God gebruik twee tuine om ons kinders te laat groei

A religion of head-knowledge and theories will prove of no avail either in this life or that which is to come. —C.H. Spurgeon

God gebruik twee tuine om ons kinders te laat groei

Kyk seuns is ‘n erfdeel van die Here (Psalm 127:3 – OAV)

Die psalmis sê nie dat kinders ons erfdeel sal ontvang nie – hulle is ons erfdeel. Wat beteken dit? Dit beteken dat die belangrikste taak wat die kerk het, is om hulle – die volgende geslag – die evangelie te leer. ‘n Erfdeel is wat jy vir toekomstige geslagte nalaat. As die kerk dink wat hy vir sy samelewing nalaat, moet hy nie dink aan geboue of bedieningsplanne nie, maar aan kinders. Volgens J. D Greear is kinders die eerstes wat God vir ons gegee het om vir die evangelie te wen. Dit is die erfdeel wat ons vir ons stad nalaat.

0ns primêre verantwoordelikheid is vir ons kinders – om die evanglie vir hulle te leer en hulle toe te rus om dit ook aan ander te leer. Dit is die belangrikste taak vir enige ouer … en vir die kerk. God het twee tuine waarbinne ons kinders kan groei – die ouerhuis en die kerk.

 

  • Die huis is die primêre tuin waarin ons kinders die evangelie leer

Ouers het ongeveer 8736 ure per jaar met hulle kinders. Die kerk, daarenteen, het ongeveer 100 uur met die kinders van ouers wat aktief in die kerk is. Wat die kerk dus oor naweke met die kinders doen, is gering in vergelyking met wat die ouers met hulle kinders doen.

Die huis is die plek waar ons kinders die evangelie uitgeleef sien; dit is waar hulle die onvoorwaardelike liefde en vergifnis sien van harte aangeraak deur genade. Ouers het die geleentheid om die evangelie op pyn, konflik en gebrokenheid toe te pas. Dit gebeur natuurlik slegs as ouers teenwoordig is by hulle kinders. Jou verhoudings by die huis moet jou prioriteit wees.

  • Die kerk is God se ander tuin vir ons kinders.

Kinders het soos Reggie Joiner (Parenting Beyond Capacity) dit stel, ‘n “tweede familie” nodig. Hulle het mentors, anders as hulle ouers, nodig om mee te praat en hulle vertroue in te stel. Die kerk kan nooit opmaak vir wat nie by die huis gebeur nie, maar kan dit wel aanvul. Dit is belangrik vir kinders om ook betekenisvolle verhoudings in die kerk te hê. Wie met wyse omgaan, kry self wysheid; wie hom met dwase ophou, word self sleg (Spreuke 13:20).

Jou kinders gaan besoekers en deel van ‘n gemeenskap iewers wees. Ongelukkig is kinders dikwels besoekers by die kerk en deel van ‘n gemeenskap elders – soos hulle sportspan. Ouers moet hulle kinders help om te besef dat die geloofsgemeenskap hulle prioriteit moet wees. Kies hulle gemeenskap wyslik.

 




Maak die mense my dissipels en doop hulle

“If you are renewed by grace, and were to meet your old self, I am sure you would be very anxious to get out of his company.” C. H. Spurgeon

Maak die mense my dissipels

Ons ken almal hierdie opdrag van Jesus, maar wat beteken dit? Hierdie is nie ‘n voorstel wat Jesus gemaak het nie – dit is ‘n opdrag. Eenvoudig gestel: Dissipelskap is ‘n doelgerigte venootskap met ‘n ander persoon om daardie persoon te help om Jesus te gehoorsaam en om in sy verhouding met Jesus te groei. Hierdie persone moet dan op hulle beurt ander lei na Jesus toe. Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer (2 Timoteus 2:2).

 

Hoe leef ons hierdie opdrag uit?  Miskien moet ons kyk na wat ons verkeerd doen voor ons dit reg sal kry.

  • Dissipelskap is nie maklik nie.

