D. L Moody en die verstaan van die Bybel

 

“Nobody ever outgrows Scripture; the book widens and deepens with our years.” C. H. Spurgeon

D. L Moody en die verstaan van die Bybel

‘n Vrou nader die bekende D. L. Moody met ‘n vraag wat baie van ons ook pla: “Mnr Moody, ek kan nie die Bybel by myself lees nie. Daar is te veel dinge wat ek nie verstaan nie.”

Moody: “Mevrou, het jy al ooit hoender geëet?”

Die vrou vererg haar en dink Moody is ligsinnig: “Meneer, kan jy asseblief my vraag antwoord?”

 

Moody: “Ek is besig om jou vraag te antwoord. Het jy al ooit hoender geëet?”

Vererg antwoord die vrou: “Natuurlik het ek al hoender geëet.”

Moody vra: “Wat het jy met die bene gedoen?”

Vrou: “Ek het hulle op die rant van my bord gesit.”

Moody: “Goed. Doen dieselfde as jy jou Bybel lees. Plaas die moeilike dinge wat jy nie verstaan nie op die rant van jou bord. Daar is baie ander goed om te eet in die res van die Bybel.”

Dit wat nodig is om jou verlossing te verstaan sal jy duidelik kry in die Bybel.




Het ons nog tyd vir God?

 

“There is hardship in everything except eating pancakes.” C. H. Spurgeon

Het ons nog tyd vir God?

Ons lewens is vol en besig. Ons sukkel om in ons besige skedule nog tyd vir God in te ruim. Maar as ons regtig wil, kan ons elke dag ‘n stil plekkie kry om met God te praat. Alleentyd met God om ons gedagtes bymekaar te maak, is baie belangrik.

Hier is sewe Bybelverse wat die belang van die Bybel en stiltetyd met God beklemtoon.

 

  • Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Romeine 12:2).
  • Het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê (1 Tessalonisense 2:12)
  • Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.  Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan (Josua 1:8 – 9).
  • Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe. Nadat hulle tuisgekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink (1 Samuel 1:19)
  • Dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir ‘n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het (Klaagliedere 3:26 – 28).
  • Maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees; een in liefde, een van hart, een in strewe (Filippense 2:2)
  • En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen (Romeine 12:1).



Is jou bediening ‘n laser of ‘n gloeilamp?

 

“If Christ is not all to you He is nothing to you. He will never go into partnership as a part Savior of men. If He be something He must be everything, and if He be not everything He is nothing to you.” C. H. Spurgeon

Is jou bediening ‘n laser of ‘n gloeilamp?

‘n Gloeilamp versprei ‘n sagte lig in alle rigtings, maar vir ‘n kort afstand; ‘n laser fokus net in een rigting, maar so ‘n straal kan teoreties oneindig reis. Net so is ons bediening ‘n gloeilamp of ‘n laserstraal.

Na sy opstanding gee Jesus aan sy dissipels ‘n opdrag wat soos ‘n laserstraal fokus: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:19). In die boek Handelinge word hierdie sending op tasbare maniere uitgewerk. Die dissipels het nog op ‘n gereelde basis bymekaargekom (Handelinge 2:42) en ook hulle prioriteite bepaal (Handelinge 6:4), maar die hart van die vroeë kerk was die maak van dissipels.

Geen wonder die kerk versprei van Jerusalem na Rome in net 30 jaar.

Wat het dit met bediening te doen? “There are far too many nice, little 60 watt ministries that do nice, little 60 watt activities and get nice, little 60 watt results.” (Greg Stier) Hierdie bedienings is soos ‘n gloeilamp – hulle kan skaars buite die kerkgebou gesien word. Laser-gefokusde bedienings het ‘n enkele obsessie – alles wat hulle doen, ondersteun hierdie een ding.

Het jou bediening ‘n enkele fokus? Ondersteun alles wat jy doen daardie een ding? Stem hierdie een ding ooreen met die een opdrag wat Jesus aan sy dissipels gegee het? Indien nie, is dit nie tyd om te begin fokus nie?

Ek is moeg

Guard your thoughts, and there will be little fear about your actions. —J.C. Ryle

Ek is moeg

Daar kom ‘n tyd in elke werk waar jy moeg, ontnugter en omtmoedig word. Moegheid so halfpad deur enige groot taak is onvermydelik. Dit gebeur veral so teen Desember. As jy so voel, onthou:

  • Gevoelens is onbetroubaar

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie (Spreuke 3:5).

Gevoelens kom van ‘n verskeidenheid bronne. Dit gee dikwels vir ons ‘n vals sin van die werklikheid. As ons oor die langtermyn suksesvol wil wees, moet ons leer om ons wisselende emosies te beheer. Die wêreld is nie besig om uitmekaar te spat net omdat dit Desember is nie!

  • Die wêreld is ‘n reeks van teenoorgestelde aksies

Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd … ‘n tyd om te plant, ‘n tyd om plante uit te rek … ‘n tyd om af te breek, ‘n tyd om te bou (Prediker 3:1 – 6)

Ons hou van planttyd, maar nie van plante uittrek nie; ons hou van bou, maar nie van afbreek nie. Maar die lewe behels beide. Sommige jare van ons bediening is jare van wag en snoei terwyl ons wag op die toekomstige groei. Hierdie is nou nie juis interessante jare nie, maar is noodsaaklike jare.

  • Droë tye is tye om karakter te bou.

Natuurlik wil ons graag hê die gemeente moet groei, maar net so belangrik is dat jy persoonlik groei. Droë tye is geleenthede vir stil oomblikke met God alleen. Droë tye is geleenthede om ryker en dieper in jou persoonlike karakter te groei.

  • Ons dien nie onsself nie, maar vir Jesus

Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met ‘n opregte hart uit eerbied vir die Here. Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan (Kolossense 3:22 – 24).

Vra voortdurend: Hoekom doen ek dit? Dit bepaal dikwels hoe lank en deeglik jy dit doen. Ons doen dit vir Christus.

  • Ons maak ‘n ewigheidsverskil in bediening

Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer (2  Korintiërs 4:15).

Ons dien ook tot voordeel van ander sodat hulle Jesus kan leer ken. As jy nie van mense hou nie, sal jy nooit in bediening uithou nie.

  • God kyk na ewigheidsbelonings

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid war alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig (2 Korintiërs 4:17 – 18).

Die finale geheim van volharding is om op ons toekoms met Christus te fokus. Bediening is ‘n maraton en wat belangrik is, is nie hoe jy die resies begin nie, maar hoe jy dit klaarmaak.