Abraham Lincoln en die slavin

 

Eschew effectiveness. Cling to faithfulness. – A. Swoboda

 

Abraham Lincoln en die slavin

Eendag koop Abraham Lincoln vir hom ‘n slavin op die markplein.  Hy koop die slavin en loop toe weg – hy los haar net daar. Hy het haar gesien en wou haar vrystel.

Sy hardloop agter hom aan en sê: “U het my gekoop. Wat verlang u van my?”

Lincoln antwoord: “Jy is vry. Ek wou jou net van jou slawebande vry maak. Jy is vry om te doen net wat jy wil – dit is immers die definisie van vryheid.”

Die slavin: “Vry? Vry om te doen net wat ek wil?”

Lincoln: “Ja.”

Sy: “Vry om te wees net wat en wie ek wil?”

Lincoln: “Ja.”

Sy: “Vry om te gaan net waar ek wil?”

Lincoln: “Ja.”

Met ‘n glimlag sê sy: “Omdat ek waarlik vry is om te doen wat ek wil, wil ek vir jou volg!”

 

Is dit nie wat met ons gebeur nie? As ek waarlik verstaan hoe groot God se genade aan my is, kan ek nie anders as om Hom te volg nie.  Omdat God sy Seun vir my gegee het, kan ek nie anders as om my lewe vir Hom te gee nie. Ware genade beteken dat God ons liefhet net daar waar ons is, maar genade het ons te lief om ons net daar te los. God maak ons vry. Dan moet ons soos die slavin reageer: “Omdat ek waarlik vry is om te doen wat ek wil, wil ek vir U volg!”

 

 




Die Kuns van Oorreding

 

“If I had never joined a church till I had found one that was perfect, I should never have joined one at all; and the moment I did join it, if I had found one, I should have spoiled it, for it would not have been a perfect church after I had become a member of it. Still, imperfect as it is, it is the dearest place on earth to us.” – C. H. Spurgeon

 

Die Kuns van Oorreding

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

 

Ons moet aanvaar dat die Bybels-ongeletterde ongelowige nie dieselfde Christelike agtergrond as gelowiges het nie. Tog gebruik ons dikwels die een-grootte-pas-almal boodskap vir alle mense. Ons neem glad nie die omstandighede van ons hoorders in ag nie. Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie (Jakobus 1:19). Wees konteks-sensitief; gebruik die regte woorde om ander te ooruig.

 

Paulus was baie bewus van die konteks. So het hy beter verstaan oor hoe om die probleem te oorbrug. Kyk net na die vloei van sy argument; kyk net na die interaksie van sy perspektief en die wêreldsiening van die Grieke.

 

Vooraf moet ons eers kyk na die Grieks-Romeinse retoriek. [Retoriek = welsprekendheid, redenaarskuns. Grieks – retor = redenaar.] Mense het destyds dikwels na redenaars gaan luister – daar was nie baie ander vermaak nie. Hierdie redenaars het van plek tot plek gereis en hou dan toesprake. Daar was sekere reëls wat hierdie redenaars moes volg. Hier is ‘n paar van hulle:

  • Begin met ‘n kompliment veral as die gehoor vyandig is of nie jou siening deel nie. Jy moet die gehoor simpatiek maak sodat hulle na jou siening sal luister.
  • Hierna word die onderwerp ingelei. Die siening wat jy graag wil hê die gehoor moet aanvaar of die optrede wat jy van hulle verlang, word gestel.
  • Nou volg die ondersteunende argument(e). Nou versterk die spreker sy saak deur bewyse te gee waarom sy argumente geldig is. Baie belangrik as jy gesagsfigure kan aanhaal om jou argumente verder te ondersteun. Tradisie was belangrik en waardevol. As jy Aristoteles kon aanhaal, was jou kop deur.

 

Deur hierdie eenvoudige maar belangrike reëls te volg, kon Paulus ‘n beter ontvangs van sy boodskap verwag. Baie belangrik: Paulus water nie sy boodskap af om by die reëls in te pas nie. Maar deur die reëls te volg, bewys hy dat hy meer as net ‘n praatjiesmaker is.

 

Volgende keer kyk ons na Paulus se oorredende benadering.

