Het Jesus bloed gesweet in die tuin van Getsemane?

 

“People need to be reminded more than they need to be instructed.”   Samuel Johnson

 

Het Jesus bloed gesweet in die tuin van Getsemane?

‘n Leser vra vir Lee Strobel of Jesus werklik bloed gesweet het toe Hy in die tuin van Getsemane gebid het of is dit maar net beeldspraak?

 

Lee Strobel antwoord: Dr Alexander Metherell is ‘n geneesheer en kundige oor Jesus se kruisiging. Hy sê daar is ‘n bekende mediese toestand wat as hematidrose bekend staan. Dit is nie algemeen nie, maar kom voor in gevalle van erge sielkundige stres. Die oorsaak is dat onder erge spanning die liggaam chemilalië vrystel wat die klein bloedvaatjies in die sweetkliere afbreek.

Dit lei tot ‘n klein hoeveelheid bloeding in die sweetkliere. Sweet gemeng met bloed kom dan vry. Dit is baie klein hoeveelhede wat so vrygestel word.

 

Baie interessant is dat dit juis Lukas, die geneesheer, was wat hierdie verskynsel raakgesien het. Die direkte vertaling van die Interliniêre Bybel lees soos volg: Hy was in angs en het nog vuriger gebid en sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val (Lukas 22:34).

 

Jesus se angs was sekerlik voldoende en kon hierdie mediese toestand veroorsaak het. Die Journal of Medicine het 76 gevalle van hematidrose ondersoek. Hulle bevinding was dat die algemene oorsake akute vrees en intense bepeinsing was.

 

Maar watter effek sou dit op Jesus gehad het? In gevalle van hematidrose word die vel breekbaar. Toe die soldate vir Jesus geslaan het, sou Jesus se vel baie sensitief gewees het.

 

Hoekom sou Jesus gewillig die lyding in Getsemane, die geseling en die kruisiging  verduur het?  Liefde.

Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8).

 

 




Churchill en die huwelik

Avalanches of evil begin with a single pebble of sin. —John Piper

Churchill en die huwelik

Winston Churchill woon by geleentheid ‘n formele banket in Londen by. Al die hoogwaardigheidsbekleërs moes ‘n vraag antwoord. Die vraag was: “As jy nie kan wees wie jy is nie, wie sou jy graag wou wees?” Almal was nuuskierig om te hoor wat Churchill sou sê. Hy het langs sy geliefde Clemmie gesit.

Churchill was laaste op die lys. Sy antwoord: “As ek nie kan wees wie ek nou is nie, sou ek graag,” – hy bly stil en neem sy vrou se hand – “Lady Chrurchill se tweede man wou wees.” Ten spyte van sy ander foute was hy absoluut toegewy aan sy vrou.




Hoekom wil mense nie in die gemeente betrokke raak nie?

If a man is drunk on wine, you’ll throw him out. But if he is drunk on money, you’ll make him a deacon – Os Guinness

 

Hoekom wil mense nie in die gemeente betrokke raak nie?

Hoekom sit meeste lidmate in die kerkbanke as toeskouers? Hoekom wil hulle nie êrens betrokke raak nie? Daar is veral vier redes hiervoor:

  • Daar is niks wat ek kan doen nie

Mense fokus dikwels op hulle beperkings.

Hulle sien begaafde musikante wat die sang lei; hulle sien uitstaande leermeesters wat die kinderbedining lei; … Ons moet duidelik aan potensiële vrywilligers kommunikeer dat opleiding beskikbaar is en dat hulle slegs geplaas word waar hulle Godgegewe gawes gebruik kan word.

 

  • Ek het ‘n vorm ingevul waarin ek my belangstellings genoem het, maar niks het gebeur nie

 Gemeente kollekteer dikwels inligting van lidmate en dan gebeur … niks nie.Ons kan nie net vorms van potensiële vrywilligers liasseer nie. Daar moet ‘n duidelike sisteem wees wat aandui hoe hierdie inligting gebruik moet word.

 

  • Die vorige keer was ek so gefrustreer dat ek nooit weer hulp sal aanbied nie

Mense onttrek nie sommer van iets wat hulle geniet en wat vir hulle waarde het nie. Hulle onttrek omdat hulle rol swak gedefinieer was, of omdat daar geen hulpbronne of opleiding of gesag was nie. Daar moet ‘n beskrywing van rolle wees sowel as opleiding, ondersteuning en evaluering. Vrywilligers moet in staat gestel word om te slaag.

 

  • Ek het nie tyd nie

Almal het dieselfde hoeveelheid tyd. Die probleem is dat die lidmaat nie die belang van die geleentheid insien nie. Daarom glo hy dit is tydmors om tyd daaraan te spandeer. Mense maak tyd vir dit waaraan hulle waarde heg. Help vrywilligers om daardie plekkie wat hulle passie en gawes pas, te kry.

 




Kanale waardeur die liefde vloei

The role of a pastor is not to grow a big church. The pastor’s role is to grow mature disciples who make disciples. — Rick Howerton

 Kanale waardeur die liefde vloei

Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n opregte geloof kom (1 Timoteus 1:5).

In 1 Timoteus 1:5 antisipeer Paulus sy hantering van die vals onderrig van die wet (vs 7 – 11) deur die wet se ware doel op te som.  Die lesers weet van watter liefde Paulus hier praat en daarom sê hy niks meer hieroor nie.  Hy wys egter op die drie kanale waardeur die liefde vloei: hart, gewete en geloof.

 

  1. Hart – die hart is die mens se binneste wese. Paulus sê dat die hart rein moet wees –Die rein hart is die hart wat voortdurend van sonde skoongemaak word deur die reinigende werk van God.
  2. Gewete – die mens het Godgegewe vermoë om die reg of verkeerd van ‘n optrede te evalueer, want die mens is na die beeld van GodDie mens mag die waarheid onderdruk en die gewete se funksionering beskadig, maar dit bly ‘n instrument waardeur God se standaarde (die vereistes van die wet) op die hart van mense geskrywe word. Ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is (Heb 13:18). 
  3. Geloof – ek vertrou in en op God. Hierdie geloof moet opreg wees. Liefde word gekanaliseer deur diegene wat waarlik glo dat God deur sy Gees daardie liefde wat hulle moet gee, voorsien.

Sommige, die vals leraars, het afgedwaal van die kommer oor ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n opregte geloof.  Inteendeel, hulle hou hulle besig met twisgesprekke. Vals leer bevorder twisgesprekke, verwarring, snobisme, haat en wantroue, want dit is leë praatjies. Die gesonde leer bevorder liefde.