Ons wortels diep in die evangelie

 

He that hath slight thoughts of sin never had great thoughts of God. —John Owen

 

Ons wortels diep in die evangelie

Tim Keller, in sy boek Walking with God Through Pain and Suffering, sê dat ons moderne benadering tot geluk is om alle lyding te verwyder – vermy alle pyn en as jy dit nie kan doen nie, sedeer dit. Maar: “No amount of money, power, and planning can prevent bereavement, dire illness, relationship betrayal, financial disaster, or a host of other troubles from entering your life. Human life is fatally fragile and subject to forces beyond our power to manage.

 

Die Bybel erken die donker werklikheid van die lewe en gee ook vir ons ‘n antwoord daarop. Psalm 1 vergelyk ‘n gelukkige lewe met ‘n boom wat by waterstrome geplant is. Hierdie boom gaan deur seisoene – hy dra op die regte tyd vrugte. Maar daar is ook ‘n winterseisoen en droogtes. As ons strategie vir geluk is om in die somerseisoen van ons lewens te bly, sal ons geluk verdwyn as die seisoene verander – en hulle sal verander.

 

Dit is duidelik dat ons iets dieper as omstandighede nodig het – ons het wortels wat diep in die evangelie ingaan, nodig. Dan sal ons in die winter van ons eensaamheid, die droogte van depressie, in die storms van versoeking vas kan staan. Hoe kry ons ons wortels diep in die evangelie? Psalm 1 help ons hiermee.

 

  • Heg groot waarde aan God se woord

Dit gaan goed met die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Dit is nie ‘n plig nie, maar ‘n vreugde. Ons sal die plesier van die lewe slegs ontsnap as ons iets het wat vir ons meer plesier gee – die woord van God. Die probleem is dat min van ons God se woord en vreugde saam in dieselfde sin gebruik. Vir ons is die lees van die Bybel ‘n plig – iets wat ons moet afmerk anders voel ons skuldig. Maar hoe kan ons vreugde in die woord van God vind? Deur dit dag en nag te oordink. Ons moet die Bybel lees, memoriseer, daaroor nadink (iets soos herkou).

 

  • Heg waarde aan die kerk

Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie. Die psalmis sê nie: vermy sonde, nie – wat natuurlik reg is. Hy sê dat ons ons gemeenskap versigtig moet kies. Jou vriende bepaal jou toekoms. Dit geld soveel meer vir kinders. Net as die kerk jou gemeenskap word, sal jy geestelik groei en volwasse word. Die kerk is nie ‘n gebeurtenis wat ons Sondae bywoon nie. Die kerk is ‘n geloofsgemeenskap en moet die plek wees waar ons diepste verhoudings is. Die preke mag ons inspireer, maar dit is die geloofsgemeenskap wat ons vorm.




Gasvryheid: Foute wat gemeentes maak

“If we are people who come to the Church merely in order to get some personal help and no more, then we are the veriest babes in Christ” – Martin Lloyd-Jones

Gasvryheid: Foute wat gemeentes maak

Baie gemeentes het ‘n groot probleem. Besoekers kom ingestap; hulle kyk rond; woon die erediens by … en jy sien hulle nooit weer nie. Hoekom gebeur dit? Bill Tenny-Brittian sê dit is omdat die gemeente nie gasvryheid mooi verstaan nie. In die VSA keer net 15% van besoekers wat die gemeente vir die eerste keer besoek weer terug.

 

Watter foute maak gemeentes?

 

  • Jy vra jou besoekers om tydens die erediens op te staan

Besoekers wil nie voor die hele gemeente geïdentifiseer word nie – hulle wil nie opstaan, hulle wil nie hande opsteek nie, hulle wil nie spesiale naamkaartjies dra nie. As jy jou besoekers identifiseer sodat almal na hulle kan kyk – eintlik aangaap – is die kanse dat hulle sal terugkeer feitlik nul.

 

  • Ignoreer jou besoekers

Hulle wil nie voor die gemeente geparadeer word nie,, maar hulle wil darem ook nie behandel word asof hulle glad nie bestaan nie. Nee, praat met besoekers voor en na die diens en antwoord hulle vrae. Almal moet nou nie op hulle afstorm nie, maar moet hulle nie ignoreer nie.

 

  • Moenie jou besoekers verwar nie

Besoekers word maklik verwar. Hulle weet nie waar die ruskamers is nie; hulle weet nie wat al die afkortings wat ons gebruik, beteken nie; hulle weet nie wanneer om te staan en wanneer om te sit nie. As jy hulle verwar sal hulle iets anders kry om volgende Sondag te doen.

 

  • Maak dit moeilik vir besoekers om terug te keer

As die seën uitgespreek is aan die einde hardloop almal om by die huis te kom. En die besoeker? Hy staan daar onaangeraak deur enigiemand. Die indruk wat die besoeker kry, is dat niemand eintlik omgee of hy terugkeer of nie. Maak seker dat daar iemand is om na die diens met hulle te praat en alle inligting te gee. Dit is goed as iemand nog dieselfde dag by hulle ‘n draai kan maak en hulle uitnooi om terug te keer.

