Leef die Christelike lewe

 

I will never forsake the Word of God to fill pews. For sometimes you can fill them with more devils than disciples of the kingdom.” — G. Sims

 Leef die Christelike lewe

Hoe kan ek die Christelike lewe leef? Een tegniek wat ons kan gebruik is om oor die Skrif na te dink. Maar nadenke is ‘n moeilike praktyk. Ons hou van die idee, maar vind dit moeilik om toe te pas. In sy boek Simplify Your Spiritual Life sê Donald Whitney: When meditating on a a verse of Scripture, it’s usually much easier to answer specific questions about it than to think about the text without any guidance or direction at all.

As voorbeeld gebruik hy dan Filippense 4:8: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

 

Na hy hierdie vers bestudeer het, kom Whitney na vore met ‘n aantal vrae wat nuttig is om oor feitlik enigiets in jou lewe – veral die Skrif – na te dink.

  • Wat is waar of van watter waarheid is dit ‘n voorbeeld?
  • Wat is eerbaar/edel hiervan?
  • Wat is reg hiervan?
  • wat is prysenswaardig hiervan?
  • Wat is mooi hiervan?
  • Wat is prysenswaardig/kan aanbeveel word/versterk jou reputasie hiervan?
  • Wat is uitstekend hiervan?
  • Wat is lofwaardig hiervan?

Hier is agt vrae wat jou in jou nadenke kan lei. Maak seker dat jy nie net die Skrif lees nie, maar ook daaroor nadink en dit toepas.




Die Prediker van die kruis (1 Korintiërs 2:1 – 5).

 

“… hospitality asks for the creation of an empty space, where the guests may find their own souls.” ~ Henri J.M. Nouwen (1932 – 1996) 

 

Die Prediker van die kruis (1 Korintiërs 2:1 – 5).

Paulus se eie voorbeeld moes vir die Korintiërs gewaarsku het dat hulle ‘n baie gevaarlike pad geloop het. Hy het hom doelbewus gedistansieer van die retoriese opgeblasenheid van destyds: Toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie (2:1). Baie intellektuele bewegings plaas baie klem op retoriek. Filosowe is geloof vir  hulle aanbieding – net soveel as vir die inhoud. Hierdie openbare sprekers is geloof en gevolg as gevolg van hulle vermoë om in die openbaar oortuigend te praat. Sprekers wat nie aan hulle standaarde kon voldoen nie, is as minderwaardig beskou.

 

Wat is die beginsels wat Paulus hier na vore bring?

  • Verkondig die getuienis oor God

Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig (2:1). Vroeër het ons gelees: Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld is, dié te red wat glo (1:21). Die inhoud van Paulus se boodskap is die getuienis oor God – dit beteken dit wat God in Jesus Christus gedoen het. Paulus verkondig hierdie boodskap – dit beteken nie net Sondae van die preekstoel verkondig nie. Verkondiging is die aanbieding van God se evangelie waardeur mense Hom leer ken. Die inhoud van hierdie boodskap is ononderhandelbaar en mag nie afgewater word nie.

  • Fokus op Jesus Christus as die gekruisigde

Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (2:2). Alles wat Paulus gedoen en geleer het, is aan die kruis verbind. Dit bepaal Paulus se prioriteite, sy leefwyse en sy bedieningstyl. Dit beteken hy verwerp ‘n bedieningstyl wat ontwerp is om te beïndruk en applous te ontlok. Maar wat beteken hierdie vers vandag? Ons is so prestasie-geörienteerd dat ons nie eers besef hoe gekompromitteerd ons is nie. Die vertoning raak vir ons belangrik. Het ons nie toegelaat dat allerhande bykomstighede die inhoud verplaas nie?

  • Moenie dat swakheid, angs en huiwering jou oorweldig nie

Dit is juis onder sulke omstandighede dat God veral sy mag tentoonstel. So lank as wat mense  beïndruk is met jou sterk persoonlikheid en indrukwekkende gawes is daar min ruimte om hulle met die gekruisigde Verlosser te beïndruk. Paulus was bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering het ek na julle toe gekom (2:3). Hy het besef dat God se krag veral in ons swakheid na vore kom. Hy was bang en swak; hy het gevoel dat hy oorweldig word deur die omvang van sy taak. Hy het egter nie op sy swakheid gefokus nie. Hy kon skryf: Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:10).

  • Moenie mense manipuleer nie

Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees (2:4). Paulus oortuig mense sonder om hulle te manipuleer; om mense met geleerdheid en welsprekendheid te oortuig is goed mits dit nie gepaard gaan met afwatering van die evangelie nie. Dit is die waarheid en krag van die evangelie wat mense moet oortuig en nie geleerdheid of welsprekendheid nie.

  • Besef dat ‘n kruis-gesentreerde bediening gekenmerk word deur die krag van die Gees en bevestig word deur lewens wat verander het

Paulus se boodskap gaan gepaard met die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.  Waar daardie krag teenwoordig is, weet mense dit.

Die boodskap van die kruis breek die afgode van die kerk: selfbevordering, die liefde vir meer professionalisme, ons verslawing aan goed gedefinieerde metodes. Bybelse verkondiging beklemtoon die evangelie en verhoog die gekruisigde Christus.