 

 




By Paulus se dood

 

Since our goodness cannot reach the Lord…we must exercise it towards the saints who are on earth” ~ Johannes Calvyn

 

By Paulus se dood

Het jy al ooit gedink wat jy op jou grafsteen geskryf wil hê? Morbiede vraag? Ons moet periodiek stop en aan ons lewens dink. In Handelinge 20 gee Paulus ‘n afskeidspraatjie aan ‘n klompie vriende – die ouderlinge van Efese. Dit is eintlik ‘n opsomming van sy hele lewensfilosofie. Hy maak  vyf stellings.

  • Ek was getrou om te doen wat Jesus vir my gesê het om te doen

Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak (20:24) Dit is al wat saak maak. Daar is mense wat glo dat hulle taak is om die hele wêreld reg te kry; hulle dra die gewig van die wêreld op hulle skouers. Ongelukkig voel dit asof niks wat hulle doen ooit genoeg is nie. Dan is daar mense wat glo dat God geen verantwoordelikheid aan hulle gegee het nie. Ons is nie verantwoordelik om die wêreld te red nie, maar ons moet die lewenstaak wat Jesus vir ons gegee het, vervul. Sukses in die lewe is om te identifiseer waarvoor God jou geroep het en dit getrou te doen.

 

  • Ek het die waarheid vertel

Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie (20:20); Want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie (20:27). Paulus was nie verantwoordelik vir die inhou van die boodskap nie – hy het dit net oorgedra. Natuurlik kan die waarheid van die evangelie vir sekere mense aanstoot gee. Mense hou nie daarvan om van sonde en die oordeel van God te hoor nie. Daarom verkondig ons nie die hele evangelie nie, want dit is ongemaklik. Charles Spurgeon sê: “If sinners be damned, at least let them leap to Hell over our dead bodies. And if they perish, let them perish with our arms wrapped about their knees, imploring them to stay. If Hell must be filled, let it be filled in the teeth of our exertions, and let not one go unwarned and unprayed for.”

 

  • Ek het mense se aandag op Jesus en nie op myself gevestig nie

Paulus beskryf sy bediening as een gevul met nederigheid en droefheid (20:19). Dit is nie hoe meeste van ons ons lewens sou opsom nie. Ons verkies woorde soos oorwinning, mag en geluk. Nederigheid is nie in die Griekse samelewing as ‘n deug gesien nie. Hoekom is dit in die Christelike geloof ‘n deug? Want die Christelike geloof gaan nie oor mense met buitengewone karakters nie, maar oor ‘n groot Verlosser wat die swakste mense – gebroke en sondig – kan red.

 

  • Ek het sterk geëindig

Baie mense wat Christus volg, begin baie sterk en met baie goeie bedoelings, maar hulle kan nie tot aan die einde volhou nie. Paulus het baie bereik, maar hy besef dat dit alles tevergeefs sou wees as hy nie sterk eindig nie (20:24). Ons probleem is dat ons graag die taak wat Jesus vir ons gegee het, wil voltooi, maar ander dinge trek ons in ‘n ander rigting. Ons liefde is verdeel.

 

  • Ek het meer gegee as wat ek ontvang het

Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang (20:35). Dit is ‘n goeie perspektief om in al ons verhoudings te aanvaar – in jou huwelik, jou werk, jou vriendskappe en jou aftrede. Maar waar kry ons die krag om meer te gee as wat ons ontvang? Net by Christus. Paulus kon dit doen, want daar was een verhouding waar hy altyd meer gekry het as wat hy gegee het – sy verhouding met Jesus Christus. Ons kan nooit vir Jesus betaal vir wat Hy vir ons gedoen het nie. Omdat Hy Hom volledig aan ons gegee het, kan ons onsself aan ander gee sonder om ons te bekommer of hulle vir ons iets terug sal gee.

 




Paulus se evangelie vir diegene wat opgevoed is

“The way to do a great deal is to keep on doing a little. The way to do nothing at all is to be continually resolving that you will do everything.” C. H. Spurgeon

 

Paulus se evangelie vir diegene wat opgevoed is

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Hier sien ons waar die evangelie van Jesus die Messias en die intellektuele en sosiale elite van Atene mekaar ontmoet. Hierdie heidene het min of geen kennis van wat die Jode geglo het nie. Hulle weet ook niks van die evangelie van Jesus Christus nie. Ons moenie te haastig wees om sommer in ‘n bespreking wat oor inhoud gaan, betrokke te raak nie.

