Paulus se Atene

“Your emptiness is but the preparation for your being filled, and your casting down is but the making ready for your lifting up.” C. H. Spurgeon

Paulus se Atene

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Paulus se strategie was om die Romeinse hoofroete te volg (in hierdie geval die Via Egnatia, ‘n militêre pad) en die evangelie in die hoofstede te verkondig. Paulus was in Berea toe opstokers hom verdryf het. Die gelowiges neem hom na Atene waar hy dan vir Silas en Timoteus wag.

 

Atene was steeds ‘n belangrike sentrum vir intellektuele en kulturele beoefening. Dit was een van die groot universiteitstede van die destyds bekende wêreld. Die goue jare van Atene was van die sesde tot die vierde eeu vC. Atene staan bekend as dié stad wat die grootheid van die Griekse kultuur bewaar het. Die stad het nie enige betekenisvolle politieke mag gehad nie, maar was steeds die plek waarheen jy sou gaan as jy meer van die Griekse kultuur wou leer. Dit was nie ‘n groot handelsentrum nie.

Atene was ook bekend vir sy godsdienstige toewyding. Die naam van die stad is afgelei van dié van die Griekse godin – Atena. Suid-oos van die Areopagus kry ons die Akropolis waar daar baie tempels geleë was. Die bekendste was die Parthenon, ‘n tempel gebou ter ere van die godin Atena. Net langs die Parthenon was daar ‘n tempel gewy aan Roma en Augustus – bedoel vir keiseraanbidding. Paulus was baie verontwaardig toe hy al die afgodsbeelde in die stad gesien het.

Atene was veral bekend as die sentrum van Griekse filosofie. In ongeveer 385 vC het Plato sy bekende Akademie in Atene gevestig. Aristoteles het hier gestudeer. Paulus het ook die Epikureërs en Stoïsyne hier raakgeloop.

Is daar enige ooreenkomste tussen Paulus se Atene en ons wêreld?




Paulus in Atene

“Nothing puts life into men like a dying Savior.” C. H. Spurgeon

Paulus in Atene

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Paulus kom in Atene aan (Handelinge 17:16 – 34). Hy was baie ontsteld toe hy al die afgodsbeelde sien – al die tempels en vals godsdienste. Wat doen hy? Hy redeneer elke dag met diegene wat toevallig op die markplein was. Dit was duidelik vir Paulus: hierdie mense ken nie die ware God nie. Hy weet ook dat sy opdrag van Jesus was om die evangelie aan die heidene te verkondig.

 

Atene het sy eie unieke geskiedenis. Dit was die middelpunt van die Griekse filosofie – Plato, Aristoteles en baie ander. Atene was beskou as ‘n sentrum  van geleerdheid en wysheid. Maar Paulus was bekend met die filosofiese en godsdienstige idees van die Ateners. Toe Paulus sy godsdiens moes verduidelik, bring hy sy kennis van die Skrif, die Joodse tradisies en teologie bymekaar met die idees van die afgodedienaars en filosowe. Hy gebruik hulle taal en haal hulle digters aan in die proses om God se optrede in en vir die wêreld te verkondig.

Hy benader sy gehoor versigtig. Hy begin deur te sê dat hy sien dat hulle baie godsdienstig is. Daarna vertel hy hulle van die een ware God wat sy kommer oor die mensdom bewys het deur Jesus Christus uit die dood uit op te wek. Toe hulle hoor van die opstanding uit die dood, lag party Ateners vir hom, ander wil meer hiervan hoor en ‘n paar mense het egter gelowig geword.

In Atene was daar ‘n rotsagtige koppie wat as dieAreopagus bekend gestaan het. Dit is vernoem na Ares, die Griekse god van oorlog. (Die Latynse ekwivalent van Ares was Mars.) Vir die Ateners was die Areopagus die simbool van geregtigheid.

Wat wel waar is, is dat Paulus in staat was om die evangelie vir Jode en heidene in konteks te plaas (1 Korintiërs 9:19 – 27). Volgens N. T. Wright het Paulus in drie wêrelde geleef:

  • Die Judaïsme van die Tweede Tempel.
  • Hellenisme – as gevolg van Aleksander die Grote word die Griekse taal en kultuur en filosofiese siening deur die ganse Ryk uitgedra.
  • Die Romeinse Ryk waarvan Paulus ‘n burger was en waar keiseraanbidding dié kultus was.

Ons kan sê dat Paulus se Christelike geloof in Judaïsme gewortel was, in ‘n Hellenistiese wêreld uitgeleef is en dat hy ‘n teen-aanspraak teen die keiser se aanspraak op wêreldoorheersing gemaak het.

Paulus was ‘n kosmopolitaanse man wat by sy gehore kon aanpas. Hoe lyk hierdie Atene van Paulus se tyd?




