Leiers roei die onkruid uit

 

God loves each of us as if there were only one of us —Augustinus

 

Leiers roei die onkruid uit

Hoë impak leiers is groot onkruiduitroeiers. Wat onderskei hulle van ander leiers? Hulle verstaan en aanvaar die 80/20 reël – hulle weet dat 80% van hulle resultate die gevolg is van 20% van die werk wat hulle doen. Hulle doen alles in hulle vermoë om op hierdie hoogste prioriteite te fokus. Die res van die lys? Dit is die onkruid – e-posse, oproepe en ander nie-noodsaaklike items. Noodsaaklik, maar dit sal nie die resultate lewer wat die top prioriteite sal lewer nie.

 

Hoe kan ons dieselfde doen? Gebruik die volgende instrumente om die onkruid uit te roei:

  • Wees absoluut seker van jou doelwitte. Weet presies wat jy wil bereik en hoekom dit belangrik is.
  • Wees oortuig van jou prioriteite. Jy moet presies weet watter aktiwiteite jou resultate dryf.
  • Beheer jou persoonlike organisasie. Leiers dryf die taak; dit is nie die taak wat hulle dryf nie.
  • Delegeer doelgerig. Leiers wat die onkruid uitkap, hou slegs daardie wat hulle alleen kan en moet doen.
  • Wees gedissiplineerd met jou tydsbesteding. Afleidings kan maklik jou aandag aflei en jou tyd mors. Top leiers fokus hulle beste tyd op hulle belangrikste take.

 

Elke leier kan homself baie besig hou. As jy resultate verlang, moet jy jou besig hou met wat regtig saak maak. Fokus op jou top prioriteite. Gryp jou sekel en roei die onkruid uit.

 

 

 




Hoe kan ek impak met my bediening maak?

 

The one freedom that I will not be denied is the freedom to bind myself.”-G.K. Chesterton

 

Hoe kan ek impak met my bediening maak?

Almal van ons stry een of ander tyd met hierdie vraag: Hoe wil God my lewe gebruik om iets meer as net my plesier of my gemak of my doelwitte te bereik? Sonder ‘n hoër roeping is dit tog wat ek najaag: plesier, gemak en my eie doelwitte. Soms dink ons ons betekenis kom van ons werk – en tot ‘n mate is dit waar. Daar is baie mense wat van hulle werk hou. Maar jou kinders gaan nie jou CV op jou begrafnis lees nie.

 

Daar is iets hoër: ons roeping. Op die diepste vlak is dit om God lief te hê en om iets vir ander te doen. Wat baie belangrik is, is hoe jy die spaartyd wat jy het spandeer. Jy vul dit altyd met iets. Hoe kan ek dus ‘n groter impak maak? Hier is ses moontlike maniere.

  • Vul die gapings. Daar is mense wat altyd ‘n boek by hulle het. As hulle vyf of tien minute beskikbaar het, lees hulle. Die beginsel is: vul die gapings met iets betekenisvol. In almal se lewens is daar gapings: as die kinders in die bed is, tussen vergaderings, as jy in die verkeer vassit … Lees; luister na ‘n podcast, bid, dink.
  • Skakel nietighede uit. Hoeveel TV kyk jy? Het jy al ooit gehoor iemand sê dat TV sy wêreld verander het? Die gemiddelde Amerikaner wat 21 jaar oud is, het reeds 10 000 uur speletjies gespeel. Natuurlik is TV nie net sleg nie, maar so baie ure? Ons moet ontspan en geniet, maar net soos jy word wat jy eet, word jy wat jy verbruik.
  • Rus wanneer dit nodig is, maar niks meer nie. Mense sê luiheid is wanneer jy rus as jy nie moeg is nie. Jy moet genoeg slaap. Slaap is die geheime wapen van doeltreffende leiers. Ontspan. Maar op ‘n stadium is rus nie meer herstellend nie, maar net luiheid. Hou op rus as jy nie moeg is nie.
  • Staan vroeër op. Onthou egter dat jy genoeg moet slaap. Soggens vroeg is gewoonlik wanneer ons optimaal funksioneer. Dan is jou kreatiwiteit op sy hoogste. Niemand pla jou voor 7 uur nie.
  • Wees saam met mense wat ‘n verskil maak. Jy gaan ondersteuning op jou reis nodig hê. Kry vriende wat ‘n groter impak wil maak en ondersteun mekaar.
  • Moenie op onmiddellike resultate fokus nie. Moenie dat huidige resultate jou ontmoedig nie. Moenie mismoedig word as jy dink dat jy geen verskil maak nie. Hou net aan om die regte ding te doen – elke dag. Uiteindelik sal jy sien dat jy op die regte pad is.