Volgende keer gaan ons kyk na mense wat verdeeldheid in die gemeente saai.




Hoekom misluk ons?

 

When you go through a trial, the sovereignty of God is the pillow upon which you lay your head. —C.H. Spurgeon

Hoekom misluk ons?

Mislukking hoef nie finaal te wees nie. Almal ondervind mislukkings in hulle lewe. God laat dikwels ons mislukkings vir ons werk. Volgens Spreuke is daar vyf dinge wat mislukking in ons lewens veroorsaak.

  • Ons misluk, want ons beplan nie vooruit nie

‘n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie, onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor (27:12). Sommige van ons is geneig om impulsief te wees, maar die verstandige man beplan vooruit. Die impulsiewe mens kyk nie vooruit nie en moet dan die gevolge hanteer.

 

‘n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop (16:9). Jesus vertel die verhaal van die man wat ‘n gebou gebou het, maar voor hy klaar was, moes hy tou opgooi, want hy het nie vooraf beplan nie. Beplan, maar jou beplanning kan nie los van God gedoen word nie.

  • Ons misluk, want ons dink ons het alles bymekaar

Die oomblik as ek dink ek het alles in beheer, moet ek versigtig wees. Hoogmoediges wat op ander trap, word vernietig (15:25 – Die Boodskap). Hoogmoed laat ons val. Een van die simptome van trots is dat ons dink dat ons nie die raad van ander nodig het nie.

  • Ons misluk as ons te bang is om te waag

Die oomblik as ons ons begin bekommer oor wat ander mense dink, trap ons in ‘n strik. Die grootste mislukking is om nie eers te probeer nie. Vir God se heerlikheid moet ons waag. Dit is wat sukses in die lewe bring. As ons te bang is om te waag, misluk ons.

  • Ons misluk, want ons gooi te gou tou op

Mislukking is die pad van minste weerstand. Die probleem is nie dat hulle nie probeer nie, maar dat hulle te gou ophou. As jy aanvanklik nie slaag nie, is jy normaal. Probeer weer. Dikwels is sukses net om die draai. ‘n Luiaard se pad is met dorings besaai (15:19). Jy is nooit ‘n mislukking totdat jy ophou probeer nie.

  • Ons misluk as ons nie na God luister nie

Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood (14:12). God se woord is vol riglyne en beginsels om ons lewe te rig. Maar meestal luister ons na ons gevoelens: “Ek voel dit is die regte ding om te doen al sê God se woord anders.” God se woord verskil dikwels van ons gevoelens. God sê om te kry, moet ons gee; die pad na grootheid is deur te dien. As ons nie na God luister nie, kom ons in die moeilikheid. Baie van ons mislukkings gebeur omdat ons nie bid nie.

Almal van ons sal op een of ander stadium misluk. Wat belangrik is, is wat ons doen as ons misluk. God stel meer in my toekoms belang as in my verlede.




Hoe definieer jy sukses?

God doesn’t need our consent in order to govern us. He made us. —RC Sproul

Hoe definieer jy sukses?

As jy op Amazon soek vir “hoe om te slaag” gaan jy meer as 27000 antwoorde kry. Daar word baie oor sukses geskryf, maar dikwels help dit ons nie. Baie mense sukkel met wat sukses werklik is. In die kerk meet ons ongelukkig sukses dikwels aan getalle: erediensbywoning, begroting, ens. Die vraag wat ons moet vra, is: Hoe definieer God sukses?

  • Vir God is sukses getoue gehoorsaamheid

Vir God gaan sukses daaroor dat ek my aan Hom oorgee en sy pad loop – maak nie saak wat die getalle is nie. Ons stel God tevrede as ons geloof beoefen in ons najaag van sy koninkryk. As ons Hom gehoorsaam, maak nie saak wat ons moet opoffer of selfs persoonlik ly nie, sê Hy vir ons: Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf (Matteus 25:21).

  • In God se koninkryk beteken sukses dat ek my swakhede aanvaar

Meeste suksesvolle mense sal erken dat hulle ander mense op hulle reis nodig gehad het. Baie van ons besef ons kan nie alles alleen doen nie. Baie mense glo egter dat om suksesvol te wees hulle onafhanklik moet wees. Verkeerd. As ons werklik sterk wil wees, moet ons besef hoe swak ons is – dat ons ondersteuning nodig het; ons het God se hulp nodig. Soos lote moet ons in die ware wingerdstok bly (Johannes 15). My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is … want as ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:9 – 10). Sukses beteken nie dat ek my swakhede ontken nie – ek aanvaar dit in nederige afhanklikheid van die Heilige Gees.

  • Met God word sukses deur ons volharding gemeet

Dit gaan meer oor die reis as die finale bestemming. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou (2 Timoteus 4:7). Diegene wat waarlik suksesvol is, is diegene wat die wedloop met volharding hardloop (Hebreërs 12:1 – 2).

Een van ons probleme is dat ons sukses definieer volgens die kultuur van die wêreld – en dan moedeloos word. Ons het ‘n ander perspektief nodig: wat is God se doelwit vir my lewe?