Jesus verwys hier na die hardkoppige inwoners van Gorasim, Betsaida en Kapernaum. Dit moes Jesus se gehoor woedend gemaak het – om te dink dat die bose Sodom beter af as hulle sal wees by die oordeelsdag. Die basiese vraag is wat ons gedoen het met dit wat ons ontvang het. Diegene wat min ontvang het, maar God getrou gedien het, is geloofskampioene.

 

Twee: Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ek is seker die intelligensia in die gehoor het aanstoot geneem. Baie mense sou net hulle koppe geskud het. Jesus sê: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie (Lukas 18:17). Niemand gaan deur sy eie pogings in die hemel kom nie.

 

Drie: Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. Hoekom het Jesus dit moeilik vir slim en geleerde mense en maklik vir eenvoudiges gemaak om die dinge van die koninkryk van God te verstaan? Dit was sy bedoeling. As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil (Hebreërs 11:6). Psalm 115:3: sê: En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil,doen Hy. God het sy planne; Hy weet wat dit is; ek weet dit nie.

 

Vier: My Vader het alles aan My toevertrou … Net voor Jesus sy Groot Opdrag aan sy dissipels gee om uit te gaan en die mense sy dissipels te maak, sê Hy: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matteus 28:18). Hy kan opdragte aan God se kinders gee. Jesus maak dit duidelik dat Hy die Verlosser en Regter is. Jesus is Here; Hy is in beheer.

 

Vyf: Niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader. Hierdie sou die gehoor nog verder ontstel het. Hulle weet immers wie Hy is – die timmerman van Galilea. Die volle identiteit van Jesus – volkome mens en volkome God – het hulle nie verstaan nie. Ook ons sukkel om dit te verstaan.

 

Ses: En ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. Wat beteken dit? In die Johannes-evangelie lees ons: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (14:6). Jesus is die deur. As ons Jesus uit ons geloof neem, eindig ons met ‘n leë dop.

 

Sewe: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig. Kom na My; Ek gee rus; my juk; my las. Alles gaan oor Jesus.

 

God is liefde. Verlossing is beskikbaar. Ons word ingenooi.  Al voorwaarde is dat ons soos kindertjies moet word

 

 




Die kultuurkultus

 

The most terrible poverty is loneliness and the feeling of being unloved – Moeder Teresa

 

Die kultuurkultus

Die huidige kultuurkultus trek ons aandag af van wat werklik belangrik is. Dit lok ons met leë begeertes en selfs ‘n leë godsdiens. Dit probeer ons denke en liggaam in sy strikke vasvang. God se kinders moet erken hulle is in ‘n daaglikse geestelike stryd gewikkel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug (Efesiërs 6:12). Aan die een kant is God en aan die ander kant die wêreld. Aan wie se kant is jy?

 

God trek jou met genade, die waarheid en liefde. Hy wil hê dat jy moet weet dat Hy jou liefhet en dat daar hoop, ‘n doel en ‘n ewige plan vir jou is. Hy wil jou hemelse Vader wees; Hy wil hê dat jy in die wêreld, maar nie van die wêreld moet wees nie.

 

In Johannes 15:19 trek Jesus ‘n duidelike lyn in die sand: As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld  julle.

 

Hoe kan God se kinders in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld wees nie?

  • Verander geestelik; moenie aan die wêreld gelyk word nie

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Romeine 12:2).

 

  • Bestuur jou hart

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe (Spreuke 4:23).

 

  • Fokus doelgerig

Maar een ding doen ek: ek maak my los wat agter is, en strek my uit na wat voor is Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus (Filippense 313 – 14).

 

  • Stry die geestelike stryd

Pas op dat julle nie verlei word om ander gode te gaan dien en vereer nie (Deuteronomium 11:16).

 

  • Aanbid met passie

En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen (Romeine 12:1).

 

  • Leef doelgerig

 En wat julle ook al sê en doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom (Kolossense 3:17).

 

  • Vestig die oë op Jesus Christus

Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof (Hebreërs 12:1 – 2).

 

Hier is ‘n paar riglyn hoe ons in die wêreld. Maar nie van die wêreld kan wees nie.

 

 

 




Wat verwag God van ons – sukses of trou?


Prayer is not asking. Prayer is putting oneself in the hands of God, at His disposition, and listening to His voice in the depth of our hearts –
Moeder Teresa

 

Wat verwag God van ons – sukses of trou?

Lees net weer die boek Handelinge. Wat staan uit? Trou. Die apostels het wondertekens gesien; hulle bediening was suksesvol – kyk net na die groei in die vroeë kerk.

 

Paulus staan aan die einde van sy bediening. Hy spreek die ouderlinge van Efese toe (Handelinge 20:17ev). Wat is sy groot bekommernis? Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak (20:24). Sy groot bekommernis is dat hy getrou aan sy roeping sal bly.

 

Van ‘n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees (1 Korintiërs 4:2). [Bestuurders hier is mense aan wie die geheimenisse van God toevertrou is = rentmeesters.] Rentmeesters is dienaars. – hulle enigste verantwoordelikheid is om te doen wat hulle meesters vir hulle sê.

 

Wat God van ons verwag is nie sukses nie, maar trou in wat Hy aan ons toevertrou het. Vra jouself: Waarvoor het Christus my geroep? Ek is nie verantwoordelik om die wêreld te red nie, maar ek is verantwoordelik om Christus in my situasie te volg. Vir ‘n dienaar is sukses in die lewe om te identifiseer waarvoor God my geroep het en om volkome betroubaar daarin te wees. Elke behoefte om my is nie my saak nie – ek kan nie alles doen nie. Dit is ‘n les wat elkeen van ons persoonlik moet leer. Ons vra: Waar kan ek die grootste impak maak? Wat ons eerder moet vra, is: Waar wil God my gebruik?

 

Meeste van hierdie geleenthede is reeds reg voor my. Ek mag dit dalk nie raaksien nie, maar eendag sal ek geskok wees as ek sien hoe God al hierdie klein optredes van trou kragtig in die lewens van ander gebruik het. Wat is die een ding wat almal van ons begeer om te hoor? Dat Christus, wat ons liefgehad het en vir ons sonde gesterf het, sê: Mooi so, jou goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, ek sal jou oor baie aanstel. Kom deel in jou heer se vreugde (Matteus 25:23 – Direkte Vertaling in Interliniêre Bybel).