VERKONDIG DIE EVANGELIE IN ‘N MULTIKULTURELE WÊRELD

 

“All places are places of worship to a Christian. Wherever he is, he ought to be in a worshiping frame of mind.” C. H. Spurgeon

Verkondig die evangelie in ‘n multikulturele wêreld

Ons leef in ‘n multikulturele wêreld – baie rasse en etniese groepe, maar ook baie verskillende godsdienste en filosofieë. Ons kan hulle onmoontlik nie almal verstaan nie. Dit herinner nogal aan die situasie wat in Rigters 21:25 beskryf word: In daardie tyd was daar nog nie ‘n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.

Die vraag waarop Christene moet antwoord, is: In ‘n situasie soos dié waarin ons ons tans bevind, hoe kan ons die boodskap van Jesus Christus aan die wêreld om ons verkondig? Om dit nog moeiliker te maak, beweeg ons in ‘n post-Christendom tydperk – mense weet al hoe minder van wat dit beteken om in Jesus Christus te glo.

Ons sit met ‘n dilemma. Aan die een kant weet ons nie hoe om Jesus se boodskap in hierdie deurmekaar wêreld te verkondig nie, maar aan die ander kant het ons ‘n duidelike opdrag van Jesus: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:19).

Verskil die situasie vandag veel van dié van Paulus se leefwêreld. Paulus leef en evangeliseer in ‘n multikulturele wêreld: Jode en heidene, slawe en eienaars, baie regte vir mans en min regte vir vroue, ens. Daar is ook baie verskillende godsdienste beoefen: keiseraanbidding, die groot aantal Grieks-Romeinse gode, Jode en Christene. Daar was ook ‘n hele aantal mistieke godsdienste met geheime rituele. Mense het ook algemeen geglo in bose geeste en het daarom allerhande geheime gebruik om hulle teen hierdie geeste te beskerm. In die proses het die Ateners ‘n filosofie/wêreldsiening gebou waarvolgens hulle kon leef en die wêreld verstaan.

Almal van ons het ‘n wêreldsiening wat van die volgende vrae probeer antwoord:

  • Hoekom is ek hier?
  • Hoekom bestaan alle dinge?
  • Hoe kan my lewe betekenis hê?

Om hierdie vrae te beantwoord het die inwoners van die Romeinse Ryk filosofie en godsdiens vermeng. Dit word dan hulle wêreldsiening.

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.




Ek word gou kwaad

 

“The more we pray, the more we shall want to pray. The more we pray, the more we can pray. The more we pray, the more we shall pray. He who prays little will pray less, but he who prays much will pray more. And he who prays more, will desire to pray more abundantly.” C. H. Spurgeon

Ek word kwaad

Die Bybel sê heelwat oor kwaad word. Soms is ons kwaadword geregverdig – as daar ongeregtigheid en boosheid ter sprake is. Soms word ons kwaad omdat ons voel iemand het ons te na gekom. Maar dikwels lei ons kwaadword tot haat en bitterheid. In die Bybel kry ons sekere waarhede oor kwaad word.

  • Kwaadword word nie deur ander mense of omstandighede veroorsaak nie – dit kom uit ons eie harte

Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery (Matteus 15:19).

 

Niemand kan jou kwaad maak nie; omstandighede kan jou nie kwaad maak nie. Ander mense en omstandighede kan my hart druk en as ek kwaad word, is dit omdat dit in my hart was.

  • Ek word kwaad as gevolg van my eie onvervulde begeertes

Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie omdat julle nie bid nie (Jakobus 4:1 – 2).

Ons wil iets hê en as ons dit nie kry nie, word ons kwaad.

  •  Om kwaad te word verhoed my om die regte ding te doen

My liewe broers, dit moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. ‘n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie (Jakobus 1:19 – 20).

As ek kwaad word, sal ek nie ‘n ander persoon se hart verander nie – dit doen geen goed nie.

  • As ek vir ‘n ander persoon kwaad word, pleeg ek moord in my hart.

Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af vir die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur (Matteus 5:19 – 20).

Ons onderskat die erns van kwaad word – “ek laat maar net stoom af.” Maar Jesus het gesê dat as ek kwaad word, pleeg ek moord in my hart.

  • As ek kwaad word, vererger ek net dinge.

‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam (Spreuke 15:1)

As ek kwaad word, word die ander persoon dikwels ook kwaad. Dit lei tot ‘n stryery – presies die teenoorgestelde effek wat ek verlang het.

  • As ek kwaad word, open ek die deur vir Satan

As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie (Efesiërs 4:26 – 27)

As ons nie vergifnis vra of die ander party vergewe of gaan sit en die saak deurpraat nie, open dit die deur vir Satan om ons te versoek. Die gevolg hiervan is bitterheid, wraak, skinder en ‘n hele reeks ander sondes. Kain was so kwaad vir Abel dat hy hom vermoor het. Om kwaad te word is ernstig – hanteer dit so gou as moontlik.

Mag God se woord en Gees ons help om ons kwaadword te oorwin.