Die Vierde Man in die Vuur

While all men seek after happiness, scarcely one in a hundred looks for it from God. —John Calvin

 

Die vierde man in die vuur

Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind en in die oond gegooi nie?”

En hulle sê vir hom: “Dit is so, U MajesteitI”

Hy sê toe: “Maar ek sien dan vier manne  wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, die vierde lyk soos ‘n hemelwese!” (Daniël 3:25 – 26).

 

Baie min, indien enige van ons, sal voor so ‘n groot toets soos Sadrag, Mesag en Abednego te staan kom. Die koning het hulle in ‘n brandende oond gegooi. Maar ons sal geroets word; versoekings sal kom. Hierdie toetse en versoekings kom dikwels as ons alleen is – as niemand kyk nie.

 

Ons is dwaas as ons dink ons kan teen versoeking staan in ons eie sterkte en wysheid. Ons het hulp nodig. Die sleutel tot die moed en kalmte van hierdie drie vriende van Daniël in die oond wat die vierde Persoon: die vierde lyk soos ‘n hemelwese.

 

Ons weet nie wat Nebukadneser gedink het toe hy dit gesê het nie – hy het waarskynlik nie werklik besef wie hierdie vierde Persoon was nie. Al wat hy geweet het, is dat hy drie mense ingegooi het en dat daar nou vier was wat ongedeerd rondgeloop het.

 

Nebukadnesar besef hy kan nie meer met hierdie drie manne mors nie. Hy het groot respek vir die God wat hulle verteenwoordig het – respek nie noodwendig geloof nie.

 

Gaan jy tans deur ‘n moeilike toets? Is jy in die warm water van versoeking? Weet dan: Jy is nie alleen in hierdie lewe nie. Jesus is saam met jou elke tree wat jy gee. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Hebreërs 13:5). Staan vas. Al sal jy die hitte voel, sal God nooit jou sy verlaat nie.

 

 




Ons wortels diep in die evangelie

 

He that hath slight thoughts of sin never had great thoughts of God. —John Owen

 

Ons wortels diep in die evangelie

Tim Keller, in sy boek Walking with God Through Pain and Suffering, sê dat ons moderne benadering tot geluk is om alle lyding te verwyder – vermy alle pyn en as jy dit nie kan doen nie, sedeer dit. Maar: “No amount of money, power, and planning can prevent bereavement, dire illness, relationship betrayal, financial disaster, or a host of other troubles from entering your life. Human life is fatally fragile and subject to forces beyond our power to manage.

Die Bybel erken die donker werklikheid van die lewe en gee ook vir ons ‘n antwoord daarop. Psalm 1 vergelyk ‘n gelukkige lewe met ‘n boom wat by waterstrome geplant is. Hierdie boom gaan deur seisoene – hy dra op die regte tyd vrugte. Maar daar is ook ‘n winterseisoen en droogtes. As ons strategie vir geluk is om in die somerseisoen van ons lewens te bly, sal ons geluk verdwyn as die seisoene verander – en hulle sal verander.

 

Dit is duidelik dat ons iets dieper as omstandighede nodig het – ons het wortels wat diep in die evangelie ingaan, nodig. Dan sal ons in die winter van ons eensaamheid, die droogte van depressie, in die storms van versoeking vas kan staan. Hoe kry ons ons wortels diep in die evangelie? Psalm 1 help ons hiermee.

 

  • Heg groot waarde aan God se woord

Dit gaan goed met die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Dit is nie ‘n plig nie, maar ‘n vreugde. Ons sal die plesier van die lewe slegs ontsnap as ons iets het wat vir ons meer plesier gee – die woord van God. Die probleem is dat min van ons God se woord en vreugde saam in dieselfde sin gebruik. Vir ons is die lees van die Bybel ‘n plig – iets wat ons moet afmerk anders voel ons skuldig. Maar hoe kan ons vreugde in die woord van God vind? Deur dit dag en nag te oordink. Ons moet die Bybel lees, memoriseer, daaroor nadink (iets soos herkou).

 

  • Heg waarde aan die kerk

Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie. Die psalmis sê nie: vermy sonde, nie – wat natuurlik reg is. Hy sê dat ons ons gemeenskap versigtig moet kies. Jou vriende bepaal jou toekoms. Dit geld soveel meer vir kinders. Net as die kerk jou gemeenskap word, sal jy geestelik groei en volwasse word. Die kerk is nie ‘n gebeurtenis wat ons Sondae bywoon nie. Die kerk is ‘n geloofsgemeenskap en moet die plek wees waar ons diepste verhoudings is. Die preke mag ons inspireer, maar dit is die geloofsgemeenskap wat ons vorm.

 




Gasvryheid: Foute wat gemeentes maak

“If we are people who come to the Church merely in order to get some personal help and no more, then we are the veriest babes in Christ” – Martin Lloyd-Jones

 

Gasvryheid: Foute wat gemeentes maak

Baie gemeentes het ‘n groot probleem. Besoekers kom ingestap; hulle kyk rond; woon die erediens by … en jy sien hulle nooit weer nie. Hoekom gebeur dit? Bill Tenny-Brittian sê dit is omdat die gemeente nie gasvryheid mooi verstaan nie. In die VSA keer net 15% van besoekers wat die gemeente vir die eerste keer besoek weer terug.

