Wat is goed vir ons?

 

There are lots of people who mistake their imagination for their memory. – Josh Billings

 

Wat is goed vir ons?

Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge kan leer. Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer (Psalm 119:71 – 72 – OAV)

Ons probleem is dat ons definisie van wat goed is, is daardie dinge wat hier en nou vir ons voordelig is. Ons stel belang in wat ons tydelik sal bevoordeel, maar God stel belang in wat ons in ewigheid sal bevoordeel. Ons stel belang is dit wat ons vir ‘n tydjie gelukkig sal maak; God stel belang in wat ons heilig sal maak.

 

God het ons lief; Hy wil deur ons lewens verheerlik word. Daarom verwyder Hy nie altyd ons swaarkry nie, want dit kan ons sterker maak en nader aan Hom bring. Teenspoed hou ons nederig; sukses het ‘n neiging om mense trots te maak – hulle voel nie dat hulle ‘n behoefte aan God het nie. Eers as ons teenspoed ondervind, besef ons wat regtig in hierdie lewe belangrik is. Ons moenie so bang wees vir pyn nie. Daar is iets veel erger as pyn – voorspoed wat daartoe lei dat ons van God vergeet. Teenspoed leer vir ons ewigheidswaarhede wat ons dalk andersins nooit sou geleer het nie.

 

Ons wil ten alle koste pyn vermy. “No pain, no gain.”  Ongelukkig is dit waar van die lewe. Ons pyn herinner ons aan ‘n dieper behoefte – die behoefte aan God in ons lewens. God leer vir ons lesse in daardie valleie wat ons nooit op die bergtoppe sou leer nie.

 

 

 

 




Wat is die gesonde leer?

 

We belong to Jesus because He has purchased us by His blood. He will not return or exchange what He has bought. —Anthony Carter

 

Wat is die gesonde leer?

Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie wat aan my toevertrou is, die evangelie van die heerlikheid van die goeie God (1 Timoteus 1:11)

In hierdie bose wêreld kom die Christelike boodskap.  Dié gedeelte vertel ons vier dinge oor hierdie boodskap:

  • Dit is die gesonde leer. Die woord beteken letterlik “gesondheid gee”.  Die Christendom is ‘n etiese godsdiens.  Dit vereis van ons nie net die onderhouding van sekere rituele en wette nie, maar die leef van ‘n gesonde lewe.  Om Christen te wees, beteken nie dat ons  sekere rituele moet nakom nie – al is die ritueel Bybellees en kerk toe gaan.  Dit beteken om ‘n goeie lewe te leef.  Ware Christelikheid is genesend; dit is die morele antiseptikum wat ons lewe reinig.
  • Dit die evangelie van heerlikheid. Dit is heerlike goeie nuus; goeie nuus van vergifnis van sondes en die mag om sonde te oowin in die toekoms; goeie nuus van die genade en redding van God.
  • Die nuus kom van die goeie God. Die Christelike godsdiens is nie ‘n ontdekking wat ‘n mens gemaak het nie; dit is deur God geopenbaar.  Dit bied nie alleen die hulp van mense aan nie, maar ook die mag van God.
  • Die nuus kom deur mense. Dit is aan Paulus toevertrou om dit aan ander mense oor te dra.  God maak sy aanbod; Hy benodig boodskappers.  Die ware Christen aanvaar die aanbod van God, maar besef dat hy nie sulke goeie nuus vir homself mag hou nie – hy moet dit vertel aan ander wat dit nog nie gehoor en hul eie gemaak het nie.

 

Dit is die gesonde leer – die Goeie Nuus – wat ons aan ander moet oordra.

 

 




Kom weer aan die gang

 

Memory… is the diary that we all carry about with us. ~Oscar Wilde, “The Importance of Being Earnest”

 

Kom weer aan die gang

As jy misluk het, is daar een waarheid wat jy moet onthou: God is ‘n God van tweede kanse. Laat Hom toe om jou mislukking te gebruik om jou vorentoe te laat beweeg.

 

Hoe kan ek van mislukking herstel en na vore beweeg?

  • Aanvaar verantwoordelikheid vir jou mislukking

Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat die bely en laat staan, sal barmhartigheid vind (Spreuke 28:13). Weier ons om ons foute te erken, vermors ons ‘n leergeleentheid. Wees eerlik met jouself en met ander. Ons is almal kundiges om blaam na ander oor te plaas. God sê: “As jy weer voor wil begin, erken dit.” Ons hoef nie voor te gee dat ons volmaak is nie – niemand is volmaak nie.