Luister eers versigtig; vra ondersoekende vrae; moenie elke keer onderbreek as jy verskil nie. Paulus begin deur te sê: Ateners, ek sien dat julle in baie opsigte baie godsdienstig is. Ons kan ongelowiges prys vir hulle belangstelling in geestelike dinge.

Paulus is verontwaardig en hartseer oor hulle afgodsdiens. Hy hou egter die geestelike gesprek aan die gang deur hulle nie summier te veroordeel en sleg te sê nie. Paulus se toespraak is primêr teologies – hy fokus op die identiteit en aard van die een ware God eerder as op Jesus Christus, soos in meeste van sy ander toesprake. Hy verwys slegs indirek na Jesus as die Messias (17:31). Dit is Paulus se teologie – wie God is en hoe Hy in die geskiedenis gewerk het – wat hom met die Ateners laat bots het.

Paulus het nooit dit wat die Jode geglo het, verwerp nie. Hy het dit wel in ‘n nuwe raamwerk geplaas na sy ontmoeting met Jesus op die pad na Damaskus.

  • Een ware God. Die baie afgode sou Paulus ontstel het, want die Jode, en Christene, het geglo dat daar net een God is. Dit was fundamenteel in hulle geloof – ononderhandelbaar. Paulus het goed besef dat hierdie waarheid beslis nie deur sy gehoor aanvaar sou word nie. Daarom moet hy oor die een ware God praat. Ons kan nie vandag aanvaar dat as iemand van God/god praat dat hy bedoel wat ‘n Christene verstaan nie. As ons dus van God praat, moet ons soos Paulus dit verder omskrywe. Ons moet dus weet wie en wat God is. Ons moet eers alle karikature van God verwerp om plek te maak vir die ware God – ons moet eers die onkruid verwyder voor ons blomme plant. Paulus sê dit is onredelik om te dink dat jy God in ‘n beeld of tempel kan vasvang. Hierdie God praat van bekering, want eendag gaan Hy die wêreld oordeel. Die aanspraak dat daar net een God is, word vandag afgemaak as onverdraagsaamheid.
  • Paulus was jaloers op God. Ons lees dat hy baie verontwaardig geword het toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. God se jaloesie in ‘n algemene tema in die Skrif. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My (Eksodus 20:5).
  • God die Skepper van alle dinge. Hy het nie alleen alles gemaak nie, maar is steeds aktief aan die werk in sy skepping. Hy is die Skepper en Onderhouer van alles.
  • God die regter van die wêreld. As Skepper van alles het Hy gesag oor alles. Hy hou alle mense aanspreeklik vir hulle verhouding met Hom en ander mense. Die Grieke het geglo dat die lewe een voortgaande proses sonder doel of einde is. Paulus verwerp die idee – die Ateners is verantwoordelik vir hulle optrede en moet bekeer word.
  • Natuurlike openbaring. Die Jode het geglo dat die natuur van God se bestaan getuig. Die stem van die natuur word orals gehoor en herinner ons daaraan dat daar ‘n God wat goed en magtig is, is. Hierdie natuurlike openbaring is dikwels die eerste stap om mense so ver te kry om te erken dat daar ‘n God is.
  • Soek God. God het uit een mens al die nasies gemaak; Hy bepaal hoe lank hulle leef en waar hulle sal leef; Hy skep grense vir hulle. God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind (17:27). Alle mense soek God.
  • Jesus Christus en die evangelie. Paulus sê hier dat God vir Jesus Christus uit die dood laat opstaan het.

Paulus begin die pad na Jesus Christus met ‘n algemene aanbieding van God. Dit was ‘n noodsaaklike stap voor Paulus by Jesus Christus kon uitkom. Paulus begin waar sy gehoor is en gebruik konsepte en terminologie waarmee hulle bekend was. Eers daarna gaan hy verder en vertel van die evangelie van Jesus Christus.

Volgende keer gaan ons na die kuns van oorreding kyk.