 

Watter foute maak gemeentes?

  • Jy vra jou besoekers om tydens die erediens op te staan

Besoekers wil nie voor die hele gemeente geïdentifiseer word nie – hulle wil nie opstaan nie, hulle wil nie hande opsteek nie, hulle wil nie spesiale naamkaartjies dra nie. As jy jou besoekers identifiseer sodat almal na hulle kan kyk – eintlik aangaap – is die kanse dat hulle sal terugkeer feitlik nul.

 

  • Ignoreer jou besoekers

Hulle wil nie voor die gemeente geparadeer word nie,, maar hulle wil darem ook nie behandel word asof hulle glad nie bestaan nie. Nee, praat met besoekers voor en na die diens en antwoord hulle vrae. Almal moet nou nie op hulle afstorm nie, maar moet hulle nie ignoreer nie.

 

  • Moenie jou besoekers verwar nie

Besoekers word maklik verwar. Hulle weet nie waar die ruskamers is nie; hulle weet nie wat al die afkortings wat ons gebruik, beteken nie; hulle weet nie wanneer om te staan en wanneer om te sit nie. As jy hulle verwar sal hulle iets anders kry om volgende Sondag te doen.

 

  • Maak dit moeilik vir besoekers om terug te keer

As die seën uitgespreek is aan die einde hardloop almal om by die huis te kom. En die besoeker? Hy staan daar onaangeraak deur enigiemand. Die indruk wat die besoeker kry, is dat niemand eintlik omgee of hy terugkeer of nie. Maak seker dat daar iemand is om na die diens met hulle te praat en alle inligting te gee. Dit is goed as iemand nog dieselfde dag by hulle ‘n draai kan maak en hulle uitnooi om terug te keer.

 

  • Maak dit moeilik vir besoekers om te verbind

Daar is baie dinge wat kan veroorsaak dat ‘n besoeker kan verbind: hulle geniet die erediens; hulle geniet dalk die praktiese instruksies aan die einde; hulle mag aanklank vind by ‘n spesifieke lidmaat. As hulle moet baklei om te verbind, sal hulle nie weer terugkom nie.

 

Natuurlik is daar baie ander probleme, maar as jy hierdie vyf kan uitskakel, het jy al ‘n hele ent gevorder.

 

 




Vrygewigheid – moenie daaroor praat nie

 

He who merely studies the commandments of God is not greatly moved.  But he who listens to God commanding, how can he fail to be terrified by majesty so great? – Martin Luther

 

Vrygewigheid – moenie daaroor praat nie

Die leraar kondig aan dat hy vanoggend oor vrygewigheid gaan preek. Jy kan amper die gemeente hoor sug. Die waarheid is dat ons as God se kerk veronderstel is om te gee. Dit bly ‘n moeilike onderwerp en niemand wil daaroor praat nie.

 

Hier is vier dinge wat ons gesprek oor vrygewigheid kan verander.

  • Dit is ‘n ander manier om te leef

Vrygewigheid is nie iets wat ons Sondae doen nie. Dit is ‘n uitnodiging van God wat vir elke dag en elke deel van ons lewe geld. Dit gaan nie oor die gee van ‘n tiende nie. Ons gee vrylik wat ons vrylik ontvang het. Dit geld nie net vir ons geld nie, maar ook vir ons tyd en energie, maar veral ons liefde.

 

  • Dit is aansteeklik

Vrygewigheid is aansteeklik. Om vir iemand iets te gee – geld vir ‘n koppie koffie – is baie meer werd as die paar rand wat dit vir jou gekos het. As mense sien wat jy doen, volg hulle jou voorbeeld, want vrygewigheid is aansteeklik.

 

  • Dit is teen die kultuur

Meeste van ons voel dat ons nie genoeg het nie. Ons spandeer baie tyd om nog meer bymekaar te maak – en die res van die tyd hoe ons dit wat ons het, kan behou. Vrygewigheid is teen ons hele kultuur. Dit is hoekom dit so kragtig is

 

  • Dit vermeerder homself

God se ekonomie werk nie soos ons s’n nie. As ons weggee en nie vasklou aan dit wat ons het nie, vermeerder God dit wat ons het. Niemand is nog ooit van honger dood net omdat hy te veel weggegee het nie. God werk nie so nie. As ons God met ons geld vertrou in plaas daarvan om daaraan vas te klou uit vrees dat Hy nie sal voorsien nie, voorsien Hy. Meer nog: Hy gaan altyd verder as dit wat jy aan Hom gegee het. Jy kan nie meer as God gee nie.

 

Om oor vrygewigheid te leer, is moeilik, maar belangrik. Dit is belangrik vir die oorleweing van die kerk, maar ook vir die geestelike gesondheid van die gemeente. As ons vrygewig is met daardie dinge wat ons dink ons vir ons veiligheid nodig het, plaas ons ons welstand en vertroue in die hande van Hom wat waarlik vir ons kan versorg. Dit gaan nie oor geld nie, maar oor geloof.