 

  • Hou op jammer wees vir jouself; begin bely

Bely beteken dat ek my gedagte verander; ek kyk na die saak uit ‘n ander hoek. Jy sit nie op ‘n hopie en kla nie. Droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood (2 Korintiërs 7:10). Hier lees ons van twee soorte droefheid: Goddelike droefheid lei tot verandering – dit motiveer jou om iets te doen; wêreldse droefheid is terneerdrukkend en lei tot die dood. Sekerlik een van die emosies wat jou lewe kan vernietig is selfbejammering. Baie van die suksesverhale in die lewe is op mislukking gebou.

 

  • Vergeet van die verlede en fokus op die toekoms

Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus (Filippense 3:13 – 14). Watter gedagte oor die verlede laat jy toe om steeds jou lewe te manipuleer? Sommige mense laat toe dat hulle verlede hulle toekoms beheer. Jou verlede is verby. Jy kan nie jou verlede verander deur jou daaroor te bekommer nie. Fokus op die toekoms. Wat belangrik is, is nie waar jy was nie, maar waarheen jy op pad is. Jy verloor as jy tou opgooi, want dan verwerp jy God se genade. Jy kan jouself voortdurend veroordeel of jy kan bely en met jou lewe voortgaan.

 

  • Vertrou op God om alles op te los

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). God is besig om ons lewenspatroon uit te werk; alles pas mooi inmekaar. Vir ons lyk dit dikwels nie so nie. Maak nie saak wat die oorsaak van jou probleem is nie, God kan dit steeds gebruik.

 

Wat is jou probleem? God wil jou help om dit te oorwin. Hou op om jou te bejammer en laat Hom toe om in jou lewe te werk.

 

 




Lewe na 50 jaar ouderdom

 

The whole life of man until he is converted to Christ is a ruinous labyrinth of wanderings. —Johannes Calvyn

 

Lewe na 50 jaar ouderdom

Almal is bang vir oud word – wat gaan ek doen; hoe gaan ek my dae omkry … Maar hierdie tyd na 50 jaar is dikwels die beste tyd van jou lewe. God het ons gemaak wat ons nou is: In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:10). Die vooruitsigte vir die lewe na 50 is rooskleurig. Hoekom?

  • In die tweede helfte van jou lewe is jy meer gefokus en minder geneig om af te dwaal

Bob Buford sê ons behoeftes in die lewe kan in vier konsentiese sirkels verdeel word.  Die buitenste sirkel is die behoefte aan geld en om dit te spandeer. Een sirkel na binne is dit wat jy bereik – jou prestasies. Die derde sirkel is jou verhoudings – vrou, kinders, familie en vriende. Die binneste sirkel is jou geestelike behoeftes wat Jesus as die brood van die lewe en lewende water beskryf het. In die eerste vyftig jaar van jou lewe spandeer jy die meeste van jou tyd in die buitenste twee sirkels. Die tweede helfte van jou lewe nooi jou uit na ‘n nuwe balans. Jy beweeg na die binneste twee sirkels.

 

  • In die tweede helfte van jou lewe leef jy jou eie agenda

In die eerste helfte van jou lewe het jy ‘n werk en jy moet oorleef. Dit beteken jy is dikwels met iemand anders se idees besig. Jy moet ‘n lewe maak, maar tog het jy die begeerte om jou eie idees uit te leef.

 

  • In die tweede helfte kry jy beheer oor jou lewe

Nou kan jy ten minste sê: NEE. Nou kan jy die mens word wat jy nog altyd wou gewees het.

 

  • In die tweede helfte van jou lewe het jy dikwels hulpbronne

Jy het reserwes opgbou. Ons praat nie net van geld nie. Ons kennisbasis is wyd en diep; ons het ‘n netwerk na wie ons kan draai vir hulp. Hierdie tyd van ons lewe is ons dikwels baie doeltreffend.

 

  • In die tweede helfte van ons lewe kan ons pyn hanteer

Gebeure wat seermaak of ‘n terugslag wat jou in jou jong dae sou ontspoor het, het nie meer daardie effek nie. Emosioneel en geestelik is jy meer volwasse – sterker. Ons besef nou dat ons kan seerkry, maar steeds vooruitgaan. Dit is ‘n groot bate – en vertroosting.

 

  • In die tweede helfte weet jy iets van genade

As ons jonk is, het ons ‘n behoefte om ons te bewys. As ons 50 jaar oud is, weet ons wat ons kan doen en is daarom minder bang vir dit wat ons nie kan doen nie. Almal van ons het genade ontvang – niemand is oorgeslaan nie

 

Maar ons as bejaardes moet dink aan dit wat ons lewe beter maak na 50 jaar ouderdom. Ons moet besef dat betekenis in die lewe belangriker is as geld.