Verlossing is gratis, maar dissipelskap kos ons ons lewens. Jesus stel dit so: Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.” (Lukas 9:23 – 25). Om ‘n dissipel van Jesus te wees beteken dat ek my lewe opgee om Hom te volg – heelhartig en onvoorwaardelik. My lewe in nie meer myne nie, maar Syne.

  • Dissipelskap is nie net “ek en Jesus” nie

Dissipelskap is ‘n verhouding. Om volledig aan Jesus se opdrag te voldoen, moet ons dissipels wees wat dissipels maak. Dit beteken ons moet tyd met ander mense spandeer. Jesus en sy dissipels het baie tyd saam deurgebring – hulle het saam geëet, saam geloop, saam in bote gery … Hulle doen dit voortdurend en doelgerig. As ons geroep is om dissipels van Jesus te wees, word ons dissipels saam met ander – ons leer hoe om God en mekaar lief te hê. Ons moet toelaat dat ander ons uitdaag en bemoedig in ons wandel saam met God. Dit is waarom eerlike verhoudings so belangrik in ons Christelike lewe is. Om waarlik dissipelsvan Jesus te wees, het ons mekaar nodig.

  • Dissipelskap is nie mentorskap nie

Mentorskap is wat die mentor aan iemand anders kan bied deur sy eie wysheid en ondervinding; dissipelskap is wat Jesus kan bied deur sy wysheid en teenwoordigheid. Jy het nie ‘n reeks kwalifikasies nodig vir dissipelskap nie – jy moet net vir Jesus volg en gehoorsaam en gewillig wees om ander te help om dieselfde te doen.

  • Dissipelskap is nie ‘n metode nie.

Om ‘n dissipel van Jesus te wees, beteken nie ek moet lidmaat van ‘n spesifieke denominasie wees, deel van ‘n spesifieke kleingroepie wees nie. Dit vereis wel dat ek die dinge van die koninkryk van God doen – soos Jesus se dissipels gedoen het. Hulle moes die goeie nuus dat die koninkryk van God naby gekom het, verkondig en die siekes genees. Dissipels word steeds geroep om die evangelie aan ander te verkondig in ons gemeenskappe en om te bid vir die wat siek is en dié wat seerkry.




Lees jou Bybel reg

 

“If you are to go to Christ, do not put on your good doings and feelings, or you will get nothing; go in your sins, they are your livery. Your ruin is your argument for mercy; your poverty is your plea for heavenly alms; and your need is the motive for heavenly goodness. Go as you are, and let your miseries plead for you.” C. H. Spurgeon

Lees jou Bybel reg

Die Bybel moedig gelowiges gereeld aan om hulle Bybels te lees. Hoekom? Sodat ons daagliks verfris kan word deur die onderrig, bemoediging, teregwysing en leiding gevind in die Woord. Maar hoe moet ons die Bybel lees? Josua 1:8 gee vir ons ‘n paar riglyne: Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.

Wat leer ons uit hierdie vers?

 

  • Lees die Bybel gereeld: Oordink dit dag en nag.
  • Moenie net lees nie, maar dink oor wat jy lees: Oordink dit.
  • Hou vas aan wat jy gelees het: Sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan.
  • Laat dit jou lewe reguleer: Dan sal jy slaag in wat jy moet doen.

Dit gaan oor meer as lees – dit gaan oor nadenke en uitvoering – dit doen wat ons gelees het.




Hoekom was Einstein teen georganiseerde godsdiens?

 

“Nothing teaches us about the preciousness of the Creator as much as when we learn the emptiness of everything else.” C. H. Spurgeon

Hoekom was Einstein teen georganiseerde godsdiens?

Charles Misner het oor Einstein se siening van Christelike prediking die volgende kommentaar gelewer:

Die ontwerp van die heelal is oorweldigend en ons kan dit nie sommer net aanvaar nie. Dit is hoekom Einstein so min van georganiseerde godsdiens gedink het … Hy moes gekyk het na wat predikers van God gesê het en geglo het hulle is besig met godslastering. Hy het meer majesteit gesien as wat hulle hulle ooit kan verbeel het. Die predikers het net nie van die ware ding gepraat nie.

Besef en verkondig ons gereeld hoe groot God is?