 

Sekerlik moet jy ontspan, TV kyk, ens, maar nie die hele dag en elke dag nie.

 




Karl Barth se reëls vir ouer mense teenoor jonger mense

 

Take heed you speak not peace to yourself before God speaks it. — John Owen

 

Karl Barth se reëls vir ouer mense teenoor jonger mense

Daar is nou ‘n digitale versameling van Karl Barth se werke. Dit is ongelooflik volledig. Daar word bronne ingesluit wat baie moeilik toeganklik is. Ek het nooit besef dat Barth raad gegee het aan diegene wat ouer is oor hoe om op te tree teenoor diegene wat jonger is. Hy het inderdaad ‘n aantal reëls neergeskryf:

  • Besef dat jongmense van beide geslagte, of hulle nou familie is of naby aan jou is op ‘n ander manier, die reg het om hulle eie pad te loop volgens hulle eie (en nie joune nie) beginsels, idees en begeertes, om hulle eie ondervinding op te doen en om geluk op hulle eie manier te vind.
  • Moenie jou voorbeeld op hulle afdwing nie – nie jou wysheid of voorkeure of neigings nie.
  • Moenie hulle op enige manier aan jou bind of onder ‘n verpligting teenoor jou sit nie.
  • Moenie verbaas of kwaad wees as jy agterkom hulle het geen of baie min tyd vir jou al bedoel jy dit baie goed. Soms pla of verveel jy hulle. Daarom ignoreer hulle vir jou en jou raad.
  • As hulle so optree, onthou dat jy in jou jeug waarskynlik op dieselfde wyse teenoor gesagsfigure van destyds opgetree het.
  • Wees dankbaar as hulle van jou notisie neem en jou vertrou – moenie verwag om dit te kry nie.
  • Moet nooit, onder geen omstandighede, hulle afskryf nie. As jy hulle hulle eie weg laat gaan, gaan saam met hulle op ‘n ontspanne manier – vertrou dat God sal doen wat die beste vir hulle is; ondersteun en bid altyd vir hulle.

Baie wysheid hierin.




Die teenmiddel teen valsheid

 

Oh that the gods

The gift would gi’e us

To see ourselves

As others see us

Robert Burns – Skotse digter

 

Die teenmiddel teen valsheid

Dit is interessant om te sien dat as iemand sê dat hy ‘n Christen is hoe die mense om hom reageer. Daar kom ‘n afstand tussen hulle, want moderne mense aanvaar dat Christene sekere ongewenste eienskappe het. Of dit nou geregverdig is of nie, mense het negatiewe indrukke van Christene. Sekerlik die algemeenste klagte is: “Christene is vals.”  Ons is gou om hierdie wanvoorstelling reg te stel, maar die negatiewe persepsies bly.

 

Wat bedoel mense as hulle sê dat Christene vals is? Meestal beteken dit dat Christene dink dat hulle al die antwoorde het – hulle tree meerderwaardig op. Slim antwoorde dryf hierdie mense net verder weg. As ons waarlik die liefde van God wil weerspieël, moet ons meer pro-aktief optree. Hoe? Opregte nederigheid.

 

Opregte nederigheid is nie:

  • Om onseker te wees van wie jy is nie.
  • Om jouself te verkleineer met die hoop dat iemand jou gaan prys nie.
  • Om te sê “Ek voel so nederig,” nadat jy gepresteer het en erkenning daarvoor gekry het nie.

 

Opregte nederigheid is:

  • Om jou eie sondes en tekortkominge te erken.
  • Om te kan leer van ander wie se sienings van joune verskil.
  • Om ‘n gevoel van “ons is almal saam hierin” te kommunikeer. Hiermee erken jy dat niemand al die antwoorde het nie; ons is gretig om te leer en te groei.

 

Maar hoe lyk opregte nederigheid in die alledaagse lewe? Hier is ‘n paar praktiese maniere om liefde deur opregte nederigheid te demonstreer.

  • Modelleer kwesbaarheid – deel jou stryd en tekortkomings met ander.
  • Deel jou vrae. Wees eerlik. So trek jy ander in die gesprek in.
  • Beheer jou aptyt om altyd reg te wil wees.
  • Onderdruk jou trots. Bly uit die kalklig; wees almal se dienaar.

 

Die wêreld haat vals mense ; die wêreld word aangetrek na opregte mense wat opregte nederigheid geïnspireer deur Jesus uitstraal.