 

  • Maak dit moeilik vir besoekers om te verbind

Daar is baie dinge wat kan veroorsaak dat ‘n besoeker kan verbind: hulle geniet die erediens; hulle geniet dalk die praktiese instruksies aan die einde; hulle mag aanklank vind by ‘n spesifieke lidmaat. As hulle moet baklei om te verbind, sal hulle nie weer terugkom nie.

 

Natuurlik is daar baie ander probleme, maar as jy hierdie vyf kan uitskakel, het jy al ‘n hele ent gevorder.

 




Ek kan nie sommer net die Bybel lees nie

The sins of the wicked anger God—but the sins of professing Christians grieve him. — Thomas Watson

 

Ek kan nie sommer net die Bybel lees nie

As jy die Bybel lees, gebeur daar iets. Jy is nie sommer enige gewone mens nie en die Bybel is nie sommer enige gewone boek nie. Jy is, as jy op Jesus vertrou, ‘n verloste kind van God. Die Bybel is sy woord. Ongelukkig vergeet ons dit dikwels en word Bybellees ‘n roetine.

 

Die basiese vraag is: Hoe benader ek die Skrif? Daar is drie basiese waarhede wat ons nooit moet vergeet nie: God, die teks en die leser. Daar is ‘n God en Hy praat deur ‘n Boek en Hy praat met mense soos ek en jy.

 

 

  • Daar is ‘n God

God is ‘n werklikheid en Hy is ‘n persoonlike God. Hy het alles gemaak; Hy het aan sy skepsels geopenbaar wie Hy is; Hy het met hulle ‘n verbond gesluit. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14). Wie My sien, sien die Vader (Johannes 14:9). As jy die Bybel in jou hand vashou, is hierdie Jesus in sy Gees by jou. Hy is nie ‘n veraf, onbekommerde God nie; Hy stel belang in wat jy doen; Hy is naby aan jou.

 

  • God praat deur sy Boek

God praat. Deur te praat het Hy die hele skepping gemaak; dit is hoe Hy die mens vir Hom gemaak het; Hy het sy weë aan ons bekend gemaak. Deur sy oneindige wysheid het Hy gemaak dat profete en apostels alles neerskryf. Die Bybel is die woord van God – God se gedagtes. Dit en niks meer of minder is wat God bepaal het dat Hy vir sy mense wil sê – oor geslagte en kulture heen.

 

  • God praat met mense soos ek en jy

Die grote God praat met my en jou. Hy het sy geheimenis deur ‘n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, en as julle dit lees, sal julle ‘n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus (Efesiërs 3:3 – 4). Die God wat met Moses gepraat het soos ‘n man met ‘n vriend praat, praat steeds met sy mense.

 

Dit is die werklikheid. Daar is niks belangriker of meer betekenisvol as hierdie drie waarhede wat saamvloei nie. Jy kan nie sommer net die Bybel lees nie.

 




Die teenmiddel teen valsheid

 

Oh that the gods

The gift would gi’e us

To see ourselves

As others see us

Robert Burns – Skotse digter

 

Die teenmiddel teen valsheid

Dit is interessant om te sien dat as iemand sê dat hy ‘n Christen is hoe die mense om hom reageer. Daar kom ‘n afstand tussen hulle, want moderne mense aanvaar dat Christene sekere ongewenste eienskappe het. Of dit nou geregverdig is of nie, het mense negatiewe indrukke van Christene. Sekerlik die algemeenste klagte is: “Christene is vals.”  Ons is gou om hierdie wanvoorstelling reg te stel, maar die negatiewe persepsies bly.

 

Wat bedoel mense as hulle sê dat Christene vals is? Meestal beteken dit dat Christene dink dat hulle al die antwoorde het – hulle tree meerderwaardig op.

Slim antwoorde dryf hierdie mense net verder weg. As ons waarlik die liefde van God wil weerspieël, moet ons meer pro-aktief optree. Hoe? Opregte nederigheid.

 

Opregte nederigheid is nie:

  • Om onseker te wees van wie jy is nie.
  • Om jouself te verkleineer met die hoop dat iemand jou gaan prys nie.
  • Om te sê “Ek voel so nederig,” nadat jy gepresteer het en erkenning daarvoor gekry het nie.

 

Opregte nederigheid is:

  • Om jou eie sondes en tekortkominge te erken.
  • Om te kan leer van ander wie se sienings van joune verskil.
  • Om ‘n gevoel van “ons is almal saam hierin” te kommunikeer. Hiermee erken jy dat niemand al die antwoorde het nie; ons is gretig om te leer en te groei.

 

Maar hoe lyk opregte nederigheid in die alledaagse lewe? Hier is ‘n paar praktiese manier om liefde deur opregte nederigheid te demonstreer.

  • Modelleer kwesbaarheid – deel jou stryd en tekortkomings met ander.
  • Deel jou vrae. Wees eerlik. So trek jy ander in die gesprek in.
  • Beheer jou aptyt om altyd reg te wil wees.
  • Onderdruk jou trots. Bly uit die kalklig; wees almal se dienaar.

 

Die wêreld haat vals mense ; die wêreld word aangetrek na opregte mense wat opregte nederigheid geïnspireer deur Jesus uitstraal.